Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Woordfees is 21 jaar jonk

Die Toyota US Woordfees, wat van 6 tot 15 Maart op Stellenbosch plaasvind, is vanjaar mondig en sy glo vanjaar se feesprogram weerspieël die bruising en drif wat pas by mondigwording, sê Saartjie Botha.

Die Toyota US Woordfees, wat van 6 tot 15 Maart op Stellenbosch plaasvind, is vanjaar mondig en sy glo vanjaar se feesprogram weerspieël die bruising en drif wat pas by mondigwording, sê Saartjie Botha.

Die landskap van die Suid-Afrikaanse uitvoerende kunste het dramaties verander ná die koms van die Klein Karoo Na­sionale Kuns­tefees (KKNK) in 1995 en al die feeste wat uit dié pioniersfees ge­bore is.

Politieke omwenteling, onsekerheid oor die toekoms van Afrikaans, nasiebou, die uitfasering van die kunstestreeksrade en ’n uiters bemarkbare kommersiële projek het bygedra tot die sukses van die eerste KKNK.

Die nuwe politieke bestel het ook van die kunste-omgewing gevra om ’n nuwe, inklusiewer model te skep wat volhoubaar sou wees ten spyte van kwynende staatsondersteuning.

Uit die KKNK is gebore Aardklop, Innibos en die Vrystaatfees, asook ’n hele paar kleiner feeste soos die Suidoosterfees en Woordfees.

Laasgenoemde het beskeie begin in 2000, ná ’n opdrag van die destydse rektor van die Universiteit Stellenbosch (US) aan die departement Afrikaans en Nederlands om “groter uitstraling” vir Afrikaans te bewerkstellig.

Prof. Dorothea van Zyl is die taak opgelê om die eerste Woordfees met die hulp van ’n paar kollegas en assistente te reël. Die nooiensfees is op 17 en 18 Maart 2000 aangebied, losweg gegrond op die Nederlandse Nag der Poësie – ’n deurnag-voorleesfees met musiek en visuele kuns as afleiding.

Sonder borge sou die fees nie kon gebeur nie. Die US, die destydse Insig-tydskrif, Toyota, MTN, PSG, die Koninkrijk der Nederlanden en die Arts and Culture Trust of the President was in jaar 1 aan boord.

Die Nag van Passie, soos die eerste fees genoem is, was ’n klinkende sukses – al 2 000 beskikbare kaartjies is verkoop.

Mi(SA, woordfees 2019
’n Toneel uit Mi(SA), wat by verlede jaar se Woordfees opgevoer is. Foto: Jaco Marais

Daar is iets vir almal

Oor die afgelope 21 jaar het die Toyota US Woordfees van krag tot krag gegaan. Met die uitsondering van 2009, kon die fees dit nog elke jaar regkry om jaar op jaar groei in kaartjieverkope te handhaaf.

Anders as baie ander feeste het die Woordfees nie ’n feesterrein of stalletjies nie, en word dit nie ge­durende ’n skoolvakansie of lang­naweek aangebied nie.

Getrou aan die fees se letterkundige oorsprong het ons steeds ’n groot skrywers- en boekeprogram, asook ’n baie sterk diskoersaanbod.

Die program word deesdae in 16 afdelings aangebied, en spog vanjaar met meer as 550 unieke aanbiedings. Herhalings in ag geneem, het feesgangers meer as 1 000 items om van te kies – van klassieke musiek, jazz, hip-hop en dans tot flieks, kinderteater, toneel, leefstyl en visuele kuns. Daar is iets vir almal op ons program.

Ná 20 jaar is Toyota terug as medenaamborg. Hierdie meerjarige naamborgskap bied sekuriteit aan ons as organiseerders om strategiese besluite met die oog op langtermyn-doelwitte te neem, die bedryf te bestendig en nie bloot te probeer oorleef nie.

Die Woordfees sou nie kon bestaan was dit nie vir jare lange steun van borge soos Media24, kyk-NET, Standard Bank, Distell, Sanlam en die ATKV nie, asook donateurs soos Het Jan Marais Nationale Fonds, die Dagbreek Trust en die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi). Ook die US se steun is, ná 21 jaar, sterker as ooit tevore.

Die fees voel tuis en floreer binne die US se afdeling sosiale impak en transformasie onder leiding van dr. Leslie van Rooi.

Die fees het tans vier hoofdoelwitte: om ’n uitnemende platform vir die kunste te wees; om nuwe gehore en kunstenaars te ontwikkel; om meertaligheid in ’n inklusiewe en verwelkomende omgewing te bevorder; en om gemeenskapsamehang in Stellenbosch te bou.

Die jaarprojek Woorde Open Wêrelde (WOW) het in 2003 uit die Woordfees ontstaan en fokus op woordvaardighede, geletterdheid en die kunste. ’n Geïntegreerde en simbiotiese benadering tussen die fees en WOW verseker groter reikwydte en meer blootstelling, en ontwikkel nuwe en jonger gehore.

In 2019 het WOW onder meer 155 skole besoek. Altesaam 396 020 leerlinge het deelgeneem aan die Sanlam WOW-spelfees, wat in al nege provinsies aangebied word. Leerlinge spel in Afrikaans, Engels addisionele taal en Xhosa (laasgenoemde slegs in die Wes-Kaap).

Ook die US-koor, onder leiding van André van der Merwe, val onder die Woordfees-sambreel. Die koor, wat al reeds ses jaar die voorste amateurkoor op die gesaghebbende Interkultur-wêreldranglys is, word die afgelope vyf jaar deur die Woordfees-span bestuur.

In Julie vanjaar reis die koor na België om hul titel by die Wêreldkoorspele te verdedig. Dis ook nou al amper tradisie dat die US-koor se etensuurkonserte van die eerste aanbiedings op die Woordfees-program is wat uitverkoop. Vanjaar is geen uitsondering nie.

Mense wat graag die koor finan­sieel wil ondersteun, kan egter nog kaartjies koop vir die duurder gala-konsert by die fees. Inkomste uit hierdie konsert sal gebruik word om die toer na België moontlik te maak.

Ontstaanplek vir energie

Wanneer die kunste floreer, word baie moontlik. Kunstenaars is ontdekkers en verkenners, onverskrokke, waaghalsig en soms plesierig. Elke kaartjie wat verkoop, is ’n belegging in dapperheid en sieleheil.

Die Edinburg-kunstefees in Skotland, die moeder van alle feeste, het ontstaan uit die rommel van die Tweede Wêreldoorlog – juis om kultuur as hoogste uitdrukking van die menslike psige te vier.

’n Kunstefees bied ’n wonderlike platform om anders na die wêreld te kyk. Dit stel kunstenaars aan die woord – met kunstenaars kom metafoor en moontlikheid, en daarmee saam vooruitsig. Skielik is die beklemming om jou keel minder en die hol kol op jou maag kleiner en kan jy asemhaal en sê en luister.

Die wêreld van die kunste is ’n sagter wêreld. Dis soms konfron­terend, ja, en dit moet ook so wees, maar dis ’n wêreld wat hom bemoei met die menslikheid. En uiteindelik genade vir die menslikheid skep.

’n Kunstefees is ook ’n ontstaanplek vir energie. Die Woordfees is 21 jaar jonk, en ons glo ons program weerspieël die bruising en drif wat by mondigwording pas.

Dis ’n program wat kanse waag, die eerste tree gee in die rigting van ’n sogenaamde randfeesprogram, met ’n aanbod wat werklik die nette wyd gooi.

’n Fees se impak in ’n dorp word gevoel lank nadat die tente af­geslaan en die stoele weggepak is.

’n Fees kweek groter bewustheid en ’n kultuur van selfoorweging in ’n gemeenskap. Dit bevorder diversiteit en onthul wat verswyg is of onsigbaar was.

Die aanbieding van en meedoening aan ’n fees skep ’n geleentheid vir burgerlike trots. Dit maak gemeenskappe en individue gesonder en bevorder kreatiwiteit.

Die belegging wat deur ’n fees in ’n dorp gemaak word, maak dit uiteindelik ’n beter plek om in te bly.

Botha is direkteur van die Toyota US Woordfees.

Meer oor:  Saartjie Botha  |  Stellenbosch
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.