Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Weste gaan planne nie net aanvaar

Terwyl die winde van verandering wes waai, mik die Suid-Afrikaanse regering oos, skryf Flip Buys.

Vier leiers van die Brics-lande . . . Met die totstandkoming van dié organisasie is ’n nuwe era ingelui, waar die ANC veral na China vir ekonomiese leiding begin kyk het. Foto: getty images

Die Amerikaanse president, Donald Trump, het Donderdag ’n skokgolf deur die land gestuur met sy twiet dat sy regering ondersoek gaan instel na plaasmoorde en die regering se planne vir onteiening sonder vergoeding.

Trump se reaksie is voorafgegaan deur AfriForum se inligtingsbesoek aan die VSA en die wêreldwye mediadekking wat die regering se beoogde grondwetverandering oor onteiening sonder vergoeding geniet het.

Dit is nie net konserwatiewe media soos Fox News wat sterk standpunt daarteen inneem nie. Swaargewigte soos The New York Times, The Wall Street Journal en The Washington Times het die regering skerp gekritiseer. Marian Tupy, ’n senior beleidsontleder van die Cato Institute, een van die invloedrykste dinkskrums in die VSA, het ’n beroep op die Amerikaanse regering gedoen om in te gryp om te keer dat Suid-Afrika die volgende Zimbabwe word. Hy het gevra dat Trump die Suid-Afrikaanse regering waarsku dat ’n grondwetverandering daartoe sal lei dat Suid-Afrika net soos Zimbabwe uit die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) geskors word. Dit kan ernstige gevolge vir die land se ekonomie hê en moet ten alle koste verhoed word. Dit mag nie gebeur dat die land benadeel word omdat die regering internasionale ooreenkomste oortree nie.

Daar kan verwag word dat hierdie vraagstukke oor die volgende paar maande tot groot twispunte tussen die twee regerings gaan lei. Pres. Cyril Ramaphosa se kantoor het reeds teruggekap en die VSA-ambassade om uitklaring van Trump se standpunt gevra. Dit is egter belangrik dat die korttermynbrandpunte nie die groter prentjie verskuil nie. Buitelandse druk deur die VSA en ander Westerse moondhede het voor 1994 ’n deurslaggewende rol gespeel in die grondwetlike onderhandelinge en die daaropvolgende grondwetlike ooreenkoms. Daarom het hierdie lande nou ’n besondere verantwoordelikheid om toe te sien dat die regering by die skikkingsooreenkoms van destyds bly.

Dit is vervang met ’n rassebedeling wat ’n swart meerderheid bevoordeel.

Die druk deur buitelandse moondhede op die destydse regering het gevolg op die ANC se suksesvolle internasionalisering van die Suid-Afrikaanse vraagstuk. Daarom is die ANC se kritiek op AfriForum en Solidariteit se veldtogte teen die verbreking van daardie ooreenkoms skynheilig en polities gemotiveerd. Die wese van die 1994-ooreenkoms is treffend deur die oud-DA-leier Tony Leon verwoord as synde tweeledig, naamlik “die verlening van regte aan die meerderheid en die allernoodsaaklike beskerming van minderheidsbelange”. Ten spyte van hierdie verruiling van meerderheidsregering vir minderheidsbeskerming, het dit ’n nasionale sport geword om minderhede wat aandring op hul grondwetlike regte as regs en “anti-transformatories” af te maak.

Daarom is dit betekenisvol dat Tupy en die Cato Institute klem lê op die VSA se verantwoordelikheid om te verseker dat die ANC by die 1994-ooreenkoms bly, insluitende die bepalings oor minderheidsbeskerming en eiendomsreg. In praktyk het daar oor die afgelope paar jaar ’n groeiende gaping ontwikkel tussen die grondwetlike voorsiening vir minderheidsbeskerming en politieke praktyk. Politieke mag het grondwetlike gesag getroef wat die ruimtes vir Afrikaans, Afrikaanse universiteite, moedertaalonderrig en die magte van skoolbeheerliggame betref.

Boonop is daar, ten spyte van bepalings wat diskriminasie op grond van ras verbied, kwistig wette gemaak en praktyke ingestel wat rassekwotas in die werkplek, gedwonge oordrag van eienaarskap van sakebelange aan swart mense en omvattende “transformasie”-handveste vir elke ekonomiese sektor instel. In die praktyk is ’n rassebedeling wat ’n wit minderheid bevoordeel het nou vervang met ’n rassebedeling wat ’n swart meerderheid bevoordeel.

Gelykheid in die werkplek het in die praktyk “verteenwoordigendheid” geword, en radikale transformasie is as regeringsbeleid aanvaar en as ’n grondwetlike opdrag bevestig deur die konstitusionele hof.

Daarbenewens is eiendomsreg lankal reeds op ’n glybaan na groter staatsbeheer deurdat die Nasionale Waterwet reeds in 1998 ’n einde gemaak het aan private waterregte en in 2002 is grondeienaars se minerale en petroleumhulpbronne ook deur wetgewing ontneem en in staatsbesit geplaas. Die staat moet dit nou as “bewaarder” gebruik om transformasiedoelwitte te bevorder.

Die grondwetlike instellings wat moes waak oor die ruimtes vir kulturele vryheid, soos die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat) en die kommissie vir die bevordering en beskerming van die regte van kultuur-, godsdiens-, en taalgemeenskappe, beteken in praktyk niks en het net nog toonbanke van die ANC geword.

Die herhaalde verwysings in ANC-beleid (en deur Ramaphosa self) na die “nasionaal-demokratiese rewolusie” en die Vryheidsmanifes skep al hoe meer die indruk dat hierdie uitgediende beleidstukke eie aan die Koue Oorlog-era, meer gewig dra as die land se Grondwet.

Kortom kom dit daarop neer dat die ANC in die Kodesa-onderhandelinge toegewings gemaak het om die mag te kry en nou daardie mag gebruik om hul oorspronklike doelstellings af te dwing. Dit beteken dat hulle, sonder om die bewoording van die Grondwet te verander, die 1994-ooreenkoms in praktyk reeds verbreek het.

Westerse moondhede kan nie toelaat dat meerderheidsregering, waarvoor hulle soveel druk uitgeoefen het, sommer so oorgaan in meerderheidsoorheersing nie. Dit sal Westerse geloofwaardigheid in gedrang bring by elke ander wêreldbrandpunt waar die internasionale gemeenskap ’n onderhandelde oplossing probeer vind.

Dit sal egter nie help as die Weste die land straf vir die regering se oortredings nie. Die oplossing lê veel eerder daarin om die regering deur politieke en ekonomiese druk te oorreed om ooreenkomste te respekteer.

Die stelselmatige ondermyning van die Grondwet se oorspronklike Westerse waardes, soos die oppergesag van die reg, die skeiding van magte, mediavryheid, die markekonomie en eiendomsreg, gelyke geleenthede en kulturele vryheid, is alles tekens dat die ANC Westerse waardes nou wil laat links lê.

Dit kan ook gesien word aan die “totalitêre” transformasiebeleid, die terugbring van ras as grondslag van regeringsbeleid en die groeiende misbruik van staatsmag om politieke doelwitte te bevorder. Boonop wil dit lyk of verskuiwing in die ANC se buitelandse beleid die verskuiwing in hul binnelandse beleid weerspieël. Waar die party ná 1994 die land na die Weste toe gedraai het, het die totstandkoming van Brics ’n nuwe era ingelui, waar die ANC veral na China en selfs Kuba vir ekonomiese leiding begin kyk het.

Die Brics-lande gaan egter gebuk onder talle probleme en ten spyte van die groei in lande soos China gee die Westerse blok nog steeds die pas wêreldwyd aan.

Daar is talle tekens dat die Weste nie die ANC se linksomkeer goedsmoeds gaan aanvaar nie. Die Amerikaanse en Europese kamers van koophandel het die regering al verlede jaar trompop geloop oor sy anti-Westerse houding en verandering in ekonomiese beleid. Hierdie Westerse druk kom op ’n slegte tyd vir die regering omdat die Suid-Afrikaanse ekonomie tans deur diep water gaan. Die land se voortgesette afhanklikheid van die kragtige Amerikaanse ekonomie is waarskynlik ’n groot verleentheid vir die regering se linkse beleidmakers wat die Chinese model nastreef.

Dit is duidelik dat hoewel die politieke “huwelik” tussen die Weste en die ANC nog nie finaal op die rotse is nie, die wittebrood beslis verby is. Die ANC sit met die ongemaklike probleem dat hulle die rewolusie wil voortsit, maar dat die winde van verandering nou weer stormsterk weswaarts waai. Die regering mik oos, maar die wind waai wes.

Om verskerpte buitelandse inmenging te verhoed, behoort die ANC die ope aanbod van die Solidariteit-beweging en ander Afrikaanse organisasies vir ’n opvolgskikking oor brandpunte te aanvaar. Hulle moet die les uit hul eie geskiedenis leer dat ’n regering nie sy eie burgers se menseregte teen die wêreldmening in kan ontneem nie. Daarvoor is die wêreld te klein.

  *Flip Buys is die voorsitter van die Solidariteit-beweging.

Meer oor:  Donald  |  Trump  |  Grondhervoming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.