Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Zindzi: ’n Produk van haar ouers se stryd én pyn

Selfs al was sy in die onlangse verlede dikwels in die nuus weens haar verdelende uitgesprokenheid, móét Zindzi Mandela se lewe teen die agtergrond van haar grootwordjare beoordeel word, skryf Heindrich Wyngaard.

Zindzi Mandela op ’n UDF-byeenkoms in die 1980’s. Foto: Gallo Images

Nelson Mandela het gehoop om sy jong vrou, Winnie, se wens te vervul dat hy teenwoordig moet wees wanneer sy aan hul jongste kind die lewe skenk.

Helaas was dit nie die geval nie. Hy moes inderhaas uit Johannesburg na Transkei reis om sy seun Makgatho (uit sy eerste huwelik met Evelyn) te gaan haal en na Johannesburg te bring vir mediese sorg.

Teen die tyd dat hy teruggekeer het, selfs al het hy deurnag soontoe en terug gery, was die kind reeds gebore. Dit was 23 Desember 1960. Hulle het haar na die dogter van die Xhosa-hofdigter Samuel Mqhayi, wat jare tevore ’n inspirerende rol in Mandela se lewe gespeel het, vernoem. Haar naam sou Zindziswa wees, die vroulike weergawe van wat Mqhayi uitgeroep het toe hy sy eie dogter die eerste keer aanskou het: “u Zindzile!”, oftewel “Jy is goed gevestig”.

Maar was die lewe van Zindzi Mandela-Hlongwane (later Motlhajwa), wat Sondagaand op die ouderdom van 59 jaar dood is nadat sy tot onlangs nog Suid-Afrika se ambassadeur in Denemarke was, ’n weerspieëling van die betekenis van haar naam?

Zindzi Mandela saam met haar ma, Winnie Madikizela-Mandela, op ’n gedenkdiens vir drie sportsterre in 2014. Foto: Gallo Images

En hoe “gevestig” was sy as haar pa uiteindelik meer as net met haar geboorte afwesig in haar lewe was – weens sy deelname en leierskap in die stryd teen apartheid; weens sy byna drie dekades lange aanhouding as politieke gevangene; én, uiteindelik, weens sy termyn as eerste demokraties-verkose president van die land en daarna wêreldstaatsman tot met sy dood?

Reeds op 16 het sy ons in die gedig “A tree was chopped down” uit haar bundel Black As I Am insae gegee in hoe sy dit ervaar het (hier ietwat verkort):

A tree was chopped down

and the fruit was scattered

I cried

because I had lost a family

the trunk, my father

the branches, his support

(. . .)

the fruit, the wife and the children

( . . .)

all on the ground

the roots, happiness

cut off from him

“Afgesny van hom”, maar tog het die beeld wat sedert die bekendmaking van haar eie sterfte Maandagoggend oor TV-skerms flits, alles met hóm te make. Dit is dié van ’n 24-jarige jong vrou in Februarie 1985 by ’n UDF-saamtrek, geklee in ’n langmou geel T-hemp. Haar hare netjies gevleg. Haar gebalde vuis in die lug.

Haar woorde dié van haar pa wat uit die tronk skryf (in reaksie op ’n aanbod vir vrylating deur oudpres. PW Botha indien hy geweld sou afsweer): “My father says . . . I cannot and will not give any undertaking at a time when I and you, the people, are not free. Your freedom and mine cannot be separated. I will return.”

Dié terugkeer sou presies vyf jaar later, in Februarie 1990, ná oudpres. FW de Klerk se geskiedkundige 2 Februarie-staatsrede ’n werklikheid word.

’n Sterk en driftige jong vrou

Zindzi Mandela in 2013 in Los Angeles by die premiere van die film ‘Long Walk to Freedom’, wat oor die lewe van haar pa, oudpres. Nelson Mandela, gehandel het. Foto: Gallo Images

Maar Madiba se afwesigheid in die lewe van sy gesin het eintlik reeds begin posvat voor sy inhegtenisname in 1962 vir hoogverraad en lewenslange vonnisoplegging in 1964.

Wat Zindzi as die jongste kind deurgemaak het – óók weens haar ma se eie opsluiting en gereelde verbanning – word in verwysings na haar in Mandela se outobiografie, Long Walk to Freedom, en in sy boek met uittreksels uit ’n onvoltooide opvolg-outobiografie, briewe, gesprekke en dagboekinskrywings, Conversations with Myself, blootgelê.

Sy het haar pa vandat sy drie jaar oud was tot op 15 jaar nie gesien nie.

Dit sluit in geheime besoeke aan haar pa terwyl hy in Rivonia vir die veiligheidspolisie weggekruip het; hoedat sy en haar ouer suster, Zenani, na ’n kosskool in Swaziland gestuur moes word nadat die owerhede aangedring het dat hulle uitgeskop word uit ’n skool vir Indiër-leerders; dat hulle na Kroonstad moes reis om hul ma daar in die tronk te besoek; dat sy saam met haar in ’n sinkdak-pondok in Brandfort moes gaan woon (“geen hitte, geen toilet, geen lopende water” en “onder deurentydse polisiebewaking en -teistering”) nadat haar ma soontoe verban is; en hoedat sy haar pa vandat sy drie jaar oud was tot op 15 jaar nie gesien het nie omdat tronkbesoeke slegs vir 16-jariges en ouer toegelaat is.

Om dié besoek te laat gebeur, het haar ouers besluit om haar geboortesertifikaat te laat “aanpas” sodat dit haar ’n jaar ouer kon maak.

“I am sure it was not easy for her finally to see a father she had never really known, a father who could love her only from a distance, who seemed to belong not to her but to the people,” skryf Madiba oor die ontmoeting in Long Walk.

“Somewhere deep inside she must have harboured resentment and anger for a father who was absent during her childhood and adolescence.”

Zindzi Mandela op Edinburg se internasionale boekefees in 2018 saam met twee van haar kleinkinders, Zazi en Ziwelene Mandela. Foto: Getty Images

Jare later, toe hy as ’n vry man in 1992 by haar (eerste) troue gepraat het, het hy ’n spesiale boetedoening by sy toespraak ingesluit: “When your life is the struggle, as mine was, there is little room left for family,” het hy oor sy afwesigheid gesê.

“That has always been my greatest regret, and the most painful aspect of the choice I made.”

'n Sterk en driftige jong vrou, nes haar ma.

Maar wat hom ook destyds met die genoemde besoek van Zindzi getref het, was hoeveel sy op haar “ewe mooi” ma getrek het – en spesifiek ook “dat sy ’n sterk en driftige jong vrou was net soos haar ma op Zindzi se ouderdom was”.

Dit was hierdie “sterk en driftige jong vrou” wat op Sondag, 10 Februarie 1985, by die UDF-saamtrek in die Jabulani-stadion in Soweto namens hom op Botha se vrylatingsaanbod gereageer het.

Ook in dié rol het sy na haar ma geaard: “Zindzi was a dynamic speaker like her mother,” skryf Madiba, “and . . . I was proud to know that it was she who spoke my words.”

Uitsprake wat haar pa sou ontstel

In die onlangse verlede het hierdie “dinamiese spreker” egter die soort uitsprake gemaak waarop haar ontslape pa beswaarlik trots sou wees omdat dit lynreg gebots het met sy eie versoenende ingesteldheid – en ook met wat van ’n ambassadeur van ’n land verwag word.

“Gronddiewe”, “apartsheidsapologete” en “bewende wit lafaards” het in ’n reeks twiets deur haar in Junie verlede jaar deurgeloop. Sy het ook die ANC in Februarie vanjaar gekritiseer oor die party De Klerk sou beskerm het nadat hy in ’n onderhoud gesê het hy stem nie saam met die Verenigde Nasies se verklaring van apartheid as ’n misdaad teen die mensdom nie.

Heindrich Wyngaard

Die reaksie op Mandela se uitsprake was tweërlei: Aan die een kant het sy haar die gramskap van onder meer AfriForum en die DA op die hals gehaal; aan die ander kant is sy deur die Black First Land First-beweging en die EFF toegejuig en verdedig deur wat hulle as ’n “rassistiese aanslag” teen haar beskou het.

Haar lewe het in dié opsig nader geëindig aan die beeld van haar ma, wat in April 2018 dood is, as dié van haar pa, wat in Desember 2013 gesterf het.

Dit sal grotendeels bepaal hoedat sy in verskillende gesprekke en kringe onthou sal word. Nogtans was die een konstante teenwoordigheid vir haar (en dit durf ons nie vergeet nie) dat sy die produk van albei haar ouers se stryd was – én van albei se pyn.

* Wyngaard is ’n sosio-politieke kommentator en TV-aanbieder. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Anc  |  Eff  |  Udf  |  Fw De Klerk  |  Nelson Mandela  |  Winnie Madikizela-Mandela  |  Zindzi Mandela  |  Pw Botha  |  Soweto  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.