Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Wittes wil SA júis help

Mondli Makhanya se siening dat ‘regse kiesers’ nie wil hê die land moet vooruit gaan nie, is verregaande, skryf Stephanie van Niekerk.

Pieter Groenewald, VF Plus-leier, en Julius Malema, EFF-leier, staan langs mekaar by die inhuldiging van parlementslede. Foto: Adrian de Kock

Die gebrek aan insig wat die redakteur van City Press, Mondli Makhanya, ten toon stel in sy rubriek “SA gee (regse) stappie agteruit” is verstommend. Makhanya koop te gemaklik die identiteitspolitiek waaronder die land al van voor 1994 gebuk gaan.

Daar is etlike probleme met sy aannames, maar kom ons begin met die volgende vrae: Het die ANC, as “instrument van verandering” enige verbetering in die land teweeggebring – behalwe in die lewe van sommige kaders? Is hul manier van doen die enigste manier om die “transformasieprojek” te bedryf?

Wil die “regse” kiesers, wat “onheilspellend” vir ander partye stem, werklik nie hê dat die land “vooruit [moet] beweeg” nie?

Miskien moet Makhanya dit oorweeg om met mense, wat nie sy veronderstellings en oortuigings aanhang nie, te gesels – en te luister.

Is kiesers noodwendig “regs” as hulle gekant is teen korrupsie, leuens, misdadigheid, agterbakse heulery, baantjies vir boeties, onbevoegdheid, die vernietiging van infrastruktuur, bakleiery onder mekaar vir geld en poste, swak dienslewering, politieke moorde en die vinnige agteruitgang van ’n land wat eens goed bestuur is?

Maak diesulkes nie bloot hul stem dik omdat hulle sulke gedrag onaanvaarbaar vind en wil hê dat Suid-Afrika vooruit moet beweeg nie?

Dit is nie die VF Plus wat vrees en slagofferskap by wit mense aanhits nie.

Is jy ’n “regse ekstremis” as jy vrees ervaar in ’n land waar jy weekliks op een of ander platform vertel word dat jou wit vel van jou ’n rassis en ’n dief maak, wat – soos ’n ruk gelede deur ’n ANC-parlementslid aangedui is – lewend begrawe moet word?

Dit is nie die VF Plus wat vrees en slagofferskap by wit mense aanhits nie. Dié party het niks te doen nie met die skrikbewind wat deur die EFF en BLF deur middel van dreigemente gevoer word of met die ANC en media se ontkenning dat dit hoegenaamd problematies is.

Dalk is daar ook ander oorsake dat kiesers vir die VF Plus stem – soos die goed beplande en bloeddorstige verkragtings, marteling van en moorde op plaasbewoners en bure in die stad (wit en swart), die woede en haat wat konstant op openbare forums en in die media teenoor wit mense uitgespreek word, en die moord die afgelope week op twee jongmense wie se bakkie sonder diesel gaan staan het, net omdat hulle wit is.

Dit terwyl wit mense vir die mees onbenullige redes van rassisme aangekla word, te midde van die voorgenome vernietiging van Afrikaans onder die dekmantel van gelyke geleenthede vir almal.

Dit terwyl die meeste van die geld om nuwe skole te bou, ongebruik iewers rondlê of reeds gesteel is.

Niemand wat ek in die apartheidsjare geken het, het swart mense gehaat nie. Daar was wel dié wat swart mense verneder en oneerbiedig behandel het, en ons is almal bewus van wat die polisie gedoen het met aktiviste.

Apartheid het swart mense skreiend te na gekom. Dit was verkeerd en het baie pyn veroorsaak en groot skade berokken. Haat was egter nie iets wat ek ooit persoonlik onder gewone wit mense teëgekom het nie.

Die heersers van dié land, en hul volgelinge, moet daaraan herinner word dat haat uiteindelik haat voortbring en dat wit mense nie vir ewig die woede, wraaksug en vyandskap wat teen hulle gerig word, eenvoudig gaan aanvaar nie. Selfs spyt en skuldgevoelens het ’n rakleeftyd.

In Kanada, ’n merendeels Westerse land, woon burgers sonder diefwering en staalhekke. In die winter staan mense se motors soggens op straat en luier met die sleutels in die aansitter sodat die enjins kan opwarm terwyl die mense in die huis aantrek en ontbyt eet.

’n Vrou kan in die vroeë oggendure alleen van die moltreinstasie af huis toe stap. Kinders speel in die somervakansie saans op straat. Mense is nie bang nie. Wette word nagekom en eerbiedig.

In Suid-Afrika woon ons in tronke, agter slot en grendel met klein hondjies snags in die kamer agter nog ’n staalhek en met ’n rewolwer onder die bed. Kinders wat bedags fietsry, doen dit dikwels met begeleiding van ’n ouer in ’n motor.

Is kiesers “regse ekstremiste” as hulle nie so wil leef nie?

Weet jy hoeveel mense met grade en/of jare se werksondervinding kan nêrens ’n pos bekom en ’n salaris verdien nie? Wit mense wat nie snags kan slaap nie omdat hulle nie weet hoe hulle die kragrekening of die huur gaan betaal nie? Natuurlik is daar meer swart mense in dieselfde posisie – dit is ’n feit. Die punt is egter dat mense wat iets het om die land te bied, nie toegelaat word om dit te doen nie as gevolg van hul velkleur – presies soos gedurende apartheid gebeur het. Mense met akademiese opleiding (wit en swart) stroom landuit omdat daar nie vir hulle of hul kinders ’n toekoms is nie.

Ek ken persoonlik niemand wat met witmonopoliekapitaal iets te doen het nie. Ons weet in elk geval almal wie daardie sotlike term uitgedink het en hoeveel hulle daarvoor betaal is. Ek ken wel wit mense wat sukkel om aan die lewe te bly: gegradueerdes en mense met groot werkservaring wat koekies en pannekoek bak en verkoop, los werkies soek, enigiets vir ’n paar rand sodat hulle nie by die staat, Sassa of hul kinders moet bakhand staan nie.

Die meeste wit mense het nie verniet op die belastingbetaler se geld opleiding ontvang nie, maar deeltyds gewerk terwyl hulle geleer het, of jare lank studielenings afbetaal om ’n toekoms te kan bou.

Baie Rapport-lesers vind dit aanstootlik dat jy AfriForum, die VF Plus en “geassosieerde organisasies” as “openlik rassisties” beskryf. Daardie organisasies kom eenvoudig op teen die verdrukking van hul eie mense, eerder as om van hulle te steel. Hulle veg vir skoon water, skoon dorpe en ordentlike paaie – wat tot almal se voordeel strek. Swart mense het al uit desperaatheid by hulle om hulp aangeklop omdat hulle onregverdig behandel word en hul eie regering hul probleme ignoreer.

Nie dat dit vir jou sal saakmaak dat hulle jou beledigende aanval as afstootlik en onwaar ervaar nie, want wat hulle dink en voel is net so onbelangrik as die feit dat hulle in die pers, op TV en sosiale media uitgekryt word vir alles wat sleg is omdat hul velkleur en kultuur vir die meerderheid ’n bedreiging en dus onaanvaarbaar is.

Daar is verskeie swart organisasies soos die South African Institute of Black Property Practitioners, die South African Black Technical and Allied Careers Organisation en die South African Black Entrepreneurs Forum (om net ’n paar te noem), maar wit mense mag nie organisasies stig om hul eie belange te beskerm nie, want dit is “rassisme”.

Nie net is Makhanya oningelig oor waarom soveel Afrikaners in die 2019-verkiesing vir die VF Plus gestem het nie, hy is ook bevooroordeeld en onbereidwillig om te erken dat wraaksugtige, onregverdige, dweperige en vingerwysende politieke leiers se onophoudelike aanvalle op mense wat geen mag meer het nie, dalk iets daarmee te doen het.

Die “mag” wat wit mense kwansuis nog het, bestaan na my beskeie mening nog net in sekere mense se koppe.

Die “terugtrek van ’n aansienlike deel van die wit bevolking – meestal Afrikaans-­sprekendes ” het alles met agteruitgang, verval, rassewoede en haatspraak te doen. As die Afrikaner hom- of haarself as “lofwaardig beskou”, is dit omdat hulle gehoorsaam is aan die kulturele norme waarvolgens hulle grootgemaak is, al word hulle konstant vertrap en sleggesê.

As daar wel, volgens Makhanya se onkundige, veroordelende en onlogiese redenasie “ ’n giftige nasionalisme aan die regterkant van ons politieke spektrum herrys”, is dit nie die wit mense in hierdie land se skuld nie. Meningsvormers soos hy en sy politieke meesters se leierskapstyl is uitsluitlik hiervoor te blameer.

  * Stephanie van Niekerk is ’n vertaler en taalversorger van Pretoria.

Meer oor:  Mondli Makhanya  |  Vryheidsfront Plus  |  Ff Plus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.