Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Weg met alles Engels

Afrikaans is koning, skryf David Jantjies.

Prof. Jonathan Jansen. Is hy besig om ons almal in Suid-Afrika, insluitende Afrikataalsprekers, te probeer verengels?

Prof. Jonathan Jansen is myns insiens ’n onbetwisbare kenner op die gebied van hoër onderwys in Suid-Afrika. Hy is ’n geagte en geëerde onderwyskenner en ek lees graag wat hy skryf. Hy praat en skryf mooi.

Dog, myns insiens is Jansen uit voeling met die mense in Suid-Afrika wat Afrikaans praat en wat hul kinders in Afrikaans onderrig wíl hê.

En dan sommer ook met die versugtinge van ons mense wat ander Suid-Afrikaanse tale, behalwe Engels, praat.

Ons mense het beslis meertalige kele en ruim harte. Maar ons borste raak warm oor hierdie gewetenlose aanvalle op ons taal. Dis onse taal dié.

Dus, kom ons wees platvloers reguit. Ons land se mense is allerweë gatvol vir dié gewraakte afdwing van Engels in ons meertalige keelgate.

Hierdie debat gaan nie oor politieke oorheersing en ’n gemaklike middeweg-oplossing vir hoër onderwys nie, dit is ’n gevaarlike intellektuele bal-balspelery met my kind wat doodeenvoudig akademies slegter daaraan toe sal wees as hy in ’n tweede taal eerder as sy moedertaal met die komplek­siteite van die akademie gekonfronteer word en dan desnoods geforseerd met suiwer Engelssprekende moedertaalsprekertjies moet meeding.

Is Jansen dus besig om, indien hy intellektueel relevant wil wees, ons almal in Suid-Afrika, insluitende Afrikataalsprekers, te probeer verengels?

Ek vertel hulle dat dit reg is om meertalig te wees, maar dat dit intellektueel dom is om jou sterkste taal vir ’n pot lensiesop te verkwansel.

Indien wel so, moet hy maar besef dat hy met ’n onbegonne taak besig is, want 52 miljoen mense gaan nie na hom luister en hul moedertaal prysgee nie.

Wel, minstens gaan 7,2 miljoen Afrikaanssprekendes (12,1% van ons land se bevolking) dit nie doen nie – beslis nie ten gunste van 4,7 miljoen Engelssprekendes wat maar 8,4% van die Suid-Afrikaanse bevolking uitmaak nie.

Ek twyfel ook sterk of hy Zoeloesprekendes (24,7%), Xhosasprekendes (15,6%), Pedisprekendes (9,8%) en Tswanasprekendes (8,9%) van sy wêreldsiening gaan oortuig.

Wat my laat wonder oor Jansen se oënskynlike beheptheid om stadig agter Afrikaans se doodskis te wil loop. Waarom teiken hy my moedertaal, Afrikaans? Waarom voer hy nie hierdie veldslae teen ons ander inheemse tale nie?

Dit bring my dan by die inheemsheid van Afrikaans. As Jansen kan bewys dat Afrikaans nie ’n inheemse Arikataal is nie, gaan hy my dalk begin interesseer.

Soos sake egter nou staan en die hele wêreld wel weet, is Afrikaans hier ter plaatse gebore, gedruk en getik.

Ek is ’n bruin man en ’n Afrikaanssprekende. Ek is trots op albei hierdie eienskappe. Afrikaans is my moedertaal en ek is onbeweeglik trots daarop.

Dog, ek kan myself heel gemaklik, reken ek, in Engels handhaaf. En weet wat? Ek is daarvan oortuig dat dit aan my ouers se onverpoosde ywer te danke is wat die suiwerste Afrikaans by my ingedril het. Selfs wanneer hulle idiomaties gepraat het, het hulle my vinnig verduidelik wat dit en dat beteken. G’n wonder dat toe ek op tersiêre vlak vakkeuses moes uitoefen, Afrikaans en Nederlands, asook Engels, gedomineer het nie.

Nou, terwyl Jansen daarbo iewers die beleidmakers probeer beïnvloed om Afrikaans die nekslag toe te dien, is ek hard besig om, op voetsoolvlak veral, ons swanger mammas en mammas van peuters by gesondheidsklinieke van die belangrikheid van moedertaalopvoeding en moedertaalonderrig te vertel.

Hierdie mense wat na my toesprake luister, vertel my dat hulle ook trots Afrikaans is. Ek vertel hulle dat dit reg is om meertalig te wees, maar dat dit intellektueel dom is om jou sterkste taal vir ’n pot lensiesop te verkwansel.

Ek vertel hulle graag dat hul kinders beter daaraan toe is met ’n sterk Afrikaanse fondament waarop ander tale, onder meer Engels, gebou kan word.

Daardie mure gaan nie bars nie, sê ek, maar “Mengels” se mure kraak reeds klein-klein, veral wanneer vakonderrig tot die kinderbrein begin spreek. Dan ontwikkel meneertjie en juffroutjie “hoofpyn” en “maagpyn”, want die minderwaardigheidskompleks jeens die regtige Engelse maatjies het begin.

Dus, ek herinner my daaglikse luisteraars – en dit is soms by die honderde – dat Afrikaans ons moedertaal is. Ook dat Xhosa ons moedertaal is. Ook dat Zoeloe en Pedi en Tswana en nog vyf ander ons moedertaal is.

Ook dat geeneen van hierdie tale minderwaardig ten gunste van ander is nie. Ook dat my moedertaal my hartstaal, my sielstaal en my gebedstaal is.

En my gehore, van oor al die Suid-Afrikaanse taalgemeenskappe heen, stem saam. Hulle stem selfs aggressief saam.

Ek het as skoolhoof gesien hoe die “gemaakte” Engelse hoërskoolkind sneuwel. Sommer in al sy vakke, Engels inkluis. Daarteenoor het ek gesien hoe die suiwer Afrikaanse kind van moedersmelk af presteer, dog ook die kind wat van huis uit Engels was. Die geskiedenis spreek vir hulself. Gaan kyk maar.

Nee, prof. Jansen, op die grond klap die nie-Engelssprekende Suid-Afrikaner nie hande vir dié verengelsing nie; trouens, hulle verafsku dit.

Nie net Afrikaanssprekendes nie, die sukkelende en swakker presterende ander-inheemse-taalsprekende ouers en leerlinge ook.

Watter argumente is daar tog dan dat ons van ons moedertale, nie net Afrikaans nie, ontslae moet raak? Wil ons die totale verengelsing van ons land en sy mense hê?

Terwyl die redding van elke gebesigde taal in die wye wêreld selfs deur die Verenigde Nasies nagestreef word, hoe is dit dan dat ons ’n taal wat deur ’n inheemse volk van Suid-Afrika beslag gegee is, so willens en wetens kastreer en moedswilliglik wil uitmoor?

Al sê die geëerde konstitusionele hof dus ook wát, gegrond op regsargumente, en al is daar ook hoeveel ivoortoringbesluite in glaskantore, gegrond op politieke vooroordeel of ongefundeerde oorlewingsargumente, sal daar steeds nog ’n saak uit te maak wees vir kognitiewe realiteite rondom die noodsaaklikheid van moedertaalonderrig vanuit die baarmoeder tot in die universiteit.

Jansen propageer dus nie ’n stryd om die vernietiging van Afrikaans nie. Nee, dis veel meer as dit. Hy loop nou voor in die koor in die stryd om die vernietiging van een van Suid-Afrika se geliefde moedertale, ’n Suid-Afrikaanse inheemse taal – trouens, ’n Afrikataal.

Kom ons gaan dus saam na ons eie mense in die Hantam, in Namakwaland, in die Richtersveld en in die Karoo, professor. Dan sê u vir hulle dat ja, u en die regering en die hoë man van die groot hof het besluit hulle moenie meer hul kinders in Afrikaans grootmaak nie.

Sê vir hulle hulle moet nou Ingels met die klougoet praat. Kom ons gaan, dan luister ons bietjie watter taal praat ons mense dán.

Dan praat ekke. Dan vertel ek vir hulle ons bou nog skole en stel nog Afrikaanssprekende onderwysers aan. Ek vertel hulle die regering het miljarde vir strategies-geleë inrigtings van hoër en tegniese onderwys daar naby hulle beskikbaar gestel. Hier sal hulle in hul eie taal kan gaan leer.

Maar ons gaan hulle óók Ingels leer sodat hulle oraloor waar hulle moet gaan werk en sport speel, sommer glad daai taal sal kan loop en praat.

Dan sê ek hulle moenie kommer nie, want sien, dié onderwys gaan dwarsdeur gratis wees, want hulle het mos nie geld om hulle se kinders na die groot stede met hul Engelse universiteite te stuur waar hulle so sit loop en druip nie.

Dan luister ons bietjie watter taal praat ons mense dán.

Ag nee wat, mense. Hierdie taaldebat gaan nie in die volgende eeu kalf nie. Miskien in die howe en in wetgewing, maar dit gaan beslis nie in die moedertaalspreker se are stol nie.

Beslis nie.

Meer oor:  Jonathan Jansen  |  Afrikaans  |  Moedertaalonderrig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.