Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Woodstock 50: Om die hemel te soen

’n Halfeeu gelede het derduisende hippies drie en ’n half dae van vrede, liefde en musiek beleef. Egmont Sippel kyk terug.

Vrede vir julle. Derduisende hippies het by Woodstock saamgetrek.

Hoe lank is ’n oomblik?

Dit hang af. Daar’s ’n begin en ’n einde vir alles. In 1969 het Arnold Skolnick se treffende reklameplakkaat byvoorbeeld die datums vir An Aquarian Exposition, beter bekend as Woodstock, as 15, 16 en 17 Augustus verkondig, maar die konsert het tot Maandag 18 Augustus deurgestoot.

Inderwaarheid het Woodstock tóé eers geklimaks, toe Jimi Hendrix kitaar sou slaan. Daarsonder sou hierdie bakengebeurtenis van die hippie-kultuur dalk al uitgesterf het lank voor vandag se finale begrafnis.

Michael Lang, een van toentertyd se oorspronklike promotors, het nou wel probeer om Paul McCartney, Led Zeppelin, John Fogerty, Joan Baez en Santana as hoofkunstenaars vir Woodstock 50 te werf en die Watkins Glen-renbaan as feesterrein aangewys.

Maar promotors was lugtig vir die area se hotelskaarste. Vele hofsake en twee alternatiewe terreine later is die gedenkfees weens borgonttrekkings gekanselleer.

Woodstock 50 was dood.

Wat oorbly is herinneringe aan die oerkonsert en die historiese belang daarvan; hoe om dit te verstaan?

Die 1950’s se Beat-generasie

Wel, eers moet jy die kitaar verstaan, spesifiek Jimi s’n, en voor dit ook die VSA se naoorlogse geskiedenis.

As Tweede Wêreldoorlog-oorwinnaar het Amerika sy spiere soos ’n Simson begin bult, alles binne die kader van streng sosiale en politieke norme. ’n Vrou se plek in die huis is selfs deur “opvoedkundige reklame” uitgespel (bit.ly/GoeieVrou), terwyl McCarthyïsme se paranoïese beheptheid met kommunisme ’n toksiese milieu sou skep.

Ontnugtering weens hierdie sieklike kultuur in ’n era waarin ongetemde entoesiasme en voortvarende energie ná die Groot Depressie plus twee wêreldoorloë moes blom, het ’n donkerder individuele lewensbeskouing uit die introspektiewe snit van die Amerikaanse gees ontsluier.

Ontneming en vervreemding was wagwoorde, met Jack Kerouac (On the Road), Allen Ginsberg (Howl), William S. Burroughs (Naked Lunch) en J.D. Salinger (The Catcher in the Rye) as literêre spreekbuise van ’n wrede wêreld waarin ideale van vryheid, gelykheid en eerlikheid asook die intellektualiteit van woorde, denke en die digkuns dikwels platgeslaan is.

Die Beats – oftewel “the beaten down” – het via duimreise op Highway 61 en Route 66 ontvlug, soveel te beter as dit met ’n skeut gevaarlike pret of ’n bietjie Oosterse musiek en religie gekruie is.

Toe Aldous Huxley se The Doors of Perception (1954) boonop die deur na dwelmgebruik oopskop, het ’n lang vreemde trip, dikwels psigedelies, op Amerika gewag; een wat deur die 1960’s se hippies tot ’n hoogtepunt gevoer is.

Elvis en die jeugkultuur

Woodstock was daai hoogtepunt.

Maar die embrio van bykans ’n halfmiljoen sterk jeugskare op Max Yasgur se plaas in Bethel, New York, het lank voor 1969 reeds in die Beats gebroei.

... en toe druk Dylan ’n kabel in sy kitaar.

Goed, hulle was brommend en somber; die hippies vol blomme en sonskyn. Die Beats het hul bekommernisse geïnternaliseer; die hippies het dit weggedans. Die Beats het as duimgooiende enkelinge op die lang pad of uit die binnekamers van koffiehuise geopereer; die hippies op ’n boheemse groepsgolf van vrye seks, dwelms en rock-en-roll.

Die skakel tussen die twee was Elvis the Pelvis se plofbare skrousel vol rhythm-en-blues, rockabilly en rock-en-roll.

Elvis se heupe was sy sonde, sy stem sy swaard. Die Beats, daarenteen, was “hip” met ’n distopiese stem. Die idealisme van die Groot Amerikaanse Droom het hulle in die steek gelaat.

Maar via die rebelse Elvis het die 1950’s – met anti-helde soos James Dean (Rebel Without a Cause) en Marlon Brando (The Wild One) – ook ’n rock-en-roll-stem verwerf.

Gooi ’n klomp blomme by en die Age of Aquarius is gebore.

Dylan en die elektriese kitaar

Op pad na Woodstock het die kultuur verder ontluik.

Groepe – baie van hulle Brits – het individuele musiek-ikone soos Elvis, Chuck Berry en Little Richard vervang. Op 4 April 1964 het The Beatles byvoorbeeld die eerste vyf plekke op Amerika se Billboard Hot 100 beset.

Voorts is die elektriese kitaar as musikale oppergod gevestig, nogals met hulp uit ’n onverwagte oord. Op 1965 se Newport-musiekfees het folk se nuwe hoëpriester, Bob Dylan, ’n elektriese kabel in sy kitaar gedruk (bit.ly/BobElektries).

Die gemeente het geboe.

Maar Dylan het rock omhels sonder om folk te verwerp en so is die bloudruk vir Woodstock gevestig; dag een folk, die res rock. Buite-om die musikale het Dylan se impak veral ook as politieke protes geregistreer: “Yes, ‘n’ how many ears must one man have / Before he can hear people cry . . .” Of: “I saw guns and sharp swords in the hands of young children . . .”

Yasgur se pragtige suiwelvelde het ’n modderplaas geword en plaaslike inwoners het water en kos vir “die kinders” aangery. Foto’s: Getty Images

Sulke verdoemende apokaliptiese visioene het dalk die Beats se ontnugtering verwoord, maar daar wás ook ligpunte reg uit die hippie-teksboek.

In “A Hard Rain’s a-Gonna Fall” flikker “I met a young girl, she gave me a rainbow” as ’n oomblik van hoop en verligting waarin Dylan die planeet tot ruste paai sodat almal weer asem kon haal.

En Hendrix die hemel soen.

Grondbeginsels van hippie-denke

“ ’Scuse me, while I kiss the sky . . .”

Jimi in “Purple Haze”, op daai Maandagoggend, 18 Augustus 1969, toe hy ’n reënboog gepluk het om Uncle Sam se voete onder hom uit te slaan.

Per slot van rekening was dit ’n grondbeginsel van hippie-filosofie om ’n kontra-kultuur teen die Amerikaanse establishment te vestig.

Liefde, vrye seks en vrede was die mantra. Die neo-Marxis Herbert Marcuse se One-Dimensional Man (1964) is tot handves verhef. Kapitalisme, materialisme en die Viëtnamese Oorlog is verwerp. En dwelms was die vuurpyl wat ’n psigedeliese reis van verstandelike en geestelike verruiming moes lanseer.

Goed, Apollo 11 het, kort voor Woodstock, ’n man op die maan geplaas.

Maar die hippies het vir die sterre geskiet.

Yasgur se pragtige suiwelvelde het ’n modderplaas geword en plaaslike inwoners het water en kos vir “die kinders” aangery. Foto’s: Getty Images

San Francisco en ’n haredos vol Scott McKenzie (bit.ly/ScottSanFran) was ’n goeie begin. Haight-Ashbury was die hippie-heelal se hoofkantoor, kommunes hul voorhuis, die natuur hul agterplaas.

En vir drie dae lank in Augustus 1969 was die rollende heuwels van Bethel, aan die ooskus, blommekind-nirwana met, swewend bo dit alles, die elektriese kitaar en ’n wit duif.

LSD, modder, water en kos

“I came upon a child of God / He was walking along the road . . .” Joni Mitchell se pragtige lied oor Woodstock (waarvan die beste interpretasie Matthews Southern Comfort s’n is) vlek die hippiegees tot in die vlees oop.

Op die oog af verduidelik dit ook Woodstock. En ja, om jou gees en vlees te verlos terwyl rock-en-roll dawerend pols was dalk duisende feesgangers se droom toe hulle vir ure lank in motortoue van 30 km moes wag om Bethel te haal, waar soveel feesgangers oor heinings geklim het dat Woodstock tot vrye konsert verklaar is.

Vele kunstenaars moes selfs deur lugmaghelikopters na die verhoog ingevlieg word. You dig that man, hippies en soldate in een en dieselfde metaalmuskiet.

Maar toe kom die reëns; a hard rain happened to fall. Yasgur se pragtige suiwelvelde het ’n modderplaas geword en uit die goedheid van hul harte het plaaslike inwoners water en kos vir “die kinders” aangery, vele wat deur “bad acid” bedwelm is.

“Op Woodstock,” het een papawerplaaspoppie later gesê, “het ons oor ’n afgrond tot in ’n nuwe heelalgeval.”

Kosmies het sy dit bedoel, nie komies nie.

Simson te sterk vir sy seun

In nabetragting het Creedence Clearwater Revival se John Fogerty die briljante “Who’ll Stop the Rain” gekomponeer (en ons parafraseer): Good men through the ages / Tryin’ to find the sun / Caught up in the fable / I watched the tower grow / Seekin’ shelter from the storm . . .”

Dís waaroor Woodstock gegaan het; verset teen die “fabel” van die kapitalistiese toring, terwyl dit onkeerbaar op gewone mense reën.

Was daar sedertdien al verligting?

Wat byvoorbeeld vroue-, burger-, gay- en maatskaplike regte betref, ja. Die hippies wou meer as net fuif. Hulle het ook waarde geheg aan die amperse 200 jaar oue ideaal van die Franse revolusie: liberté, égalité, fraternité.

Hul dilemma was egter dat hulle nie Uncle Sam, op wie se rug hulle geabba is, se voete onder hom kon uitruk sonder om self hard te val nie.

Hendrix se meesterskap was grensloos.

Uiteindelik was Simson, of dan Samson, sterker as Sam’s Son. Maar vir een kortstondige oomblik het die kontra-kultuur jubelend geseëvier.

En meer: Toe Hendrix die hemel soen, was dit revolusie.

Jimmy en sy Strat

Om dít te verstaan, moet ons Hendrix se kitaarstyl ontleed.

In Bethel het hy ’n 1968-Fender Stratocaster bespeel. As linkshandige is die regshandige instrument op sowel die X- as die Y-as deur 180 grade geroteer, sodat die kitaarkop uiteindelik na bo uit die nek sou wegbuig, pleks van na onder. Jimi se bas, steeds bo gespan, was dus sy langste pleks van kortste snaar.

Maar hoe lank ís ’n snaar?

In Hendrix se heelal sonder einde; sy meesterskap was grensloos. Die whammy-staaf wat normaalweg ónder die kitaarbrug anker om ruimte te skep vir die hand wat tokkel, het op die dubbel-geroteerde kitaar daarbó geheg. En steeds het die fuzz en flutter en feedback via ’n Vox Wah-Wah, ’n Arbiter-pre-amp en ’n UniVibe oorweldigend uit Marshall-versterkers gedawer.

Hendrix se snaardiktes was ook onkonvensioneel en instemming feitlik deurgaans ’n halftoon laer vir ’n slapper, donkerder klank terwyl sy tegniek tegelykertyd ritme én leitmotief sou baar, sodat ’n enkelkitaar merendeels na twee geklink het.

Só is die elektriese kitaar gerevolusioneer. Dis hoekom Jimi se Woodstock-Strat in 1990 vir £198 000 opgeveil is en drie jaar later vir $1,3 miljoen.

Woodstock

Net drie vroue het op Woodstock gesolo: Melanie, Janis Joplin en Joan Baez.

Bob Dylan, in Woodstock (naby Bethel) woonagtig, het op 15 Augustus na die Isle of Wight-konsert in Engeland vertrek en The Beatles, Byrds, Doors, Led Zeppelin, Jethro Tull en Moody Blues het tuisgebly. Dit het The Who, The Band, Ten Years After, Crosby, Stills, Nash & Young en ’n paar Frisco-groepe – Creedence, Grateful Dead, Jefferson Airplane, Santana, Sly & the Family Stone en natuurlik Janis – as hooftrekpleisters gelos.

Joe Cocker het ’n aangrypende spastiese air guitar-weergawe van The Beatles se “With a Little Help from My Friends” gelewer (bit.ly/CockerHelp). John Fogerty het Creedence-treffers soos ’n Mack-trok in ’n tonnel op toehoorders afgejaag. Joan Baez se helder stem het kristal in die stil nag gebreek. En Janis het die heelal oudergewoonte oopgekloof.

Die bestes van hulle is sowat $12 000 betaal; Hendrix $32 000.

Jimi se ‘Star-Spangled Banner’

Hier’s hoekom. Ná ’n dosyn bekende treffers op daai Maandagoggend het Jimi skielik, uit die bloute, die openings-G7 en -C van die Amerikaanse volkslied uit ’n vuil klomp klankwalms gedistilleer en deur 16 luidsprekers losgelaat: elke noot ryk en suiwer, soos die eerste dagbreek.

Jimi Hendrix het getoor: Dis ons volkslied ook!

“Oh, say can you see / By the dawn’s early light . . .” En toe’t hy feedback en distorsie begin invoer (bit.ly/JimiSter). “The Star-Spangled Banner” is kartets vir kartets uit die hande van die pro-Viëtnam-Valke geskeur en aan die anti-Viëtnam-Duiwe geskenk.

Gedog dis julle s’n, hè? Nee, dit is óns volkslied ook.

Uiteindelik, met skrouende klanke wat na ambulanse of vegvliegtuie of bomme geklink het – “ . . . and the rocket’s red glare / The bombs bursting in air . . .” – het Hendrix oorlog via “The Star-Spangled Banner” gemaak, om protes teen die een in Viëtnam aan te teken. Hippiedom is voltrek.

Woodstock se nalatenskap

Dit was een einde van die Valke se eiegeregtige opeising van ’n Amerikaanse simbool. In ’n bloedlose coup van vier minute het die hippies oorwin. Gandhi kon lesse kom neem.

Maar het enigiets verander? Vir ’n oomblik of twee, ja. En hoe lank is dít?

Op ’n vraag oor die gevolge van die Franse Revolusie het Zhou Enlai geantwoord: “Dis te vroeg om te sê.”

Hy’s verkeerd aangehaal, maar sy punt staan.

Wat ons wel weet, is dat Woodstock 50 intussen gesneuwel het en dat die Withuis se Tricky Dicky ’n halfeeu later deur Don the Con vervang is. Hy’s ’n man wat dikwels “excuse me, excuse me” sê, nie om – soos Jimi – die hemel te soen nie, maar om ander in hul spoor te stuit sodat hy verder kan lieg.

Uiteindelik dan het die hippies verloor. En in hul ontnugtering was die Beats reg.

Meer oor:  Jimi Hendrix  |  Bob Dylan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.