Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Wêreld se uitdagings groot
Leopold Scholtz

Die jaarlikse ekonomiese spitsberaad in die Switserse dorp Davos het plaasgevind in waarskynlik die onstabielste globale omstandighede in baie dekades. Leopold Scholtz probeer die stand van die wêreld peil.

Davos, die skilderagtige dorp van sowat 11 000 inwoners hoog in die Switserse Alpe, was die afgelope week weer in die nuus.

Wanneer meer as 1 000 invloedryke politici en sakelui jaarliks aan die einde van Januarie op die sneeubedekte dorp toesak, kry hulle kans om skouers te skuur oor die nypendste probleme waarvoor die wêreld staan.

Maar nog nooit sedert die Wêreld- Ekonomiese Forum in 1971 met dié spitsberade begin het, was die wêreld so onstabiel en deurmekaar soos nou nie. Volgens joernaliste wat tussen die konferensiegangers rondbeweeg, word daar selfs openlik oor ’n oorlog en/of ’n ernstig ekonomiese krisis vanjaar gegis.

Die skouers hang en ’n algemene wolk van kommer hang oor die aanwesiges, sê die verslaggewers.

Dis nie moeilik om in te sien waarom dit so is nie. Verskeie aspekte is daarvoor verantwoordelik.

Die skouers hang en ’n algemene wolk van kommer hang oor die aanwesiges.

Dis waarskynlik nie toevallig nie dat die regering van pres. Donald Trump op die eerste dag van die beraad skerp tariewe van tot 50% op die invoer van wasmasjiene en sonkragpanele uit China en Suid-Korea aangekondig het.

Die miljardêr Wilbur Ross, die Amerikaanse minister van handel, sê verdere tariefverhogings word beplan.

Dit pas in by die Trump-administrasie se donker wêreldbeeld, waarvolgens kompromisse uit die bose is – as jy nie wen nie, verloor jy; en aangesien die VSA altyd moet wen, moet die ander altyd verloor. Die VSA is die slagoffer van ’n wêreldwye handelsoorlog en het tot dusver verloor. Nou moet hy begin wen.

China se handelsurplus met die VSA was in Julie $25 miljard, wat beteken dat die land se uitvoerpryse – deels met behulp van staatsubsidies – kunsmatig laag gehou is. Dis dít wat Trump so woedend maak.

Die probleem is dat die verhoogde tariewe ’n tweesnydende swaard is. China het reeds laat blyk dat hy gaan terugveg, terwyl ook Suid-Korea boos gereageer het.

Volgens die BBC was die waarde van die handel tussen die VSA enersyds en China en Suid-Korea andersyds in 2016 ’n reusagtige $578,6 miljard. Net minder as 1 miljoen Amerikaanse werkgeleenthede is daardeur in stand gehou.

’n Handelsoorlog kan verskeie nadele inhou. Om mee te begin, kan dit talle Amerikaanse kiesers – dieselfde mense wat Trump beloof het om te beskerm – werkloos maak.

Dit kan ook ander lande, veral in Asië, nadelig raak.

Bowendien wys die geskiedenis hoe nadelig die proteksionisme is wat Trump wil toepas. Die groot ekonomiese ineenstorting van 1929 is gevolg deur soortgelyke proteksionistiese maatreëls deur verskeie regerings, waardeur internasionale handel drasties in duie gestort en die ekonomie in vryval laat beland het.

Regdeur die geskiedenis, reeds sedert antieke tye, was dit byna ’n ysere wet dat vryhandel ’n voorwaarde vir groei, wins en welvaart is.

Maar daar is ook politieke risiko’s, want Asië is vinnig besig om by die Midde-Ooste oor te neem as die belangrikste plofpunt op die aardbol. Dit gaan hoofsaaklik – maar nie uitsluitlik nie – oor Korea.

Mike Pompeo, die hoof van die CIA en ’n Trump-vertroueling, het vandeesweek die sluier gelig oor waar die VSA sy rooi lyn met Noord-Korea getrek het. Hy het op ’n byeenkoms in Washington laat blyk dit word getrek by Pjongjang se vermoë om ’n hele arsenaal missiele na die VSA te lanseer in die verwagting dat dit laasgenoemde se missielafweervermoë sal oorweldig.

Die Noord-Koreane is nog nie daar nie, sê Pompeo. En dus is dit die VSA se doel om daarvoor te sorg dat dit ook nie gebeur nie.

Pompeo was vaag oor hóé dit moet gebeur, maar alles dui daarop dat politieke druk en ekonomiese sanksies voorlopig die pad is wat geloop word. As dit blyk dat dit nie werk nie, sal die militêre opsie ’n werklikheid word.

En as dít gebeur, so het die Pentagon aan Trump laat weet, moet hy nie dink aan ’n beperkte optrede nie; dit sal sake net vererger.

As die weermag ingeskakel word, moet dit ’n yslike voorhamerslag wees wat Kim Jong-oen, Noord-Ko­reaanse diktator, sy hele regime en al hul magsmiddele verpletter; anders moet Trump nie eens dié opsie oorweeg nie.

Die probleem is dít: Vir politieke en ekonomiese druk is die hulp van sowel China as Suid-Korea nodig. En die militêre opsie kan onmoontlik sonder Suid-Korea se toestemming en medewerking gebeur, terwyl ook rekening gehou moet word met China se reaksie.

In Davos kyk mense dus bekommerd na die vierhoek Washington-Beijing-Seoel-Pjongjang.

Dááruit vloei voort dat dit op dié oomblik onverstandig is om China en Suid-Korea op handelsterrein bruut aan die bors te gryp, selfs al sou Trump se grief oor veral China se handelsoorskot in beginsel begryplik wees.

In Davos kyk mense dus bekommerd na die vierhoek Washington-Beijing-Seoel-Pjongjang. Maar in Asië dreig langsamerhand ook ’n tweede plofpunt: China en Japan.

Dié twee is tradisionele aartsvyande. Japan het kultureel baie by sy groot buurman geleen, maar sy eie identiteit dalk juis daarom sterk beklemtoon.

Van 1895 tot 1945 was die twee byna konstant in botsings betrokke en ook daarna kon die spanning dikwels gesny word. Die afgelope dekade of twee, drie het sake verbeter, maar dis opnuut aan die degenereer.

China tree steeds aggressiewer in Oos-Asië op. Die wyse waarop hy sy elmboë gebruik om eensydig ’n maritieme grens in die Suid-Chinese See te trek tot naby die kuste van die ­Filippyne, Borneo, Indonesië, Thailand en Viëtnam – op plekke waar ’n kaart jou vertel dat die Chinese daar niks te soek het nie – laat baie mense in Asië onrustig rondskuif.

Japan het nou ’n plan om sy splinternuwe groot helikopterdraers tot volwaardige vliegdekskepe om te bou

Dit val saam met ’n strewe van Sjinzo Abe, Japan se taamlik nasionalistiese premier, om ’n meer aktivistiese buitelandse beleid te voer. Ná die Tweede Wêreldoorlog het die VSA teen die agtergrond van die Japanse aggressie en spoor van verwoesting in Asië ’n grondwet aan Japan opgedwing waarvolgens dié land afsien van die reg om oorlog te maak.

In die praktyk het almal oë toegeknyp by die opbou van ’n Japanse weermag, maar die verstandhouding was dat dit slegs ter verdediging teen ’n aanval van buite gebruik mag word, nooit vir eie aggressie nie. Dit wil Abe verander om sy hande vry te maak in die groeiende konfrontasie met China.

Japan het nou ’n plan om sy splinternuwe groot helikopterdraers tot volwaardige vliegdekskepe om te bou. Dit in antwoord op die feit dat China reeds ’n eerste operasionele vliegdekskip het, ’n tweede aan die bou is en nog verskeie ander beplan.

Pres. Xi Jinping van China het reeds ’n paar maande gelede op die Chinese Kommunistiese Party se kongres te kenne gegee die land gaan ’n veel aktiewer rol in die wêreldpolitiek speel. Onder die opskrif “Make China great again” – dit was nie ironies bedoel nie – het die Engelstalige South China Morning Post na aanleiding van Xi se toespraak geskryf “ ’n nuwe internasionale orde kom tot stand” waarin China ’n historiese kans het “om homself tot grootheid te herstel en tot sy regmatige plek in die wêreld terug te keer”.

Die konferensiegangers in Davos sien dit alles raak. Maar met Trump, Xi en Abe wat elk sy eie koers inslaan, is daar nie veel wat hulle daaraan kan doen nie.

Scholtz is ’n onafhanklike joernalis en ontleder van Delft in Nederland.

Meer oor:  Ekonomie  |  Politici
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.