Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
'Zuma het ook ons swartheid vernietig'

Swart mense moet in gesprek tree, met mekaar en namens mekaar. Dis tyd om openlik te praat oor rasredenasie wat die grondslag vorm vir die verlammende “wat van”-absolutisme, skryf Songezo Zibi.

Die lang lys van die staatskaping se slagoffers en die stories van hoe hulle deur korrupte amptenare en leiers getreiter en gedreig is, is een van die amper onvermelde aspekte van adjunkhoofregter Raymond Zondo se ondersoek na staatskaping.

Die slagoffers is sterk, knap, beginselvas en toegewyde dienaars van die publiek. Hulle is geboelie en later uitgewerk by ons land se staats- en openbare instellings. Baie van hulle moes vir lang tye matelose spanning in hul persoonlike lewens verduur.

Daar was Mathane Makgatho, voormalige groeptesourier van Transnet, wat genoeg durf gehad het om vir die voormalige Transnet-hoof Brian Molefe te sê hy maak dit moontlik dat honderde miljoene rand se staatsgeld geplunder word.

Op lang termyn het hierdie hoogs ervare en bekwame swart vrou (ja, haar ras staan sentraal tot die punt wat in dié rubriek gemaak gaan word) ’n gedugte stryd geveg. Maar sy het later die organisasie verlaat omdat sy vir haar lewe begin vrees het.

Tot nou toe was sy meestal onbekend en dis waarskynlik dat sy onsigbaar en met opset onbekend sal bly. Geen gesprek vind plaas oor waarmee sy haarself nou besig hou en hoe dit met haar en haar kollegas gaan wat die organisasie moes verlaat nie.

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die SAL. Foto: Gallo

Dan is daar ook dr. Masimba Dahwa, afgedankte verkrygingshoof van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), waarvan die vernielsugtige Dudu Myeni die voormalige voorsitter was.

Dahwa het geweier om onwettige opdragte uit te voer, soos om kontrakte aan maatskappye toe te ken wat deur Myeni uitgesoek is sonder dat tenderprosesse gevolg is. Hiervoor is hy ook geboelie, geteister en uitgedryf uit die SAL. Hy het ook vir sy lewe gevrees.

Verlede maand het hy aan regter Zondo vertel dat die bank by wie hy ’n huislening het twee dae voor sy verskyning voor die staatskapingskommissie dokumente by die hooggeregshof ingedien het om sy eiendom terug te neem en dit te verkoop. Omdat hy werkloos is, kan hy nie meer sy paaiementverpligtinge nakom nie.

Hy en sy vrou kan ook nie meer bekostig om hul kinders na die skool van hul keuse te stuur nie. Nadat hy getuig het, het hy weer in die vergetelheid verdwyn waar hy aanhou om alleen die gevolge van sy beginselvaste besluite te dra.

Twee swart vroue met indrukwekkende kwalifikasies

Dahwa en Makgatho se stories is belangrik, veral vir swart mense. In swart beroepskringe het dit amper alledaags geword om stories te hoor van ’n beweerde, stelselmatige uitdunning van senior swart beroepslui in sleutelposte binne staatsondernemings.

Die narratief word verder gedryf deur diegene wat tydens die Zuma-jare talle beginselvaste amptenare wat standpunt teen die plundery ingeneem het, vervolg het.

Ons gemeenskaplike apatie teenoor hul lot, die twispunte wat tans nasionaal afspeel en die feit dat mense steeds benadeel word omdat hulle besluit het om nie hul beginsels prys te gee nie, moet ons as swart mense tot besinning dwing.

Terwyl die vergrype onder ons neuse gebeur het, was daar ’n ander groep mense, baie van hulle swart, wat aangestel is in die poste van die slagoffers.

Net soos wat ons skouers opgehaal het oor diegene wat uitgewerk is, het ons ook nie belang gestel of die nuwe aanstellings in uitvoerende poste die regte kwalifikasies of inbors gehad het vir die werk nie.

Wanneer het ons, as swart mense, die vermoë verloor om vaste beginsels te identifiseer en daarby te hou, veral wanneer ons eie mense daardie einste beginsels skend?

In skrille kontras met Makgatho is daar iemand soos Phumeza Nhantsi, wat as finansiële hoof van die SAL aangestel is. Toe Nhantsi voor Zondo getuig het, was dit duidelik dat haar beginsels heel buigbaar is en sy algeheel onbekwaam was vir die pos.

Enigeen wat destyds haar geskiktheid vir die pos sou bevraagteken het, sou waarskynlik uitgeskel word omdat hulle die bevoegdheid van ’n swart vrou betwyfel, iets wat ons blykbaar net moet aanvaar.

Dus het ons nou twee swart vroue met indrukwekkende akademiese kwalifikasies. Die een is ervare, beginselvas en hoogs gekwalifiseerd – sy kon maklik die finansiële hoof van SAL of enige ander organisasie, regeringsinstansie of private maatskappy gewees het.

Die ander moes nooit in haar pos aangestel gewees het nie omdat sy nie genoeg ervaring het nie. Dan praat ons nie eens van haar twyfelagtige sake-etiek nie.

Makgatho, wat beter bekwaam was, is laat gaan terwyl Nhantsi vir haar onbekwaamheid beloon is.

Beginsels verdraai

Ons moet onsself afvra watter soort omgewing bevorder die soort verdraaiing sodat dit as normaal beskou word. Wanneer het ons, as swart mense, die vermoë verloor om vaste beginsels te identifiseer en daarby te hou, veral wanneer ons eie mense daardie einste beginsels skend? Is dit die kollektiewe trauma van wit rassisme wat ons irrasioneel dwing om laer te trek, selfs al help en beskerm ons optrede dié wat daarop uit is om te vernietig en verniel?

Tipies sal iemand vra: Wat van die private sektor wat swart beroepslui teister? Wat van wit korrupsie?

Dis presies die denkwyse wat ons in die eerste plek in die gemors laat beland het, hierdie “wat van-isme”.

Dit is tyd om openlik te praat oor die rasgedrewe redenasies wat die grondslag vorm vir ons gewoonte om die heeltyd te vra, “maar wat van?”

Dit is ’n deurtrapte redenasie wat nie veel verskil nie van die “All lives matter”-repliek, wanneer daar gepleit word vir “Black lives matter.”

Dit is ’n lafhartige, selfsugtige wegskrammery wat sorg vir ’n etiese dooiepunt waar geen onreg reggestel kan word nie omdat daar ’n ander een is wat eerder eerste reggestel moet word.

Daarom het ons nou ’n gesprek nodig deur en vir swart mense. Dit is tyd om openlik te praat oor die rasgedrewe redenasies wat die grondslag vorm vir ons gewoonte om die heeltyd te vra, “maar wat van?”

Wit middelmatigheid en swart middelmatigheid

Oudpres. Jacob Zuma. Foto: Argief

Die swart Amerikaanse filosoof dr. Cornell West het in 1993 swart leiers gekritiseer, toe hy geskryf het oor die benoeming van regter Clarence Thomas tot Amerika se appèlhof, om regter Thurgood Marshall te vervang.

Ondanks Thomas se onbevoegdheid was daar geen swart leiers of kommentators wat die moed gehad het om sy benoeming te bevraagteken nie.

Marshall en Thomas is albei swart. Eersgenoemde was ’n gerespekteerde regsman tydens die Amerikaanse stryd vir burgerregte, terwyl laasgenoemde sy teenoorgestelde was, met ’n diensrekord wat oop was vir ondersoek ten tyde van Thomas se aanstelling.

“Die feit dat geen swart leier die bevoegdheid van ’n swart benoemde regter vir die Amerikaanse appèlhof kon bevraagteken nie, wys hoe hulle steeds deur stereotipes van swart mense se intellektuele vermoë gevange gehou word.

“Die punt is nie dat as Thomas wit was, hulle sy ongeskiktheid sou uitbasuin nie. Hul stilswye onthul dat swart leiers dalk glo dat die rassistiese stereotipes waar kan wees. Dis die punt,” skryf West in sy boek Race Matters.

Ons het ontelbare swart beroepslui tydens die Zuma-era onsigbaar gemaak, en nou wonder ons hoekom hulle nie sleutelposte in senior leiersposisies beklee nie.

Hy gaan voort: “Natuurlik sou mense sy middelmatigheid in private gesprekke erken het, terwyl hulle ook uitgewys het dat regter David Souter en ander wit lede van die hof nie veel beter is nie – asof wit middelmatigheid swart middelmatigheid kan regverdig.

“Hier is natuurlik geen dubbele standaarde nie. Die argument lui dat wanneer ’n swart man nie die regte kandidaat vir ’n pos is nie, kan ons steeds sy aanstelling regverdig deur die vermoë van onbekwame wit regters as die maatstaf voor te hou. Dit pas goed in by die siniese oëverblindery van die laagste gemeenskaplike deler – en ignoreer die doelwit om rassistiese stereotipes te vernietig of openbare belang te bevorder.

“Dit maak ook die ander hoogs bekwame en gekwalifiseerde swart regters wat wel vir die pos in aanmerking moet kom, amper onsigbaar,” redeneer West.

Dis die punt. Ons het ontelbare swart beroepslui tydens die Zuma-era onsigbaar gemaak, en nou wonder ons hoekom hulle nie sleutelposte in senior leiersposisies beklee nie.

Só word stereotipes gevorm

Die fundamentele vraag wat gevra moet word, is hoe swart mense weer ’n positiewe beeld van hulself kan herwin, sonder om op die swakste voorbeelde van witheid te steun. Hulle moet bepaal wat hul standpunt gaan wees teenoor swart mense wat die skadelikste rassistiese stereotipes oor ons bevorder.

Die stereotipies sê ons kan nie doeltreffend regeer nie en wanneer daar vir ons die geleentheid gegee word, plunder ons die staatskas en verrinneweer die land se ekonomie, wat basies die laaste tien jaar gebeur het.

Die vraag is waarom talle swart mense nie die vergrype raakgesien het nie. Enigiemand, swart of nie, wat dit gewaag het om hul besorgdheid te lug is met venyn aangeval en gemuilband met argumente onder die valse voorwendsel van transformasie en later radikale ekonomiese transformasie.

Die skandelike spektakel sluit gevalle in waar daar druk op swart professionele verenigings en koerante uitgeoefen word om die individue weer heraangestel te kry. Intussen word daar niks, absoluut niks gesê oor die Dahwas en Makgatho’s van die land nie. Dis hulle vir wie ons moet opstaan, wat ons moet verdedig en oor wie ons onsself moet ontferm.

Baie mense is deur die einste mense wat vandag kopkrap oor ons land se benarde toestand daarvan beskuldig dat hulle ’n “obsessie met Zuma het” of wit belange ondersteun.

As jy ’n wenhand wou speel, moes jy woedende aanmerkings maak oor hoe die ekonomie deur wit mense beheer word. As jy die plundery wou verskoon, moes jy net noem dat dit sonder uitsondering altyd ’n gekonkel en sameswering met wit mense of buitelanders behels het.

Die troefkaart om uit te pluk ter verdediging van mense was “swart uitnemendheid” wat – soos dit nou blyk – nooit die belange van swart mense op die hart gedra het nie.

Pleks daarvan het hulle swart mense wat wel voorbeelde van swart uitnemendheid was, getreiter.

Ons het ’n stadige weergawe van selfleed gesien wat vandag nog aanhou. Dieselfde kwaksalwers wat miljarde rand van die publiek gesteel het, vertel nou vir joernaliste hulle is die slagoffers van ’n rassistiese komplot.

Die skandelike spektakel sluit gevalle in waar daar druk op swart professionele verenigings en koerante uitgeoefen word om die individue weer heraangestel te kry. Intussen word daar niks, absoluut niks gesê oor die Dahwas en Makgatho’s van die land nie. Dis hulle vir wie ons moet opstaan, wat ons moet verdedig en oor wie ons onsself moet ontferm.

Dit sluit ook politici in wat hul kras materialistiese leefstyl deur die politieke patronaatskap van die korrupte elite onderhou het. Dis dieselfde korrupte elite wat nou “Wolf!” skree en hulself posisioneer as voorstanders van administratiewe regverdigheid en geregtigheid. En steeds is daar swart mense wat vir die slenter val.

Hoe is ons denke gekaap?

Hoe het ons die donker, selfvernietigende ruimte betree? Hoe is soveel van ons swart mense se denke gekaap deur goedkoop taktiek wat die emosionele trauma van rassisme misbruik het om ons onderdanig te maak aan mense wat eintlik antiswart-belange bevorder?

Die hoofrede vir die verslegtende toestand is ons geskiedenis van rasseonderdrukking, wat ten doel was om enige sin van swart gemeenskaplike en kulturele samehorigheid te vernietig.

Vandag is sogenaamde swart radikalisme somtyds niks meer as vuilbek-argumente nie dat middelmatige, korrupte swart mense in sleutelposte aangestel moet word. Dan gedra hulle hulself soos middelmatige, korrupte apartheid-apparatsjiks.

Deur ons stille ondersteuning van die korrupte elite hou ons aan om swart mense se sosiale en etiese karakter te vernietig, eerder as om die vernietiging daarvan stop te sit. Ons beweeg agteruit en boots die ergste vergrype van ons rassistiese onderdrukkers na.

Terselfdertyd kwyn knap, bevoegde swart mense weg omdat hulle nie deel is van die stelsel van patronaatskap wat onbevoegdes waardevoller ag nie. Of hulle weier om hiet en gebied te word deur dunvellige politici wat hulself soos 17de eeuse monarge en feudale opperheersers gedra.

Dis wat ons jong mense leer

Songezo Zibi

Deur dié optrede leer ons legioene jong mense – sommige wie se enigste ervaring dié onder ’n politieke stelsel is wat korrupsie en onbekwaamheid ophemel – dat swart leierskap met korrupsie gepaardgaan en swart mense nie goeie leiers is nie.

Hulle sien en ervaar dit nie omdat dit vir hulle vertel word nie, maar omdat ons leiers gekies het wat deur hul optrede geloofwaardigheid gee aan rassistiese stereotipes.

Ons moet besef dat die plunderaars van openbare geld en die boelies van bekwame swart beroepsmense anti-swart is. Swart mense moet hulle verstoot.

Hul optrede het ’n vernietigende invloed op die sosio-ekonomiese omstandighede van arm swart mense en die land as ’n geheel – iets waaroor hulle absoluut geen berou toon nie.

As ’n nuwe politieke denkrigting nie gevestig word nie, sal die toestand in ons land nie verbeter nie. Een wat daarop uit is om ons samelewing as ’n geheel te verander, wat bereid is om sosiale strukture te bou wat mense verantwoordbaar vir hul aksies hou, eerder as om skuiwergate vir korrupte optrede te soek.

Tweedens moet ons erken dat ons politieke kultuur deur en deur verrot is en daar geen manier is waarop ons nuwe morele politieke en etiese oortuigings kan oordra wat deur die res van die samelewing opgeneem kan word nie.

Die elite steur hulself nie aan eerlikheid, etiek of bevoegdheid nie.

Hulle skiet ver te kort aan die basiese vaardighede om ’n transformatiewe rol te speel in ’n verdeelde samelewing wat gebuk gaan onder die juk van sosio-ekonomiese probleme.

Ons mag nie naïef wees en ons hoop op dié mense plaas nie.

Hulle het nóg die durf nóg die vermoë om hul optrede te verander en werklik pa te staan vir die gevolge van hul onbeheerste skynheiligheid.

As ’n nuwe politieke denkrigting nie gevestig word nie, sal die toestand in ons land nie verbeter nie. Een wat daarop uit is om ons samelewing as ’n geheel te verander, wat bereid is om sosiale strukture te bou wat mense verantwoordbaar vir hul aksies hou, eerder as om skuiwergate vir korrupte optrede te soek.

As dit nie gebeur nie, sal Suid-Afrika aanhou om agteruit te boer en ’n teelaarde word vir gewelddadige opstande en protesoptrede wat ironies gelei gaan word deur dieselfde gulsige elite wat verantwoordelik is vir die plundering van ons land.

Daar is mense wat natuurlik gaan vra: Waarom teiken dié rubriek swart mense?

My antwoord sal altyd wees: Ras is belangrik vir swart mense, omdat swart mense se onderdrukking as ’n verskoning gebruik word om boosheid te regverdig wat teen alles indruis waarvoor miljoene etiese swart mense staan en behoort te staan.

* Songezo Zibi is die voormalige redakteur van Business Day en skrywer van Raising the Bar: Hope and Renewal in South Africa. Dié rubriek het oorspronklik op News24 verskyn. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.