Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
WVK-getuienis van moeilikste ervarings in my lewe – Wessels

Sy verskyning voor die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK) was een van die moeilikste belewenisse van sy openbare lewe, skryf Leon Wesels in dié vertaalde en geredigeerde uittreksel uit Encountering Apartheid’s Ghosts.

Oudpres. FW de Klerk en Leon Wessels met die Nasionale Party se voorlegging voor die Waarheids-en-Versoeningskommissie. Foto: Gallo Images

Jy weet wat jy weet, maar jy weet nie wat jy nié geweet het nie en dalk moes weet nie.

Spoke uit die sekerheidskamers van die ou regering of moontlike verrassings uit lêers van die WVK dra by tot dié pynlike ervaring.

Trotse soldate en polisie-offisiere wat op hul knieë voor die WVK om amnestie pleit, is nie ’n mooi gesig nie. Ek kan hul optrede nie verdedig nie; tog kan ek hulle nie veroordeel nie – ons was immers aan dieselfde kant van die konflik.

Dit was my historiese plig om daar te wees en te verduidelik wat tot ons besluite gelei het.

In Augustus 1996 het ek saam met FW de Klerk voor die WVK verskyn toe hy die Nasionale Party (NP) se voorlegging ter tafel gelê het. Daar is nie van my verwag om in daardie stadium enigiets te sê nie. My latere verskyning was een van die moeilikste belewenisse van my openbare lewe.

Pik Botha, Adriaan Vlok, Roelf Meyer en ek is uit die NP-kringe genooi om ons ervarings te deel en te verduidelik hoe die Staatsveiligheidsraad (SVR) gefunksioneer het. Ons het in Oktober 1997 voor die WVK verskyn. Ds. Piet Meiring, ’n kommissaris van die WVK, het in sy boek, Kroniek van die Waarheidskommissie, geskryf dat die WVK wou hê ons moes verduidelik hoe die SVR gefunksioneer het en ook dat ons verantwoordelikheid moes aanvaar vir growwe menseregteskendings wat in die naam van die regering gepleeg is.

Elkeen van ons het individueel getuig.

Dit was ’n intellektuele en emosionele uitdaging. Dit was egter ook iets wat ek glad nie sou wou misloop nie. Dit was my historiese plig om daar te wees en te verduidelik wat tot ons besluite gelei het.

Dit was ook senutergend; die een oomblik het jy mag gehad en die volgende oomblik moet jy in die openbaar verduidelik wat jy met daardie mag gedoen het. Toe ek mag gehad het, was daar mense rondom my – generaals, senior kabinet-kollegas, prokureurs en, baie belangrik, regeringshulpbronne.

Toe die oomblik aanbreek om verantwoording te doen was ek alleen. Daar was niemand om te help met die voorbereiding van my voorlegging nie.

Ek was onrustig: Wat sal my kinders dink? Hoe ervaar Erika en Willem al dié dinge? Sal my optrede van so ’n aard wees dat dit hulle verneder? Sal die omstandighede hulle dwing om te vra: “Is dit my pa? Is dit wat hom besig gehou het toe hy nie by die huis was nie? Hoe is dit moontlik dat hy nie geweet het nie?”

Beelde uit rolprente oor die Tweede Wêreldoorlog, waar kinders ontnugter was oor hul pa’s se geheime regeringsbedrywighede, het by my gespook. Wat het jy geweet? Wat het jy nie geweet nie? Wat moes jy geweet het? Wat sal die WVK na jou kant toe gooi?

Ek was bekommerd, nie oor enigiets wat ek gedoen het nie, maar oor die dinge waarvan ek niks geweet het nie, maar dalk moes geweet het.

Ek was senuweeagtig, maar ook baie kwaad toe ek op 15 Oktober 1997 vir die openbare sitting na Johannesburg gery het. Waar was al die ander koukuslede? Waarskynlik steeds in die bed terwyl hulle vir hulself sê: “Wel, ek was nie betrokke nie. Ek het niks daarmee te doen gehad nie.”

Ek was woedend vir die groot PW Botha. Sy knorrige nie-verskyning voor die WVK was ’n verspeelde geleentheid. Saam met sy voormalige kollegas, regeringshulpbronne en ’n magdom inligting tot sy beskikking kon hy die proses strategies gemanipuleer en verduidelik het wat ons gelei het.

Hy was die geskikste persoon om die konteks van die konflik te skets. Botha kon die platform gebruik en die bordjies verhang het. Wat na ’n verleentheid gelyk het, kon maklik verander word in ’n geleentheid vir lede van die veiligheidsmagte wat om amnestie aansoek gedoen het. Sonder iemand van sy statuur wat die politieke konteks verduidelik, moes hulle self sien en kom klaar.

My getuienis

Daar is nie van Leon Wessels verwag om iets te sê toe hy en oudpres. FW de Klerk in 1996 voor die Waarheids-en-Versoeningskommissie getuig het nie. Hy sou later individueel getuig. Foto: Gallo Images

Toe Alex Boraine, adjunk-voorsitter van die WVK, my vra om die eed af te lê, het ek geweier – anders as wat almal van die NP gedoen het.

Ek het verkies om te verklaar dat ek die waarheid sal praat. Ek het verkies om nie die eed af te lê nie omdat ek nie geweet het wat ek sou sê “die waarheid en niks anders as die waarheid is” nie. Ek kon hulle net die waarheid vertel soos ek dit geken het.

’n Geskrewe voorlegging is van ons verwag voordat ons mondelinge getuienis sou lewer. Voordat ek met my getuienis begin het, het ek gevra dat my skriftelike voorlegging aangepas word: Waar ek ook al die woord “ons” gebruik het, moes dit met “ek” vervang word.

Apartheid – daarvan is ek nou meer oortuig as ooit tevore – was ’n verskriklike fout wat ’n vernietigende uitwerking op ons land gehad het.

Ek het dit gedoen omdat ek nie seker was dat almal met my sou saamstem nie.

My toespraak voor die WVK was omstrede. “Apartheid – daarvan is ek nou meer oortuig as ooit tevore – was ’n verskriklike fout wat ’n vernietigende uitwerking op ons land gehad het. Suid-Afrikaners het nie na mekaar se gelag en gehuil geluister nie. Ek is jammer dat ek so hardhorend was. Ek glo dit is nie gepas in my geval om te probeer skuil agter die politieke verweer dat “ek het nie geweet het nie”, omdat ek in baie gevalle nie wou weet nie . . . Hoewel daar nooit direkte opdragte was om politieke teenstanders te vermoor nie, het van die NP-lede toesprake gemaak wat ’n klimaat vir ernstige oortredings geskep het. Ek het vermoedens gehad oor sekere bedrywighede wat tot ongemak in sekere amptelike kringe gelei het. Omdat ek nie die feite gehad het om my vermoedens te bevestig nie, moet ek bieg, het ek net in die gange gefluister. Ons het die veiligheidsmagte swak bestuur.”

Dié betogers maak dit in 1996 duidelik wat hulle van PW Botha, voormalige staatspresident, dink. Foto: Gallo Images

As ek nou daaraan terugdink, moes ek bygevoeg het wat ek in Februarie 2020 in ’n onderhoud aan Pieter du Toit van News24 gesê het: Ek mag dalk nie die sneller in die moord op Anton Lubowski getrek het of die briefbom gestuur het wat tot die verfoeilike moord op Abram Tiro gelei het nie, maar ek neem dit vir my rekening.

“Jy kan sê, soos baie maak: ‘Kyk, ek was nie toe in die politiek nie’ of ‘Ek was nie daarby betrokke nie’ en ‘Moenie vir mý kwaad wees nie want ek het hom nie doodgemaak nie.’ Dis snert. Ek was ’n Afrikaner, ek was ’n nasionalis, ek is verantwoordelik. Dit is vir my rekening.”

Die ‘Groot Krokodil’ is woedend. Wees stil vir ’n rukkie, lê laag. Jy het jou punt gemaak.

Ek het gedink my verskyning voor die WVK was maar ’n mak affêre. Die agterbakse gedrag van PW Botha se “oë en ore” by die WVK-sitting waar ek dié opmerkings gemaak het, was ’n duidelike teken dat ek stormwaters binnegevaar het.

My voorgevoel was reg. Magnus Malan het my dieselfde dag gebel. Hy het my gelukgewens met my getuienis en my gewaarsku om versigtig te wees. “Die ‘Groot Krokodil’ (verwysende na PW Botha) is woedend. Wees stil vir ’n rukkie, lê laag. Jy het jou punt gemaak.”

Dit was ’n gebaar van vriendskap. Ek is vooraf gewaarsku en was reg om myself te verdedig. Ek weet waaroor dit alles gegaan het, maar ek weet ek het ’n gevoelige snaar aangeraak. Ek het alle verdere geleenthede om met die media te praat van die hand gewys en gesê my verklaring sê alles.

PW Botha, staatspresident van Suid-Afrika van 1978 tot 1989. Foto: Gallo Images

’n Lid van die veiligheidsmagte het ’n anonieme brief aan Rapport (5 Februarie 1995) geskryf en beweer dat Roelf Meyer en ek as voorsitters van die gesamentlike bestuurstelsel (GBS) baie meer geweet het as wat ons bereid is om te erken. Dié verdagmakery het my weer tot aksie aangespoor.

Ek het die anonieme korrespondent ’n week later in dieselfde koerant geantwoord. Al die besluite waarvan ek deel was, sal die toets van daglig deurstaan – nie noodwendig die grondwetlikheid van die Grondwet nie. As enige regeringsamptenaar aan die ontvangkant van regstappe is weens ’n besluit wat gedurende my ampstermyn deur die GBS geneem is, sal ek mede-verantwoordelikheid daarvoor aanvaar en daardie amptenaar kan op my volle samewerking en steun reken.

Sedertdien heers daar ’n doodse stilte. Niemand het ooit my steun gevra of my by wangedrag geïmpliseer nie.

Ek het nie om amnestie aansoek gedoen nie – daar was nooit enigiets, regsgesproke, waarvoor ek aansoek moes doen nie. Openbare aanspreeklikheid het my egter verplig om oor die wandade van daardie tyd te praat en dit aan die WVK te verduidelik.

* Encountering Apartheid’s Ghosts – From Krugersdorp to Constitution Hill word deur Naledi uitgegee. Die e-boek is by amazon.com beskikbaar. Dit kos R220.

Meer oor:  Nasionale Party  |  Adriaan Vlok  |  Pw Botha  |  Fw De Klerk  |  Leon Wessels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.