Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Yslike babelas kan op vlak 3 ons voorland wees

Die verslapping van die inperkingsmaatreëls op vlak 3 wat beheerde verkope en tuisgebruik van alkohol gaan toelaat, kan tot ’n yslike babelas vir die staat lei, meen Heindrich Wyngaard.

’n Inwoner van Soweto stap verby ’n kroeg met ’n bieradvertensie op. Foto: AP

Die bemarkingsteks van die distilleerder Pienaar & Son op die deurskynende glasbottel spog dat dit handgemaakte Kaapse jenewer is: “infused with botanicals that have been carefully selected to pay homage to the Eastern spice trade that influenced Cape Town culture and cuisine alike” – en dat dié produk in 2019 dubbelgoud op die SA Craft Gin-toekenningsgeleentheid verower het.

“Bring saam,” versoek ’n vriend toe ek hom die ander dag laat weet ek (en my mediapermit) kom vir ’n week af Kaap toe. Dit is nadat ek sy smaakkliere met ’n foto geterg het.

In ruil daarvoor stuur hy ’n foto van ’n nie-sommer-so-bottel-whiskey.

“Wag daarmee tot ek geland het,” draai ek sy arm. Toe pak ek (dalk geesdriftiger) padkos, oefenklere, boeke – en die bottel jenewer.

Twee polisielede op die grens tussen Gauteng en die Vrystaat gryp die geleentheid aan om hul lot te bekla.

Ek durf die lang pad aan; by ’n handjievol padblokkades word ek beleefd voorgekeer. “Waar kom jy vandaan?” word ek gevra. “Waarheen is jy op pad?” Die antwoord is heeltyd eenvoudig: “Media.”

In reaksie hierop gryp twee polisielede op die grens tussen Gauteng en die Vrystaat die geleentheid aan om hul lot te bekla. Die wit vroue-lid spreek my in Engels met ’n Afrikaanse aksent aan: “You see, no one here from health.” Die swart, manlike lid, sê met ’n Sotho-aksent in Afrikaans: “Rapporteer hulle!” Ons drie lag lekker daaroor – en ons groet.

Die sonneblomme blóm goudgeel langs die pad. Mielies groei groen. ’n Ryloper of twee hou goeie moed.

Ek het halfsewe se kant die Saterdagoggend uit Johannesburg vertrek; ek het halfagt se kant die Saterdagaand in my Overbergse tuisdorp, Caledon, aangekom.

Die lewe in ’n ‘brandpunt’

Dié bierkrane in ’n Kaapstadse kroeg is nou al twee maande toegedraai. Foto: AP

Hier in die Bergsig-woonbuurt kon net sowel enige ander naweek gewees het, want hier loop ons sonder maskers op straat, ongeërg oor sosiale distansiëring, kinders speel uitgelate buite die erf, die musiek doef-doef-doef tot in die vroeë oggendure – en aan en aan.

Watse korona?!

Ja, watse korona? Dit gebeur mos elders.

Behalwe dat die statistieke nie met jou ingesteldheid saamstem nie – en statistieke val nie soos herfsblare sommerso uit ’n boom nie; of in die taal van die omgewing: Statistieke gaan nie agter gehoor aan nie; statistieke skiet nie kaarte nie. Kenners stel dit ná deeglike ondersoek en bevestiging daarvan op; in die geval van Suid-Afrika maak die regering dit bekend. En so het ons Sondagaand by pres. Cyril Ramaphosa gehoor dat die Overberg een van die koronabrandpunte in die land is.

Waarom leef ons steeds asof ons dink as ons die virus ignoreer, sal dit aanstoot neem en verbystap om by die bure geselskap te gaan soek?

’n Brandpunt word gedefinieer as gebiede waar die infeksiesyfer meer as 5 gevalle per 100 000 inwoners is. (Rapport het dié gebiede Sondag goed op ’n grafika uitgebeeld.) En met die skryf van hierdie artikel was daar altesame 75 gevalle in die Overberg, terwyl die syfers vir my plaaslike Theewaterskloof- munisipale gebied teen Maandag soos volg gelyk het (gevalle, herstel, aktief): Botrivier (4, 1, 3), Caledon (9, 2, 7), Elgin (1, 1, 0), Genadendal (2, 0, 2), Grabouw (19, 8, 10 – én een sterfte) en Villiersdorp (8, 0, 8).

Teen die tyd dat jy hierdie lees, lyk die getalle heel waarskynlik reeds anders.

Waarom hoor ’n mens nie ’n bekommerde lawaai hieroor nie? Waarom leef ons steeds asof ons dink as ons die virus ignoreer, sal dit aanstoot neem en verbystap om by die bure geselskap te gaan soek? (En dit is tonele wat ek met my onlangse Kaapse draai nie net op Caledon nie, maar ook op die kusdorp Hermanus, aan die ander kant van Sir Lowryspas, en op Noord-Kaapse dorpe soos Colesberg gesien het.)

Waarom skyn dit in die algemeen dat ons meer aandag aan die inperkingsmaatreëls skenk as aan die syfers: Wil ons eers die foto’s van die slagoffers sien, hul name hoor, voordat ons die erns hiervan besef?

‘Ek kani mee ni’

Mense met gesigsmaskers stap in Seepunt in Kaapstad. Foto: AP

Jy verneem na ’n vriend se welstand nadat ’n swelsel bo sy een oog ontwikkel het. “Baie beter,” antwoord hy. “Goed om te hoor,” skryf jy. “Ja sit ma rustig hi,” gaan hy voort in WhatsApp-taal, “smaak al vi drink”.

Die vriend sluit sy boodskap met ’n emoji af. Die emoji se trane, twee lang strome uit albei oë, dam voor die emoji se huilgesiggie op.

Teen die 15de Mei skryf die vriend: “Middag my vriend Ek kani mee ni.”

’n Week later, dis nou verlede Sondagaand, vee die president toe die trane af van die wange van drinkers soos my vriend deur aan te kondig dat die land komende Maandag na vlak 3 van die inperking skuif en dat die beheerde verkope van alkohol en die tuisgebruik daarvan dan wettig sal wees.

Hoe ook al, die afwagting is oraloor tasbaar.

En meteens – selfs al was dit dalk van korte duur – het dit geklink asof selfs die gekla oor die voortgesette verbod op sigaretverkope deur die opgewonde vooruitsig van keel natmaak uitgedoof is. Dis nou behalwe as jy ’n sondebelastingbetaler is wat drink én rook; of as jy een van diesulkes is wat normaalweg “net rook wanneer ek drink”.

Hoe ook al, die afwagting is oraloor tasbaar. En die tydsberekening is in die kol: Hierdie naweek is dit mos die einde van die maand, betaaldag dus vir mense met permanente werk, en middel volgende week is dit weer “Sassa-dag” wanneer nagenoeg 18 miljoen begunstigdes hul maatskaplike toelaes ontvang – omtrent 13 miljoen daarvan kindertoelae.

Die tussen ses en agt miljoen informele werkers wat na verwagting vanaf Junie die voordeel van ’n tydelike “korona-werkloosheidstoelae” sal geniet, het ook rede om na die afskop van vlak 3 uit te sien (mits Sassa sy huis in orde kry voordat die uitbetalings volgende week moet geskied).

Kan die boodskap nog onduidelik wees? Foto: AP

Dit beteken dat almal wat sedert die aanvang van die inperking om middernag op 26 Maart – ’n volle twee maande gelede – weens die drankverbod geheelonthouers geword het, sal voortaan om weer drank te koop en tuis te geniet.

Maar almal van ons – drinkers én nie-drinkers – is goed vertroud met dié tweeledige werklikheid wanneer drankgebruik ter sprake kom: Sommige mense kan “hul drank vir hulself drink” (tot so ’n mate dat jy dalk nie eens sal weet dat daar ooit alkohol aan hul lippe of tong raak nie); omgekeerd is daar diegene “wat nié hul wyn vir hulself kan drink nie” – en sodanige oormatige gekuiery is dikwels die rede vir onderonsies wat tot huismoles en ’n gehaas na die plaaslike hospitaal se ongevalle-afdeling kan lei.

Toestemming om tuis te drink vrywaar die samelewing ook nie teen drinkers wat agter die stuurwiel inklim nie.

Die polisie se (voor-korona-) misdaadstatistieke oor naweke het dit al telkemale bevestig.

Toestemming om tuis te drink vrywaar die samelewing ook nie teen drinkers wat agter die stuurwiel inklim om kamtig inkopies te gaan doen en wat op dié wyse ’n gevaar op die pad en die potensiële oorsaak van padongelukke kan raak nie – en stel jouself voor wat dié scenario-voorspelling aan die huidige druk op mediese personeel kan doen.

Paasnaweek 2020 het ons gewys watter positiewe uitwerking die afwesigheid van honderde voertuie, sowel as onverskillige bestuurgewoontes, op padsterftes kan hê: slegs maar ’n totaal van 28 mense het hierdie Paasfees op die land se paaie gesterf teenoor meer as 162 verlede jaar en 309 in 2018.

‘Dit is nou in julle hande’

‘Dit is nou in julle hande,” het pres. Cyril Ramaphosa gesê toe hy die nasie Sondagaand toegespreek het. Foto: GCIS

Wat ons nou in die gesig staar, is dat sommige drinkers hulle sal verbeel dat hulle nou ál die verlore vierings – soos onlangse verjaardae – moet inhaal. En hoe sal die polisie en die weermag weet of “feesgangers” wel huisbewoners is van die betrokke woning waar hulle die toegelate tuisgebruik van drank geniet?

Hier moet ’n mens seker Ramaphosa se goeie moed aangryp en hoop dat mense verantwoordelik sal optree sodat die regering nie deur stygende koronasyfers gedwing word om sekere gebiede weer tot vlak 4 of 5 te skuif nie.

Die kanse hiervoor kan nie onderskat word nie – en dit sal nie soseer met onverskillige drankgebruik alleen te doen hê nie, maar wel ook met die verwagte piek in infeksiegetalle wat onvermydelik is.

’n Berig in die Washington Post, gegrond op modellering deur die Modelling and Simulation Hub Africa, ’n groep wetenskaplikes en akademici, voorspel juis dat die Kaap teen einde Junie dalk al oëtoeknypsyfers sal ervaar, minstens twee maande voor die res van die land.

Teen November kan die pandemie tot soveel as 45 000 Suid-Afrikaners se lewens geëis het; teen Desember, ’n jaar nadat die eerste gevalle in China aangemeld is, kan die plaaslike infeksiesyfer al op 13 miljoen staan.

Heindrich Wyngaard

Nogtans bly persoonlike gedrag bepalend vir die spoed waarteen infeksies plaasvind (of toegelaat word om plaas te vind) en die toeloop na gesondheidsorggeriewe wat dit kan meebring.

Die goeie nuus is dat nie almal wat die virus opdoen, gehospitaliseer hoef te word nie. Die slegte nuus is dat wanneer dit wel nodig raak, só staan sake tans, sal ons sukkel om almal te kan akkommodeer.

“It is now in your hands,” het Ramaphosa die ontslape vader van die nasie, oudpres. Nelson Mandela, in sy toespraak Sondagaand aangehaal. ’n Mens kan net hoop dat almal dit ter harte neem. Wat hy daarmee bedoel het, was dat elke landsburger spesifiek vanaf Maandag (wanneer groter vryhede toegelaat word) ’n onmisbare rol te speel het in hoe die pandemie voortaan in ons land bestuur word.

“Dit is nou in jou hande,” is gewis nie ’n boodskap wat ons durf verkeerde interpreteer wanneer ons volgende week wettig na die drankwinkel gaan en agterna met ’n glas in die hand sit nie, want in hierdie era van korona kan dit ’n babelas van ’n ander aard meebring.

En die bottel jenewer?

En dan net om die verhaal van my bottel jenewer af te sluit: Helaas het ek toe nooit die geleentheid vir ’n glas in die hand op my onlangse Kaapse besoek gehad nie, want ek het uiteindelik nooit my vriend met die whiskey gesien nie.

Die bottel jenewer, 2019 se einde-van-die-jaar-geskenk van die werk, kom toe al die pad saam terug Auckland Park toe om weer op een van my boekrakke te kom pronk. Soos die noodlot dit egter wou hê, het dit Maandagoggend glassplinterend op die vloer te lande gekom toe ek die meubels in my Johannesburgse blyplek ’n bietjie herrangskik.

Die soete, kalmerende geur van Kaapse fynbos, gemeng met Oosterse speserye het ’n ruk lank nog in die lug gehang.

* Wyngaard is ’n sosio-politieke kommentator, skrywer en TV-aanbieder. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.