Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Wie is beste vir SA: Trump of Biden?

Miljoene Amerikaanse kiesers staan in hierdie dae in lang rye om in die presidentsverkiesing te stem. Maar wat beteken die verkiesing vir Suid-Afrika? En wie gaan die beste vir ons land wees – Donald Trump of Joe Biden? Leopold Scholtz soek na ’n antwoord.

Pres. Donald Trump van Amerika het hom al uitgelaat oor grondonteiening en plaasmoorde in Suid-Afrika en ook laat blyk dat hy nie veel van oudpres. Nelson Mandela dink nie. Foto: AP

Kom ons begin by die begin. Dis sekerlik moontlik dat dié of daardie plaaslike politikus in die loop van die Amerikaanse verkiesingsveldtog iets oor Suid-Afrika te sê gehad het. Maar in die breë speel ons land geen enkele rol hoegenaamd in die huidige politieke stryd om die mag nie.

’n Mens kan jou inderdaad afvra of ’n meerderheid kiesers hoegenaamd in staat sou wees om Suid-Afrika vinnig op ’n kaart aan te dui.

Dit beteken egter nie dat die verkiesing heeltemal onbelangrik vir Suid-Afrika is nie, al moet die invloed van die uitslag nie oordryf word nie.

Suid-Afrika is Amerika se grootste handelsvennoot in Afrika.

Die bilaterale handel tussen die twee lande vertel wel ’n verhaal. In 2018 het Amerika goedere en dienste ter waarde van $8,4 miljard na Suid-Afrika uitgevoer. Omgekeerd het goedere en dienste ter waarde van $10,5 miljard uit Suid-Afrika na Amerika gevloei.

Suid-Afrika is Amerika se grootste handelsvennoot in Afrika.

Net om dit egter in perspektief te stel: Dit maak van Suid-Afrika die 38ste grootste handelsvennoot van Amerika. Ter vergelyking, Suid-Afrika se handel met die Europese Unie was in dieselfde jaar meer as $75 miljard werd (dus die EU se 19de grootste handelsvennoot).

Joe Biden, tóé Amerika se adjunkpresident, kyk na die wedstryd tussen Suid-Afrika en Mexiko in die 2010 Wêreldbeker-sokkertoernooi. Foto: Getty Images

Wat wel belangrik is, is dat die African Growth and Opportunity Act (Agoa) – ’n handelsooreenkoms wat in 2000 gesluit is – in 2025 verstryk. Suid-Afrika het ’n positiewe handelsbalans met Amerika (verkoop $2 miljard se goedere en dienste meer as wat hy van Amerika koop).

Dié soort ding is iets waarvan Donald Trump niks hou nie. As hy wen, kan hy Agoa óf nie hernu nie of (uit sy eie oogpunt) gunstiger voorwaardes aan Suid-Afrika opdwing.

Wat Joe Biden se houding sal wees, is ’n ope vraag.

Gesien Biden se voorheen vriendelike betrekkinge met die ANC sal hy Agoa moontlik voortsit.

Afgesien van wie die verkiesing aanstaande week wen, die feit dat die dwerg Suid-Afrika wegraak voor die reusagtige Amerikaanse ekonomie gaan nie beduidend verander nie.

Republikeine en grond

Mike Pompeo, Amerika se minister van buitelandse sake, het Suid-Afrika se planne vir grondonteiening op ’n besoek aan Angola as ‘rampspoedig’ bestempel . Foto: AP

Maar hoe staan dit op politieke vlak? Kom ons kyk hoe Trump se Republikeine en Biden se Demokrate na Suid-Afrika kyk.

’n Mens moet behoorlik soek om aanduidings te kry – soos hierbo gestel, speel Suid-Afrika ’n verwaarloosde rol in die Amerikaanse politiek. Daar is ewenwel enkele feite wat ’n nuttige aanduiding gee.

Ten eerste het Trump Mike Pompeo, sy minister van buitelandse sake, in Augustus 2018 opdrag gegee om die “beslaglegging op grond en plase in Suid-Afrika” en plaasmoorde daar goed te bestudeer. Dit was vermoedelik in reaksie op ’n nuusberig op Fox News, Trump se geliefkoosde televisiekanaal, oor die grondkwessie en plaasmoorde, asook oor die nuus dat die Suid-Afrikaanse regering grond sonder vergoeding wou nasionaliseer.

Dat Pompeo uit Suid-Afrika weggebly het, maar wel in Angola, Ethiopië en Senegal was, sê moontlik iets oor Amerika se prioriteite in Afrika.

Die Suid-Afrikaanse regering se woedende reaksie was dat só ’n opdrag “ons nasie probeer verdeel en ons aan ons koloniale verlede herinner”.

Hierna was dit, altans op die oppervlak, lank stil. Tot Februarie vanjaar, toe Pompeo die onteieningsplanne tydens ’n besoek aan Angola as “rampspoedig” bestempel het. Hy het ’n soortgelyke beleid van pres. Robert Mugabe se regering in Zimbabwe genoem as voorbeeld van waarom “mislukte sosialistiese eksperimente” die ekonomie en die mense benadeel.

Dat Pompeo uit Suid-Afrika weggebly het, maar wel in Angola, Ethiopië en Senegal was, sê moontlik iets oor Amerika se prioriteite in Afrika.

Eers later het hy die Suid-Afrikaanse regering gekritiseer omdat dié Kubaanse dokters gewerf het om teen die koronavirus te veg.

Pres. Donald Trump luister hoe Jared Kushner, sy skoonseun, praat oor die onlangse ooreenkoms tussen Soedan en Israel. Saam met hulle is Mike Pompeo, sy minister van buitelandse sake, Ronert O’rien, nasionale veiligheidsraadgewer. Foto: Reuters

Agter die skerms het Trump al verskeie kere gewys wat hy van Afrika in die algemeen dink. In April 2018 het hy na “sh*thole countries” verwys. Volgens ’n boek van sy gewese prokureur, Michael Cohen, het Trump op ’n keer ná pres. Nelson Mandela se dood in 2013 só gepraat:

“Mandela f*cked the whole country up. Now it’s a sh*thole. F*ck Mandela. He was no leader.”

Trump het glo ook gesê: “Tell me one country run by a black person that isn’t a sh*thole. They are all complete f*cking toilets.”

Dit is wel onmiddellik deur Kayleigh McEnany, Trump se woordvoerder, ontken.

Biden en apartheid

Dié plakkate buite ’n huis in Lancaster, Pennsilvanië, wys vir wie die eienaar volgende week gaan stem. Foto: Reuters

Ook oor die Demokratiese kant is daar nie veel te sê nie. Dis bekend dat Biden in die 1980’s ’n rol in die Amerikaanse offensief teen die destydse apartheidsbeleid gespeel en op sanksies teen die regering van pres. PW Botha aangedring het.

Hy het ook in Februarie vanjaar beweer dat hy saam met Andy Young, toe ’n kongreslid, op die strate van Soweto in hegtenis geneem is toe hulle Mandela in die tronk op Robbeneiland (1 600 km ver weg) probeer besoek het. Hy moes later toegee dat dit onwaar was – dat polisielede hom op ’n lughawe van sy swart kollegas van die kongres probeer skei het en wou dwing om deur ’n deur vir wit mense in te gaan.

Die konserwatiewe Washington Examiner het Biden se verhaal nog verder uitmekaar getrek. Op grond van dokumente in die argief van die Amerikaanse departement van buitelandse sake is vasgestel dat die kongres-afvaardiging nooit eens in Johannesburg of naby Soweto was nie: Van Washington het die groep via Dakar en Nairobi na Bloemfontein gevlieg, per bus na Maseru gereis, terug na Bloemfontein en toe na Kaapstad.

Daarmee het Biden sy prestige tydelik skade berokken. Maar blykbaar onthou niemand in Amerika dit meer nie.

’n Ondersteuner van pres. Donald Trump by ’n byeenkoms in Londonderry, Nieu-Hampshire. Foto: Reuters

In Junie vanjaar het ’n video opgeduik van ’n Biden-toespraak in ’n senaatskomitee in 1986, waarin hy die Botha-regering as “afskuwelik” en “afstootlik” bestempel het. Die destydse (Republikeinse) minister van buitelandse sake, George Shultz, het daarna gesê hy “skaam” hom vir Biden se felheid.

’n Feit wat moontlik onregstreeks ’n effense invloed op ’n Biden-administrasie se houding teenoor Suid-Afrika kan hê, is dat Biden se seun, Hunter, vanjaar getroud is met die Suid-Afrikaner Melissa Cohen, wat van Johannesburg kom. Sy is intussen tot Amerikaanse burger genaturaliseer.

Wie gaan die beste vir Suid-Afrika wees – Trump of Biden? Dit gaan dalk ’n ongewilde antwoord by albei se Suid-Afrikaanse ondersteuners wees, maar uit ons land se perspektief is dit ’n kwessie van ses van die een en ’n halfdosyn van die ander.

Die antwoord lê in wat aan die begin genoem is: Suid-Afrika is volstrek onbelangrik vir die Amerikaanse politiek, en dit gaan nie gou verander nie.

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder en historikus wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Nelson Mandela  |  Joe Biden  |  Donald Trump  |  Mike Pompeo  |  Zimbabwe  |  Amerika  |  Suid-Afrika  |  Angola  |  Amerikaanse_Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.