Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Wurggreep op taal
Lede van Open Stellenbosch betoog onder meer teen Afrikaans as onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch.

Max du Preez, joernalis, het die ­afgelope naweek gevra dat die ­“reboot”-knoppie gedruk moet word in die debat oor Afrikaans as universiteitstaal. Du Preez het geldige vrae gevra en gepleit vir heelwat minder emosie en meer rede. Ek probeer hom hier antwoord.

Max du Preez (MdP) sê: “Hoeveel van ons emosie gaan oor taal, onderrig en die belang van studente en hoeveel oor identiteit en ons gevoel van vervreemding in die huidige bestel?”

In die Afrikaanse gemeenskap is taal ’n emosionele saak – laat ons dit erken. En juis omdat die Afrikaanse gemeenskap sedert 1994 voel dat daar “tog ook ’n plekkie vir ons moet wees”. Vir die sprekers van Afrikaans is ’n verbintenis tot onderwys, in skole en aan universiteite, in die eie taal inderdaad van kernbelang, miskien omdat daar hard gewerk moes word om die reg te kry om dit te kan doen.

Deur die indruk te wek dat die verlede net reggestel sal word as die taal as “offer” op die brandstapel geplaas word, sál emosie ontlok word. Dan gee Afrikaanssprekendes hul menswees weg en moet hulle ’n belangrike deel van hul lewe in ’n ander taal gaan uitleef. Die voorbeelde in die internasionale literatuur van stryd oor taal wys dat dit selde werk om mense hul taal te ontneem en in die besonder hul reg om hul menswees in daardie taal uit te leef.

MdP: “Wat presies bedoel ons met die ‘hoër funksies’ van Afrikaans, wat is die werklike waarde daarvan en gaan dit noodwendig skipbreuk ly?”

’n Mens onderskei tussen die lae en hoë funksies van ’n taal. Die lae funksies behels die informele en spontane gebruik daarvan. Die hoë funksies is gekoppel aan die uitvoer van tipiese standaardtaalgebruike: in die onderwys (primêr, sekondêr en tersiêr), hof, kerk, staatsdiens, media (radio, televisie, koerante, tydskrifte), literatuur (populêr en letterkundig) en so meer.

Die taal word dus wyer gebruik as vir lae funksies. As ’n taal één van hierdie hoë taalfunksies verloor, begin die afdraande pad vir daardie taal.

Die hoogste funksie wat ’n taal wil bereik, is om daardie taal te gebruik vir die beskryf van die wetenskap deur die eie taal. Die wetenskap vereis naamlik ’n gesofistikeerdheid en ’n vermoë om fyn nuanses oor te dra.

Die slyp van vaardighede om dit te doen kom tipies op skool en universiteit tot hul reg, daar waar deur die moedertaal onderrig word. Natuurlik is dit nie te sê dat hierdie vaardighede nie ook in ’n ander taal (soos Engels) oorgedra kan word nie, maar die oordrag hiervan geskied die beste in die moedertaal.

Hoë funksies het ’n enorme ­waarde – ook ’n simboliese waarde – en van al die funksies is die onderrig in die moedertaal die hoogste funksie.

MdP: “Is die beginsel dat moedertaalonderrig op skool verkieslik is, net so op universiteite van toepassing?”

Presies dieselfde. Vaardigheid in ’n tweede taal raak in die geglobaliseerde wêreld al hoe belangriker, maar die onderrig in die eie taal is steeds die hoogste strewe en dit lewer ook die beste uitkoms. Dit is al oor en oor bewys. Daar bestaan ’n omvattende literatuur hieroor wat dit wêreldwyd bevestig.

Onthou dat daar duisende studente in Afrikaans opgelei is wat almal ’n uitstekende bydrae gelewer het tot die land: ingenieurs, medici, wetenskaplikes in bykans enige rigting, onderwysers, ekonome, advokate, prokureurs, joernaliste, ensovoorts. Al werk baie van hulle in ’n tweede taal (waarskynlik Engels) is die waarde van opleiding in die eie taal ongelooflik belangrik.

MdP: “Is dit werklik onvermydelik dat Afrikaans ’n doodsteek gaan kry as Engels die verstektaal aan universiteite word? Is daar nie realistiese, haalbare maniere waarop veeltaligheid met ’n plek vir Afrikaans verseker kan word nie?”

Ja, dit sal ’n proses aan die gang sit. Die gevolge van die proses sal nie op kort termyn sigbaar wees nie, maar met tyd wel. ’n Soort dominoklimaat sal geskep word: eers universiteite (en die wetenskap), dan skole (wat reeds nie ’n mooi prentjie is nie), dan die regspleging en die kerke, dan die ekonomie, dan die media, dan die letterkunde, ensovoorts. En só sal die funksies die een na die ander kwyn.

Die einde van die proses sal nie gou kom nie, maar die uiteindelike uitkoms van ’n taal is voorspelbaar. Die meeste van ons wat nou leef, sal dit nie beleef nie, maar die volgende geslagte wel. Besluite wat ons nou neem, het ’n duidelike impak op die geslagte ná ons. Ons durf dit nie vergeet nie.

Die implisiete boodskap in hierdie proses is: Ons het jou (Afrikaans) nie meer nodig nie en waarskynlik ook nie jou mense (sprekers) nie. Julle kan maar verdwyn in julle klein hoekie in en hou asseblief net op om so lastig te wees deur aanmekaar te kerm oor julle taal.

Onthou ook net dat die hele proses nog vir van die Afrikatale voorlê: Hulle moet van die huidige lae funksies beweeg na die hoë funksies en dit is ’n proses wat baie jare neem en ook baie harde werk van die sprekers van dié tale verg. Dit lyk nou asof ons in Afrikaans die omgekeerde moet doen: wegbeweeg van die hoë funksies terug na die lae funksies.

Natuurlik is daar maniere waarop meertaligheid ’n plek vir Afrikaans kan verseker. Die wil om dit in werking te stel, ontbreek ongelukkig. Die voorstel van die bestuur van die Universiteit Stellenbosch (US) om Afrikaans tot “aanvullende taal” te reduseer, is ’n voorbeeld hiervan. En dit aan ’n universiteit wat sy ontstaan en volwassewording te danke het juis aan hierdie gemeenskap. Dit is werklik ’n in-die-tande-skop-gebaar.


MdP: “Is ons beroep op die Grondwet om Afrikaans op universiteite voorkeur te gee werklik versoenbaar met die res van die Grondwet?”

Ja, as die Grondwet reg gelees word – dat ons naamlik in ’n grondwetlik erkende meertalige land leef wat van ons kreatiewe oplossings vra om dit praktyk te maak.

Daar word nie in die Grondwet gesê dat een taal “meer gelyk as die ander is nie” (dus Engels). Hoe het dit gebeur dat Engels, die koloniale taal, hierdie status gekry het? Dat aannames gemaak word dat dit die “de facto-taal in die land is”? Waarop is dit gegrond? Op persepsies of is dit die gevolg van politieke druk? Of is dit feitelik waar? Van wetenskaplikes verbonde aan ’n universiteit verwag ’n mens beter oordeel of selfs konkrete bewyse.

Onthou dat hier nie gepraat word van “voorkeur gee” aan Afrikaans nie, maar bloot van die reg om as ’n gelyke in die land geag te word.

MdP: “En, les bes, is ’n voorkeurposisie vir Afrikaans en die gevolglike uitsluiting van die meeste swart studente hoegenaamd haalbaar in die politieke milieu van 2015?”

Ja, die Grondwet laat dit toe. En ook die gees van ons demokrasie ná 21 jaar. Maar slegs as ons soos ware Suid-Afrikaners om ’n tafel gaan sit en daaroor praat, sonder om te eis, soos Open Stellenbosch en dergelike groepe die laaste tyd gedoen het, is daar hoop. Dan is die kans op ’n kompromie altyd daar. Dat ons mekaar iewers in die middel gaan vind.

Of gaan die “tirannie van die politiek” die besluit vir ons neem? Die raas en skel van die afgelope tyd uit verskeie hoeke doen niemand goed nie.

Dat die ANC en veral onse minister die US-voorstel toegejuig het, is natuurlik skokkend, juis in die lig van ons Grondwet se beginsels oor meertaligheid. Dit is geen wonder ons land is in so ’n toestand nie, want as die regering van die dag nie eens weet wat die Grondwet behels nie, dan is ons ver heen. Gaan lees asseblief weer art. 6.

Onthou net dat daar nie gesê word die US moet eksklusief Afrikaans wees nie.

Allermins. Enigeen wat dit suggereer, is uit voeling met die werklikheid. Ons moet práát en oplossings bedínk.

  • Prof. Wannie Carstens is direkteur van die Skool vir ­Tale, Potchefstroom-kampus, Noordwes-Universiteit. Hy is ook ’n US-raadslid. Hy skryf in sy hoedanigheid as taalkenner.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.