Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Weet voor jy panado vra . . .

Wat jy ook al doen, soos wanneer jy oor ’n paar weke kiekies van die Kerstafel neem, eponimiseer jy, skryf Rachelle Greeff.

Wat het Washington D.C. in die VSA en Wellington in die Wes-Kaap gemeen?

Hoe kan Upington, ’n dorp in die Noord-Kaap, en die internasionale saamry-maatskappy Uber in dieselfde asem genoem word? En waarom is sellotape, sjampanje en Stellenbosch familie?

Reg geraai, alliterasie. Maar dis nie die enigste gemene deler nie. Al die woorde – Washington, Wellington, Upington, Uber, sellotape, sjampanje en Stellenbosch – is eponieme.

“E-poe-wat?” Moenie dink jy’s dom as jy nie weet nie.

Wanneer jy van tupper­ware praat, gebruik jy ’n dubbeldoor-eponiem.

Onlangs klets ek en die skrywer Eben Venter oor WhatsApp. Hy sê hy het pas die huis in Lismore, Australië, gehoover. Hy sê nie stofsuig nie. Wat noem mens dié taalverskynsel, vra ons mekaar min of meer gelyk. ’n Paar minute later, danksy Google, het ons dit.

Hoover is, soos die meeste van die eiename in die inleidingsparagraaf bo, eponieme. (Van die Grieks epi “op’’ + onoma “naam”.)

’n Eponiem is ’n eienaam wat sy populêre naam, generiese of noemnaam gekry, geleen of gegaps het van ’n ander eienaam. So is Washington D.C. vernoem na George Washington, die eerste Amerikaanse president. Die plattelandse dorp Wellington in die Wes-Kaap kry sy naam van die Britse hertog van Wellington, soos Upington vernoem is na sir Thomas Upington, eertydse eerste minister van die Kaapkolonie. En deesdae uber (werkwoord) ons of kry ’n Uber, hetsy van die internasionale saamry-maatskappy Uber of ’n ander huurmotormaatskappy.

Oupa en Ouma het nie Uber en Google geken nie, maar sou waarskynlik geweet het ’n Zeppelin is ’n lugskip of sigaarvormige, bestuurbare lugballon, soos Anton Prinsloo dit in sy eponieme-woordeboek, Die aap in jou koffie, beskryf. Eers was daar net die Duitse generaal graaf Ferdinand Adolf August Heinrich von Zeppelin (1838-1917) se Zeppelin, maar in die loop van die Eerste Wêreldoorlog is ander maatskappye (en mense) se lugskepe gerieflikheidshalwe sommer ook Zeppelins genoem. Mense het selfs van die Hindenburg as ’n Zeppelin gepraat. (Die Hindenburg was die groot Nazi-verleentheid wat in 1937 binne ’n halfminuut in die VSA verkool het. Hierdie vlammebol en die hoop as was die dramatiese, noodlottige begin van die einde van Zeppelins.)

Jy gebruik elke dag eponieme – sonder om dit te weet. Jou huiswerker ook wanneer sy vra of sy die oorskietkos in die “tupperwares” moet sit. Hiermee bedoel sy enige plastiekbakkie met ’n bypassende deksel, al was dit die goedkoopste by Plastic Warehouse se 50%-uitverkoping. Tupperware het in die laat 1940’s in die kombuiskaste van ons middelklas-ma’s en –oumas beland. Dit is ’n eksklusiewe reeks plastiekhouers wat aanvanklik via huisvrou-teepartytjies verkoop en bemark is. Earl Tupper (1907-1983) was nie ’n hertog (’n Engelse “earl”) nie, sy voornaam was Earl. Hy was ’n enkellopende Amerikaanse chemikus wat met plastiek geëksperimenteer en met dié oënskynlik onvernietigbare plastiek vorendag gekom het. Baie van ons het nou nog ons Tupperware-broodbakkies uit die 1960’s – dit hou en die deksels klou, al lyk dit soos onsself effens geskraap en dof.

Maar wanneer jou huiswerker praat van die tupperware (bedoelende enige plastiekbakkie met ’n bypassende deksel) gebruik sy nie net ’n eponiem nie, maar ’n dubbeldoor-eponiem. Haar tupperware-verwysing kom van Amerika se Tupperware, en dié maatskappy se naam kom van meneer Tupper.

Dit sal oordrywing wees om te sê die mediese wetenskap, hospitale, spreekkamers en apteke ly aan ’n oordosis eponieme, maar dié plekke is propvol eponieme.

Alzheimersiekte het sy naam te danke (of te wyte?) aan dr. Aloysius “Alois” Alzheimer (1864-1915), Duitse psigiater en neuropatoloog. Hy het die eerste artikel oor “preseniele demensie” gepubliseer (waarvan die Westerse wêreld weet, moet ’n mens byvoeg). So was die Oostenrykse psigiater Hans Asperger (1906-1980) die eerste medikus wat dié siekte beskryf het, in 1944. En die Britse dokter John Langdon Haydon Down (1828-1896) was die eerste wat die aangebore afwyking downsindroom met pen en papier (of tikmasjien) gedokumenteer het.

Die Bybel is ’n vrugbare bron: Dink aan jakobsleer of petrusvis?.?.?.

Die verslawende pynstiller morfien het dié sag klinkende naam te danke aan die Romeinse mitologiese god van slaap en drome, Morfeus. (Hierteenoor kan ons Hypnos, die Griekse god van slaap en drome, dankie sê vir ’n woord soos, onder meer, hipnotiseer.)

En gepraat van stories, die Bybel is ’n vrugbare bron van eponieme. Dink aan ’n jakobsleer (’n touleer waarmee jy op en af van ’n skip kan klouter, ’n jakobstaf (stapstok van ’n pelgrim) of ’n petrusvis, oftewel jandorie, ’n lelike maar glo lekker eetvis. Die oervader van dié woord is die apostel Petrus. As jy verdere naslaanwerk in hierdie verband wil doen, gaan na Matteus 17 – of lees jou Bybel van voor tot agter.

Eponieme is dinamies. Nuwes ontpop voortdurend van oraloor soos die wetenskap en tegnologie – en die politiek – van dag tot dag verander. As taal ’n lewende organisme soos ’n liggaam was, sou ’n mens kon sê eponieme ontspring organies. Byvoorbeeld, 25 jaar gelede kon ons nog nie google nie, en ons uber nog maar so kort as ses jaar in Suid-Afrika.

Dink ook maar hoe dikwels vra iemand jou vir ’n panado vir die een of ander pyn iewers. Min van dié pynbeswaar­des wil spesifiek Panado (wat deur Adcock Ingram gemaak word) hê. Enige parasetamol sal deug, maak net gou. Of, as ’n kop van “migraine wil bars”, kan jy maar die parasetamolletjie los. Trompetter die kodeïen, morfien of petidien nader, asseblief.

Winkelrakke word met elke Kersfeestyd voller, en al vroeër so. En hoe meer produkte, hoe meer eponieme. Soos sellotape, en sjampanje (padlangs sê mense vonkel-, bruis- of borrelwyn), waaroor die Franse die horries kry. Net beborrelde witwyn van hul Champagne-streek mag sjampanje genoem word. Helaas het die “organiese” aard van eponieme daartoe bygedra dat hul eksklusiewe wens, en wetgewing, nie getrou toegepas word nie. Bygesê, in Suid-Afrika plak ons darem getrou die MCC-etiket op ons sjampanjes. Hiervolgens is die vrolike vrug van die druif volgens die Methóde Cap Classique verwerk.

As jy wil groen wees vanjaar, moenie jou Kerspakkie met sellotape toedraai nie. Gebruik tou. Sellotape is sedert die 1930’s die grootste verskaffer van kleeflint in Engeland, en as sodanig aandadig aan die miljoene ton plastiek waarmee ons ons seelewe stelselmatig uitmoor.

En wanneer jy oor ’n paar weke kiekies van die Kerstafel neem, eponimiseer jy weer. Israël David Kiek (1811-1899) was ’n Nederlandse fotograaf. Sy huis-ateljee was tussen Leiden se stasie en die universiteit. Hy was gewild vir veral sy foto’s van groepe jolige studente. Dié het hom dikwels laatnag, “blinkgedrink’’, aldus Anton Prinsloo, opgeklop vir ’n vinnige foto. Hy het vinnig gekiek en ontwikkel – van kunswerke was hier nie sprake nie – om so gou as moontlik weer in die bed te kom. (Benewens die stroom gekoringde laatnag-studente was daar ook sy vrou om mee rekening te hou, en altesaam nege kinders.)

Kyk hoeveel eponieme Kersvader vanjaar vir jou op Oukersaand of Kersdag (of Kersfees) onder die Kersboom laat. Kersfees (“Christmas” in Engels), soos jy weet, kom van die naam Jesus Christus. En in die volgstroom hiervan vaar stringe ander Kers-woorde. As jy baie Kersgeskenke verwag, moet jy vroegtydig vir jou ’n ventertjie huur, en klink dan sommer ’n glasie op die firma Venter Sleepwaens, wat destyds dié sleeptuig ontwerp het. Dit was in Naboomspruit (nou Mookgopong, in Limpopo.) Nóg ’n eponiem – Naboomspruit – geneem van die inheemse nabome (euphorbias). Soos die provinsie sy naam gekry het van die Limpopo-rivier.

*Rachelle Greeff is ’n skrywer en vryskut-joernalis.

* As die eponiem-gogga jou ook byt, kry gerus vir jou ’n eksemplaar van Die aap in jou koffie deur Anton F. Prinsloo (Protea, 2011) of die WAT se Etimologiewoordeboek van Afrikaans, saamgestel deur G.J. van Wyk.

Meer oor:  Eben Venter  |  Eponieme  |  Woorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.