Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Zuma en die keiser se perd

Oudpres. Jacob Zuma beweer die staat is nie meer legitiem nie en kan hom daarom nie aankla nie. Dit is allesbehalwe die geval, skryf Pieter Labuschagne.

Oudpres. Jacob Zuma spreek ondersteuners op 17 Mei buite die hooggeregshof in Pietermaritzburg toe. Foto: Gallo Images

Oudpres. Jacob Zuma se jakkalsdraaie om vervolging en moontlike skuldigbevinding te ontduik, begin nou soos ’n speurroman te lees.

Sy regspan ontdek gereeld nuwe inisiatiewe en regskuiwergate met net een doel voor oë: om die onvermydelike so lank moontlik uit te stel.

Die mees onlangse, en straks “oorspronklikste” taktiek was die aansoek om ontslag op grond van die staat/staatsaanklaer se beweerde bevooroordeeldheid teenoor Zuma.

In die aansoek word beweer dat die staat vanweë sy partydigheid sy konstitusionele legitimiteit om die voormalige president te verhoor verloor het.

Die omstandighede maak volgens die aansoek ’n regverdige objektiewe verhoor onmoontlik.

Die jongste verweer volg nadat die hooggeregshof vroeër bevind het dat Zuma wel op die aanklag van betrokkenheid by die wapenskandaal tereg sal moet staan.

Die aansoek, ingevolge skedule 106(1)(h) van die Strafproseswet, voer aan dat daar ’n sameswering teen Zuma bestaan wat uit die tyd van oudpres Thabo Mbeki dateer.

Die omstandighede maak volgens die aansoek ’n regverdige objektiewe verhoor onmoontlik.

Zuma se regspan voer aan dat die staatsaanklaer, Billy Downer SC, bevooroordeeld en partydig teenoor Zuma is en dat ’n regverdige verhoor oor die beweerde bedrog met die wapenaankope nie moontlik is nie. Zuma het gevolglik op grond van skedule 106 (4) van die Strafproseswet aansoek om ontslag gedoen.

Adv. Billy Downer SC.Foto: Verskaf

In reaksie het Downer aangevoer dat skedule 106 nie die gepaste regsroete is nie. Indien Zuma se aansoek ontslag op grond van onbillike partydigheid vra, moet dit volgens artikel 35 (3) van die Grondwet geskied wat die grondwetlike reg op ’n billike en regverdige verhoor waarborg.

Zuma se regspan verwerp ook in hul aansoek die res judicate regsbeginsel dat bevoegde howe reeds bevind het dat hy moet vervolg moet word.

Zuma gooi die net te wyd

Die aansoek van Zuma se regspan het die spreekwoordelike net veel wyer as net die regsdomein gegooi. Sy bewering dat daar sprake is van rassisme teenoor hom as ’n Zoeloe maak die saak meer kompleks en verpolitiseer dit.

Dié strategie is tipies van die voormalige president se reeds bekende taktiek om optrede teen hom te vertraag deur met ongegronde en vae bewerings die water so troebel moontlik te maak.

Zuma se aansoek dat die vervolgingsgesag en Downer partydig teenoor hom en is en dat die vervolging gestaak moet word, sal egter nie maklik slaag nie.

In ’n saak van 2014, Porrit & Another v National Prosecuting Authority, is reeds beslis dat howe baie hoë maatstawwe stel indien daar bewering van partydigheid gemaak word.

Daar bestaan voldoende geleentheid vir teenargumente en kruisondervraging.

In dié beslissing is daarop gewys dat geen staatsaanklaer 100% objektief kan wees nie en dat howe selde partydigheid as rede vir ontslag sal aanvaar. Daar bestaan voldoende geleentheid vir teenargumente en kruisondervraging.

Die hof het ook daarop gewys dat daar ’n verskil is tussen ’n landdros/regter en ’n staatsaanklaer. Die objektiwiteit en onpartydigheid geld vir die landdros of regter wat die finale beslissing maak – iets wat die staatsaanklaer nie doen nie.

Hoe moet Zuma se taktiek verstaan word?

Die reaksie van baie regskenners was dat Zuma se aansoek vir ontslag nie veel om die lyf gehad het nie.

Indien daar in die uitsonderlike geval op grond van skedule 106 (1) van die Strafproseswet bevind sou word dat daar partydigheid by die staatsaanklaer sou bestaan, kan ’n ander aanklaer op grond van skedule 106 (4) aangestel word. Daar is nie sprake van ontslag nie – die saak word net deur ’n ander aanklaer verder gevoer.

Zuma se taktiek kan betreklik eenvoudig gemaak word deur dit te vergelyk met die verhaal van die “Keiser se perd”.

In die 1960’s was die voormalige eerste minister van Rhodesië, Ian Smith, in onderhandelinge met leiers van bevrydingsbewegings betrokke. Die bemiddelingsvoorstel was dat meerderheidsregering eers oor tien jaar in werking gestel sou word.

Smith het die idee van toekomstige meerderheidsregering hand en tand beveg. Adv. John Vorster, Suid-Afrika se eerste minister, het toe aan hom die taktiek van die “keiser se perd” verduidelik.

Adv. John Vorster het aan premier Ian Smith die taktiek van “die keiser se perd” verduidelik.Foto: Gallo Images

Die keiser in die storie het twee gevangenes tot die dood veroordeel, maar die aanbod gemaak dat hul teregstelling uitgestel word totdat hulle sy perd kan leer praat. Die een gevangene het onbedaarlik begin huil, want dit was tog ’n onbegonne taak.

Die tweede gevangene het egter gelag en toe sy mede-gevangene hom teregwys oor die onmoontlikheid van die taak, het hy gesê: “Die keiser of die perd kan doodgaan,”

Zuma speel ook net vir tyd – die onwerkbaarheid en die ontoepaslikheid van sy huidige aansoek vorm net deel van ’n lys van aansoeke en appèlle.

Dit is net deel van vertragingstaktiek met die hoop dat of die keiser of die perd sal sterf.

Zuma se beskuldiging dat die staat sy legitimiteit verloor het vanweë die partydigheid van die staatsaanklaer, is egter ’n interessante staatsregtelike punt – die breër akademies-teoretiese vraag of ’n staat werklik sy legitimiteit kan verloor?

Kan die staat sy legitimiteit verloor?

In besprekings word dikwels baie losweg met begrippe gehandel, soos om na staat te verwys wanneer die regering bedoel word.

Zuma beweer dat die (objektiewe) staat sy legitimiteit verloor het, terwyl hy in der waarheid na die regering (subjektief) verwys. Die staat is ’n objek en kan nie handel nie – die subjektiewe regering as uitvoerende agente kan alleenlik handel.

Die konsep van die staat is in wese ’n gekonstitueerde abstraksie, wat die maklikste verduidelik kan word deur na sy samestellende dele te verwys: grondgebied, permanente bevolking, soewereiniteit, regering en erkenning deur ander lande.

Die konsep legitimiteit is ’n waarde- en morele oordeel, wat neerkom op respek vir die regering en die vrywillige onderwerping en gehoorsaamheid van sy burgery.

Die regering vorm net ’n onderafdeling van die staat, terwyl die rolbekleërs (regering) wetgewende en uitvoerende bestuurshandelinge uitvoer.

’n Staat kan egter wel de facto sy legitimiteit verloor, wat normaalweg in die internasionale politiek ’n morele oordeel is dat ’n staat onwettig en/of immoreel funksioneer, soos die destydse apartheidstaat.

’n Staat kan egter steeds de jure sy status selfs as muishond-staat (“pariah state”) handhaaf, indien dit handel met ander state dryf, handelsooreenkomste aangaan en ambassadeurs uitruil.

Die konsep legitimiteit is ’n waarde- en morele oordeel, wat neerkom op respek vir die regering en die vrywillige onderwerping en gehoorsaamheid van sy burgery.

Die begrip legitimiteit simboliseer dus ’n waardeoordeel van regverdigheid, omdat die burgery die owerhede se beheerfunksie op morele gronde goedkeur.

Wanneer oor legitimiteit bespiegel word, is die onderskeid tussen mag en gesag baie belangrik.

Die mag word dan in gesag omskep

Die apartheidstaat het vroeër wel mag oor die meerderheid van die inwoners gehad, maar het nie oor legitieme mag (gesag) beskik nie. Die meerderheid swart mense in die land het op morele gronde en op grond van regverdiging die uitoefening van mag bevraagteken.

Wanneer die meerderheid van die inwoners egter vir die regering gestem het, beklee dit die rolbekleërs met legitimiteit.

Die mag word dan in gesag omskep, omdat die uitvoerende en wetgewende handeling moreel geregverdig word.

Die regeringsgesag is met morele mag beklee wanneer sy burgery sonder dwang op demokratiese wyse vir die regerende party gestem het, die wette gehoorsaam en belastings betaal het.

In die geval van die huidige Suid-Afrikaanse staat (die regering onderverdeel in die wetgewende, uitvoerende en regsprekende gesag) bestaan daar internasionaal, sowel as huishoudelik, steeds voldoende respek en vrywillige ondergeskiktheid wat die staat moreel legitimeer.

Die morele reg om te regeer en as arbiter op te tree wanneer die landswette oortree word, bly steeds onaangetas.

Pieter Labuschagne Foto: Verskaf

In dié opsig is die Suid-Afrikaanse regering inderdaad steeds legitiem om die wetgewende, uitvoerende en regsprekende funksie in die land uit te voer.

Die aansoek deur Zuma se regspan is gevolglik maar net ’n desperate gryp na die spreekwoordelike strooihalm, met vertraging as die hoofdoel.

• Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Zuma-Vonnis  |  Billy Downer  |  Jacob Zuma  |  Pieter Labuschagne
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.