Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Word wakker! Praat!

Psigiese gesondheid is ’n wêreldwye krisis, veral onder die jeug, en sosiale media moet hul aanlyn beleid ernstig hersien. Ons as die publiek moet egter ook verantwoordelikheid neem, skryf Lizette Rabe.

Studies in Brittanje sowel as Amerika koppel die ernstige styging in psigiese siektes en selfdood onder jong mense aan sosiale media. Foto ter illustrasie. Foto: Reuters

“Afgryslik” en “onthutsend”. Dit was die woorde van Engeland se kinderkommissaris verlede week toe dit bekend geword het dat ’n tienermeisie se selfdood direk toegeskryf kan word aan wat sy van ’n sosialemediaplatform afgelaai het.

Die Britse kinderkommissaris, Anne Longfield, het sosialemediamaatskappye daarvan beskuldig dat “hulle beheer verloor het” oor selfdood- en selfbeseringsinhoud op hul platforms – inhoud wat maklik toeganklik is vir jong mense.

Studies in Brittanje sowel as Amerika koppel die ernstige styging in psigiese siektes en selfdood onder jong mense aan sosiale media. Wat in daardie lande geld wat betref toegang tot “afgryslike” inhoud, kan ons maar aanvaar is ook die geval in Suid-Afrika.

’n Paar dae vroeër, tydens die Wêreld- Ekonomiese Forum se Davos-byeenkoms, het prins William, hertog van Cambridge, in ’n sessie gefokus op psigiese gesondheid verwys na bekendes wat geweier het om betrokke te raak by Heads Together, die inisiatief om die stilte en die stigma rondom psigiese gesondheid te verbreek. Hoekom? Ag, hulle wil “nie met psigiese gesondheid geassosieer word nie”.

Dit is duidelik dat dit ’n geval is van “Houston, ons het ’n probleem”. En nie net ’n probleem nie – ’n grote. Verlede jaar op Wêreld- Psigiese Gesondheidsbewusmakingsdag is die “probleem” reeds ’n “globale krisis” genoem. Wel, dit sal nie weggaan as ons dit ignoreer nie. En jy kan regtig self iets doen, sommer nou: Van 10 tot 17 Februarie is dit Tienerselfdoodvoorkomingsweek in Suid-Afrika – raak betrokke.

‘Afgryslike inhoud’ op webwerwe

Prins William, hertog van Cambridge, is betrokke by inisiatiewe wat die stigma rondom psigiese siektes wil breek. Foto: Reuters

Maar eers die kwessie van die “afgryslike” en “onthutsende” inhoud op sosialemediawebwerwe, toeganklik vir enigeen wat ’n kombinasie van woorde op sy of haar soekenjin kan intik.

In haar ope brief aan Facebook, Instagram, WhatsApp, YouTube, Pinterest en Snapchat het Longfield gesê tienerselfdood het die kollig laat val op die “afgryslike” materiaal wat kinders so maklik aanlyn kan kry. Haar oproep het gevolg op die waarskuwing van Matt Hancock, Britse minister van gesondheid, dat hy die wet sal gebruik as sosialemediamaatskappye nie hul onvanpaste inhoud verwyder nie.

Hul pleidooi kom nadat dit duidelik geword het dat die Instagram-rekening van ’n 14-jarige tiener wat haar eie lewe geneem het, “ontstellende materiaal” bevat het – inhoud wat sy maklik aanlyn verkry het. Hancock het gesê sosialemediaplatforms moet hul deel doen om tieners teen sulke grafiese materiaal te beskerm. Dit moet inderdaad deel wees van ’n totale strategie om psigiese gesondheid onder die jeug te versterk. In Brittanje is selfdood die grootste oorsaak van dood onder jong mense jonger as 20. Terselfdertyd het die vlakke van selfbesering geweldig gestyg, veral onder meisies. In Afrika het selfdood tussen 2000 en 2012 met 38% toegeneem, met ’n piek onder die jeug.

Ons is verdwase mense vasgevang in ’n tsoenami van sosiale media.

Professionele, hoofstroom-nuusmedia het professionele kodes (of moet hê) oor hoe verslag gedoen word oor psigiese gesondheid en selfdood. Dit is nie net die etiese ding om te doen nie, maar ook deel van ’n openbare opvoedingstaak en ’n poging om eeue se stigma en stereotipering weens onkunde oor ’n biologiese, kliniese siekte te verbreek. In premoderne tye is hierdie siektes nie verstaan of gediagnoseer as siektes wat ons belangrikste orgaan, ons brein – ons enjin van lewe – beïnvloed nie. As sekere biologiese prosesse nie meer plaasvind nie, begin daardie enjin wanfunksioneer – net soos ander organe wanneer hulle siek word.

Natuurlik, die hoofstroommedia sukkel ook om dit reg te kry, ondanks etiese kodes. In die verslagdoening oor selfdood moet die selfdoodmetode veral nie genoem word nie, aangesien dit tot die Werther-effek kan lei (na die dood van die tragiese held in Goethe se Die Lyding van die Jong Werther), ook navolgingselfdood (copycat) genoem. Dit was inderdaad die geval ná die dood van die akteur Robin Williams toe studies getoon het hoe selfdoodsyfers ná sy dood gestyg het.

Tsoenami van sosiale media

Die moderne wêreld is ’n tsoenami van sosiale media. Foto ter illustrasie. Foto: Argief

Om ons mensdom aan die begin van hierdie tegnologie-gedrewe Vierde Industriële Revolusie as hasies in die hoofligte te beskryf, is nie oordrewe nie. Trouens, ons is verdwase mense vasgevang in ’n tsoenami van sosiale media.

Maar natuurlik is ons nie hulpeloos of hopeloos nie. Ons kan iets doen. Maar sosiale media moet ook hul deel doen.

Ja, ’n mens kan die knoppie op jou selfoon druk om net af te skakel, maar hoeveel van ons is sosialemediageletterd genoeg in hierdie vreesaanjaende nuwe era van die digisfeer om te kan “afskakel”? En as volwassenes nie daardie klein hoëtegnologie-apparaatjie onder beheer het nie, hoe kan ons dit van jong mense verwag?

Dus, ja, sosialemediamaatskappye moet verantwoordelikheid neem vir skadelike inhoud oor depressie en selfdood deur dit eenvoudig van hul webtuistes te verwyder.

Ambassadeurs van hoop
Van 10 tot 17 Februarie is dit Tienerselfdoodvoorkomingsweek. Skole moet volgende week gebruik om met leerlinge te praat en elkeen te bemagtig as ’n ambassadeur van hoop met die boodskap: Depressie is ’n behandelbare siekte en selfdood ’n voorkombare tragedie. Gaan na die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep se webwerf om ’n brosjure af te laai wat jou sal help om ’n verskil te maak. 

Maar ons as die publiek moet ook verantwoordelikheid neem. Die eerste is om ons kinders te leer om sosialemediageletterde burgers te word in ons skrikwekkende era van ultrategnologie. Ons departement van onderwys moet sosialemediageletterdheidsklasse in lewensoriënteringprogramme inbou. Die kurrikulum moenie net daaroor gaan hoe om sosialemediageletterde burgers te word nie – en dus hoe om jouself te beskerm teen skadelike inhoud wat vrylik beskikbaar is nie – maar ook wat sosiale kodes vir sosialemediagedrag is. So dikwels is dit eerder ’n geval van asosiale-media omdat dit ons mees asosiale-gedrag ontketen.

Hoe is ’n mens ’n verantwoordelike aanlyn burger – en belangriker – reageer jy as verantwoordelike aanlyn burger? En hoe kan ’n mens die sosialemediasfeer monitor om te verseker dat dit nie in ’n toksiese virtuele skoolspeelterrein verander met ongebreidelde bullebakkery wat niemand kan sien of hoor nie?

En dan is daar die probleem van wérklik nie wil sien of hoor nie. Soos sekere bekendes toe hulle gevra is om Heads Together te ondersteun, die inisiatief waarby die jong Britse koninklikes betrokke is. As ’n nuwe generasie wil hulle die stilte en die stigma rondom psigiese gesondheid help breek. Maar nee dankie, het sekere bekendes gereageer. Hulle wil liewer nie geassosieer word met psigiese siektes nie.

Dit is dalk ons werklike probleem. Onkunde oor depressie en verwante siektes steel die lewe van ons geliefdes voor ons oë, want ons sal eerder nie met die werklikheid van psigiese siektes gekonfronteer word nie, al weet ons nou dat depressie in meer as 90% van selfdood die hoofoorsaak van dood is. En dat selfdoodsyfers onder jong mense styg.

Ons moet almal iets doen

Lizette Rabe

Hoe hartseer dat ons byna 2020 bereik het wanneer depressie volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie die wêreld se naasgrootste siekte sal wees. Teen 2030 sal dit die grootste wees. Een onlangse studie raam dat die globale psigiese gesondheidskrisis teen 2030 altesame $16 duisend miljoen gaan kos. Psigiese siektes is aan die toeneem in elke land in die wêreld. Die medeskrywer van dié nuwe studie oor die wêreldwye gesondheidskrisis, prof. Vikram Patel van die Harvard Mediese Skool, het die situasie as “uiters somber” beskryf, met geen land wat “genoeg belê” nie. Ook: “Geen ander menslike gesondheidstoestand word soveel verwaarloos as psigiese gesondheid nie.”

Ons moet almal iets doen: van die groot tegnologiemaatskappye wat verantwoordelikheid moet neem vir die “afgryslike” inhoud wat so maklik toeganklik is met die druk van ’n knoppie, tot by ons, die publiek. Dit begin by elkeen van ons. Word wakker! Praat!

* Lizette Rabe is professor aan die Universiteit Stellenbosch en stigter van die Ithemba Stigting vir die bewusmaking van depressie as kliniese siekte en om navorsing te steun. Menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Herken dié simptome

* Gevoelens van hartseer, angs of leegheid vir langer as twee weke;

* probleme om te konsentreer of te onthou;

* besluiteloosheid;

* moeg en sonder energie en jy voel waardeloos, hopeloos, negatief, prikkelbaar en desperaat;

* jy kan nie slaap nie, of slaap swak of te veel;

* jy voel geïrriteerd en rusteloos;

* niks is meer interessant nie;

* jy eet te veel of te min;

* jy ervaar onwillekeurige gedagtes oor selfdood, genoem selfdood-ideasie.

* Maak ’n afspraak met jou dokter om jou te assesseer. Kry hulp. Depressie is ’n behandelbare siekte en selfdood ’n voorkombare tragedie.

Hulp

Lifeline 24-uur-noodlyn: 0861 322 322

SADAG-hulplyn: 0800 567 567/of sms 31393

WGO

SA Federation for Mental Health

Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep

Meer oor:  Prins William  |  Lizette Rabe  |  Selfdood  |  Depressie  |  Sosiale Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.