Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Zuma-saak: ‘Dit maak SA ’n beter land’

Die skuldigbevinding van oudpres. Jacob Zuma gaan lei tot ’n skuif in die waardestelsel van ons nasie. Daar sal nou ’n groter respek vir die reg wees, sê JP Landman aan Murray La Vita.

Oudpres. Zuma in die hooggeregshof in Pietermaritzburg. Foto: AP

Dit was ’n “kragtige en pragtige” uitspraak en een wat baie goed is vir die land, meen Landman, ’n onafhanklike politieke en ekonomiese ontleder.

Hy het gereageer op waarnemende hoofregter Sisi Khampepe se meerderheidsuitspraak Dinsdag in die konstitusionele hof waarin sy Zuma tot 15 maande tronkstraf gevonnis het weens sy minagting van ’n bevel van dié hof om voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping te verskyn.

“Die uitspraak is goed geskryf en beredeneer – ook die minderheidsuitspraak was goed beredeneer; ’n mens kan dit nie sommer net in die wind slaan nie. Ek dink ons kan baie trots wees op die regters, maar die meerderheid staan – dit was ’n 7-2-uitspraak.”

Die uitspraak beteken baie vir die oppergesag van die reg in Suid-Afrika, sê hy.

“Sonder twyfel. Dit was ’n kragtige repudiëring van die aanvalle op die regstelsel. Dit was vir my interessant wat Julius Malema (EFF-leier) gistermiddag getwiet het. Die twiet het gelui: ‘Thank you, constitutional court, for protecting our democracy and once more proving that we are all equal before the law. Strength to president Zuma; this too shall pass.’

“Dít bevestig die punt dat die uitspraak ’n wyer invloed het, selfs op iemand soos Julius Malema.

As hy nou weer daar (in Pietermaritzburg) in die hof verskyn, gaan hy in ’n oranje oorpak onder van die polisieselle af opgebring word.

“Ek dink ’n mens moet onthou die storie is nog nie verby nie. Zuma moet nou in die hooggeregshof in Pietermaritzburg gaan verskyn in die voortslepende strafregtelike saak teen hom. Voorheen toe hy daar aangekom het, was dit in swart karre en met lyfwagte en televisiekameras en ondersteuners, en geklee in ’n mooi pak, en so aan.

“As hy nou weer daar in die hof verskyn, gaan hy in ’n oranje oorpak onder van die polisieselle af opgebring word. Miskien selfs met handboeie aan, en hy gaan in ’n oranje oorpak sit die hele dag en luister na die aanklagte teen hom.

“Dít is ’n báie, báie ander prentjie as die prentjie waaraan ons die afgelope klompie jare aan gewoond geraak het. So, dit is nie net hierdie uitspraak nie, daar is ook die konsekwensies wat daaruit gaan voortvloei wat ek dink baie gaan help om die oppergesag van die reg te beklemtoon.”

’n Beter orde en samelewing

Ons praat oor die simboliese waarde van die uitspraak.

JP Landman, ’n onafhanklike politieke en ekonomiese ontleder van Johannesburg, meen die uitspraak teen oudpres. Jacob Zuma gaan bydra tot ’n beter orde en ’n beter samelewing in Suid-Afrika.

“Ek dink iets gaan skuif in die waardestelsel van ons nasie na ’n groter respek vir die reg; ’n besef van jy kan nie meer net doen wat jy wil nie.

“Die wêreld gaan nie oornag verander nie, maar dat dit ’n geweldig beslissende besluit was ten gunste van ’n beter orde en ’n beter samelewing, is sonder twyfel so. Ek dink dis ’n besonderse oomblik vir die Suid-Afrikaanse regstelsel.

“In hoeveel lande in die onlangse geskiedenis is daar voorbeelde waar ’n voormalige staatshoof tronk toe gestuur word? Ek dink nie daar is baie nie.”

Oor die moontlikheid dat dit ook die voorland van oudpres. Donald Trump van Amerika kan wees, sê hy: “Trump is ook maar ’n Zuma-tipe figuur en die Republikeine doen alles om hom te beskerm.”

‘Moenie inmeng nie’

Watter invloed het die uitspraak op die ANC se statuur?

“Ek dink, indien enigsins, gaan dit die ANC se statuur ’n bietjie verbeter, want hulle laat toe dat aksie geneem word teen Zuma.

“Binne die ANC was en is daar waarskynlik op die oomblik geweldige sterk druk op pres. Cyril Ramaphosa dat hy moet inmeng.

“Dít was die druk wat op hom was voor hierdie saak. Jessie Duarte (waarnemende sekretaris-generaal van die ANC) het daaroor gepraat in die openbaar.

Ek is seker daar is nou baie mense wat wil hê hy (Ramaphosa) moet mnr. Zuma kwytskeld, wat hy kan doen in terme van die Grondwet, maar ek dink nie hy sal dit doen nie.

“Hulle wou gehad het mnr. Ramaphosa moet inmeng in die strafregtelike saak in Pietermaritzburg. Mnr. Ramaphosa het met goeie wysheid hom nooit met die regsprosesse ingemeng of hom daaroor uitgelaat nie. Dít het dit in ’n sin moontlik gemaak dat ons hierdie bevinding kon kry.

“Ek is seker daar is nou baie mense wat wil hê hy moet mnr. Zuma kwytskeld, wat hy kan doen in terme van die Grondwet, maar ek dink nie hy sal dit doen nie.

Waarnemende hoofregter Sisi Khampepe Dinsdag in die konstitusionele hof ná haar uitspraak in die saak teen Zuma. Foto: Reuters

“Ek dink hy gaan hom hou by die benadering wat hy nog heeltyd gehad het, en dít is: Daar was regsprosesse en hulle moet hul loop neem en ons moet saamleef met die gevolge daarvan en ons moenie daarmee inmeng nie.

“Ek dink dít is die benadering wat die ANC óók gaan volg en almal sal uiteindelik saamgebring word rondom dié punt. Daar sal spanninge en onrustighede wees soos jy maar het in enige party, maar ek dink nie die party gaan skeur of sulke goed doen nie.”

‘Baie kwaad’

Ek pols Landman oor die reaksie van Zuma se ondersteuners. Carl Niehaus het byvoorbeeld ná die uitspraak getwiet: “The imprisonment of @PresJGZuma is totally unacceptable. In fact, it is an utter outrage! Now is our revolutionary democratic right and duty to register our outrage and resistance to this, in no uncertain terms, and we will.”

“Hulle is baie kwaad en ek dink hulle is half geskok – hulle het nie gedink dit kan gebeur nie. So, daar is ’n sterk emosionele reaksie. Maar hul politieke en emosionele beweegruimte is baie minder – daar is géén twyfel daaroor nie.

Hy dink die radikale-ekonomiese-transformasie-groepering se vlerke is geknip.

“As hulle voor gister op ’n tienpunt-skaal sê nou maar by vier of vyf gesit het, dan sit hulle ná gister op twee of drie. Dís deels ook die rede waarom hulle so kwaad is.”

Hy dink die radikale-ekonomiese-transformasie-groepering (RET) se vlerke is geknip.

“Hulle was in elk geval al geknip voor hierdie uitspraak. Die 26 Maart-besluit van die nasionale uitvoerende komitee van die ANC dat mense opsy moet staan en dat die RET nie meer vergaderings mag hou in die naam van die ANC nie, het hulle al reeds stéwig vasgevat.

“Dit is maar net ’n verdere steentjie wat hul posisie nog verder ondermyn. Wat gewone mense betref: ’n Mens sal altyd die mense hê wat hul leiers verdedig. Daar is mense wat fanaties glo in Trump. Daar was mense wat fanaties in PW Botha geglo het. Dít het jy maar altyd.

“Dít beteken nie 100% van die bevolking is nou eenstemmig daaroor nie. Maar ek dink nie dit gaan enige grootskaalse politieke of ander gevolge hê nie.

“Cyril het sy game te goed gespeel. Ek sou nie sê dit is deel van wat mense sy long game noem nie, want dít sou impliseer dat hy ’n agenda het om in te meng by die regsproses en so aan, en dít dink ek is eerlik nié die geval nie.

“Ek dink ’n beter voorbeeld van hoe sy langtermyn-strategie werk, is elektrisiteit. As jy teruggaan na Februarie 2019 toe en jy kyk wat sedertdien gebeur het, dan kan jy duidelik sien hoe die patroon ontvou het en hoedat daar steun gewerf is vir dít wat hy probeer regkry met elektrisiteit. Nou is dit amper ’n non-issue. Dit maak nie meer saak nie.”

‘Saamgestelde effek’

Hy vervolg: “Ek het gister teenoor iemand die punt gemaak wat die Engelse noem compounding – ons praat in Afrikaans van saamgestelde rente – is nou ter sprake.

'Dit was ’n kragtige en ’n pragtige uitspraak en een wat baie goed is vir die land.'

“Dit is ’n ou gesegde dat die sterkste krag in die wêreld compounding is. As jy vir ’n 100 jaar 2% per jaar groei, dan is jy ná ’n 100 jaar ontságlik ryk; baie meer as wat die 2% miskien sou aantoon.

“Nou ek dink wat ons op die oomblik in Suid-Afrika sien, en dit was nog altyd my siening, is ’n klomp klein vormpies van compounding. Jy sien dit in ekonomiese beleid; jy sien dit in die regsprosesse, en die goed is nie noodwendig verwant aan mekaar nie, maar dit is klein stukkies wat optel en uiteindelik vir jou ’n baie groot saamgestelde effek gee.

“En dit is hoe ek na die uitspraak kyk. Ek dink nie op sy eie gaan die uitspraak die wêreld verander nie, maar dat dit bydra tot ’n samelewing en ’n ander orde – daaroor is daar géén twyfel nie.

“En dat dit deel is van ánder goed wat gebeur in die samelewing waar daar óók ’n compounding effek is, is ook so. En dít is eweneens goed.”

‘Bekamp sinisme’

Kan die uitspraak van die konstitusionele hof bydra tot die herstel van beleggersvertroue in Suid-Afrika?

“Ja, ek dink beslis so. Kyk, daar is mense wat jy nóóit sal oortuig nie. Ek dink ons moet dít aanvaar. Daar is nog vanoggend mense wat sê Zuma sal nie tronk toe gaan nie en indien hy gaan, sal hy net vir twee weke gaan.

“Daar is ’n groot stuk sinisme in ons samelewing en ek dink ’n mens moet daarvoor toelaat, maar ek dink die uitspraak ís iets wat daartoe kan bydra om die sinisme ’n bietjie terug te rol en in daardie opsig meer vertroue te skep en dalk kan bydra tot groei.

“Maar ek wil nou nie sê as gevolg van die uitspraak gaan ons ekonomie nou 4% groei nie. Dís nie waarvan ek praat nie. Dit lê meer op die vlak van bou vertroue en werk sinisme teen.”

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Konstitusionele Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.