Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Zephany: ‘Wat het daardie dag gebeur?’

Miché Solomon (22), voorheen bekend as Zephany Nurse, sê in dié uittreksel uit Zephany: Twee ma’s. Een dogter. ’n Ongelooflike ware verhaal, sy kan nie haar grootmaakma, wat haar as baba ontvoer het, haat nie.

Toe ek uiteindelik toegelaat is om my ma in die tronk in Worcester te besoek [Lavona Solomon dien ’n vonnis van tien jaar uit], het ek haar natuurlik baie vrae gevra.

Dit is wat sy my vertel het:

Sy was swanger met die baba wat veronderstel was om nou ek te wees, maar sy het daardie baba ná drie maande verloor. Sy het na die Tygerberg-vrugbaarheidskliniek gegaan en daar gesit en huil in die wagkamer omdat sy die miskraam gehad het.

’n Vrou genaamd Sylvia het na haar toe gekom en gevra hoekom sy huil. My ma het aan haar verduidelik wat gebeur het en hoe sy oor die pa van die baba voel. Sylvia het vir haar gesê sy sal haar help met ’n vrugbaarheidsbehandeling of aanneming. Sy het haar ook vertel van die bevriesing van eierselle. My ma moes ’n monster van my pa se sperm bring.

(Indien my ma se storie waar is, weet ek nie hoe sy dit reggekry het sonder dat my pa daarvan geweet het nie, en of hy jok as hy sê hy het nie daarvan geweet nie.)

In elk geval, blykbaar was daar ook ’n probleem met haar buise omdat sy ’n ektopiese swangerskap gehad het. Hierdie hele tyd het my ma voortgegaan asof sy swanger was. Sy het niemand van die miskraam vertel nie.

‘Daardie baba was ek’

’n Paar maande later bel Sylvia haar om te sê daar is ’n jong ma wat nie haar kind wil hê nie. Sy wou die kind weggee, maar sy wou nie die aanneemouers sien nie. My ma het gesê sy sal vir die baba sorg. So Sylvia het gesê sy moet haar by die stasie – ek dink Retreat – ontmoet om die aannemingsdokumente te kom haal.

Toe my ma na die stasie toe gaan, kom hierdie ander vrou na haar toe met ’n baba in haar arms, oorhandig die baba aan haar en stap weg. Daardie baba was ek.

Nou, die dooies kan natuurlik nie praat nie, so dit het nie gehelp nie.

Sy het dokumente verwag, maar nou het hulle met ’n baba gekom. Was sy veronderstel om die baba net daar te los? Sy het huis toe gegaan en gemaak asof sy ’n bietjie vroeër die lewe geskenk het. Sy het eers ’n paar jaar later, toe ek ses jaar oud was, dokumente ontvang – die geboortesertifikaat en aannemingsdokumente.

My ouma – Lavona se ma – het destyds by ons gewoon. Sy is dood ’n jaar voordat die hele ding aan die lig gekom het. My ma het vir my gesê sy was die enigste mens wat kon bevestig dat my ma nie naby die Groote Schuur-hospitaal was op die tydstip dat ek gesteel is nie. Nou, die dooies kan natuurlik nie praat nie, so dit het nie gehelp nie.

Ek het ’n oom gehad wat in Malmesbury gewerk het, waar ek blykbaar geregistreer is. Hy is ook voor die verhoor oorlede.

In die laai was ’n sertifikaat

Miché Solomon (22), voorheen bekend as Zephany Nurse, sê sy sal altyd dankbaar wees vir hoe Lavona Solomon haar grootgemaak het.Foto: Verskaf

Kan ek eerlik wees? Ek het nog nooit tevore iemand hiervan vertel nie: Ek was omtrent 12 jaar oud en het in die laaie rondgekrap – ek was destyds dol daaroor om in my mammie en daddy se laaie te krap op soek na R2- of R5-munte. Ek herinner my dat ek gekrap en gekrap het en op ’n aannemingsertifikaat afgekom het.

Die Here weet, ek kan nie onthou wat daarop gestaan het nie, maar ek onthou ek het die woord “aanneming” gesien. Ek kan eerlikwaar nie onthou watter ander inligting op die dokument was nie, maar elke keer as ek die woord “aanneming” hoor, lui daar ’n klokkie wat daardie herinnering betref.

My ma het nooit enige aannemingsdokumente voorgelê nie.

Sylvia het verdwyn. Daar is geen bewys van wat Lavona sê nie. En dis wat dit so moeilik maak om haar te glo. Maar as ek net daardie dokumente kon vind wat ek onthou ek gesien het . . . Ek dink nie ek sal dit ooit vind nie. Daardie kas is lankal weg.

Ek het my daddy gevra: “Ek kan wraggies nie verstaan nie – hoe het Daddy nie geweet sy lieg nie?” Maar my daddy kan maar ’n bietjie dof wees, hoor! Jy kan hom maklik om die bos lei omdat hy so goedgelowig is. Dis omdat hy net in mense glo.

Hy het geglo my ma het swanger geraak, swanger gebly en die baba gehad. Celeste [Miché se biologiese ma] het my vertel toe hulle na my gesoek het, het hulle ’n vals swangerskapmaag gevind in die tonnel wat na die hospitaal lei. Ek het ’n kussing teen my maag gehou en vir my daddy gesê: “Hoe kon Daddy so simpel wees? Om dit nie raak te sien nie!”

‘ ’n Feëverhaal’

Hy het haar eenvoudig so baie vertrou. En soos baie mans het hy waarskynlik nie in die besonderhede van die swangerskap belanggestel nie. Maar hoekom het sy hom nie laat weet sy is in kraam nie? Hoekom was dit nie nodig dat iemand haar by die hospitaal kom oplaai om haar huis toe te bring nie?

My daddy glo vas sy het dit nie gedoen nie. Dit ontstel hom nog steeds wanneer hy dink aan wat die regter oor haar storie gesê het: Dat so iets net in flieks gebeur en dat dit ’n feëverhaal is.

My ma ontken nog steeds die ontvoering. Miskien glo sy in haar kop werklik haar storie omdat sy haarself so lank vertel het dat ek haar kind is.

Hy ondersteun my ma heelhartig. Ek kan sien hy is baie lief vir haar. Ek dink hy is selfs liewer vir haar noudat die waarheid bekend is, want hy het vir my gesê hy het vroeër ook probeer deurbreek na haar op ’n persoonlike vlak. Ek weet nie presies wat hy daarmee bedoel het nie omdat hulle nooit hul persoonlike sake voor ons gewys het nie. Maar dalk was daar altyd hierdie ding tussen hulle en het hy tot nou toe nie geweet wat dit was nie.

Dalk dink ’n deel van hom sy het dit gedoen – die omstandighede laat dit lyk of sy dit gedoen het. Ek weet nie of hy dit teenoor homself ontken nie, of hy mense probeer wys hy is ’n ondersteunende eggenoot nie, en of hy haar werklik glo nie, maar ek vermoed ’n deel van hom dink tog sy het dit gedoen.

Shame, dit was onlangs hul huweliksherdenking. Sy het my daddy gevra om vir haar ’n radio te bring en dan moes hy die radio by die huis aanskakel wanneer hulle liefdesliedjies op ’n Sondagaand speel omdat sy op dieselfde tyd na dieselfde stasie sou luister. Dis so dierbaar.

‘Hierdie dinge gebeur’

Zephany Nurse as baba by haar biologiese ma Celeste Nurse.

My ma ontken nog steeds die ontvoering. Miskien glo sy in haar kop werklik haar storie omdat sy haarself so lank vertel het dat ek haar kind is.

Daar is ’n onderhoud waarin sy gesê het sy het haarself altyd gevra toe sy destyds my hare voor skool geborsel het: “Hoekom wou jou mammie jou nie hê nie? Hoekom het jou mammie jou weggegee?”

Vir my is dit om’t ewe of sy dit gedoen het of nie. Ek gee nie om nie, want ek kan maar net dankbaar wees ek het nie in die verkeerde hande beland nie. Hierdie dinge gebeur, en dit kan met enigiemand se kind gebeur – ongelukkig het dit met my gebeur.

Om te sien hoe ek leef in vergelyking met die gebrek aan familie-eenheid waarmee my sussies en boetie leef ...

Gelukkig vir my was dit iemand wat verskriklik graag ’n kind wou hê om lief te hê, nie vir sekshandel of om te verkoop nie! So ek sê vir haar ek sal altyd dankbaar wees vir hoe sy my grootgemaak het en vir die tipe lewe wat sy my gegee het.

Om te sien hoe ek leef in vergelyking met die gebrek aan familie-eenheid waarmee my sussies en boetie leef, wat Celeste deurgegaan het. Jissie, ek weet nie wat sou van my geword het nie.

Ek wil hê Sofia [Miché se tweejarige dogtertjie] moet grootword met Lavona as iemand wat sy ken, maar ek reken dié verhouding sal ook tyd neem. Ons gaan besoek haar gereeld en Sofia herken haar wel, maar sy is nie gewoond aan haar nie. Op die oomblik sal Sofia eerder na my tannie as na my ma toe gaan. Sy sal eerder Lavona se suster “Ma” noem. Sy begin nou eers glimlag wanneer sy my ma sien, maar sy sal nog steeds nie na haar toe gaan nie.

Maar my ma soen en omhels my en my daddy altyd voor Sofia om haar te wys sy is nie ’n vreemdeling nie. Sy het altyd energie en woema, daardie lewensdrang – nooit selfbejammering nie.

Die naakte waarheid

Ek is seker Sofia gaan naderhand baie vrae hê. Soos: Wie is die vrou wat ons in daardie plek gaan besoek? Hoekom is sy daar? Hoekom noem jy haar “Mammie”? Hoekom noem mense jou op hierdie ander naam?

Ek sal aan haar moet verduidelik met die naakte waarheid – soos dinge aan my vertel is, niks ingekleur nie, net eenvoudige strepe. Maar ek wil hê sy moet van kleins af sien dis veilig om by my ma te wees, ongeag wat sy dalk eendag mag hoor wanneer sy grootword.

Ek kan nie my ma haat nie. Sommige mense verstaan dit nie. Sommige mense vra: Hoe kan Zephany nog so lief wees vir hierdie vrou? Dis omdat geen ander moeder vir my só lief was nie.

Ons huis is in ’n wagtoestand – dis of almal net wag vir my ma om terug te kom. Ek wonder hoe dinge dan gaan wees . . .

Ons kan natuurlik nie teruggaan na hoe alles in die verlede

was nie. Baie dinge sal teen dié tyd anders wees; baie het reeds verander. Deesdae is dit my kombuis en my kookkuns! Ek moes op die harde manier leer. Maar dis oukei, solank sy net by die huis is.

Ek kan nie my ma haat nie. Sommige mense verstaan dit nie. Sommige mense vra: Hoe kan Zephany nog so lief wees vir hierdie vrou? Dis omdat geen ander moeder vir my só lief was nie. Sy wou so graag ’n kind hê dat sy my letterlik al haar liefde gegee het – miskien selfs nog meer as wat sy sou gedoen het as ek haar biologiese kind was.

Ek weet nie of ek ooit sal uitvind nie.

Dis nie ’n dringende ding nie, want ek verwerk al klaar hoe om dit te hanteer dat sy nie my regte moeder is nie. Soos ek gesê het, ek gee nie eintlik om wat die waarheid is nie, maar dit sal lekker wees om te weet wat werklik gebeur het. Dis oukei, ek lewe nog, ek hanteer dinge, ek is besig om goed uit te werk, ek raak al hoe meer volwasse.

Maar jy gaan altyd bly wonder: Wat het nou eintlik daardie dag gebeur?

* Zephany – Twee ma’s. Een dogter. ’n Ongelooflike ware verhaal is deur Joanne Jowell geskryf en deur Tafelberg uitgegee en kos R260.

Meer oor:  Zephany Nurse  |  Lavona Solomon  |  Celeste Nurse  |  Miché Solomon  |  Retreat  |  Worcester
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.