Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Wraak, skoonheid en AK-47’s

Mense wat deur lyfwagte met AK-47’s beskerm word, Hollywood-akteurs wat ’n tand op stel “gechip” het, politieke leiers, en koninklikes, tel onder hul pasiënte, sê twee jong Kaapse mooimaakdokters aan Murray La Vita.

Drr. Zak Schabort (links) en Wim de Beer in een van die spreekkamers van hul praktyk in Kaapstad. Foto: Jaco Marais
Wim en Zak saam met Jean-Marie Geldenhuys, ’n skoonheidskundige, wat ook deel is van die span van Wraak my mooi. Foto: VIA

“Trust me I’m a doctor”, vra ’n kussinkie op een van die stoele in die spreekkamer van dr. Zak Schabort (35).

Die praktyk wat hy met sy vennoot, dr. Wim de Beer (32) deel, is in die V&A Waterfront in Kaapstad en kyk uit op die Atlantiese Oseaan waar seiljagte en ander elegante vaartuie lui kom en gaan. Die mure van die ingangsportaal en die gang buite die spreekkamers is met vollengte spieëls bedek.

“Iemand het dit van Londen af vir my gestuur. Een of ander lady Victoria . . . Ek het geen idee wie dit is nie; ek weet nie of dit ’n pasiënt of wat is nie,” sê Zak.

“Ons het ongelooflik baie internasionale mense wat hiernatoe kom. Ons werk ook met al die mense wat noodgevalle het. Sê nou maar daar is Hollywood-akteurs hierso en hulle chip ’n tand of iets gaan verkeerd op stel.

“Ek dink dit is waar ons baie van die mense ontmoet het. Een Hollywood-ou wat ek behandel het, het ’n tand gechip byvoorbeeld op stel en ek het op die ou einde sy hele gesig gedoen. En van daar af het ek nogal baie . . . Ons het rêrig nogal invloedryke mense op wie ons al gewerk het, maar uit die aard van die saak bedien ons ook die algemene publiek wat ons kan bekostig.”

Hy mag uiteraard nie die name van pasiënte noem nie.

“Ons het al op die politieke leiers gewerk; ons het al op Hollywoodsterre gewerk; ons het al op royalty gewerk. Dis net . . . Dis crazy, en ek dink dit is nogal nice as jy iets sien of hoor om te weet jou smile of jou gesig is daar.”

Wim sluit by ons aan en gaan sit op die punt van die rooi-en-swart tandarts-tipe-stoel wat die fokuspunt van die vertrek is en lyk soos iets wat jy in ’n ruimtetuig sou aantref.

Zak sê hy het Wim genader om saam met hom te werk omdat hy aantreklik is en ’n goeie tandarts is. Foto: Jaco Marais

Zak gaan voort en verduidelik wat hul werk behels. “Ons ontwikkel mense se volle potensiaal eintlik in terme van gesondheid en estese. So ons wil mense optimaal laat funksioneer deur seker te maak hul kake is in die regte proporsies, en wanneer mense optimaal funksioneel is, is hulle toevallig ook esteties optimaal.

“Dit is die interessantheid: As jy optimaal gesond is, gaan jy ook die beste weergawe van jouself lýk of vertoon. Ons is daar om jou tande te fix en reguit te maak; jou kake in die regte proporsies te kry . . . Ons doen velbehandelings; ons doen . . . Ja, enigiets wat jy kan . . . Soos facial sculpting en lifting . . .”

Wim: “Ons het begin as net ’n tandartspraktyk en toe begin ons sien net tandheelkunde skiet te kort. Jy kan nie die mond isoleer van die gesig en jy kan nie die gesig isoleer van die vel nie, en soos wat ons agtergekom het wat lack, probeer ons net elke keer nog ’n service bybring om op die oue einde nie net die mond te behandel nie, maar die hele gesig.”

Het hulle dus toe ook in hierdie ander rigtings gespesialiseer?

“Wat jy doen, is jy het jou basiese graad nodig en dan doen jy verdere kursusse in estese. Toe ek 26 was, het ek begin om dokters op te lei in gesigestese, wat insluit Botox, vullers en threads,” sê Zak.

Wim: “Jy identifiseer wat nodig is en dan gaan doen jy die post-grad; dis gewoonlik ’n twee-jaar-ding, en ek het al my post-grad goed oorsee gedoen, al die chirurgie en goed. Ek maak nou oor twee weke klaar met my meesters in lasers deur Aachen-universiteit.

“So jy kyk waar is die gap en dan val dit onder óf mý veld of Zak se veld, en tussen ons twee cover ons basically al die bases.”

Wat is hul onderskeie kundigheidsterreine?

Jy kan nie ’n mond rekonstrueer deur net een dissipline nie . . . Dis ’n mondvol.
Wim de Beer

Zak: “Dit oorvleuel ’n bietjie, veral wat die porselein behels, maar hy [Wim] doen al die chirurgie; alles wat bloed behels.”

Wim: “So, ek is eintlik ’n rekonstruktiewe tandarts. Dit staan op vier bene; dit is implantate, chirurgie, prostodonsie – wat die kroontjies is – en dan moet jy fundamentele kennis van ortodonsie hê – dit is die draadjies – en dan die vierde been is lasertandheelkunde. Dan kan jy alles bymekaar bring om ’n man te rekonstrueer. So, jy kan nie ’n mond rekonstrueer deur net een dissipline nie . . . Dis ’n mondvol,” voeg hy laggend by.

Zak: “Ek hanteer die ortodonsie, die profiele . . . profieloplastie; ek doen die sagteweefselaanpassings soos die vullers en so aan. En dan het ons ’n spannetjie wat gespesialiseerde velbehandelings doen om optimale velgesondheid te bereik.

“So my groot ding is maar gesigestese en profiele en smile make-overs; so ons werk maar so saam-saam.”

Wim: “Ons werk baiekeer op dieselfde pasiënt, want hulle het verskillende behoeftes. You can not be a Jack of all trades and a master of none. Dit is hoekom dit lekker is dat ons twee is met verskillende belangstellings.”

Aantreklike Wim

Zak: “Ons ontwikkel mense se volle potensiaal in terme van gesondheid en estese.” Foto: Jaco Marais

Zak en Wim het mekaar as studente aan die Universiteit van Pretoria ontmoet.

“Toe het ek vir Wim gesê ons gaan definitief eendag saam werk.”

Hoekom?

“Die Cosmetic and Dental Emporium het ses praktyke [waarvan hulle een bedryf] en al die tandartse en dokters wat vir die praktyke werk, is nogal aantreklik; so ek dink dít was maar die groot rede. Ek dink as jy in estese werk, you must look the part. So, Wim was vir my aantreklik, maar ek het ook geweet hy gaan ’n goeie tandarts wees.”

Wim lag en sê: “Ja, toe werk dit net so uit. Ons het mekaar vir lank nie gesien nie; ek het in Bloemfontein my Zuma-jaar gedoen soos wat hulle dit noem en toe bel Zak my net eendag en sê hy het hierdie plek gekoop, wil ek saam inkom.”

Ek vra hulle uit oor die Westerse ideaal vir skoonheid.

“Die Westerse ideaal vir skoonheid is so sterk dat dit die Oosterse, en deesdae ook die Afrikakultuur, beïnvloed het. Die Westerse ideaal is baie hartvormige gesigte, ’n breë glimlag en wit, wit tande . . . Vlekkelose velle en fýn gelaatstrekke. Ook baie van die Westerse mense word nie só gebore nie; hulle kry ook maar behandelings om hul neus bietjie fyner te maak; om verstellings te maak.

“As gevolg van tyd en omdat mense nie down-time wil hê nie, het die wêreld beweeg na meer nie-chirurgiese behandelings wat minder invasive is. En dít het die ander kulture ook begin beïnvloed. So, as jy kyk: veral Asië se gesigte is baie rond en hulle spandeer vreeslik baie om die gesig hierso [hy wys na sy eie gesig] te lig en te sculpt sodat dit meer hartvormig lyk.

“Dan is daar trendsetters soos byvoorbeeld Oprah Winfrey wat haar neus gedoen het en toe wil almal skielik nie meer sulke plat neuse hê nie. Baie van die mense wat hiernatoe kom, kom spesifiek om fillers in hul neus te sit om nie so ’n plat neus te hê nie.”

Wat is mooi?

Dr. Zak gedurende ’n opname van Wraak my Mooi. Foto: VIA

Ons praat oor hoe hierdie norme of ideale oor tyd verander. Neem die skoonhede wat deur Rubens of Boticelli uitgebeeld is: vol, rotunde figure wat vandag as vet beskou sou word.

“Mense is deesdae beslis maerder en gesonder. En al hoe meer jónger mense kom nou vir behandelings; veral die millennials. Ons sien dit nou met die show [Wraak my mooi op VIA] ook. Die millennials sien hulle ouers en dink hulle wil nie so oud lyk nie. Dit is ook as gevolg van die Instagram-invloed en selfies en filters,” sê Zak.

Wim: “Health is wealth. Hulle koppel mooiwees aan rykdom. So dit druk die mense om baie meer te beweeg om hulleself die beste weergawe van hulself te maak want dan kom hulle voor as wealthy en gelukkig en gesond.”

Hulle ondergaan self al hul eie behandelings.

’n Laggende Zak voeg by: “Botox was vyf jaar terug nog taboe, maar nou lig niemand ’n wenkbrou nie.”

Hulle ondergaan self al hul eie behandelings, sê Wim.

“So, ons het altwee byvoorbeeld draadjies in ons tande. Jy kan dit nie eintlik sien nie want dit is clear brackets. Dis juis hoekom ek dit nou, in my dertigs, doen want ek was skaam toe ek jonger was [en dié onopsigtelike tegniek nog nie beskikbaar was nie] oor wat die mense by die skool gaan sê en dat hulle my sal spot.

“Dit is deesdae ’n groot tendens. Baie mense besluit om in hul dertigs en veertigs om draadjies te doen.”

Zak: “Mense gaan ook langer lewe so hulle besef dit help nie hulle word oud met skewe tande nie.”

Magtig maar kinderlik

Wim en Zak saam met Jean-Marie Geldenhuys, ’n skoonheidskundige, wat ook deel is van die span van Wraak my mooi. Foto: VIA

Op die agtergrond speel “Tainted Love” van Soft Cell. Ons luister vir ’n oomblik daarna, lag en praat dan weer oor hul beroemde en magtige kliënte.

“Elke keer wat ons so iemand ontmoet . . . Hulle kom hier aan met hulle entourage en met hulle donkerbrille aan en jy sou dink hulle gaan so ontoeganklik wees, maar ons raak nie meer starstruck nie, ons is al so gewoond aan sulke mense. Ons het nog nie een rêrige diva, diva gehad nie. Niemand was nog ongeskik of so nie. Dis vir hulle obviously baie belangrik om die behandeling perfek te kry,” sê Zak.

“Een snaakse ding wat al gebeur het, dit was actually ’n ná-ure-situasie . . . My beste vriendin is Tanya van Graan [aktrise, sanger en model] en ons het by die huis gesit en wyn drink en toe bel hierdie agent van hierdie Hollywood-aktrise en ek het toe vir Tanya gevra of sy nie lus is om my assistent te wees nie. En sy sê toe vir my: ‘Moenie vir die aktrise sê ek is ook ’n aktrise nie, want ’n aktrise kyk nie in ’n ander aktrise se mond nie’,” vertel Zak.

Hy meen die lewe gaan oor ’n vibrasie, ’n energie wat ’n mens uitstraal.

Ondanks die bekendheid en die mag is die pasiënte weerloos.

“Selfs van die plainste, plain mense wat hiernatoe kom, raak ons mee bevriend. Hier kom van die interessantste mense . . . Hier het op ’n tyd mense gekom met AK-47’s; hier kom baie mense van die underworld ook, somehow wat obviously magtig is maar hulle vrees vir hul lewe. En ek het dadelik vir hulle gesê hulle kan nie meer met hulle wagte met gewere hiernatoe kom nie, want dit ontstel die ander pasiënte!

“Wat lekker is van die location hierso is die pasiënte kan hier reg voor die praktyk parkeer.” Wim: “Hulle is in en uit.” Zak beaam: “Van die Dubai-mense kom met ’n Maibach. Hulle sal letterlik as hulle uitkom in die kar in spring en na hul private jet toe ry en daar jet hulle weg.”

Ondanks die bekendheid en die mag is die pasiënte weerloos.

“Hulle is amper kinderlik. Ja, hulle is weerloos, want . . . Wim moes nou die dag iets aan my tande doen en ek besef toe net: Sjoe, jy vertrou die dokter; dit is eintlik al wat jy kan doen.

“So ons probeer om hulle so veilig as moontlik te hou en vir hulle gemaklik te laat voel, want hoe gemakliker hulle is hoe vinniger en beter is die eindresultaat. Hulle kán ons maar vertrou; I mean, its not our first rodeo.”

Hartseer werklikheid

Een van die mense wat op Wraak my mooi onder hande geneem is, is die dowe en tandlose Georgie van Zyl (38).

“Daardie was vir my ’n ongelooflike transformasie. Wat vir my weird was, is hy’t gesê as jy doof is gebruik jy sign language moet jy nog steeds kan praat sodat die mense jou lippe kan lees.

“Omdat hy nie tande gehad het nie kon hy nie pe en te en ke sê nie, never mind eet. Om vir iemand hulle funksie terug te gee outweigh enigiets wat vanity betref.

“Dis net crazy om te dink hoe mense jou ervaar as jy beter lyk; hoe mense jou anders sien. Dis hartseer, maar dit is die realiteit van die lewe.”

Georgie van Zyl (38) is een van die mense wat deur Wraak my mooi se span onder hande geneem is. Foto: VIA

Zak: “Dit het ook baie met selfvertroue te doen, nè. Dis wat binne in jou aangaan waarvan ander mense nie weet nie. As jy daai self-doubts kan elimineer of verminder dan maak dit ’n mássive verskil aan iemand se lewe; ons het dit nou al keer op keer gesien.

“Die show is nou net ’n nice platform waar almal dit nou kan sien; goed wat ek en Zak nou al vir tien jaar hierso sien. Dit is wat so cool is van die show – nou kan jy experience wat óns experience; die verandering wat in die mense gebeur van die begin tot die einde.”

Zak sê benewens dat hulle met Wraak my mooi mense se lewe verander, is dit ook ’n opvoedingsgeleentheid vir die publiek.

“Dit gaan oor die pasiënt en hul storie, maar soos wat ons verder in die reeks ingaan, begin ons al hoe meer goedjies te verduidelik. So dit word meer educational en help die publiek om bietjie meer informed decisions te maak. Baie goed is eintlik baie maklik en baie goedkoop om te doen. So ons gee wenke soos dat jy suiker heeltemal moet uitsny en om op ’n jong ouderdom te begin sonskerm gebruik of om te verstaan hoe om jou vel skoon te hou.

Die mense neem wraak op hul slegte verlede

“Die grootste transformasie wat ons vir die mense gee, is deur die tande wat ons vir hulle verander. Dit is iets wat jy van kleins af kan beskerm. As jy dit kan hou . . . Jou eie tande is altyd die beste tande.”

Zak verduidelik die oorsprong van die naam Wraak my mooi.

“Dit kom van Revenge Make-over, die online show op Facebook wat ons in 2017 gedoen het. Die mense neem wraak op hul slegte verlede – die goed wat met jou gebeur het wat gemaak het dat jy nie lyk of voel soos wat jy kán lyk of voel nie. Jy neem wraak op daardie omstandighede en internal demons en jy pak die lewe weer van daar af met ’n nuwe voorkoms aan.”

Wanneer ons vertrek, streel ek oor ’n welige groen plant in ’n blink houer op ’n kas. Zak lag en sê: “Dis fake, maar ek dink ’n praktyk moet altyd ’n bietjie groen in hê.”

* Nuwe episodes van Wraak my mooi wys elke Woensdag om 19:30 op VIA (DStv-kanaal 147) met heruitsendings op Saterdae om 19:00.

Meer oor:  Georgie Van Zyl  |  Zak Schabort  |  Wim De Beer  |  Chirurgie  |  Skoonheid  |  Tandheelkunde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.