Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Wie is Sri Lanka se Christene?

Die bomaanvalle die Paasnaweek in Sri Lanka was skynbaar gemik teen Christene. Mathew Schmalz vertel meer oor die Christene van dié eilandnasie en watter rol hulle speel.

Verskeie kerke in Sri Lanka was Paasnaweek die teiken van skynbaar goed georganiseerde bomaanvalle. Foto: Reuters

Verskeie bomaanvalle op kerke en hotelle in Sri Lanka oor die Paasnaweek het die lewe van 290 mense geëis.

Christengemeenskappe wat oor die eiland versprei is, was die teiken van die aanvalle. Selfmoordbomaanvallers het kerke in Colombo en Negombo aan die weskus, die tuiste van baie Singalese Katolieke, aangeval.

Nog ’n bom het 200 km verder in ’n Protestantse kerk in Batticaloa ontplof, ’n stad aan die oostekant van die eiland waar Tamils in die meerderheid is.

As ’n navorser van en professor in Katolieke godsdienstige studie, het ek in die herfs van 2013 in Sri Lanka gebly en navorsing gedoen oor die Katolieke godsdiens in die suidwestelike en noordelike dele van die land.

Ongeveer 7% van Sri Lanka se 21 miljoen inwoners is Christene. Die meerderheid van hulle is Rooms-Katoliek.

Sri Lanka se Christene het ’n lang geskiedenis wat die dinamiek van kolonialisme sowel as hedendaagse etniese en godsdienstige spanning weerspieël.

Die koms van die Katolieke godsdiens

Die kerk van St. Sebastiaan in Negombo was een van die teikens van bomaanvallers oor die Paasnaweek in Sri Lanka. Foto: Reuters

Portugese kolonialisme het die deur vir die Rooms-Katolieke godsdiens in Sri Lanka geopen.

Die Portugese het in 1505 na Ceylon, soos Sri Lanka toe genoem is, gekom as deel van ’n handelsooreenkoms met koning Vira Parakramabahu VII en het later ingemeng by troonopvolgingsgeskille in plaaslike koninkryke.

Don Juan Dharmapala, die koning van Kotte, ’n klein koninkryk naby die hedendaagse Colombo aan Sri Lanka se suidwestelike kus, was onder diegene wat bekeer is.

Toe die Portugese later plek maak vir Nederlanders en die Nederlandse Oos-Indiese Kompanie, het die Rooms-Katolieke godsdiens herleef danksy die pogings van sint Joseph Vaz.

Katolieke het die pouslike vlag saam met die nasionale vlag geswaai tydens vierings van onafhanklikheidsdag.

Vaz was ’n priester van Goa, Portugal se kolonie in Indië, en het in 1687 in Sri Lanka aangekom. Volgens oorlewering het hy ’n aantal wonderwerke verrig, soos om reën te bring tydens ’n droogte en ’n eenloperolifant mak te maak. Pous Fransiskus het Vaz in 2015 tot heilige verklaar.

Toe Sri Lanka teen 1948 onafhanklikheid van Brittanje verkry het, het Katolieke ’n onmiskenbare identiteit gehad. Katolieke het byvoorbeeld die pouslike vlag saam met die nasionale vlag geswaai tydens vierings van onafhanklikheidsdag.

Maar spanning het in 1960 ontstaan toe Sri Lanka se regering die onafhanklikheid van die Katolieke Kerk gekompromitteer het deur kerkskole oor te neem.

In 1962 het Katolieke en Protestantse weermagoffisiere probeer om die regering van die destydse eerste minister Sirimavo Bandaranaike omver te werp omdat hulle glo ontevrede was met die toename van Boeddhiste in die weermag.

Etniese en godsdienstige verdelingslyne

Iemand probeer die ma van ’n 13-jarige meisie wat in ’n ontploffing in Negombo dood is, vertroos. Foto: Reuters

Die 25 jaar lange Sri Lankaanse burgeroorlog, wat in 1983 begin het, het die Katolieke gemeenskap verdeel.

Die sogenaamde Tamil Tiere het in dié tyd teen die regering baklei omdat hulle wou hê Sri Lanka se Tamil-gemeenskap in die noordelike en oostelike dele van die eiland moes sy eie staat kry.

Katolieke in die weermag het onder die rebelle getel. Maar die Sri Lankaanse weermag het ook Christenlede in leierskapsposisies gehad.

Katolieke biskoppe van Tamil- en Singalese gebiede kon nie ’n koherente reaksie op die burgeroorlog formuleer nie. Hulle kon nie eens saamstem oor die aanbeveling van ’n skietstilstand tydens Kerstyd nie.

Meer onlangs was daar ’n toename in militante vorms van Boeddhisme in Sri Lanka wat Christene onder andere in die visier gehad het. Die ultra-nasionalistiese Boeddhistiese organisasie die Bodu Bala Sena (ook in Engels bekend as die Buddhist Power Force) het byvoorbeeld daarop aangedring dat Fransiskus om verskoning vra vir die “wreedhede” van die koloniale magte.

Hoewel dit nie as ’n teenstrydigheid beskou word om ’n Katoliek én ’n Sri Lankaan te wees nie, is die koloniale verlede steeds ’n probleem vir Katolieke.

Deel van wêreldwye Katolisisme

Lede van Sri Lanka se veiligheidsmagte sper ’n straat in Colombo af ná die bomaanvalle die Paasnaweek. Foto: Reuters

Terselfdertyd het Katolisisme ’n sterk kulturele teenwoordigheid in die land.

In die noorde is daar byvoorbeeld ’n groot pelgrimsoord, Madhu, wat opgedra is aan die Maagd Maria. Fransiskus het dit in 2015 besoek.

Daar is ook die internasionaal bekende genesings- en gebedsentrum, Kudagama, noordwes van die Boeddhiste se heilige stad, Kandy.

Sri Lankaanse Katolieke het ’n belangrike rol gespeel in Katolisisme wêreldwyd. Malcolm Ranjith, kardinaal-aartsbiskop van die hoofstad, Colombo, is as ’n moontlike kandidaat beskou voordat Fransiskus verkies is.

Protestante van Sri Lanka

Boeddhistiese monnike voor ’n kerk in Colombo wat die teiken van bomaanvallers was. Foto: Reuters

Sri Lanka se Protestantse gemeenskap is redelik klein en maak slegs sowat 1% van die bevolking uit.

Protestantisme het nes Katolisisme danksy kolonialisme ’n vastrapplek op die eiland gekry.

Protestantse en Calvinistiese sendelinge het saam met Nederlandse handelaars en regeringsamptenare gekom en in Sri Lanka se kusgebiede gewerk.

Hoewel Calvinistiese Protestantisme onder die Britse koloniale regering afgeneem het, was daar ’n herlewing in die Tamilsprekende noordelike dele van die eiland.

Die American Ceylon Mission het in 1813 begin en skole en ’n aantal klinieke gevestig. Die Jaffna-kollege, wat in 1872 gestig is, bly ’n belangrike Protestantse onderwysinstelling wat steeds bande met Amerika het.

Soldate bekyk die skade wat ’n bomontploffing aan die kerk van St. Sebastiaan in Negombo aangerig het. Foto: Reuters

Die kerke in Negombo waar ek navorsing gedoen het en waar een van die aanvalle plaasgevind het, is pragtige strukture in die Renaissance- en Barok-styl met bedrywighede regdeur die dag. Daar is nie net ’n daaglikse mis nie, maar Katolieke gaan dikwels soontoe om kerse brand te maak en die heiliges in gebede aan te roep.

Gedurende aanbiddingseremonies dra die vroue sluiers soos die Katolieke gebruik in die Weste was tot in die middel van die 20ste eeu.

Relikwieë vir die Maagd Maria is algemeen op Negombo se paaie saam met boë wat met kokosneute versier is – aanduidings van gemeentefeeste of -optogte.

Negombo se Katolieke kultuur het aan hom die naam “Klein Rome” besorg.

Maar nou sal dié “Klein Rome” – met sy pragtige kerke, strande en strandmeer – ook bekend staan as die plek waar ’n afgryslike daad van geweld teen Christene gepleeg is.

* Mathew Schmalz is medeprofessor in godsdiens aan die College of the Holy Cross in Worcester, Massachusetts. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

 
Meer oor:  Sri Lanka  |  Christene  |  Bomaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.