Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Winnie Mandela: ’n Lewe van sterftes

Wat beteken dit om te sterf voor jou dood? Om vele sterftes te oorlewe? vra Christi van der Westhuizen oor Winnie Mandela op die dag van haar 80ste verjaardag.

Die ikoniese foto van Winnie Mandela toe sy die dag hand aan hand met oudpres. Nelson Mandela by die gevangenis uitgestap het. Foto: AP / Greg English

Die lewe van Winnie Madikizela-Mandela spreek van die skade van apartheid. Skade só omvangryk dat nie eens die frase “misdaad teen die mensdom” dit behoorlik kan vasvang nie.

Want die skade is meer as die gevolg van die “groot” misdade van geïnstitusionaliseerde rassisme en gepaardgaande geweld, plundering en weerhouding van lewensmiddele. Dit is ook skade weens die daaglikse aftakeling van gewone mense: intieme wreedhede, oor en oor gepleeg.

Maar dis nie al nie. Die maatskaplike weefsel van Suid-Afrika is ook gemaak van aanhoudende verset teen die onversetlike verontmensliking van kolonialisme. Die verbeelding van iets anders wat steeds opstu: die moontlikheid van saamlewe met menswaardigheid.

Al hierdie fasette is te vinde in Winnie se lewe van 80 jaar. Die menslike moontlikheid. Die misdade daarteen, uitgevoer in diens van ongeregtigheid. Die herrysing van ’n mens in weerstand teen die ongeregtigheid. Nóg misdade, maar dié keer in die naam van weerstand. Dan selfs nóg meer misdade in ’n voortsetting van ’n logika wat klaarblyklik nie ontsnap kon word nie

Njabulo Ndebele skenk aan ons in sy wonderlike boek The Cry of Winnie Mandela sy verbeelde weergawe van Winnie se perspektief op haar lewe(ns). Empaties vang hy die ingewikkeldheid en ook die verskrikking vas: “ ‘How many lives does she have left before she’s finally lying flat on her stomach?’ they speculate. Even I cannot tell. I’m just grateful for the many lives I’m supposed to have. I hope they’re right. It’s good to know I can die many times and stay alive. I’m intrigued, though, by the idea of dying before death.”

Sy wou haarself om die lewe bring, maar sonder dat haar dogters kon weet dit was selfdood.

Wat beteken dit om te sterf voor jou dood? Om vele sterftes te oorlewe? Om ’n doodlose sterfte te lewe?

In 2013, by die verskyning van haar boek oor haar 491 dae in eensame aanhouding, gee Winnie haar eie weergawe: “You are imprisoned in this little cell. When you stretch your hands, you touch the walls. You are reduced to a nobody, a non-value. It is like killing you alive.” Dit was in 1970. Die jaar wat sy tot niemand gemaak is. Sy was 33 jaar oud. Sy wou haarself om die lewe bring, maar sonder dat haar dogters kon weet dit was selfdood. Haar lewe van sterftes het begin.

Moeder van die nasie

In 1997 het ek twee items by die ANC-vroueliga se konferensie in Rustenburg gekoop. Een is ’n eenvoudige kleinbordjie van porselein op ’n staander van plastiek. Voorop is ’n jong Winnie met ’n string krale, ’n 1970’s-bloes en ’n uitgestrekte vuis. Die ander item is ’n T-hemp met ’n ouer Winnie en die woorde “Mother of the Nation”.

Madikizela-Mandela luister na getuienis by die WVK-verhore in November, 1997. Foto: AP / Odd Anderson

Winnie is verhef tot simbool: Reeds in die 1980’s word sy die “moeder van die nasie” in die populêre diskoers. In 1990 lei sy, weer met uitgestrekte vuis, die man wat as vader van die nasie gedoop is uit die Victor Verster-gevangenis, Nelson Mandela.

Dekades daarvoor het ’n skrander 21-jarige maatskaplike werker ’n dinamiese prokureur ontmoet, 18 jaar ouer as sy. Hulle is getroud in 1958. Weens die voortslepende hoogverraadverhoor waarin Nelson een van die aangeklaagdes was, het hulle min tyd saam gehad voordat hy haar op ’n dag gevra het om ’n tas vir hom te pak. Hy moes ondergronds gaan werk. Nie een van die twee het geweet dat hy vir 27 jaar weg sou wees nie.

’n Anderste soort aktivis

Ten spyte van hagiografiese pogings om Winnie van jongs af as polities aktief voor te stel, is die bewyse dun. Nelson se opsluiting het alles verander. As agtergelate wederhelf van ’n ANC-leier, is sy in die politieke maalstroom meegesleur. Maar, behalwe vir tas inpak, was die ruimte vir vroue beperk. Hulle was tweedeklaslede van die ANC, aldus die politieke wetenskaplike Shireen Hassim.

Haar verset is met eensame aanhouding, huisarres en verbanning na afgeleë Brandfort begroet.

Soos in Afrikaner-nasionalisme is vroue se rol in Afrika-nasionalisme geskoei op moederskap. Alfred Xuma, ANC-president in die 1940’s, het byvoorbeeld in sy doodsberig oor Charlotte Maxeke niks gesê oor haar geslaagde veldtog teen pasboeke vir swart vroue nie, maar wel uitgelig dat sy “toegewyd” aan haar man en “ ’n liefdevolle moeder” was.

Winnie was ’n anderste soort moeder-aktivis.

Haar verset is met eensame aanhouding, huisarres en verbanning na afgeleë Brandfort begroet. Nege sielsverwoestende jare van eensaamheid en isolasie later is sy uiteindelik terug in Soweto. Toe die vader van die nasie versigtig tot gesprekke met die Botha-regime toegetree het, het die moeder van die nasie in Munsieville in 1986 verklaar: “Together, hand-in-hand, with our boxes of matches and our necklaces, we shall liberate this country.” Dit was die tyd van noodtoestande, polisiemoordbendes en die Burgerlike Samewerkingsburo.

Julius Malema, EFF-leier, Winnie Madikizela-Mandela en Cyril Ramaphosa, adjunk-president, by Madikizela-Mandela se 80ste verjaaragviering. Foto: ANC Live / Facebook

Die spiraal van sterftes het versnel. Weens teen-rewolusionêre infiltrering van weerstandstrukture loop die paranoia hoog.

Winnie voer ’n terreurveldtog met haar “luitenant” Jerry Richardson en bende hawelose kinders, bekend as die Mandela United Football Club. In 1991 word sy aangekla van ontvoering en moord op die 14-jarige Stompie Seipei, maar die tronkvonnis van ses jaar word op appèl tot ’n boete verminder.

Winnie se talle sterftes kom met talle lewens. Sy bedank uit alle ANC-posisies, maar herrys as president van die ANC-vroueliga in 1993.

Later bevind die Waarheid-en-Versoeningskommissie (WVK) dat sy betrokke was by aanrandings, ontvoerings en moord op minstens 12 mense.

Met die oorgang na demokrasie word Nelson president en Winnie adjunkminister. Haar posisie is van korte duur weens beweerde wanbesteding. Sy behou haar posisie as liga-president in 1997 ten spyte van die voortdurende omstredenheid oor haar “klub” se aanrandings en moorde op kinders.

Miskien is dit tyd dat ons die las van die simbool van Winnie wegneem.

In die vroeë 2000’s is sy weer in die hof, dié keer weens bedrog met versekering vir liga-lede wat nooit die uitbetalings sou sien nie. Haar tronkvonnis van vyf jaar is weer op appèl opgeskort. Steeds word sy verkies tot die ANC se nasionale uitvoerende komitee in Polokwane in 2007.

Wat oorbly van Winnie ná haar talle sterftes is voor die WVK tydens die verhoor oor haar “klub” blootgelê. In ’n aangrypende oomblik het aartsbiskop Desmond Tutu by haar gepleit: “If you were able to say ‘something went wrong’. . . and say, ‘I’m sorry, I’m sorry, for my part in what went wrong’. I beg you, I beg you, I beg you. . . Your greatness will be enhanced if you said, ‘sorry, things went horribly wrong’.”

Sy het toe van haar slagoffers om verskoning gevra. Maar liga-lede het Stompie se ma, Mananki Seipei, daardie selfde dag tydens die verhoor geteister en geïntimideer.

Soos die verhaal van die moeder en vader van die post-apartheid-nasie ontvou het, het dit geword dat Nelson vrede en versoening bring, teenoor Winnie se geweld en verskrikking.

Maar miskien is dit tyd dat ons die las van die simbool van Winnie wegneem. En onthóú hoe haar lewe in sterftes ontaard het.

* Christi van der Westhuizen is mede-professor by die Universiteit van Pretoria en skrywer van White Power & the Rise and Fall of the National Party.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.