Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Woorde wat op my bruin vel val soos hamerslae

Tussen wat jy voel en wat jy wil sê, lê daar soms ’n afgrond, skryf Wilmarie Pekeur.

Wilmarie Pekeur saam met die skrywer Rachelle Greeff.Foto:

Dis al waaroor ons praat. Junievakansie se koortoer. Namibië toe. Sedert dié aankondiging in Januarie is ons in rep in roer. Besluit maande voor die tyd reeds wié slaap wáár vir ons kamp in Sossusvlei, tussen die duine.

Twee weke voor ons vertrek roep Juffrou Beneke, ons Afrikaans-juffrou, my een pouse in. Sy gaan saam. Hoflik herinner sy my aan my rol as hoofmeisie. Sê ek was nog altyd ’n staatmaker. “Die bruin dagskoliere het al briewe hieroor gekry,” verduidelik sy, “maar jou taak is om asseblief vir …” Sy lees die name van al die bruin koormeisies in die koshuis van ’n papier af. Elf saam met myne. “Julle moet twee dae voordat ons ry asseblief julle hare by tannie Macy laat vleg.”

Antie Macy, soos ons haar ken, is een van die koshuis-skoonmakers.

“Oukei,” kry ek uit. Ek vou die blaai met die name op, druk dit in my blazer se sak en gaan hou verder pouse. Maar ek gesels nie soos altyd saam met my vriende nie. ’n Ongemak broei in my.

Die res van die skooldag probeer ek Juffrou Beneke se versoek in my eie woorde omsit. Wat moet ek eintlik vir die meisies sê? En hoe? Iets wat ek self nie verstaan nie. Dalk kloof ek hare oor niks. Die middag ná ete roep ek hulle bymekaar.

“Antie Macy vleg te pap. Ek vra eerder vir antie Margaret,” sê Kayla, ’n sopraan. Agterna roep een van die stiller koorlede my eenkant: Die seertjies op haar kopvel is nou net besig om gesond te word. Sy is bang om weer haar hare te vleg.

Die volgende dag gaan rapporteer ek by Juffrou Beneke.

“Gaaf. Nou is dit ook afgehandel,” aanvaar sy. “Geweet ons kan op jou reken.” Sy glimlag, druk my arm. Maar haar pluimpie wil nie op my arm bly sit nie. Dit rol af. Dit lê tussen my en Juffrou Beneke op die grys mat. Juffrou Beneke stap uit. Ek bly staan. Sy steek vas toe sy sien ek roer nie. Nou moet ek mooi dink.

“Goed,” sê sy, “ons maak ’n vergunning. Jy hoef nie jou hare te vleg nie.” “Oh, yes! Ek sal vir die ander sê. Baie dankie, Juffrou.”

“Hoekom móét ons ons hare vleg?” sê ek. Juffrou Beneke vou haar arms. Sy maak haar keel skoon voor sy antwoord.

“Almal moet netjies lyk. Julle gaan Akasia Sekondêr verteenwoordig. Julle … soort hare is moeilik om te hanteer. Hoe gaan julle dit was? Ons gaan te min tyd hê,” redeneer sy. “Julle kan nie gaan sing met party se hare wat in windrigtings staan nie.”

Terwyl sy praat, maak haar hande langs haar kop die verbeelde windrigtings na. “Ek weet jy het die vermoë om dit te verstaan,” sê sy sagter, of sy ’n groot geheim met my deel.

Daar staan ek. Verset teen die onsienlike. ’n Stelsel, toe vir my nog sonder naam, maar waarvan ek die uitwerking op my bruin lyf kon voel. Ek wou vir Juffrou Beneke sê ’n vereiste om my hare te vleg - omdat dit ons gekleurde meisies netjies sal laat lyk - ontneem my my waardigheid. Insinueer dat ek vuil is. Maar ek kon dit nie tóé vir haar sê nie. My woordeskat nog te klein. My insigte nog beperk. Tussen wat ek gevoel het en wat ek wou sê was ’n afgrond.

“ ’n Paar van ons wil nie ons hare vleg nie,” sê ek skrikkerig. Juffrou Beneke sê eers niks.

“Was jy al in Namibië?” Haar stemtoon kalm; doelgerig, soos dié van ’n predikant wat ’n sondaar probeer oortuig. Ek skud my kop. Dit lyk weer of sy dink oor wat sy vir my wil sê, maar toe op ’n ander reaksie besluit. “Goed,” sê sy, “ons maak ’n vergunning. Jy hoef nie jou hare te vleg nie.”

Oh, yes! Ek sal vir die ander sê. Baie dankie, Juffrou.”

“Hokaai,” keer Juffrou Beneke my toe ek verby haar by die deur uitstap. “Dié toegewing is net vir jóú. Jou hare was nog altyd plat.” Die kompliment voel soos wanneer jy ’n fancy geskenk kry sonder die instruksies; jy weet nie wat om daarmee te doen nie. Weer soek ek na die regte woorde. Eindelik is al wat ek kan sê: “Dankie, Juffrou.”

Ek draai om en stap van haar af weg.

Meer oor:  Rasseverhoudings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.