Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Wonde nog rou 50 jaar ná ‘Spele van Terreur’

Tydens die Olimpiese Spele van 1972 in München het die moord op Israelse atlete die wêreld wat die terreurdrama op televisie gevolg het, geskok. As die treurspel nagespeur word, blyk dit die wonde is bykans 50 jaar later nog rou, skryf Gert Coetzee ná ’n besoek aan die Olimpiese dorp waar die Swart September-lede toegeslaan het.  

Gewapende polisiemanne op die terras bo die woonstelle waar nege lede van die Israelse Olimpiese span in 1972 gyselaar gehou is. Die terroriste in die woonstelle het die maneuvers buite op TV gevolg. Foto: Getty Images

Die foto van ’n gemaskerde Palestynse aanvaller op die balkon van die woonstel in die atlete-dorp in München, Duitsland, tydens die Olimpiese Spele in 1972 is een van daardie aangrypende nuusfoto’s wat – om die verkeerde redes – simboliese status bereik het.

Bekende nuusfoto

Die gemaskerde Swart September-lid is afgeneem op die woonstelbalkon­ van Connolly­strasse 31 terwyl hy vlugtig uitloer. Die skare nuusfotograwe op ’n graswal sowat 400 m verder was by die Olimpiese Spele om sportfoto’s te neem. Op die 11de dag van die Spele het hul lang lense ander werk gekry toe die gyseldrama ontvou.

Toe die gemaskerde man sowat 30 sekondes lank op die balkon verskyn, het die sluiters van die kameras geklik.

Kurt Strumpf, ’n Duitse fotograaf vir Associated Press, en Russel Mcphedran van Fox Media se The Sydney Morning Herald het bykans identiese foto’s geneem. Vanweë AP se reikwydte is Strumpf se foto die bekendste.

Die soortgelyke foto’s wys ’n spookagtige prent in swart-wit – die donker figuur met loergate in die klapmus en ’n mondspleet voor die strakke grys betonlyne en glasvensters. Inderwaarheid was sy kleeftrui liggeel.

Die terroris in die foto is as ’n “gemaskerde figuur van verdoemenis” en ’n “laksman-agtige visioen” beskryf.

Die gemaskerde man is nooit geïdentifiseer nie, maar was dalk Khalid Jawad, een van die vyf Swart September-aanvallers wat dood is tydens die mislukte reddingspoging waaroor die Duitse ower­hede steeds swyg.

Op Deadspin se webtuiste is die vraag of die foto van die Palestyn so bekend sou gewees het as sy gesig gesien kon word. Die antwoord daarby is: “Nee!”

Links: Een van die ikoniese foto’s van die gemaskerde Palestynse aanvaller op die balkon van die woonstel by Connollystrasse 31 in Olympiadorp in München wat altyd met die treurspel gedurende die Olimpiese Spele in 1972 verbind sal word. Russel Mcphedran van Fairfax Media se The Sydney Morning Herhald het dit geneem. Dit is steeds onbekend watter een van die agt Palestynse aanvallers, wie se name bekend is, dit was. “Gesigloos en naamloos, het sy anomiteit sy identiteit geraak,” skryf Deadspin.Foto: Getty Images

Gelukkige Spele

Die Olimpiese Spele in 1972 was die eerste in Duitsland sedert die een in 1936 in Berlyn, wat as “Hitler se Spele” bekend was. Laasgenoemde moes ’n toonvenster vir Nazisme en die Ariese ras wees. Kompleet met swastika-vlae op straathoeke, ’n verbod op Joodse atlete en Leni Riefenstahl, rolprentmaker, wat die propaganda-rolprent Olympia verfilm het.

Die swart Amerikaanse atleet Jesse Owens het die Hitler-visie in 1936 verongeluk. Met vier goue medaljes (100 m, 200 m, verspring, 4 x 100 m-aflos) was hy die uitblinker in Berlyn.

In 1972 wou die Duitsers keer dat politiek weer die Olimpiese Spele kaap en niks moes by Die Heiteren Spiele (“Die Gelukkige Spele”) met 7 134 deelnemers en ’n worshond-gelukbringer, genaamd Waldi, inmeng nie.

Later was die aantyging dat die veiligheid juis om dié rede laks was, ondanks ’n vooraf waarskuwing dat Joodse sportlui geteiken sou word.

Dit het tien dae lank goed gegaan. Die sterre in München was die Amerikaanse swemmer Mark Spitz (sewe goue medaljes) en die Russiese “swaeltjie van Minsk” Olga Korboet (17; vier goue en twee silwermedaljes in gimnastiek).

NOU. Dieselfde balkon 46 jaar later in November 2018 van onder afgeneem. Die Olimpiese dorpie huisves nou studente en die Max Planck-stigting wend Connollystrasse 31 as tuiste vir besoekende studente aan. Foto: Gert Coetzee

Spele van Terreur

Toe verander dit. Vroeg op 5 September glip agt fedajeen in sweetpakke oor die heining van die Olimpiese dorp – met die hulp van besope atlete!

Teen 04:35 was die Swart September-lede in die vierverdiepinggebou in Connollystrasse (genoem na James B. Connolly, Amerikaanse driesprong-atleet wat in 1896 die eerste goue medalje op die moderne Olimpiese Spele gewen het).

In die woonstelle het die Joodse atlete geslaap. Hulle het die vorige aand Fiddler on the Roof gaan kyk en saam met die hoofrolspeler Shmuel Rodensky geëet.

In woonstel 1 het Josef Gutfreund (stoei-skeidsregter) ’n gekrap aan die deur gehoor en gaan kyk. Toe hy die gewapendes sien, het hy ’n waarskuwingskreet geuiter en sy gewig van 135 kg teen die deur gegooi.

Dit het ’n spanmaat kans gegee om deur ’n venster te ontsnap. Mosche Weinberger (stoei-afrigter) het kom help, maar is in die wang geskiet. In woonstel 3 is nog Jode gyselaar geneem en na woonstel 1 gedwing.

Weinberger het ’n aanvaller met ’n vrugtemes getakel, maar is doodgeskiet. Josef Romano (gewigopteller) het die indringers gepak, maar is ook afgemaai. Teen 05:00 was Weinberger en Romano dood en agt terroriste en nege gyselaars oor.

Die Spele was 21 uur lank vergete en die wêreld het die drama vasgenael op televisie gevolg. Die “Gelukkige Spele” het in die “Spele van Terreur” ontaard, het ABC News-aanbieder Jim Mc­Kay gesê.

Die balkon uit verskillende hoeke.

Meir weier eise

Die bendeleier met die kodenaam Issa, eintlik Luttif Afif, het ’n reeks eise gestel, onder meer dat 236 gevangenes, meestal Palestyne, uit Israelse tronke vrygelaat word. Duitsland wou toegee, maar Israel onder premier Golda Meir het geweier.

“As ons ingee, sal geen Israeli enige plek ter wêreld kan voel sy lewe is veilig nie,” het sy gesê.

Die dag was vol drama, geskille, verwarring, swak kommunikasie en vrot besluite.

Die Duitse weermag was beter opgelei en toegerus as die polisie, maar weens die na-oorlogse Duitse grondwet ongemagtig om op te tree.

Die krag is nie afgeskakel nie en ook in Connollystrasse 31 kon die aanvallers in die woonstel op televisie kyk hoe lede van die Duitse polisie in sweetpakke (om soos atlete te lyk) nader sluip en sien hoe en waar (onopgeleide) skerpskutters stelling inneem.

Een eis was ’n vliegtuig om die gewapendes en hul gyselaars na Egipte te vlieg. Die Duitsers het ingestem, maar ’n ander plan beoog.

Die ingang na 31 Connollystrasse.

Lokval in die nag

Die Palestyne en hul Joodse gevangenes is daardie aand omstreeks 22:30 per helikopter vanaf Olympiadorp 25 km verder na die lugmagbasis Fürstenfeldbruck gevlieg.

In die lokval hier was die polisielede te min; onstrategies geplaas; toegerus met aanvalsgewere pleks van skerpskutterwapens en sonder langafstand-teleskope met nagvisie.

In die Boeing 727 op die landingsblad was 17 polisiebeamptes, wat as Lufthansa-vlugpersoneel vermom was, maar hulle het voortydig padgegee.

In die skietgeveg het vyf van die agt terroriste en een Duitse polisieman omgekom. ’n Helikopter-vlieënier en nog ’n polisieman is deur hul eie makkers gewond. ’n Kaper het ’n handgranaat in een helikopter gegooi en al vier Israeli’s aan boord het gesterf. Nog ’n Palestyn het van naby koeëls op die vyf Jode in die ander helikopter laat reën. Almal is dood.

Die oorlewende drie Palestyne is ná die bloedbad aangekeer, maar twee maande later laat gaan nadat Swart September-terroriste ’n Lufthansa-vliegtuig gekaap en hul vrylating geëis het.

Die balkon uit verskillende hoeke. Foto:

Wraak van God

Twee van die Palestyne is glo daarna deur Mossad, die Israelse geheime diens, in Operasie Wraak van God gejag en doodgemaak, maar die derde het dalk nog dekades geleef.

Die Olimpiese Spele het ’n gedenkdiens gehou, maar die Internasionale Olimpiese Komitee het beslis dat die Spele moes voortgaan.

Die Duitse regering het geen inligting oor sy optrede gegee of aanspreeklikheid aanvaar nie en buiten ’n gedenkplaat by Connollystrasse 31 was daar dekades lank geen erkenning van die treurspel of die gesneuwelde Jode nie.

In 2017 het Der Spiegel ’n lys van Duitse foute gedra in die artikel “Hoe die regering sy mislukking verbloem het” wat die München-slagting bestempel het as ’n “katastrofe wat voorkom kon word”.

Nog ’n nadraai van die München-slagting was naasbestaandes van die Israeli-slagoffers se stryd om erkenning.

En politieke onenigheid duur voort, soos Jeremy Corbyn, deesdae Britse opposisieleier (van die Arbeidersparty), in 2014 ontdek het toe hy aan ’n kranslegging vir die Palestyne aanvallers in Münich deelgeneem het.

MüNCHEN: Die gedenkplaat in Duits en Hebreeus by die ingang. Dit lui: “Die staat Israel se span het in die gebou gebly tydens die 20ste Somer- Olimpiese Spele van 21 Augustus tot 5 September 1972. Die atlete onder (naamlys) het ’n gewelddadige dood gesterf. Eer aan hul nagedagtenis.” Foto’s: Gert Coetzee

Soektog

In 1992 is ek in ’n toerbus op die snelweg by Olympiadorp verby. “By daardie geboue is die Joodse atlete in 1972 se Olimpiese Spele aangehou,” het die gids terloops gesê. Onlangs land ek weer vir ’n dag in München, op pad suidwaarts. ’n Besoek aan die gyselaarsplek was nie op my lys nie.

Van die Connollystrasse-adres wis ek nie. Ek wou wel na München se Olimpiese stadion gaan kyk nadat ek jare gelede ook Berlyn se Olimpiese kompleks (’n ander storie) besoek het.

Die München-stadion met sy koepeldak en gespande boë ís ’n argitektoniese wonderwerk. Onwillekeurig begin ek hier wonder oor die woonstel waar die gyselaars aangehou is. In die reisgids is geen verwysing hierna nie en tyd vir soek ontbreek.

Gert Coetzee, München, Joodse Olimpiese atlete vermoor. Die Olimpiese dorp vandag. Foto: Gert CoetzeeFoto:

Connollystrasse

Ek gaan raadpleeg Google. Terug in München twee weke later haal ek weer die U-bahn, maar stap dié keer van die Olympiazentrum-stasie in die regte rigting – weg van BMW se wêreldhoofkantoor.

Die Olimpiese dorpie van 1972 huisves nou studente. En Connollystrasse 31 is onder die sorg van die Max Planck-instituut (vir akademiese onderrig) wat dit as ’n gastehuis vir genootskapstudente gebruik.

Minute van die stasie staan ek voor die woonstelblok. Voor my is die balkon waar die gemaskerde Palestyn uitgeloer het. Deur die glasdeur is die ingangsportaal te sien met die trappe wat na die woonstelle lei. Die traprelings is blou – nes in Steven Spielberg se rolprent Munich.

Voor die gebou is ’n gedenkplaat met die name van die Joodse slagoffers met gebedskersies daaronder. By die deur is ’n kennisgewing van die Max Planck-instituut dat hul gaste se privaatheid gerespekteer moet word.

Dis net ná 08:00 op ’n Maandag. Ek gaan sit naby en kyk en kyk en kyk na die woonstelgebou en balkon. Dit is onwerklik wat hier gebeur het.

Skielik is daar beweging. By die een balkondeur glip ’n student op die tweede verdieping uit, raap ’n fiets teen die muur op en verdwyn. Kort daarna kom sy by die onderste deur uit, spring op die fiets en weg is sy.

Dit verbreek die gewyde stilte.

Ek stap stasie toe om die trein te haal om betyds vir die vlug na Suid-Afrika te wees. Sonder om te weet van die gedenksentrum vir die slagoffers van 1972 se München-slagting wat in 2017, 45 jaar later, daar naby ingewy is.

Ek het geen inligting hieroor in die Olimpiese dorp gesien nie. En as jy nie weet nie, weet jy nie. Ek sal moet terug.

Die plakkaat vir Steven Spielberg se rolprent Munich wat oor die Joodse Operasie Wraak van God gaan.

Rou wonde

Naasbestaandes van die slagoffers het in 2017 gesê hul wonde is steeds rou. Hulle het ook dekades gewag vir erkenning van die verlies en die Duitsers se swak hantering van die gyseldrama.

Tuis kyk ek weer na Munich, wat eintlik oor die (beweerde) Joodse Operasie Wraak van God gaan. In ’n onderhoud oor die rolprent sê Spielberg dit gaan eintlik oor Israel se keuse om geweld met geweld te beantwoord.

Dit is ’n universele vraag vir die mensdom. Bykans 50 jaar ná die treurspel heers vrede nog nie tussen Israel en Palestina nie.

Sal dit ooit?

  • Bronne: www.nytimes.com, www.brittanica.com, ww.sfchronicle.com, www.dw.com, www.-haaretz.com, www.deadspin.com
  • Meer oor:  Gert Coetzee  |  Duitsland  |  Israel  |  Palestina  |  Terreur  |  Olimpiese Dorpie
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.