SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Aktueel
Zim in ’n doodloopstraat

Daar ís alternatiewe om die krisis in Zimbabwe te oorkom en anargie te voorkom, skryf Zenzo Moyo.

Kinders loop verby ’n vulstasie wat ná die betogings in Harare gesluit is. Foto’s: Philimon Bulawayo

Die afgelope vyf dae was ’n wipwaentjierit vir Zimbab­wiërs – sowel dié binne die land as in die diaspora.

Dit volg nadat die president, Emmerson Mnangagwa, verlede Saterdag op televisie verskyn het om ’n buitensporige 150%-verhoging in die brandstofprys aan te kondig.

Die volgende dag, nog voordat hy die openbare reaksie op sy bisarre aankondiging kon toets, het hy op ’n huurvlug, wat luidens berigte $1,5 miljoen gekos het, na Rusland vertrek.

Maandag het Zimbabwiërs die strate ingevaar, nie net om teen die belaglike brandstofprysverhogings te betoog nie, maar ook om uiting te gee aan hul frustrasie oor die voortgesette ekonomiese swaarkry wat sedert die begin van die sogenaamde nuwe bedeling in November 2017 aan die orde van die dag is.

In die afwesigheid van leierskap lei mense hulself.

Gewapen met traangas en skerppuntammunisie is die polisie en die leër op betogers in die land se twee groot stede, Bulawayo en Harare, losgelaat om die oproerigheid op hardhandige wyse hok te slaan.

Waaroor ’n mens bekommerd is, is nie net die wrede manier waarop die staat teen betogers opgetree het nie, maar ook die gesig van gewapende mans in gewone klere. Dit is vrugbare grond vir anargie en kan geïnterpreteer word as ’n doelbewuste taktiek van die regering om betogers te dood en dan lede van die opposisie vir dié moorde te blameer.

Die ongevalle van hierdie staatsgeweld is nog nie bereken nie, weens die regering se sluiting van die internet en alle sosialemediaplatforms soos WhatsApp, Twitter, Facebook en Instagram.

Internettoegang was Woensdag vir ’n kort tydjie weer beskikbaar, net om ’n paar uur later weer te verdwyn. Dit het aanleiding gegee tot gerugte dat dit net tydelik herstel is om die Reserwebank van Zimbabwe in staat te stel om bykomende geld vir die land se reisende president oor te betaal.

’n Man probeer om ’n brandende barrikade op die pad na Harare te verwyder.

Daar is verskeie anekdotes en gerugte wat die ronde doen wat lig werp op die gebeure van die laaste paar dae.

Eerste, en veral interessant, is die vraag waarom dit die president van die land was wat die brandstofprysstygings aangekondig het. Kon dit nie deur ’n minister van energie, vervoer of finansies gedoen word nie? Dat dit op hierdie manier gedoen is, kan dalk dui op onmin tussen die president en sy ministers. Ander lede van die kabinet het dus botweg geweier om dié ongewilde aankondiging te doen.

Mnangagwa se skielike vertrek na Rusland ’n dag ná sy aankondiging is nog ’n stuk van die legkaart in ’n reeds verwarrende situasie. Dat hy nie teruggekom het nie, ondanks die byna anargistiese toestande in sy land, laat baie vrae of hy die geskikste persoon is om die Zimbabwiese krisis die hoof te bied. Hy is boonop van plan om van Rusland verder te reis na die Wêreld- Ekonomiese Forum in Davos. ’n Mens wonder hoeveel vrug so ’n stap gaan dra inaggenome die feit dat kapitaal gewoonlik na stabiele ekonomieë vloei – wat Zimbabwe beslis nie is nie.

Straatprotes, plakkaatoptogte en oproer bly die enigste wapens wat die armes tot hul beskikking het. Daarom moet die reg om te protesteer ononderhandelbaar wees. Die optogte wat Maandag in Zimbabwe plaasgevind het, is gelei deur gewone burgers met die Zimbabwiese Kongres van Vakbonde (ZCTU) en ander organisasies in die burgerlike samelewing wat slegs as fasiliteerders opgetree het.

Burgers se frustrasies in hul alledaagse lewe is ’n tydbom wat wag om te ontplof.

Die bedoeling was om te protesteer om die landsburgers se frustrasies met ’n onbetrokke regering te toon. Inderdaad, die manier waarop die brandstofprysverhoging aangekondig is, die tydsberekening van die aankondiging, die president se optrede onmiddellik ná die aankondiging, asook die staat se groteske reaksie op die protes daarna, bevestig net hoe onbesorg en onverskillig hierdie regering is. Die frustrasies wat burgers in hul alledaagse lewe ervaar – brandstoftekorte, likiditeitskrisisse, kronkelende toue by vulstasies, werkloosheid – die lys is eindeloos – is elkeen ’n tydbom wat wag om te ontplof.

Sedert die huidige administrasie die betwiste 2018-verkiesings gewen het, is niks gedoen om die swaarkry wat burgers gedurende die Mugabe-era ervaar het, te verbeter nie. Beloftes is gemaak, maar geen daarvan is nagekom nie.

Byvoorbeeld: Oor die Kersvakansie was alle petrolstasies kurkdroog. Mense moes letterlik slaap in die lang toue in die hoop dat hulle hul brandstoftenks kan volmaak.

Diegene wat gelukkig was om die kosbare vloeistof in die hande te kry, is tot die helfte van die inhoudsvermoë van hul tenks beperk – nie genoeg om hulle te neem na waar hulle wou wees nie, buiten terug na hul huise. Gevolglik kon baie min mense gedurende die vakansie na die plattelandse dorpe van hul herkoms reis, soos die norm in die verlede was.

Terwyl sommige in toue gewag het vir brandstof, moes ander familielede by banke tou staan om kontant te kry. Baie kleinhandelaars in Zimbabwe gebruik steeds uitsluitlik kontant as ruilmiddel. Sonder kontant kan jy dus niks doen nie.

Mans wat in die protesoptrede aangekeer is, wag om in die landdroshof te verskyn.

Die frustrerende ding is egter dat jy, ná ’n dag se toustaan by die bank, net sowat $80 (ongeveer R400) kan trek. Benewens kontant- en brandstoftekorte het pryse van basiese kommoditeite meer as verdriedubbel binne ’n tydperk van twee maande sedert die 2018-verkiesing, terwyl ander basiese verbruiksgoedere heeltemal van supermarkrakke verdwyn het. Al hierdie dinge gebeur natuurlik in die konteks van ’n werkloosheidsyfer van meer as 90%. Diegene wat nog ’n werk het, hoofsaaklik in die staatsdiens, het die afgelope drie jaar geen salarisverhogings ontvang nie.

Die Zimbabwiese krisis, wat uitgeloop het op die huidige skaakmatsituasie, is in groot mate ’n sosio-ekonomiese probleem. Maar in die huidige opset is dit ook ’n simptoom van ’n groter vraag – die kwessie van legitimiteit.

Die Mnangagwa-regering, wat sterk gemilitariseer is, was die wenner van die 2018-verkiesing met ’n baie klein meerderheid van skaars 0,6% oor die drumpel. Die vernaamste opposisieparty, die Beweging vir Demokratiese Verandering (MDC), en verskeie ander belangegroepe het die uitslae betwis en geweier om Mnangagwa as die wenner te onderskryf. Dwingende getuienis in ’n geskil oor die uitslag is in die hof voorgelê, wat saam met verskeie ander onverklaarbare veranderinge aan die Zimbabwiese Verkiesingskommissie se finale syfers dit baie moeilik gemaak het om Mnangagwa as wettig verkies te aanvaar.

Dus, voordat die legitimiteitsvraag nie besleg word nie, sal die huidige dooiepunt in een of ander vorm bly voortduur. Die huidige regime het geen vermoë of die welwillendheid van die internasionale gemeenskap om hierdie diepgewortelde probleme te takel nie.

Dit blyk duidelik dat, ondanks verskeie oorsese reise en talle uitsprake oor beleggingsooreenkomste wat deur die internasionale sakegemeenskap onderteken is, niks van betekenis nog gebeur het nie.

Die Zimbabwiese staat en sy sakesektor se kapitaal is té onbeduidend om ’n ineengestorte ekonomie te laat herleef. Sonder investering van eksterne spelers sal die ekonomie dus nooit op dreef kom nie. Die internasionale gemeenskap kan egter slegs in ’n stabiele en voorspelbare omgewing belê, en dit is Zimbabwe ook nie.

Stabiliteit en voorspelbaarheid kan slegs bereik word waar daar geen vrae is oor die legitimiteit van diegene wat aan bewind is nie. Daarom moet die legitimiteitsvraag eers beantwoord word voordat daar gehoop kan word op enige positiewe veranderinge aan die ekonomiese front.

’n Soldaat staan gereed by ’n brandende versperring in Harare, Zimbabwe.

Terwyl Zanu-PF gekonfronteer word met die huidige burgerlike optrede, en nie struktureel en ideologies in staat is om op die eise te reageer nie, is die opposisie se politieke formasies ook in wanorde.

Dit is nie oordrewe om aan te voer dat gewone mense nou die plek van opposisiepolitici ingeneem het nie. In die afwesigheid van leierskap lei mense hulself, soos hulle dit nou doen. Dit beteken dat in die midde van al hierdie burgerlike onrus, die opposisie nie in staat sal wees om uit die vakuum munt te slaan en dit te vul nie, aangesien hulle ook nie regmatig aanspraak kan maak op die idees en optrede deur die burgers nie.

Wat moet dan gedoen word?

Daar is twee moontlike teoretiese alternatiewe om die dooie punt te verbreek. Hulle bly teoreties omdat die huidige administrasie nie te gretig sal wees om die voorstelle te aanvaar nie, tensy dit deur streeks- en/of internasionale groepe afgedwing word.

Die eerste en verkieslikste van hierdie twee alternatiewe sal die skepping wees van ’n Nasionale Oorgangsowerheid (NOO), wat bestaan ??uit onpartydige prominente burgers met ’n onberispelike geskiedenis van eerlikheid en regverdigheid. Hierdie oorgangsowerheid sal die taak hê om die skip te stabiliseer en ’n omgewing te skep waar vrye en regverdige verkiesings binne ’n redelike tydsbestek gehou kan word. Dit is egter onwaarskynlik dat dit deur die huidige regering aanvaar sal word, wat steeds die steun van die polisie en die weermag het.

Die tweede alternatief is die skepping van ’n regering van nasionale eenheid (RNE), soos die een wat van 2009 tot 2013 bestaan ??het. Dit sal dalk nie so goed wees vir die opposisie nie, maar die idee sal waarskynlik aftrek binne die regerende party en die weermag kan kry, wat troos sal kry uit die feit dat hulle nie heeltemal uit die draaiboek geskryf word nie, maar die kans gegun word om hulself te rehabiliteer.

Behoorlik beplan, kan ’n RNE ook werk vir opposisiegroepe. Hulle sal egter waaksaam moet wees en leer uit die lesse van die vorige RNE en hoe hulle hul samewerking met Zanu-PF kan gebruik as ’n platform van waar hulle die volgende verkiesing kan wen.

Die onmiddellike doelwit moet egter nie die toekomstige verkiesing wees nie, maar om die sosio-ekonomiese probleme wat tot die huidige dooie punt gelei het, te probeer oplos.

* Dr. Moyo is ’n Zimbabwiër verbonde aan die Universiteit van Johannesburg.

Meer oor:  Zimbabwe  |  Betogings  |  Petrolprys  |  Protes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.