Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hoe 'Prime Evil' die 'Wit Wolf' leer versoen het

Stefaans Coetzee, die Worcester-bomplanter, wil nie hê mense moet dink hy is ’n held nie. Hy het aan Willemien Brümmer vertel hoe “Prime Evil” (“oom Gene”) hom in die tronk gehelp het om te verander.

Die Shoprite-winkel in Russelstraat, Worcester, op 24 Desember 1996 kort ná die bomontploffing wat uiteindelik die lewe van vyf mense geëis het. Foto: Beeld-argief

Die meeste van die spieëls in sy woonstel in Klerksdorp is met bruinpapier toegeplak. Een in die gang en nog twee in die badkamer. Net die skerfie spieël, skaars so groot soos ’n kind gesig, het hy gelos vir skeer.

“Ek sê altyd ek sien die moordenaar in my oë. Ek weet ek het moord gepleeg. Partykeer is dit baie moeilik om na myself te kyk.”

Stefaans, ’n gewese lid van die Wit Wolwe, was op “Swart Kersfees” bereid om alles vir “God, volk en Vaderland” prys te gee. Sy sending: Om so veel as moontlik van “die vyand” te vermoor.

Maar nou is dit 22 jaar ná die dag toe vier mense (drie kinders en een volwassene) in die Worcester-bomaanval gesterf het en 67 beseer is – en Stefaans is die poster boy vir herstellende geregtigheid. Hy antwoord sy e-posse met “love can change history” en sy lewensverhaal – Wit Wolf, die Worcester bomplanter se storie van bevryding – het pas die rakke getref.

In Augustus hou hy ’n kunsuitstalling saam met Bouwer Bosch en in die lente verskyn sy tweede boek oor die oudspeurder wyle Suiker Britz, wat hy saam met Eugene de Kock se biograaf, Annemarie Jansen, geskryf het.

Stefaans het sy lewensverhaal, wat hy saam met Alita Steenkamp geskryf het, opgedra aan “elke slagoffer wat ná vergifnis steeds met die pyn, letsels en herinneringe moet saamleef”. Foto: Verskaf

Op 41 het hy steeds ’n seunsgesig, net soos op 19 toe hy die lont van ’n pakkie toegedraai in Kerspapier met ’n brandende sigaret aangesteek het.

Hy het die seningrige lyf van ’n marathonatleet. Dié kranige langafstandatleet wat in 2016 die Comrades-ultramarathon voltooi het en toe sy medalje aan een van sy slagoffers, Olga Macingwane, geskenk het.

Gesels jy met hom is hy byna kinderlik eerlik. Ordentlik op ’n ouwêreldse manier. As jy nie sy geskiedenis geken het nie, sou jy kon dink hy is ’n dominee.

Stefaans, wat in die tronk bekend gestaan het as “Hitler”, is beskeie oor dié boek wat hy opgedra het “aan elke slagoffer wat ná vergifnis steeds met die pyn, letsels en herinneringe moet saamleef”.

Ek wil nie hê mense moet dink ek is arrogant nie; ek wil nie hê mense moet dink ek is bitter of dat ek ou scores probeer settle nie.

“Dis nie jou tipiese heldeverhaal nie. Dis ’n boek waar die hoofkarakter eintlik ’n monster is, so dis nie iets wat jou deursnee-leser sou wou lees nie.”

Soms het hy sy medeskrywer, Alita Steenkamp, gek gemaak, sê hy laggend. “Ek wil nie hê mense moet dink ek is arrogant nie; ek wil nie hê mense moet dink ek is bitter of dat ek ou scores probeer settle nie. Wie ook al die boek lees, moet besef ons het invloede op mekaar. As jy ’n boek wil lees oor groot getuienisse, gaan lees jou Bybel. Maar as jy in die lewe twyfel en as jy daarin twyfel dat slegte mense kan verander en as jy twyfel in God, dan lees jy dié boek.”

Sy stem is beslis. “Daar is mense dóód. Ek wou nie hê dat daar ná die tyd gesê word Stefaans dink hy is ’n hero nie. Ek wou hê die victims moet ook voel ons is deel van die boek alhoewel ’n groot gedeelte eintlik Stefaans se storie is.”

Stefaans oorhandig sy geraamde Comrades-medalje in 2016 aan Olga Macingwane, die eerste slagoffer wat hom in die tronk besoek het. Hy het dié ultramarathon ter nagedagtenis aan die slagoffers van die Worcester-bomontploffing voltooi. Foto: Verskaf

‘Die kopersmaak van bloed’

Dis daarom dat sy deel van die opbrengste uit die boek na die “Bommies” gaan – die naam wat die oorlewendes van die Worcester-slagting op 24 Desember 1996 vir hulself gegee het.

Op dié dag was hy ’n gewillige moordenaar vir “Pa Jan” – sy naam vir die rugbylegende Jan “Voetbol” van der Westhuizen wat op sy dag ’n rugbybal oor die lengte van Upington se rugbyveld kon skop.

In Wit Wolf vertel hy hoe hy sedert st. 4 onder Jan se invloed sy identiteit gevind het en enigiets sou doen om sy goedkeuring te kry. Dit was nie meer genoeg om saam met die ander “trofeejagters van Upington” swart mense aan te rand nie.

Hy was reeds verslaaf aan die gevoel van “vuiste wat kakebene breek en die kopersmaak van bloed in die mond”.

Jan “Voetbol” was ’n stigterslid van die AWB in die ou Suidwes en ’n ywerige aanhanger van die Israel Visie-kultus wat van swart mense as die “modderras” praat.

Volgens Stefaans het hy sy “ere-rol as vaderfiguur veragtelik misbruik om my in ’n koelbloedige moordenaar te verander”.

In dié stadium was die Winburg-kinderhuis se ongeskrewe reëls van manwees klaar met vuiste in Stefaans ingeboender. Hy was reeds verslaaf aan die gevoel van “vuiste wat kakebene breek en die kopersmaak van bloed in die mond”.

Stefaans was van kleins af baie lief vir lees. In die tronk het hy meer as 3 000 boeke gelees.Foto: Verskaf

Stefaans was sy ma se voete

Stefaans se verhaal van haat en vergelding begin op die dag toe sy ma, Lizbé, munte in sy klein handjies stop om te gaan lekkers koop. Toe die vyfjarige seuntjie terugkom, was sy ma weg.

Sy liefdevolle pa, Fielies, gee hom aan Richelieu en Klipdrift oor en twee maatskaplike werkers neem hom en sy drie susters na die kinderhuis.

Hy haal diep asem daar waar hy alleen in sy yl gemeubileerde woonstel sit, omring deur sy geliefde Deon Meyer-, Dana Snyman- en Chris Karsten-boeke.

“Dis verskriklik moeilik om te beskryf, maar dis ’n wond wat ek vandag nog saamdra. Daar gaan maande verby dat ek glad nie aan my ma dink nie en dan sit jy Sondag in die kerk en jy sien ’n man en ’n vrou en ’n kind en jy sien hoe hou die ma of die pa die kind vas en net daar slaat dit jou: Dis iets wat ek nie het nie. En dis ook hoekom as ek eerlik moet wees, ek bang vir verhoudings is.”

Stefaans was sy ma, Lizbé, se voete op Vrouedag, 9 Augustus 2015, kort ná sy vrylating. Foto: Verskaf

Dis daarom dat hy besluit het om sy ma se voete te was kort nadat hy in 2015 op dagparool vrygelaat is.

“Dit was naas die kere toe ek vir my victims om verskoning gevra het, die mees emosionele dag in my lewe. Ek het iets gedoen wat ek nie wou doen nie, maar ek het besef ek móét dit doen vir myself en tweedens vir haar.”

Tydens sy 18 jaar in die tronk het sy aangegaan met haar lewe. Sy het nooit vir mense vertel sy het ’n seun nie; nog minder dat hy ’n “bandiet en terroris” is.

Teen dié tyd het hy reeds sy slagoffers om vergifnis gevra én hulle het hom vergewe. Selfs Neliswa Busakwa, suster van Sweetness Busakwa, wat vier jaar ná die bomaanval dood is. Toe Stefaans haar vir die eerste keer in September 2013 in Worcester saam met 40 ander “bommies” en hul families ontmoet het, het sy hom voor die televisiekameras toegesnou: “I hate you!” ’n Paar maande later was sy een van dié wat gevra het dat hy begenadig moet word.

Ek het gehuil en sy het gehuil, en almal het besef daar is nie werklik ’n band tussen ons nie.

Stefaans se ma het hom egter steeds nie vergewe nie; waarskynlik, sê hy, omdat sy haarself nie kon vergewe nie. Op Vrouedag 9 Augustus het hy ’n geleentheid in sy vriende Anita en Louwtjie Muller se huis in Klerksdorp gehou waarop hy sy ma "vergifnis geskenk het".

“Ek het gehuil en sy het gehuil, en almal het besef daar is nie werklik ’n band tussen ons nie. Ek het vaagweg gehoop dat ek vir haar kan wys ek verneder my om haar voete te was, maar lank daarna het my ma die redenasie gebruik dat ek dit gedoen het om goed te lyk en toe het ek besef my ma wíl net nie oor die pyn kom nie.”

Stefaans Coetzee in een van die groentetonnels by die Thusano-kleuterskool in die Jouberton-township naby Klerksdorp. Dié skool het agt groentetonnels en al die groente wat hier geplant word, gaan na die skool se voedingskema. Stefaans het deur sy werk by Feed a Child by die groentetonnelprojek betrokke geraak. Foto: Susan Cilliers

Ses ure vryheid per week

Die enigste van sy familielede wat tydens sy jare in die tronk aangehou het om vir hom te skryf was sy oudste suster, Johanette. “Toe ek op dagparool vrygelaat is, was ons hele familie vir Moedersdag by my ma en toe het my sussie vir my ’n boks gebring met elke liewe persent vir my verjaardag en Kersfees oor die laaste 17 jaar. Toe ek dit oopmaak, kon ek sien hierdie geskenkpapier is regtig oud; hierdie goed is nie gister gekoop nie.”

Hy is nou nog vir 21 jaar op parool vir die res van sy vonnis. Dit beteken ses uur vryheid per week en hy moet elke aand sesuur tuis wees. As hy wil uitgaan, moet hy vooraf by korrektiewe dienste toestemming kry.

“Ek het ’n brief vir die kerk, ek het ’n brief vir oefen – so alles wat ek doen, word met briewe goedgekeur. Vrydag as ek hierdie deur toemaak, dan maak ek hom soms eers weer Sondag met kerk oop, want daar is nêrens om heen te gaan nie en daar is niemand wat kom kuier nie.”

Gedurende die week werk hy bedags vir Feed a Child – vir hom “die lekkerste werk onder die son”. Tog het hy veral in sy eerste jaar uit die tronk baie haatpos gekry – veral van wit Suid-Afrikaners.

“Dis oor die versoeningsboodskap en ook omdat ek by Feed a Child is. Ons gee vir blankes ook kos, maar ’n groot gedeelte van my werk is in die townships waar blankes my slegsê.”

Stefaans saam met Tshlofelo Mofokeng en Samkelo Ndakane, twee leerlinge van die Thusano-kleuterskool waarby hy betrokke is. Hy is mal oor kinders en droom daarvan om eendag sy eie kinders te hê.Foto: Susan Cilliers

Hoekom sing ons ‘Die Stem’?

’n Paar maande gelede het ’n skoolhoof by ’n skool waar hy gepraat het hom selfs verbied om oor versoening te praat.

Stefaans is immers ’n profeet van radikale versoening – ook wat die Suid-Afrikaanse verlede betref.

“Afrikaners weier botweg om oor apartheid te praat. Almal was hul hande in onskuld. Dit is asof niemand kan sien watter letsels apartheid agtergelaat het nie. Dit is veel makliker om op die sondes van die huidige regering te fokus as om ons eie apartheidsondes te erken. ‘Het ons nie genoeg jammer gesê nie?’ word ek gereeld gevra.”

As ons in ons harte glo apartheid was verkeerd, ’n sonde teenoor God, die mens en onsself – hoekom hunker ons terug na die verlede?

Sy stem is beleefd dog beslis. “Sê my asseblief tog wie hét jammer gesê? As ons in ons harte glo apartheid was verkeerd, ’n sonde teenoor God, die mens en onsself – hoekom hunker ons terug na die verlede? ’n Verlede van haat terwyl ons Sondae in die kerk ‘Amazing Grace’ sing. God is liefde. Hoekom sing ons ‘Die Stem’ as ons weet hoeveel pyn dit in ander wakker maak? En ons noem onsself Christene!”

Hy tel spoed op. “Hoekom staan die NG dominees nie ’n slag op en sê: ‘Jammer, gemeente, voorgangers in my amp het jare lank vir julle gelieg nie. Vandag vra ek verskoning vir die kerk se sonde om apartheid te verkondig.’

“En wat van die oudministers wat ons rigters was wat vir ons gesê het veg vir God, Volk en Vaderland. En die polisie- en weermagoffisiere: ‘Jammer, troep, dat ek jou opdrag gegee het om te moor. Jammer, moeder, dat jou kind op my opdrag gesterf het.’ Hoeveel generaals het aan deure gaan klop om aan ’n ma te sê dat sy nie meer ’n seun het nie omdat hy ’n opdrag gegee het?”

Van die slagoffers van die Worcester-bomontploffings kom op Worcester se stasie aan om die Vredestrein na Pretoria te haal. Dié trein het op 30 Januarie 2013 in Pretoria aangekom. Aan boord was ’n groep mense wat almal op een of ander manier ’n slagoffer van die bomontploffing in Worcester was. Hulle het Pretoria toe gegaan om Stefaans te ontmoet. Foto: Deon Snyman

‘Prime Evil’

Dis geen geheim dat Eugene de Kock, die oud-Vlakplaas-bevelvoerder, vir Stefaans ’n vaderfiguur in die tronk was nie.

As hul paaie nie gekruis het nie, sê hy, sou hy nooit verander het nie. “Ons twee is nog steeds vriende en ek bly nog baie lief vir hom.”

As jy gaan kyk na Vlakplaas – die ministers wás dáár. Hoekom is hulle nooit tronk toe nie?

Hy reken dat veels te veel Afrikaners hul skuld voor die Waarheids-en-versoeningskommissie uitgekontrakteer het aan dié man wat hulle “Prime Evil” gedoop het. “Vlakplaas het verskillende eenhede gehad. Gaan lees maar oor Gideon Nieuwoudt, oor Dirk Coetzee en Almond Nofomela. Hoekom is net Eugene tronk toe?

“Oom Gene het 11 dapperheidsmedaljes gekry. Hy is die hoogs gedekoreerde polisie-offisier in die wêreld. Hy het dié medaljes ná bom- en skietaanvalle gekry. Hoe kon hulle (sy seniors) nie vir hom opdragte gegee het nie? As jy gaan kyk na Vlakplaas – die ministers wás dáár. Hoekom is hulle nooit tronk toe nie?”

Dit was juis “oom Gene” wat hom reeds in April 2002 gehelp het om ’n netjiese, professionele brief aan die hooggeregshof te skryf waarin hy berou oor sy wandade uitspreek. In dié brief het hy die eerste keer gevra om sy slagoffers te ontmoet sodat hy hulle in die oë kon kyk en persoonlik om vergifnis kon vra.

Hierna het die regses De Kock in die tronk begin teiken omdat hy Stefaans stelselmatig gehelp het om van hulle af weg te breek.

Een van Stefaans se kunswerke wat hy in die tronk gemaak het. Hy hou in Augustus ’n kunsuitstalling saam met die akteur en sanger Bouwer Bosch. Hy het ’n skildery gemaak vir elke jaar wat hy in die tronk was. Foto: Stefaans Coetzee

Flippit, dit was ek gewees!

Een van sy kunswerke (hy het vir elke jaar wat hy in die tronk was een gemaak) gaan juis oor rassisme wat by elke individue moet stop. By ’n handafdruk van hom en sy tronknommer het hy geskryf: “Whoever claims to love God yet hates a brother or a sister is a liar. For whoever does not love their brother and sister, whom they have seen, cannot love God, whom they have not seen.”

Maar hy maak nie, handjies biddend, daarop aanspraak dat hy vergifnis verdien nie.

Daar is nie boeke wat jy kan gaan koop wat vir jou sê hoor hier, as jy moord gepleeg het, dít is hoe jy dit doen nie.

Vandag worstel hy steeds met die vraag of dit regverdig is dat ’n bomplanter enigiemand om vergifnis vra. “Dis so half, ek het nou aangegaan met my lewe, wil julle my nie asseblief vergewe nie? Die worsteling was waar trek jy die lyn? Want sê nou ek sê: ‘Nee, dit is nie regverdig nie’ – gebruik ek dit nie as ’n verskoning omdat ek te bang is om my misdade in die gesig te kyk nie?

“Daar is nie riglyne nie. Daar is nie boeke wat jy kan gaan koop wat vir jou sê hoor hier, as jy moord gepleeg het, dít is hoe jy dit doen nie.

Hy klink broos. “As ek die boek (Wit Wolf) lees, dan kan ek nog steeds nie glo daai outjie is vergewe nie. Alita (Steenkamp) het regtig die monster baie goed beskryf of geskilder sodat die mense vir hom simpatie kry.”

Sy stem is vol ongeloof. Dié aktivis vir restitusie wat homself elke keer as hy skeer herken as die moordenaar wat saam met Jesus aan die kruis hang. “Nóú nog as ek lees oor die bomaanval kry ek hoendervleis om te besef flippit – dit was ek gewees!”

Meer oor:  Willemien Brümmer  |  Versoening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.