Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Wit manier van doen net een van vele

Wit wetenskap is potensieel baie waardevol, maar kan van nog groter waarde wees as dit bedryf word vanuit ’n posisie waar eers geluister word, skryf Cas Wepener.

Grafika: Hanlie Malan

Vir my werk moet ek gereeld na kongresse in die buiteland reis. Dit is egter nie net die kongresse wat leerervarings is nie, maar ook die reis self.

So byvoorbeeld kan ek nou alreeds met redelike akkuraatheid voorspel watter mense wat saam met my op die vlug was, deur die doeanebeamptes in Europa of die VSA uit die tou gehaal gaan word vir ondervraging.

Wel, stel dit so, dit is bitter selde ek of iemand wat soos ek, dus blekerig, lyk.

Wat het ek deur die jare uit hierdie waarneming geleer? Dat ek wit is. En was dit ’n groot insig? Ja en nee.

Nee, vanaf jou geboorte weet jy dit, en indien jy in die 1970’s en 1980’s ’n wit kind in Suid-Afrika was, het jy vir seker geweet – en is jy bewustelik geleer dat jy nie swart of bruin is nie.

En tog is die antwoord op die vraag of dit ’n groot insig was ook ja, want jy was terselfdertyd nie iemand wat ooit aan jou velkleur herinner is nie.

Ek en my tipe en ons uitkyk op die lewe was (en is soms steeds) die norm.

So byvoorbeeld is daar in die teologie (en dit geld ook ander akademiese velde), baie soorte teologie: Afrika-, swart, feministiese, kinderteologie en nog ’n hele rits ander soorte.

Hulle bestaan en word spesifiek benoem as byvoorbeeld swart of feministies, omdat daar gemeen is dat manlike teologie en wit teologie nie benoem (hoef te!) word nie – en gewoon aanvaar is as die dominante en algemeen aanvaarde soort.

‘Akademiese imperialisme’

Daar word dikwels na die alomteenwoordigheid van wit mans se perspektiewe verwys as ’n soort akademiese imperialisme.

Die wiel draai en daar is oor die laaste jare werk gedoen aan die sogenaamde wit wetenskap.

Al hoe meer populêre boeke oor die onderwerp van witheid word gepubliseer. Haji Mohamed Dawjee se Sorry, Not Sorry en Nathan Trantraal se Wit issie ’n

colour nie

het albei in 2018 verskyn.

Volgens Trantraal is witheid so ’n oorheersende en alomteenwoordige gegewe dat wit nie ’n kleur is nie, maar eerder ’n godsdiens.

Waaraan Dawjee en Trantraal en vele akademici ons herinner, is dat almal oor die laaste dekades rekenskap moes gee oor die invloed van wie hulle is op dit wat hulle doen en hoe hulle dit doen – behalwe wit (manlike) akademici.

As ’n mens in ’n paar lesings by universiteite gaan sit en gewoon net die taalwêreld van daardie lesings fyn beluister, is dit insiggewend en kom ’n mens tot die besef dat wit wetenskap op ’n hele paar aannames berus.

Die rede waarom dit nie gebeur het nie, is doodgewoon omdat dit nie nodig was om dit te doen wanneer jou perspektief die dominante perspektief is nie.

Jy gaan in elk geval beheer verloor indien jy dit doen, want die een wat die wêreld kan benoem en gevolglik ook kennis sistematiseer, het die mag – en min is dus lus om dit te bevraagteken.

En, soos Dawjee tereg uitwys, word dit wanneer dit wel gedoen word op so ’n manier gedoen dat wit mense die struggle koloniseer.

Daar word beweer dat diegene in die wêreld wat die meeste mag het, die minste tale praat. Hoekom? Want as ek die septer swaai, hoef ek net een taal, my eie taal, te praat – en die ander moet maar by my inval ter wille van oorlewing.

Dawjee se hoofstuk getiteld “A Resignation Letter to Performative Whites” is eintlik verpligte leesstof vir alle wit mense, al sal dit sommige mense geweldig ongemaklik laat voel.

Berus op aannames

Dit val dalk vreemd op die oor vir sommige mense, maar wit wetenskap is ’n ding wat bestaan, daardie wit perspektief deursuur sommige universiteite.

As ’n mens in ’n paar lesings by universiteite gaan sit en gewoon net die taalwêreld van daardie lesings fyn beluister, is dit insiggewend en kom ’n mens tot die besef dat wit wetenskap op ’n hele paar aannames berus.

Ek gee klas en my voorbeelde wat ek vir die studente voorhou, sluit swembaddens, studente met motors en vakansies in die wildtuin of by die see in. Dit is wit wetenskap wat beoefen word met as ’n gegewe veronderstelling ’n ekonomies bevoorregte posisie en ’n middelklasbestaan – ’n gegewe wat nie in ag neem dat van die studente wat voor my sit, honger is en nog nooit met vakansie was nie.

So, wat nou? Is alles wat ek en my soort doen dus net sleg en sonder waarde?

Toegegee, alle wit mense in ons land is nie in ekonomies bevoorregte posisies nie, maar baie wit dosente en akademici is wel.

In my lesing fokus ek verder die hele tyd op die individu en individuele regte. Ditto. My lesing kommunikeer duidelik dat ek glo dat sekere mense (sonder om iemand te noem) en dit waarmee ek nou in die lesing besig is, dus my tipe se bydrae tot die samelewing, ’n besonderse rol het om te vervul sodat vooruitgang in die wêreld gewaarborg is.

En dat ons sonder hierdie bydrae tot die wetenskap slegter daaraan toe sal wees. (“Kolonialisme was nie so sleg nie” is soms ook die subteks.)

Dit is soos om te glo dat skole in oorwegend wit woonbuurte en met ’n meerderheid wit kinders en onderwysers beter is as ander skole.

Dis wit mense, soos ek, wat hierdie sisteem in plek gesit het en dit nou ook onderhou, daarom moet alles metodologies gedoen word soos dit hoort – en diegene wat dit so doen, word beloon.

Ek moet glimlag terwyl ek hier skryf, want dit is asof ek ten dele in ’n spieël kyk terwyl ek tik en my eie teks sien – en ook wanneer ek diegene wat hieroor skryf se boeke en artikels lees.

Dis asof die swart man voor my uit die tou gehaal word op Frankfurt se lughawe, terwyl ek vriendelik in Duits gegroet word.

Nie sonder waarde nie, maar . . .

So, wat nou? Is alles wat ek en my soort doen dus net sleg en sonder waarde?

Cas Wepener

Ek hoop regtig nie so nie en glo dit ook nie, al vermoed ek my bydrae kan dalk veel meer waarde hê as ek vir ’n oomblik gaan stilstaan en besef dat ek wit is en gevolglik ook dit wat ek doen op ’n wit manier doen (en dat daar vele ander goeie en geldige maniere van doen is).

Om te besef dat my manier van kyk na die wêreld maar een manier van kyk is, een verstaanshorison, een perspektief tussen baie ander en dat al die perspektiewe van belang is, kan my bydrae net verbeter.

Dit is ’n vertrekpunt, ’n eerste stap. Stap twee sal wees om aktief te soek na maniere waarop almal se kennis ingebring en gewaardeer kan word.

Ek dink wit wetenskap is potensieel baie waardevol, maar dit kan van nog groter waarde wees as dit bedryf word vanuit ’n posisie waar eers geluister word.

  • Wepener is hoof van die departement praktiese teologie aan die Universiteit van Pretoria.
Meer oor:  Cas Wepener  |  Aktueel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.