Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Wie is redakteur – jy of John Vorster?’

Deur die toedoen van sy redakteursvriend Schalk Pienaar het hy deel gehad aan die groot persstryd van die 1960’s en ’70’s, skryf Denis Worrall.

Schalk Pienaar

In die laat 1960’s het ek vir Schalk Pienaar, destyds die redakteur van die Sondagkoerant Die Beeld, ontmoet.

Pienaar het geweet van ’n rubriek wat ek voorheen vir die Sunday Tribune geskryf het en wou weet of ek sou belangstel om een vir Die Beeld te skryf.

Hy wou hê ek moes skryf uit die gesigspunt van ’n Engelssprekende Suid-Afrikaner.

As agtergrond: Destyds was ’n tyd van intense ideologiese wedywering tussen Afrikaners in die suide en Afrikaners in die noorde, soos weerspieël in die sogenaamde verligte-verkrampte-
debat.

Alle aspekte van die Afrikaner-samelewing, insluitende die Nasionale Party, is geraak.

Dit het uiting gevind in die kerke en universiteite en het gewentel om kwessies soos die rol van die bruin gemeenskap, klein apartheid, sensuur en selfs literatuur.

Hierdie verdeling is ook weerspieël in die twee groot Afrikaanse mediagroepe: Nasionale Pers, uitgewer van Die Burger in Kaapstad, en die Afrikaanse Pers (wat later Perskor sou word) met sy Transvaalse dagblad Die Transvaler. Die spanning tussen die twee was tasbaar.

Terwyl Nasionale Pers ’n effe meerderwaardige houding gehad het, het die Afrikaanse Pers die enigste Afrikaanse Sondagkoerant, Dagbreek, besit wat landwyd versprei is. Daar was dus kommersiële en politieke redes waarom Nasionale Pers ook ’n Sondagkoerant wou hê – vandaar die besluit om Die Beeld te stig (wat in 1970 met Dagbreek sou saamsmelt om Rapport te word).

Toe ek Pienaar ontmoet het, was die twee groepe egter aan mekaar se keel.

My eerste rubriek in Die Beeld het op Sondag 30 Januarie 1966 verskyn.

‘Worrall word wyd gelees, ook deur mense wat nie saamstem nie.’

Aangesien dit egter iets van ’n nuwigheid was, het die eerste rubriek ’n groot Romeinse syfer I bo-aan gehad. Pienaar was uitgeslape en het vir homself beskerming ingebou vir in geval die idee nie uitwerk nie.

So het die rubriek ses Sondae verskyn totdat ek dié Maandag ’n oproep van Dirk Richard, redakteur van Dagbreek kry – wat natuurlik Die Beeld se mededinger was.

Hy het my gevra of ek ’n artikel oor Engelssprekende politieke houdings vir die volgende Sondag se koerant sal bydra.

Natuurlik het ek Schalk van die oproep gesê toe ek my kopie vir daardie week se koerant stuur. Daardie Sondag het my rubriek sonder die Romeinse syfer verskyn en het ek vir ses jaar ononderbroke die rubriek geskryf.

Ek dink egter nie dat Schalk, wat een van my beste vriende geword het, die probleme voorsien het wat ek later vir hom sou besorg nie. Ek het dit beslis nie verwag nie.

Dis reeds genoem dat Pienaar in die middel van die verligte-verkrampte-stryd was. Trouens, die digter D.J. Opperman, wat ook ’n vriend van Pienaar was, het geskryf dat hy ’n breë maar skerp politieke benadering gevolg het in sy stryd met Dagbreek.

“Die stryd was teen deurmekaar idees, belaglike toepassings van apartheidsregulasies, troetel-idees oor die tuislandbeleid, die seer wat Soweto was en die destabilisering van die Nasionale Party wat gelei het tot konserwatiewe reaksies.”

Pienaar het besef daar is ’n toenemende gevoel van vyandigheid teenoor my in Afrikaanse politieke geledere – hoewel hy geweet het dat die inhoud, essensie en semi-intellektuele toon van my bydraes dieselfde gebly het. Maar, het hy verder verduidelik, daar is mense en instansies wat die eerste minister, John Vorster, wou bykom, maar nie die ruggraat gehad het om hom direk te konfronteer nie en daarom verkies het om dit te doen deur Die Beeld – en spesifiek Denis Worrall – aan te val.

Dit was veral die geval in Transvaal. Trouens, by een van die Nasionale Party se provinsiale jaarlikse konferensies het ’n aantal afgevaardigdes gedreig om hul steun te weerhou tensy die party Denis Worrall verwerp.

En by ’n Kaapse konferensie van die party het PW Botha ’n gesamentlike vriend gekry om aan Pienaar te vra of dit die moeite werd is om voort te gaan met Denis Worrall se rubriek.

So het dit gekom dat Pienaar in September 1968 verplig was om ’n hoofartikel te skryf waarin hy die plasing van my rubriek regverdig: “As ’n Afrikaner wil weet – en hy wil weet – hoe ’n verligte Engelssprekende Suid-Afrikaner ’n bepaalde situasie sien, moet dit vir hom moontlik wees om dit in Die Beeld te lees.”

Hy het bygevoeg dat sy redaksionele kollegas ten gunste was van die voortsetting van die rubriek en dat die sirkulasiesyfers die standpunt ondersteun.

Maar die beste moes nog kom.

As gevolg van druk van die eerste minister het Pienaar in Februarie 1969 aan Hubert Coetzee, besturende direkteur van Nasionale Pers, geskryf en gevra of die maatskappy ’n amptelike siening gehad het oor die kwessie van die publikasie van rubrieke deur my en die skrywer André Brink.

Om spesifiek te wees, skryf Pienaar: “Hoewel daar meningsverskille oor hierdie twee is, is my mening dat albei hierdie rubrieke baie waardevol vir Die Beeld is.

“Brink is sonder twyfel die skitterendste skrywer in Afrikaans, en Worrall word baie wyd gelees, ook deur mense wat nie met hom saamstem nie.”

Kort nadat hy hierdie brief geskryf het, het hy ’n persoonlike antwoord van Hubert Coetzee ontvang: “Schalk, ek vra jou: Wie de donner is die redakteur van Die Beeld? Jy of John Vorster?”

Dit is ’n aanhaling wat sedertdien ’n klassieke verklaring van redaksionele onafhanklikheid geword het.

Die rubriek het my begrip van die Suid-Afrikaanse politiek verryk. Immers is die meeste groot ontwikkelings in die land vanaf 1948 baie grootliks deur Afrikaners en hul reaksie op die algemene Suid-Afrikaanse situasie bepaal.

Trouens, die reaksie van Afrikaners op die groot uitdagings wat die land in die gesig staar, sou in ’n groot mate bepaal of die oorgang van apartheid na ’n meer inklusiewe samelewing relatief vreedsaam sou wees.

Dit was die aanname wat my aanvanklike toetrede tot die politiek en later my bedanking as ambassadeur in Londen en die besluit om die Helderberg-kiesafdeling in 1987 te betwis onderlê het.

*Hierdie artikel is ’n geredigeerde uittreksel uit The Independent Factor: My Personal Journey through Politics and Diplomacy deur Denis Worrall. Dit word uitgegee deur Reach Publishers.

Meer oor:  Koerante  |  Uittreksel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.