Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Wit Afrikaners dra gene van slawe en Khoisan – studie

Die eerste genoomwye studie van wit Afrikaners toon dat hulle merkbare genetiese bydraes van Suid- en Oos-Asië, die Khoisan en ’n bietjie van elders in Afrika het, skryf Elsabé Brits.

’n Koperplaat-afdruk van Gottfried Friedrich Riedel (1724-1784): Vue du Promontoire de Bonne Esperance, c. 1780. Foto: Iziko Museums of South Africa, Social History Collections

Die nalatenskap van slawerny het ook neerslag in die Afrikaner se stamboom gevind. So ook die gene van die mense van die destydse Java en Batavia, die Koromandelkus van Indië en plekke soos Bengale en Galle, die kus van Malabar, Soematra en die jagterversamelaars van Afrika.

Nuwe navorsing gee die eerste genoomwye blik op Afrikaners se bevolkingsgenetika binne ’n historiese konteks. Die kinders wat deur wit mans by slavinne en Khoi-vroue aan die vroeë Kaapse samelewing verwek is, is deel van die Afrikaner se genepoel.

Dié navorsing, wat nog gepubliseer moet word, is gelei deur onder andere proff. Carina Schlebusch van die Universiteit van Uppsala in Swede en Jaco Greeff van die Universiteit van Pretoria, albei kenners in bevolkingsgenetika, en ander kenners aan dié twee universiteite.

Altesame vyf miljoen genoomwye merkers is in 77 Afrikanermans met van die mees algemene vanne nagegaan. Dit is vergelyk met bevolkings wêreldwyd om merkers van herkoms op te spoor, asook om te kyk met watter bevolkingsgroepe gemeng is.

Die resultate was merkwaardig, net een van die mans het nie sigbare genetiese vermenging getoon nie. Die res het 11 tot 13 geslagte gelede – dit is ook hoe oud die Afrikanerbevolking is – dié diversiteit in hul genepoel begin gekry. Dit toetse strek dus ver terug.

Só lyk Afrikaner se gene

’n Skildery van Jan van Riebeeck, eerste kommandeur van die VOC-nedersetting aan die Kaap. Foto: Argief

Dit stem ooreen met die geskiedenis van Suid-Afrika, soos opgeteken deur geskiedkundiges en in genealogiese registers vervat. Dié skat dat die genetiese vermenging met ander groepe wat nie van Europese afkoms was nie effe hoër op tussen 5,5% en 7,2%.

Die Europese bydrae tot die genetika was gemiddeld 95,2% – met die meeste mense wat hul herkoms na Nederland (34%-37%), Duitsland (27%-34%) en Frankryk (13%-26%) kan terugspoor.

Die res van wit Afrikaners se genetika van 4,8% is afkomstig van die Khoisan, Wes-Afrika, Indië, Indonesië, Maleisië, Japan, Borneo en die Filippyne.

Dit is as volg verdeel: Khoisan (1,3%), Suid-Asië (1,7%), Oos-Asië (0,9%) en Wes-Afrika (0,8%). Die grootste gedeelte, altesame 3,4%, is van slaweherkoms.

Die genetika van die Afrikaner loop dus min of meer op die spoor van die Oos-Indiese Kompanjie se slawehandel en kontak met die Khoisan. Net ses van die 77 mans het nie ’n Khoi-San voorsaat gehad nie.

Van die mans wat getoets is, was vyf se nie-Europese genetiese samestelling hoër as 10%, 21 was tussen 5% en 10%, 46 was tussen 1% en 5% en vyf was onder 1%.

Daar is ’n baie klein fraksie gene van inheemse Amerikaner (minder as 0,1%), gevind, maar dit is weens ’n gemeenskaplike stamboom wat Europeërs en inheemse Amerikaners het.

Afrikaners se genetika val ook in ander groepe as dié van die Britse bevolking, al was die land sedert 1806 onder Britse beheer.

Die vroeë Kaapse bevolking

’n Skildery van Jan van Riebeeck en die inheemse bevolking aan die Kaap wat onderhandel. Foto: Argief

Immigrante het vanaf 1685 as vryburgers in die Kaap aangekom. Teen dié tyd was hier 142 wit mense aan die Kaap.

Baie van die mans wat hierheen gekom het, was arm Duitse werkers en soldate, gevolg deur die eerste groep van ewe geknelde Franse Hugenote van 1688. Teen 1702 was daar sowat 230 Franse Hugenote uit ’n totaal van sowat 1 370 Europeërs in Suid-Afrika.

Teen 1740 was hier sowat 840 “Afrikanermans” en net meer as 600 “Afrikanervroue” – mense wat toe reeds Afrikaner-familiename gehad het. Kort ná 1710 was hier meer slawe aan die Kaap as koloniste.

Die Khoisan se getalle word op sowat 20 000 geraam, van wie 5 000 in die Wes-Kaap gebly het. Die pokke-epidemie van 1713 het hulle byna uitgewis. Net een uit elke 10 het oorleef.

Hoewel die VOC nie vermenging met slawe aangemoedig het nie, het dit baie gebeur.

Teen 1800 was hier, volgens die studie, sowat 9 000 Afrikanervroue en 12 000 mans.

Die Oos-Indiese Kompanjie (VOC) het die eerste slawe in 1658 met twee skepe van Wes-Afrika na die Kaap gebring. Slawe van Oos-Afrika is eers vier geslagte later na die Kaap gebring.

Afrikaners se genetiese verbintenis met mense van Afrika kom van dié slawe en nie van ander swart inwoners van Suid-Afrika nie.

Die beraming is dat sowat ’n kwart van die slawe aan die Kaap uit Afrika afkomstig was, ’n kwart van Madagaskar en Maskarene en ’n kwart elk Suid-Asië en Suidoos-Asië. Aanvanklik het die VOC die meeste van die slawe besit, maar die vryburgers het later meer besit.

Die slawehandel is in 1807 verbied, maar slawe is eers in 1834 in die Kaap vrygestel waarna hulle nog vier jaar vir hul eienaars moes werk.

Rekords van kerk nie volledig

Registrasiesertifikaat van ’n slaaf. Foto: Iziko Museums of South Africa, Social History Collections

Hoewel die VOC nie vermenging met slawe aangemoedig het nie, het dit baie gebeur. Daar was lank aansienlik minder Europese vroue as mans aan die Kaap.

Volgens die nuwe navorsing was daar verbintenisse tussen Afrikanermans en slavinne en/of slavinne wat hulle vrygekoop het – veral in Kaapstad en omgewing.

Dit is deur die kerk opgeteken.

Later is dit verbied, maar kinders uit gemengde huwelike kon steeds met ’n wit persoon trou.

Baie van dié vroue het heel waarskynlik in ’n patriargale samelewing met slawerny geen sê oor hul eie seksuele lewe gehad nie. Tog het baie van hulle die stammoeders van Afrikaner-families geword en tot die genepoel van hedendaagse wit Afrikaners bygedra.

Mans het plaaslik gebore slavinne en dié uit Asië verkies, wil die studie dit hê. Daar kon in die navorsing nie net op die kerk se argiewe staatgemaak word nie, omdat dit net op die Christengemeenskap gefokus het. Dit terwyl daar ’n klein Chinese gemeenskap was en vrygestelde Moslemslawe met kinders wat buite die huwelik gebore is. Boonop het trekboere nie altyd toegang tot ’n kerk gehad nie.

Volgens die studie het talle mans wat slawe besit het, “voorkinders” met slavinne gehad voordat hulle getrou het. Dié mans het slavinne van Asië verkies.

Volgens die studie het trekboere in die meer afgeleë gebiede gereeld verbintenisse met Khoisan-vroue gehad. Dit is egter onseker tot watter mate dié kinders in die wit gemeenskap opgeneem is.

“In die Kaap was formele verbintenisse tussen Khoisan-vroue en Europese mans baie ongewoon, en daar is net een opgetekende voorbeeld (dié van Krotoa van die Kaap en Pieter Van Meerhof).”

Talle kinders wat in die Slawelosie gebore is, het duidelik wit pa’s gehad en daar is gelas dat hulle vrygestel en gedoop word – dit het in 1685 op tot soveel as 44 uit 92 kinders betrekking gehad.

Die bruin mense van vandag se herkoms is meer divers. Die genepoel van dié wat nader aan die Kaap in plekke soos Wellington gewoon het, het as volg gelyk: Khoisan (30,1%), Europees (24%), Oos-Asiër (10,5%), Suid-Asiër (19,7%) en Wes- en Oos-Afrika (15,6%). Bruin mense wat verder van Kaapstad gebly het, het meer Khoisan- en minder slawebloed en sowat 20% Europese bloed.

Nie ’n enkele definisie van Afrikaner

Prof. Michèle Ramsay, direkteur van die Sydney Brenner-instituut vir molekulêre biowetenskap aan die Universiteit van die Witwatersrand, sê die mense in die studie identifiseer hulself as Afrikaners hoewel daar nie ’n enkele definisie van ’n Afrikaner is nie.

Die studie het na die genoomwye genetiese variasie gekyk. Dit is nogal besonders omdat die hele spektrum van elke individu se herkoms onder die loep geneem is.

Elsabé Brits

In dié soort van navorsing word modelle van gebeurlikheid gebruik wat redelik akkuraat is omdat daar heelwat data is waarmee dit vergelyk kan word.

Ramsay sê die Afrikaner is ’n redelik diverse groep met verskillende relatiewe proporsies van herkoms, wat soms geografies is. Die manier waarop die mense gekies is, en wie hulle is (hulle word om etiese redes nie geïdentifiseer nie), moet in gedagte gehou word.

Ramsay sê sy hoop verdere navorsing word gedoen.

Volgens haar sal ’n persentasie van 4,8 van ’n genetiese samestelling vir sommige mense baie wees en vir ander min. Dit is effe minder as die skatting van genealogiese studies.

“Persoonlik dink ek dit is ’n beeldende weerspieëling van die geskiedenis wat die Afrikaners in hul gene ronddra, wat elkeen uniek en onlangs van Afrika maak.

“Ek wonder soms of ander mense my as ’n Afrikaner sal definieer, met ’n Afrikaanse ma en ’n eerste geslag Ierse/Skotse pa wat Engelssprekend was. Ek is grootgemaak as ’n Afrikaner en dit is waar ek die gemaklikste is – my gene sal ’n effense anderse storie vertel.”

* Bron: https://www.biorxiv.org/content/10.1101/542761v1

* Brits is ’n vryskut-wetenskapjoernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Khoisan  |  Afrikaners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.