Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Wette kan haat nie keer

Dalk moet ons almal leer om bietjie minder sensitief te wees, skryf Waldimar Pelser.

Dit lyk deesdae asof die denkpolisie doeltreffender is as die SAPD.

Penny Sparrow – beboet en aangekla. Die deeltydse konstitusionalis Julius ­Malema (wat soms vryskut as rasdemagoog) is deur ’n hof verbied om sy hatige strugglelied “Skiet die Boer” weer te sing.

Voel u ook dadelik veiliger?

Die afgelope week is drie studente aan die Universiteit Stellenbosch geskors omdat hulle plakkate met Nazi-ikonografie opgeplak het.

Phansi, poetse!

Denk-, praat- en skryfmisdadigers is ­regtig oral.

Mense soos Helen Zille, wat tugstappe trotseer weens woorde oor die koloniale verlede. Of die bekroonde Keniaanse skrywer Ngugi wa Thiong’o, wat die swak oordeel aan die dag gelê het om laas maand aan die Universiteit van Kaapstad (UK) ’n lesing te gee aan ’n gehoor waarin daar wit gesigte was. Jillende betogers het hom gou gekeer, en hom ook gevra waarom hy hoegenaamd ’n ouditorium betree – die Baxter-teater, lokus van progressiewe teater, al vir jarre – wat deur kolonialiste gebou is?

Sosiale media versterk eggokamers en borrels, en dit is baie raar dat ons blootgestel word aan sienings waarvan ons nie hou nie...

Steve Hofmeyr is persona non grata min of meer oral. Die wapens waarmee hy moor en vermink, is woorde.

So vertel die denkpolisie ons.

’n Parate klomp, dus.

Die rubriekskrywer Jon Qwelane word tans verhoor nadat hy in 2008 in ’n vies­like rubriek in die Sunday Sun, susterskoerant van Rapport, geskryf het dat die aanvaarding van gayhuwelike sou kon lei tot die wettiging van bestialiteit. “I now ­pronounce you man and goat,” het ’n spotprent daarnaas gesê.

Die denkpolisie, wat glo dat hulle haat met wetgewing en heksejagte op Twitter of Facebook kan keer, vervolg nie net voorstedelike mense op wie se Facebookbladsye die antiswart-rassisme en die homofobie en die weersin in minderhede in dik strome vloei nie (hulle is gewoonlik lugtig om teen antiwit-rassisme op te tree). Hulle is ook oorsee aktief, waar akademici met ongewilde of “regse” sienings kampusse in Amerika en Europa verbied word. Hulle word “gedeplatform”.

Verlede jaar het die UK, wat deesdae die verwydering van “aanstootlike” kuns kondoneer, sy verbintenis tot akademiese sensuur en ideologiese verbeeldingloosheid gewys deur ’n bitter gevaarlike man die kampus te belet.

Flemming Rose, ’n Deense joernalis, is vroeër deur die UK se “Komitee vir Akademiese Vryheid” genooi om in Augustus 2016 die jaarlikse TB Davie-gedenklesing te lewer.

Dit was Rose se koerant, Jyllands-Posten, wat in 2005 spotprente van die profeet Mohammed gepubliseer het wat ’n storm van vuur ontketen het onder Islamitiese fundamentaliste, en insgelyks onder hul Westerse paaiers, wat glo dat inwoners van liberale, 21ste-eeuse demokrasieë hulle aan die verordeninge van die Koran moet steur en dat enigiemand die reg het om nooit aanstoot gegee te word nie.

Indertyd is Deense ambassades afgebrand en Rose met moord gedreig.

Vir die woedende reaksie van die kommentariaat het Max Price, die UK se visekanselier, nie kans gesien nie. Toe word Rose die kampus belet.

“Die openbare orde op baie kampusse is in ’n fragiele toestand en in sekere gevalle plofbaar. Dit sou onwys wees om ’n hoogs omstrede spreker in so ’n tyd tot die mengsel toe te voeg.” Rose sou die kampus “verdeel”.

Dit was dit. Tot dié week.

Die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) het Rose, wie se naam op moordlyste van Al-Kaïda en Isis verskyn, vir twee lesings en ’n paar radio-onderhoude in Johannesburg en Kaapstad genooi.

Dié man, wie se vriende by die Franse satiriese blad Charlie Hebdo in Januarie 2015 deur Islamitiese terroriste vermoor is nadat ook hulle die profeet se klaarblyklik fragiele waardigheid aangetas het, het kom sê dat ons almal ’n bietjie moet toughen up. Want die einste minderhede wat so bedreig voel deur haatspraak het vryheid van spraak die meeste nodig. Dit sluit Moslems in. En gay mense. En wit ­mense . . .

Rose sê ons hoor deesdae reeds te min diverse menings.

“Sosiale media versterk eggokamers en borrels, en dit is baie raar dat ons blootgestel word aan sienings waarvan ons nie hou nie, want die algoritme van Facebook, Twitter, ensovoorts is gebou om ons veilig te laat voel,” sê Rose.

“In Amerika kon baie anti-Trump-kiesers glad nie verstaan dat hy gewen het nie. Hulle het immers tydens die veldtog self nie ’n enkele Trump-ondersteuner ­teëgekom nie! Want hulle het almal in hul eie klein borrels geleef.”

Om sprekers op kampusse te deplatform of spotprenttekenaars soos Zapiro te verguis of kunstenaars soos Brett Murray se Spear te besmeer of die “Neo-Nazi’s” op Stellenbosch te skors of Malema te snoer of Zille te hang of ’n redaksie te skiet omdat hulle jou affronteer, kan nie deur demokrate geduld word nie.

Die kernverskil tussen ’n demokrasie en ’n diktatuur is juis dat laasgenoemde nie net dade kriminaliseer soos moord, diefstal of bedrog nie – ’n demokrasie doen dieselfde – maar ook woorde en idees asof hulle dieselfde dinge as dade is.

As joernaliste in die laaste jare van die Sowjetunie is vriende van Rose na strafkampe gestuur omdat hulle “die mense van die Sowjetunie se eer geskend het”.

“Hul woorde is beskou as ’n bedreiging vir die politieke orde. En dit is waarom haatspraakwetgewing toe­gepas word. Nie dat woorde nie gevolge het nie, maar ons kan hulle nie kriminaliseer om die opinies agter die woorde te beveg nie.”

Hy vra: Wat beteken “haat” immers? Wie besluit? Dit is altyd dié met mag.

“Toe ek my boek oor die spotprentkrisis geskryf het, het ek 35 definisies van haat gevind in die Europese Unie. Die ander probleem is dat haatspraakwetgewing gewoonlik gebruik word om spraak stil te maak waarvan jy nie hou nie.”

Rose stem saam met die Amerikaanse regskenner Robert C. Post, dekaan van die ­Yale-Universiteit se regsfakulteit, dat “haatspraakwette nie mik om haat uit te roei nie, maar om een groep se maatskaplike waardes op almal anders af te dwing”.

“Dit werk dalk in ’n homogene samelewing waar almal oor die norme saamstem. Maar in ons wêreld, waar jy verskillende godsdienste en kulture het, verskillende agtergronde, word dit ’n manier om ongelykheid af te dwing. Want mense glo in verskillende goed.”

Wette teen haatspraak wérk nie.

In Weimar-Duitsland het wette teen haatspraak nie die Nazi-opmars en die ­Jodeslagting kon keer nie. In Joego-Slawië kon jy tien jaar tronkstraf opgelê word as jy ’n etniese grap vertel in ’n restaurant. “Maar toe die etniese konflik begin het, het die wette niks beteken nie,” sê Rose.

“Haatspraakwette is nie die regte remedie nie. Ons moet leer om terug te praat, eerder as om te verbied. Verbode opinies word bloot onderdruk. Mense ontmoet agter geslote deure. Ek dink dis beter om dit in die oopte te hê, sodat ons weet wie ons vyand is, en wie ons moet beveg.”

Hy daag sy kritici uit: “Neem die burgerregtebeweging, kyk na Martin Luther King, gaan verder terug en lees Frederick Doug-lass . . . dit is baie duidelik dat in die stryd teen slawerny, die stryd om emansipasie, vryheid van spraak sentraal gestaan het. Die owerhede het hierdie maatskaplike bewegings probeer stilmaak.

“Dieselfde geld vroue, homoseksuele, en ander groepe wat al geveg het vir hul regte. Hulle het spraakvryheid nodiger as diegene met mag. Dit is waarom ek my minderheidsvriende oor die wêreld heen probeer oorreed dat jy jou nooit moet beywer vir haatspraakwette nie, want wanneer hulle nodig is, gaan hulle teen jou ­gebruik word.”

Rose voer ’n opdraande stryd.

By liberale universiteite duld of bevorder die owerhede die postmodernistiese konvensie dat alle kulture eintlik maar ewe goed of sleg is. Jy mag nie kritiseer of veroordeel nie, veral nie as jy “bevoordeeld” is nie. En hy is ’n wit man . . .

Ons moet identiteitspolitiek beveg en ons regte as individue opeis om te sê presies wat ons wil – met dien verstande dat ons nie mag aanhits tot geweld, laster pleeg of mense se privaatheid skend nie.

In ’n onderhoud met Rapport sê Rose dat Europeërs te lank onwillig was om vir Moslem-immigrante te sê “wat die spel­reëls hier is”. Self-sensuur is toegepas.

“Hulle het weggedraai en gesê, wel, dis maar net ‘hulle kultuur’. Maar met verloop van tyd het hulle besef daar is baie gebruike wat indruis teen die fundamentele beginsels van Europese demokrasie. Dink aan homoseksualiteit, gelykheid tussen mans en vroue . . . die reg om godslastering te pleeg, met godsdienste te spot of jou godsdiens te verlaat. Dit het uiteindelik tot hulle deurgedring dat ons ’n uitdaging op hande het. En nou is ons in ’n proses van konfrontasie. En daar is meningsverskille. En ons moet vasstel wat is onderhandelbaar.”

Die krisisbesef in Europa help gesonder gesprekke ontdaan van ’n histeriese politieke korrektheid bietjie-bietjie aan.

En Suid-Afrika? Wat sê hy vir wit mense wat so bang is om as rassiste gebrandmerk te word dat hulle geheel en al aan gesprekke oor die politiek of identiteit onttrek?

“Ons moet identiteitspolitiek tot elke prys beveg,” pleit Rose. “Ons moet ons ­belyn met mekaar op grond van menings, en nie ons identiteit nie.”

En daarom moet ons mekaar se menings – selfs die haatlikes – kan aanhoor, sodat ons dit met feite en argumente kan weerlê eerder as dit met wette probeer smoor.

Meer oor:  Helen Zille  |  Penny Sparrow  |  Jon Qwelane  |  Flemming Rose  |  Waldimar Pelser  |  Haatspraak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.