Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Wie kom weg met moord?

Ons is geregtig op antwoorde oor watter politici klippe in die pad na geregtigheid gerol het, skryf Mondli Makhanya.

Dirk Coetzee, voormalige Vlakplaas-bevelvoerder. Hy het amnestie gekry by die WVK. Foto: Jillian Edelstein

Amper twee jaar gelede is die 96-jarige Oscar Groening, die “boekhouer van Auschwitz”, vir vier jaar tronk toe gestuur vir sy aandeel aan die volksmoorde in die berugte Nazi-konsentrasiekamp.

Groening, wie se taak dit was om die geld en waardevolle items wat van gevangenes afgeneem is te tel en op te teken, het probeer om sy verhoor te vermy weens sy hoë ouderdom. Hy het egter die stryd verloor – sowel as sy appèl om sy vonnis te probeer verlig. Hy het verlede jaar in die hospitaal gesterf voordat hy sy vonnis begin uitdien het.

’n Interessante deel van sy storie is dat hy sedert die 1980’s ’n vurige aktivis geword het teen die ontkenning van die Joodse volksmoord. Ironies genoeg was baie van die getuienis wat gebruik is om hom aan te kla en tot sy skuldigbevinding gelei het, uit sy bekentenisse op openbare verhoë en in die media afkomstig.

Gekwel deur dit wat hy in Auschwitz gesien en beleef het, het Groening volle verantwoordelikheid aanvaar vir sy aandeel aan gebeure – as getuie én as medepligtige. Groening is een van talle boosdoeners wat ná die val van hul regimes voor stok gekry is en gedwing is om te boet vir hul dade. Dit sluit lede van die Suid-Amerikaanse militêre junta, die Khmer Rouge en Rwandese volksmoordenaars in.

Dit kan nie net afgemaak word as ‘een van daardie dinge’ nie.

In al hierdie gevalle was daar geen haas om “die hoofstuk oor die verlede toe te maak en dit wat gebeur het agter hulle te sit” nie, maar eerder ’n besef dat geen genesing kan plaasvind sonder waarheid en geregtigheid nie.

In Suid-Afrika neem ons presies die teenoorgestelde standpunt in – of so wil dit voorkom.

In ons midde loop daar steeds duisende mense rond wat die gruwelikste moorde gepleeg en mense gemartel het ten einde die apartheidstelsel in stand te hou en die staat wat dit ondersteun het, te verdedig.

Baie van hierdie plegers van apartheidsmisdade is aan ons bekend, hetsy omdat hulle self voor die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) verskyn het of omdat hul name genoem is deur diegene wat voor die WVK verskyn het.

Sommige het aansoek gedoen en amnestie verkry, terwyl ander amnestie geweier is in ooreenstemming met die wet en die riglyne van die WVK.

In die geval van diegene betrokke by wandade wie se name nie bekend is nie, is hul misdade wel bekend. Daar is slagoffers en gesinne van individue wat op antwoorde en geregtigheid wag.

Die apartheidsregering het hierdie monsters in hul boesem vertroetel.

Maar selfs in vandag se postapartheid-Suid-Afrika is daar geen aptyt vir waarheid en geregtigheid nie.

Dit is ten spyte van die feit dat die Grondwet en die WVK-proses – terwyl dit die sentraliteit van versoening aanvaar – die strewe na geregtigheid nodig ag. Die boodskap van sowel die Grondwet as die WVK is geregtigheid eerder as wraak.

Die feit dat geregtigheid nog nie geskied het nie, is nie net weens ’n gebrek aan aptyt nie. Daar was eerder ’n besliste poging om die soeke na geregtigheid namens slagoffers van die apartheidsera te onderdruk en reuseklippe is in die pad van die vervolgingsowerhede gerol as hulle durf waag om iets hieraan te doen.

Dié uitgangspunt het die termyne van al ons presidente sedert 1994 gekenmerk – beginnende by die een wat nasiebou bevorder het tot by die een wat ’n kleptokrasie aangehang het.

Hierdie gebrek aan aptyt vir vervolging het sommige van die voormalige WVK-kommissarisse, onder wie emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu, gedwing om onlangs aan pres. Cyril Ramaphosa te skryf om hom aan te spoor om ’n kommissie van ondersoek te begin na politieke inmenging in die ondersoeke na gruweldade wat in die apartheidsera gepleeg is en om namens die regering om verskoning te vra vir diegene wat hierdeur geregtigheid ontneem is.

“Die versuim om diegene wat nie amnestie gekry het nie te ondersoek en te vervolg, is gelykstaande aan verraad teenoor die slagoffers wat gewag het op die regsproses om sy loop te neem en het in die proses aansienlik tot hul trauma bygedra,” lui ’n gedeelte van hul brief.

Die voormalige kommissarisse skryf dat dit die veiligste sal wees om tot die gevolgtrekking te kom dat die polisie en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) “deur politieke magte gekaap is wat die vervolging van ou WVK-sake betref”. Hulle sê dat albei instellings “met politieke magte saamgesweer het om doelbewus die grootste gros van die apartheidsera-misdade te onderdruk”.

Hulle spreek hul growwe verontwaardiging hieroor uit en beskryf die rol van die vervolgingsgesag en die polisie as “die mees fundamentele oortreding van die Grondwet en die wet”.

Was daar dus ’n doelbewuste poging om die strewe na geregtigheid te onderdruk, en indien so, waarom?

Die eerste vraag word grootliks beantwoord, nie deur veronderstellings nie, maar deur die optrede van senior politici en amptenare en deur dokumente wat oor die jare hul weg deur die hofstelsel gebaan het. Iets baie naby aan die spreekwoordelike bebloede mes op ’n moordtoneel, is ’n brief wat in 2007 geskryf is deur Brigitte Mabandla, die voormalige minister van justisie, aan die destydse NVG-baas, Vusi Pikoli, waarin sy hom betig oor die feit dat hy sonder haar toestemming voortgaan om sake uit die apartheidsera te vervolg.

In reaksie op mediaberigte wat Pikoli aanhaal, skryf Mabandla dat sy “onverhoeds betrap is hieroor” omdat Pikoli, volgens haar, onderneem het dat hy nie met vervolging sou voortgaan nie en selfs onderneem het om dit op skrif te stel.

So ’n direkte belangstelling deur ’n minister in vervolgingsaangeleenthede kom neer op direkte inmenging en ’n skending van die NVG se onafhanklikheid.

Waarom sy so diep gebelg was oor Pikoli se besluit om te vervolg, is ’n saak wat ’n mens aan haar moet oorlaat vir ’n verduideliking.

Toe, net twee weke gelede, laat val die NVG se adv. Torie Pretorius iets in ’n beëdigde verklaring wat soos ’n legitieme argument voorkom oor waarom politici ’n aandeel mag hê aan die vertraging van sommige politieke sake. In ’n beëdigde verklaring wat by die hof ingedien is in die saak van die voormalige veiligheidspolisieman Joao Rodrigues se aansoek om ’n opskorting van sy vervolging vir die moord op die aktivis Ahmed Timol, sê Pretorius: “Dit moet as geen verrassing kom dat die regering van die dag stappe mag gedoen het om ’n politieke oplossing te vind vir die politieke moorde wat deur verteenwoordigers van die regering voor 1994 gepleeg is. Dit is irrelevant wat ’n mens sulke stappe noem.”

Wel, dit maak saak.

Politieke bemoeiing met ondersoek- en vervolgingsbesluite is op sigself skrikwekkend, maar as die optrede van politici in uitvoerende poste op een of ander manier bygedra het tot die vertraging van geregtigheid vir diegene wat ’n onreg aangedoen is, is dit onvergeeflik. Dit kan nie net afgemaak word as “een van daardie dinge” nie.

Pretorius verklaar verder dat die NVG “nie kan ontken dat die uitvoerende gesag stappe gedoen het wat beskryf kan word as politieke optrede om ondersoeke en die moontlike vervolging van diegene aandadig aan politieke moorde te bestuur nie”.

Maar dit behoort nie aan Pretorius en sy kollegas oorgelaat te word om te verduidelik wat hier aangaan nie. Die antwoord moet kom van diegene wat in die eerste plek die klippe in die pad na geregtigheid gerol het.

  • Mondli Makhanya is redakteur van City Press.
Meer oor:  Holocaust  |  Nazi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.