Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Yolande Korkie: ‘Dis oukei om oor geliefde te huil’

Woede, hartseer en depressie is alles deel van die proses as jy ’n geliefde aan die dood afstaan. Gert van der Westhuizen het gaan luister wat sê Yolande Korkie, weduwee van Pierre Korkie, en Jawaahier Petersen, dogter van die vermoorde musikant Taliep Petersen, oor die rouproses.

Jawaahier Petersen (regs) praat Saterdag by Die Burger se Praat Saam-gespreksreeks oor die dood van haar musikant-pa, Taliep. Yolande Korkie het ook haar ervaring oor die dood van haar man, Pierre, met toeskouers gedeel. Foto: Jaco Marais

Rou is soos ’n vingerafdruk, het Yolande Korkie, weduwee van Pierre Korkie wat sowat twee jaar gelede as gyselaar in Jemen dood is, Saterdag by Die Burger se Praat Saam-gespreksreeks op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn gesê.

Korkie en Jawaahier Petersen, dogter van die vermoorde musikant Taliep Petersen, het op die gespreksreeks se laaste dag onder meer gepraat oor die rouproses ná die dood van ’n geliefde.

“Dit is uniek vir elkeen van ons,” het Korkie gesê. Sy het vertel hoe ’n mens se emosies met jou klimtol speel in die rouproses. “Nou is ek terug by ontkenning, ander dae is ek die duiwel in en ander dae ervaar jy al die emosies tegelykertyd.”

Sy en Pierre is in 2013 in Jemen, waar hulle sendelinge was, deur die terreurgroep Al-Kaïda ontvoer en gyselaar gehou. Sy is ná 228 dae vrygelaat waarna sy 11 maande lank in spanning geleef het in afwagting op nuus oor haar man. Pierre is egter dood in ’n mislukte reddingspoging deur Amerikaners.

Petersen se pa is in Desember 2006 in sy huis in Athlone vermoor. Haar stiefma, Najwa, is die dag ná Jawaahier se troue skuldig bevind aan moord en roof met verswarende omstandighede en is vir 28 jaar tronk toe gestuur. Twee huurmoordenaars sit ook agter tralies.

Petersen was Saterdag by tye emosioneel omdat dit haar pa se 67ste verjaardag sou wees. Sy het in ’n stadium ’n sneesdoekie by Korkie gekry om trane uit haar oë te vee.

Hulle het mekaar agterna ook lank omhels.

Nou is ek terug by ontkenning, ander dae is ek die duiwel in en ander dae ervaar jy al die emosies tegelykertyd.
Yolande Korkie

“Ek is nog in die middel van my rouproses,” het Petersen gesê. “Ek was 20 jaar oud toe hy dood is, ek was nog ’n kind. Voor dit was my grootste probleem om te besluit wat om aan te trek vir ’n jol. Ek het binne ’n maand ’n volwassene geword.”

Sy het vertel hoe sy altyd haar gevoelens moes wegsteek, veral in haar beroep as maatskaplike werker. “Dit is eers in die afgelope vier jaar, sedert die geboorte van my eerste kind, dat ek myself toestemming gegee het om swaar te kry.”

Korkie is nie meer kwaad nie

Albei vroue het vertel hoe woede deel was van hul rouproses: Woede vir die mense wat hul man en pa vermoor het, maar ook woede vir die Here wat kon toelaat dat só iets gebeur.

“Dis makliker om woede as hartseer te hanteer,” het Korkie gesê. Maar sy is nie meer kwaad nie. Sy moet elke dag kies en het gekies om nie meer kwaad te wees nie. “Jy kies om nie ’n gevangene te bly van wat iemand anders gedoen het nie.”

Sy het ook berusting gekry “omdat die Here weet wat hy doen en ek vertrou hom”. Petersen het gesê geloof het haar ook baie gehelp en dat sy weer vertroosting daarin gevind het.

Petersen het haar stiefma ook vergewe. Sy het verwys na alles wat sedertdien in haar lewe gebeur het. Sy en haar broer, Ashur, is byvoorbeeld deesdae musikante in eie reg en is lede van die Jaloersbokkies wat op die KKNK opgetree het.

“Ek het twee kinders en drie grade en ek wou graag my pappa daar gehad het om te sê: ‘Knap gedaan, my kind. Ek is baie trots op jou.’

“Dan is jy kwaad, die hel in. Maar ek wou nie my hart deurtrek met wat swart en toxic is nie. Ek vergewe haar, maar ek kan nie vergeet nie. Ek vergewe haar nie vir haar onthalwe nie, maar vir my onthalwe.

“Ek moet my siel bevry, ek moet my hart ’n kans gee om die lewe te geniet, want as ek heeldag dink aan hoe kwaad sy my gemaak het, gaan ek nooit die lewe geniet nie en kan ek nooit my kinders in die oë kyk nie. Sy sit nou daar en haar lewe gaan aan. Ek wil ook ’n kans hê om met my lewe aan te gaan.”

Yolande Korkie (links) en Jawaahier Petersen omhels mekaar nadat hulle Saterdag by Die Burger se Praat Saam-gespreksreeks gesels het oor die rouproses wanneer jy ’n geliefde aan die dood afgestaan het.Foto: Jaco Marais

‘Huil is ook woorde’

Ivor Price, die gespreksleier, wou by Petersen weet waarom sy nie met haar stiefma gaan praat nie.

“Ek is nog nie by die punt waar ek nie iets aan haar sal doen as ek van aangesig tot aangesig met haar gekonfronteer word nie. Solank as wat ek afstand het, kan ek aangaan met my lewe. Ek wil eendag graag met haar ’n gesprek voer, maar ek is nog nie in die stadium gereed om dit te doen nie.”

Petersen en Korkie het vertel hoe depressie deel was van hul rouprosesse. Albei van hulle het hulp gekry sodat hulle kon leer om met hul hartseer saam te leef.

Volgens Korkie moet jy ook tyd maak om aan jou verlies te dink. Sy noem dit “tye van herinnering”, soos wanneer sy haar man se graf gaan besoek.

“Maak tyd om net te huil,” het sy bygevoeg. “Huil is ook woorde.”

Baie keer as ek op die verhoog kom staan en mense sê ek lyk nes my pa, maak dit my hart baie bly. Ek, soos ek hier sit, is sy erflating.
Jawaahier Petersen

Petersen het gesê sy onthou veral haar pa se lewenslesse. Sy wonder net wat hy daarvan sou gedink het as hy kon weet die Jaloersbokkies is benoem vir ’n Ghoema-prys vir die beste oorspronklike boeremusiekalbum.

“Baie keer as ek op die verhoog kom staan en mense sê ek lyk nes my pa, maak dit my hart baie bly. Ek, soos ek hier sit, is sy erflating.”

Sy stem saam met Korkie dat dit goed is vir mense om te huil as hulle deur ’n rouproses gaan. Sy het ook ’n eenvoudige dog treffende boodskap gehad vir mense wat rou.

“Dis oukei. Dis oukei om te huil. Dis oukei om vir ’n paar dae in jou pajamas te sit. Dis oukei om vir die Here kwaad te wees, want hy verstaan. Hy weet jy gaan terugkom. En dit is die terugkom wat geloof sterker maak. Ek wil net twee woorde vir jou sê.

“Dis oukei.”

Meer oor:  Gert Van Der Westhuizen  |  Yolande Korkie  |  Rou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.