Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Clegg, die (wit) jeug en die Nasionale Party

By ’n konsert van Johnny Clegg in 1990 het hy besef die destydse regering sal die wit jeug verloor as hy nie polities vinnig en deurslaggewend optree nie, skryf Leon Wessels in dié uittreksel uit Die einde van ’n era.

Johnny Clegg het politieke boodskappe tussendeur sy musiek ingevleg. Hy het ná 1994 vir begrip en verdraagsaamheid gepleit. Foto: Argief

My kennis van musiek en sang is beperk tot my gebrekkige deelname laatnag aan geleenthede wanneer studente- en sportliedjies aangehef is. Die kulturele en politieke belang van musiek en sang het my egter nie heeltemal ontwyk nie.

Die Alabama-studentegeselskap van my alma mater in Potchefstroom het my baie plesier verskaf. Dit was vir my ’n simbool van die nuwe era van vrolike, moderne Afrikaners wat gemaklik is in bloujannas en op motorfietse, in teenstelling met die bebaarde, bewapende, swaarmoedige en swaarlywige mede-Afrikaners op hul perde en bakkies wat die wêreld in die 1990’s via die TV-skerm leer ken het.

Laasgenoemde sing “Afrikaners, landgenote” asof dit ’n evangelie is, asof dit al is wat hulle ken. Eersgenoemdes is die mense met wie ek my identifiseer. In ’n toespraak in 1992 het ek gesê óns sing ook, maar baie meer as net bloot “Afrikaners, landgenote”. Ons ken ook vir Miriam Makeba, Rina Hugo en baie ander.

Ons almal se kinders luister dan elke dag na Johnny Clegg se musiek.

In die politiek is daar baie oor Johnny Clegg gepraat. Tydens ’n hoë vergadering is selfs besluit om een van sy konserte te verbied.

Toe die besluit ter sprake kom, het een van die senior amptenare rondom die tafel dit durf waag om die wysheid van die stap te bevraagteken. Dit was Neil van Heerden, destydse direkteur-generaal van buitelandse sake.

Hy het gesê ons almal se kinders luister dan elke dag na Johnny Clegg se musiek. Dit was nie ’n gewilde stelling nie. Van die politici was geskok oor die “voorbarigheid” van sy opmerking, want Clegg was in hul oë ’n groot propagandis vir die ANC.

‘Wie en wat is hierdie Wit Zoeloe?’

Ek het besluit om self na ’n Johnny Clegg-konsert te gaan luister. Dit was met die afskop van sy wêreldtoer in Januarie 1990. Ek is saam met jong mense van Krugersdorp, almal Johnny Clegg se ondersteuners, na die Standard Bank-arena in Johannesburg.

Die jong mense was verteenwoordigend van ons gemeenskap. Ek wou vasstel wie en wat hierdie Wit Zoeloe is en watter politieke boodskap hy dan sou hê. Wie is die Clegg, wat elders gebore is en op ’n jeugdige ouderdom na Suid-Afrika gekom het?

Hy wat so ’n integrerende deel van die Zoeloe- en Afrikadenke geword het en wat so goed kan dans dat hy die eretitel van Wit Zoeloe verwerf het. Ek wou sien wie is die man wat in Frankryk groter skares as selfs Michael Jackson lok.

By die arena was ek verbaas om te sien wie almal die konsert bywoon. Die gehoor was oorwegend jonk en wit, duidelik van dieselfde stoffasie as die jong mense by my. Hulle was verteenwoordigers van die huidige en toekomstige “jappies”, maar gewis nie “japies” nie.

Clegg het die gehoor met sy musiek meegesleur. Die musiek was aansteeklik en die gehoor het dit terdeë geniet. Tussendeur vleg hy politieke boodskappe in.

Leon Wessels

Hy het byvoorbeeld gesê hy was in Europa toe die berugte Berlynse Muur geval het. In Suid-Afrika is daar baie apartheidsmure wat net soos die Berlynse Muur afgetakel moet word. Hy vertrou dat 1990 die jaar daarvoor sal wees.

Die applous en die entoesiastiese, gillende ondersteuning hiervoor was oorweldigend. Dit het my laat dink. Hy het in die loop van die program ook gesê hy vertrou dit sal die jaar wees waarin Nelson Mandela vrygelaat word.

Hy het geen geheim daarvan gemaak dat hy ’n verkiesing van een mens, een stem voorstaan nie. Dit was vir hom die enigste oplossing vir die land se vraagstukke, en dit moet so gou moontlik gebeur.

Met die musiek in my ore en die politieke boodskappe wat in my kop maal, het ek gevoel dat as ons nie polities vinnig en deurslaggewend optree nie, sal die Regering die wit jeug ook verloor, net soos ons die swart jeug al lankal verloor het. Dit het ek aan mnr. FW de Klerk gesê, wat geantwoord het dat hy dieselfde boodskap ook van ander mense gekry het wie se kinders daardie konsert bygewoon het.

Vroeg in 1994 het ek weer ’n konsert van Johnny Clegg bygewoon. Ek wou hoor watter politieke boodskap hy nou het. Ek wou weet wat het van die “struggle”-drywer van 1990 geword noudat die “struggle” oor is.

Clegg is nog dieselfde kunstenaar met sy musiek en sy danse, maar sy boodskap het net soos die politiek intussen ingrypend verander. Die klem het so verskuif dat hy nou apolities is. Hy pleit vir begrip en verdraagsaamheid in hierdie moeilike oorgangsjare. Ons moet die brose demokratiese plantjie troetel. Die Suid-Afrikaanse identiteit lê opgesluit in die mosaïek van kulture in ons land.

Johnny Clegg het my bewus gemaak van die versetpolitiek wat deur die kunste en die kultuur onder ons neuse bedryf is, sonder dat ons daarvan bewus was. In hierdie proses het hy die jeug geïnspireer. Soos Clegg moet ons nou ontspanne wees in die oorgangsproses en ons kultuurerfenis met oorgawe geniet.

* Die einde van ’n era: Bevryding van ’n Afrikaner is in 1994 deur Tafelberg uitgegee. Wessels was ’n NP-onderhandelaar, ondervoorsitter van die Grondwetskrywende vergadering en ’n menseregte-kommissaris.

Meer oor:  Nelson Mandela  |  Johnny Clegg  |  Fw De Klerk  |  Leon Wessels  |  Kultuur  |  Musiek  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.