Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Uitdagende 2019 wag op SA

Die mislukking van regerings, klimaatsverandering en kuber-aanvalle is van die risiko’s wat wêreldwyd in 2019 heelparty probleme kan veroorsaak, skryf Theo Venter.

’n Besoedelde aarde. Rookmis oor Salt Lake City in die VSA. Foto: AP

Die jaarlikse byeenkoms van die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) – van 22 tot 25 Januarie in Davos, Switserland – vind sonder wêreldleiers soos Donald Trump, Theresa May, Emmanuel Macron en Emmerson Mnangagwa van Zimbabwe plaas.

Die byeenkoms is al twee dekades een van die belangrikste wêreldwye netwerkgeleenthede vir regerings en die private sektor.

Suid-Afrika se pres. Cyril Ramaphosa lei self ’n groot afvaardiging na Davos nadat sy besoek in 2018 geweldig baie media-aandag geniet het en die kortstondige tydperk van Ramaforia ingelei het. (Vanjaar sal die Suid-Afrikaanse afvaardiging waarskynlik meer vrae oor die Guptas en die Watsons moet beantwoord!)

Benewens die jaarlikse Wêreldwye Mededingingsindeks wat die WEF elke jaar in September publiseer, is die Internasionale Risikoverslag net so ’n belangrike dokument. Dit is gepubliseer in die week voordat die Davos-verrigtinge afgeskop het. Die verslag skets die konteks waarteen Davos in 2019 plaasvind.

’n Soldaat hou ’n oog oor die verrigtinge in Davos. Foto: Reuters

Die verslag van 2019 bevat baie interessante bevindings en weerspieël die vraagstukke en risiko’s wat sakelui oor die wêreld heen bekommer.

Inleidend wys dit op veranderende tendense in wêreldgebeure en word die volgende punte uitgewys:

* Daar is wêreldwyd ’n ongekende tydperk waarin lewensgehalte verbeter word, maar dit is ook ’n tydperk van sosiale ontwrigting en onstabiliteit.

* Daar is tekens dat elemente van die wêreldstelsel kwesbaar en onder druk is en dit manifesteer in die omgewing, die ekonomie, die finansiële stelsel, die samelewing en die geopolitieke omgewing.

* ’n Verskuiwing in die magspatrone in die wêreld is sigbaar. Verskille in die norme en waardes van wêreldspelers is besig om meer geaksentueer te raak.

* Voorspellings dat een wêreldorde (globalisering) aan die ontwikkel is, het duidelik nie die toets van tyd deurstaan nie. Internasionale verhoudinge is besig om in ongekarteerde waters in te beweeg.

* As gevolg van geopolitieke magsverskuiwings word die gevaar groter dat streekkonflikte ’n impak op die breë internasionale stelsel gaan hê.

Wêreldwye risiko’s

’n Onlangse betoging teen aardverhitting in Brussel. Foto: Reuters

Die belangrikste deel van die verslag is dié waarin wêreldwye risiko’s geïdentifiseer word. Eers word dit in rangorde van belangrikheid geplaas en daarna word dit in twee groepe verdeel.

Die eerste groep is die risiko’s wat die mees waarskynlike gaan wees en die tweede groep is dié wat sou dit manifesteer, die grootste impak gaan hê.

Die lys van die tien belangrikste wêreldrisiko’s wat sakelui geïdentifiseer het, is:

* werkloosheid;

* die mislukking van nasionale regerings;

* energie-prysskokke;

* fiskale krisisse;

* kuber-aanvalle;

* omvangryke maatskaplike onstabiliteit;

* die mislukking van finansiële meganismes of instellings;

* die verval van kritieke infrastruktuur;

* die mislukking van streek- of internasionale regeringsinstellings; en

* terreuraanvalle en terrorisme.

’n Keniaanse soldaat gedurende die onlangse terreuraanval in Nairobi. Foto: Argief

Hoewel hierdie net die tien belangrikste risiko’s is, is daar nog vele ander wat gelys word, veral met betrekking tot klimaat en klimaatsverandering.

Nadat die risiko-faktore geïdentifiseer is, word dit in twee groepe verdeel.

In die eerste kategorie word die waarskynlikheid dat dit in ’n wêreldwye risiko mag ontwikkel, geëvalueer. Die top-vyf-faktore wat vir 2019 geïdentifiseer is, is die volgende:

* uiterste weerpatrone;

* die mislukking van ingrypings om klimaatsverandering te voorkom;

* die voorkoms van natuurlike rampe;

* data-diefstal en -korrupsie; en

* kuber-aanvalle.

Betogings teen ’n gebrek aan dienslewering, soos dié een in Westbury in Johannesburg, is deesdae algemeen in Suid-Afrika. Foto: Felix Dlangamandla

Maatskaplike ontwrigting weens migrasie, waterskaarste en mensgemaakte natuurrampe haal ook die top-tien-lys.

As daar gekyk word na die lyste van die afgelope tien jaar, is dit interessant om daarop te let dat klimaatverskynsels en die risiko van kuber-aanvalle ekonomiese en geopolitieke risiko’s as die grootste internasionale kwellings vervang het.

In die tweede kategorie word die impak van potensiële risiko’s in ’n rangorde geplaas. Die eerste vyf lyk so:

* wapens van massa-vernietiging;

* die mislukking van ingrypings om klimaatsverandering te voorkom;

* uiterste weerpatrone;

* waterkrisisse; en

* natuurrampe.

Ander bekommernisse in hierdie kategorie sluit kuber-aanvalle in asook mensgemaakte rampe en die verspreiding en voorkoms van aansteeklike siektes. Wanneer die impak van hierdie risiko-faktore oor tien jaar ontleed word, lyk die prentjie anders.

Van 2008 tot 2014 het ekonomiese vraagstukke die lys oorheers, maar van 2015 tot 2019 is geopolitieke vraagstukke, klimaatsfaktore en maatskaplike uitdagings oorheersend.

Streekverwante risiko’s

Werkloosheid is een van Suid-Afrika se grootste uitdagings. Foto: Argief

Een van die bevindings in die verslag oor wêreldwye risiko’s is dat streekverskynsels ook ’n groot impak op die internasionale orde het. Daar is ook gekyk na Afrika suid van die Sahara en die volgende is die grootste bekommernisse oor dié streek:

* werkloosheid;

* die mislukking van nasionale regerings;

* energie-prysskokke;

* verval van kritieke infrastruktuur;

* fiskale krisisse;

* die mislukking van finansiële meganismes of instellings;

* die mislukking van streekstrukture of instellings;

* waterkrisisse;

* voedselkrisisse; en

* onbeheerbare inflasie.

Suid-Afrikaanse risiko’s

Groot uitdagings lê vir pres. Cyril Ramaphosa en sy regering voor as hulle beleggers se vertroue wil wen. Foto: Felix Dlangamandla

Ramaphosa en sy span het hul bes probeer om in Davos te wys dat Suid-Afrika sy eie vraagstukke probeer oplos en ’n goeie bestemming vir beleggers is.

Die verslag oor wêreldwye risiko’s is egter daar aan almal beskikbaar en volgens dié verslag is die internasionale mening oor die grootste risiko’s vir Suid-Afrika in 2019 die volgende:

* Werkloosheid en die gebrek aan werkgeleenthede is die grootste risiko vir Suid-Afrika. Dit word deur die regering erken en gestaaf deur onder meer syfers oor die vlakke van werkloosheid en jeugwerkloosheid. Een van die vraagstukke wat Ramaphosa wel in Davos aangeraak het, is die noodsaak vir ekonomiese groei en investering om werkgeleenthede te skep. Tito Mboweni, minister van finansies, het geen geheim daarvan gemaak dat die regeringstydperk van oudpres. Jacob Zuma Suid-Afrika minstens ’n dekade lank op sy ekonomiese ontwikkelingspad teruggehou het nie.

* Waterkrisisse in Suid-Afrika sowel as klimaatsverandering, droogtes, hittegolwe en ook die verval van infrastruktuur. Dit is dus nie net die beskikbaarheid van water wat tot kommer lei nie, maar ook die gehalte van water. Die beste voorbeeld van hierdie risiko is die besoedeling van die Vaalrivierstelsel deur plaaslike regerings wat nie rioolstelsels na behore in stand hou en bestuur nie. Die betrokkenheid van die weermag in die Vaaldriehoek kan in dié opsig as uiters strategies gesien word.

* Die mislukking van nasionale regeer- en beheerstrukture. Getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping en die Nugent-kommissie van ondersoek na die Suid-Afrikaanse Inkomstediens dui reeds hierop. Die omvang van dié risiko word verder beklemtoon deur die onvermoë van die nasionale vervolgingsgesag om korrupsie te beperk en die onvermoë van die polisie om misdaad behoorlik hok te slaan.

* Omvangryke maatskaplike onstabiliteit. In ’n verkiesingsjaar is dié vraagstuk sterk onder die vergrootglas, veral omdat die derde vlak van regering in ’n deurlopende krisis vasgevang is. Benewens die metropole is net ongeveer 30 plaaslike owerhede uit ongeveer 260 tans daartoe in staat om die dienste te lewer wat konstitusioneel van hulle vereis word. Vir enige internasionale belegger wat in Suid-Afrika wil investeer, is dit ’n wesenlike risiko om te verdiskonteer.

* Die verval van kritieke infrastruktuur. Hierdie risiko sluit Eskom, water, paaie, spoorweë en soortgelyke dienste in. Hierdie risiko kan natuurlik in ’n ontwikkelingsgeleentheid omskep word en duisende werkgeleenthede skep, maar institusionele korrupsie en ’n gebrek aan vertroue in regeringsprosesse maak daarvan ’n baie groot probleem.

Theo Venter

Davos 2019 vind onder unieke omstandighede plaas. Leiers soos Trump en May word tuis gehou as gevolg van plaaslike politieke vraagstukke. Dit gee aan kleiner lande groter geleentheid vir konstruktiewe netwerkgeleenthede. Suid-Afrika maak ten volle van dié geleenthede gebruik.

Maar in die lig van die risiko’s wat met betrekking tot Suid-Afrika geïdentifiseer is, asook die prosesse wat tans plaaslik afspeel, is die verkoop van dié land as ’n beleggingsbestemming ’n groot uitdaging.

Suid-Afrika moet verstaan word as ’n dinamiese stelsel met ingeboude teenstrydighede soos die argumente binne die regerende ANC oor die posisie van die Reserwebank of die kwessie van onteiening sonder vergoeding.

Dit maak Ramaphosa se werk des te moeiliker in 2019.

* Venter is ’n politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit se besigheidskool. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.