Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Zuma: ‘Van gedruis tot ’n geteem’
Jacob Zuma, Zondo

Lourensa Eckard het oud.pres. Jacob Zuma se verskyning voor die Zondo-kommissie vir kykNET Verslag bygewoon.

Etlike jare vra, nee smeek, oudpres. Jacob Zuma vir sy dag in die hof. Die voormalige president van sowel die ANC as die land voer aan hy is aan geen misdaad of misdryf skuldig nie en as hy net ’n billike kans gegee word, sal hy die lys van aantygings teen hom maklik kan weerlê.

Dit is natuurlik geen geheim dat Zuma so bang is vir ’n hofsaal soos ’n haas vir ’n hond. Die Zondo-kommissie wat staatska­ping ondersoek, is nie ’n hof nie en by Zuma se aankoms Maandag in Parktown, Johannesburg, waar die kommissie sit, is dit van meet af aan duidelik dat Zuma dit net as nóg ’n verhoog beskou, en sy ondersteuners, die regspanne en ook die wêreld se media is bloot toeskouers van die Jacob Zuma-sirkus wat in die dorp aangekom het.

Daar kan geen twyfel wees nie dat Zuma steeds, ná alles, ’n vertrek se aandag op hom kan vestig sodra hy by die deur instap. Deel van die opbou is wat voorafgegaan is: Die tientalle metro-polisielede wat waaksaam vroeg Maandagoggend die paaie rondom die kommissielokaal afbaken, lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens wat in hul uniforms op aandag staan en lede van die oudpresident se beskermingseenheid wat soos miere om die gebou bedrywig is om seker te maak geen gevaar wag op Zuma nie. ’n Lid van Zuma se beskermingspan dra ’n swart Russiese sjapka om die koue af te weer.

Eerste dag se spanning

Die spanning op die eerste dag van Zuma se verskyning kon met ’n stomp mes gesny word. Sou Zuma werklik opdaag, sou hy werklik sy sitplek in die getuiebank inneem en sou hy werklik enigiets sê? Zuma-lojaliste soos die voormalige dae lange minister van finansies, Des van Rooyen, en die voormalige minister van kommunikasie Faith Muthambi, op krukke, het seker gemaak hulle sit gereed om vir hul keiser te waai en hande te klap.

Carl Niehaus in ’n grys pak en strepiesdas is ook daar. Buite het Andile Mngxitama, leier van Black First Land First, wat later daardie dag amptelik as politieke party gederegistreer sou word, vergeefs probeer om toegang tot die kommissie te kry.

Arme Mngxitama is onbewus van die reëls en regulasies, wat nog te sê die pomp and ceremony wat met Zuma gepaard gaan. ’n Mens met partykleure mag nie toegang tot die kommissie kry nie. “Wat het Zuma verkeerd gedoen?

Waar is Cyril Ramaphosa, waar is Pravin Gor­dhan,” het hy skril gegil. Die hoofvertoning was byna gereed om te begin en alle oë het gedraai na die kommissie se hooflokaal op die vierde verdieping van Hillside House in Parktown.

“Zuma, Zuma, Zuma,” het sy ondersteuners luidkeels op hul voete gejuig toe hul man, uBaba, Msholozi, Jacob Gedleyihlekisa Zuma, uiteindelik ingestap kom. Hier ga’t ons!

jacob zuma

Komplot teen hom gesmee

Dit was tjoepstil in die lokaal toe Zuma begin praat. Hy het vertel van ’n komplot wat jare terug teen hom gesmee is.

Plaaslike sowel as buitelandse intelligensiedienste het al sedert 1990 probeer om van Zuma ontslae te raak. Zuma het herhaaldelik na homself in die derde persoon verwys. Zuma het al verskeie sluipmoordkomplotte afgeweer, soos toe hy met ’n “baie gevaarlike” gifstof vergiftig is.

Zuma het vaagweg verwys na die bose magte wat sy ondergang wou bewerkstellig. Dit is die fundamentele teenstrydigheid van Zuma: Hy het al soos ’n wafferse Houdini pogings op sy lewe oorleef, maar hy het ook al byna by die dood omgedraai. Zuma die slagoffer en Zuma die slinkse jakkals wat enige en alle pogings om hom te vang, te vergiftig, te vermoor kan ontglip.

Hy het meer as net gesuggereer dat die ganse staatska­pingkommissie deel is van die komplot. Dit was vir sy ondersteuners die grootste treffer van dag 1.

Maar Zuma het op dag 1 van sy verskyning ook ’n sappige stuk vars rooivleis vir sy bondgenote gegooi, naamlik dat die voormalige minister van minerale hulpbronne Ngoako Ramathlodi ’n apartheidsera-spioen was. Ramathlodi het in sy ge­tuie­nis voor die Zondo-kommissie gesê Zuma het die land opgeveil. “Wat het ek opgeveil? Het ek Tafelberg opgeveil?” het Zuma lag-lag gevra.

Sy woede hieroor was egter swak verbloem. Daar is moontlik geen groter sonde in die ANC as om ’n spioen vir die apartheidsregering te wees nie. Talle mense is dood bloot omdat daar gerugte was dat hulle spioene vir die regime was. Zuma het met die aantyging duidelik ’n streep in die sand getrek. “Ek het nie gedink ek kan gemeen wees nie. Miskien kan ek gemeen wees,” het Zuma gesê.

Later die dag is Zuma gevra oor verdoemende getuienis wat teen hom gelewer is. Nee, Zuma kan nie onthou, hy weet nie en dit kan nie waar wees nie.

As enigiemand gedink het dat Zuma uitgeput sou wees aan die einde van ’n volle dag voor die kommissie, het hulle ’n groot fout gemaak.

Die 77-jarige het ons herinner waar hy sy energie vandaan kry, naamlik van die gejuig van ’n groep ondersteuners in T-hemde met sy gesig op. Toe die kommissie laatmiddag verdaag, het Zuma hom na ’n parkie oorkant die gebou gehaas waar ondersteuners vir hom gewag het.

jacob zuma
Oudpres. Jacob Zuma het Maandagmiddag sy ondersteuners naby die Hill on Empire-gebou, waar hy voor die Zondo-kommissie na staatskaping verskyn het, in Parktown, Johannesburg, toegespreek. Regs staan Carl Niehaus, wat Zuma Maandag ondersteun het. Foto: Felix Dlangamandla

Kospakkies uitgedeel

Van hulle het heelpad van KwaZulu-Natal gekom, maar gelukkig het hulle kospakkies gekry. Daar was ’n paar lede van die Umkhonto weSizwe se veteranevereniging (MKMVA), hoewel sommige van hulle kwalik soos veterane gelyk het.

Die president van die MKMVA, Kebby Ma­phatsoe, het ’n paar woorde gespreek voordat die voormalige premier van Noordwes Supra Mahumapelo Zuma se lys van prestasies opgenoem het. Volgens Mahumapelo het Zuma onder meer eiehandig gesorg dat Suid-Afrika die ekonomiese krisis van 2008 kon afweer.

Dit is nou tyd om die waarheid te praat, het Zuma gesê. ’n Plan wat deur drie intelligensie-organisasies beraam is, het dit ten doel gehad om Zuma van kant te maak, het hy gesê. “Ek wou weet hoekom hulle gesê het ek weet te veel van hul spioene in die ANC. Hulle het nie geweet wanneer ek my kennis sou gebruik om te keer dat spioene in die party die volgende ANC-leiers sou word nie.”

Dag 2 het begin met nóg ’n onthulling deur Zuma: Sy persoonlike assistent het die vorige aand ’n oproep ontvang van iemand wat sê hy gaan Zuma en sy kinders doodmaak.

Zuma se regspan het ’n paar keer kapsie gemaak teen die wyse waarop die kommissie se getuienisleier adv. Paul Pretorius vrae aan Zuma gestel het. Hul kliënt word aan kruisverhoor onderwerp, het hulle geprotesteer. Waarom moet Zuma vrae beantwoord oor wat die voormalige ANC-LP Vytjie Mentor getuig het? Mentor het getuig sy is ’n ministerspos aangebied deur ’n lid van die Gupta-familie en toe sy emosioneel raak, het Zuma vanuit ’n ander vertrek in die Guptas se Saxonwold-paleis verskyn om haar te kalmeer.

In 2016 het Zuma in ’n presidensiële verklaring gesê hy ken Mentor glad nie. Terwyl Zuma met sy hande vroetel aan die dokument met Mentor se getuienis voor hom, skuif hy rond terwyl hy vir Zondo sê nee, hy weet wie sy is, maar dit wat sy beweer, is onwaar. Die sekretaris-generaal van die ANC en voormalige premier van die Vrystaat Ace Magashule sit vandag knus langs Niehaus in die openbare galery. Hy sou later die dag aan joernaliste sê Zuma se bewerings oor die komplot teen hom, sowel as dié teen Ramathlodi, verdien ’n ondersoek.

Op dag 3 was die gort behoorlik gaar. Zuma het herhaaldelik gesê hy weet nie, hy kan nie onthou nie en hy kan nie kommentaar lewer op ander mense “menings” nie.

Die slakkepas waarteen die verrigtinge verloop, het skielik in snelrat oorgegaan toe Zuma se regsluitenant Muzi Sikhakhane Zondo uitdaag deur sê Zuma is onder valse voorwendsels na die kommissie gelok. Zuma self het gesê dit voel vir hom of hy onder kruisverhoor is. Zondo het die hoop uitgespreek dat die twee spanne op ’n pad vorentoe kan ooreenstem.

Pretorius deins nie terug

Lourensa Eckard
Lourensa Eckard

Dit lyk nie of Pretorius bereid is om terug te deins nie, want baie getuienis moet nog voorgehou word. Zondo wil ook nie hê Zuma moet voel of hy in die hoek gedruk word nie. Wie gaan eerste hul oë knip?

Die gemoedere is Vrydag weer gaande. Zuma se getroue ondersteuners is weer daar. Dié keer het die voormalige SAUK-hoof Hlaudi Motsoeneng ook besluit om sy steun aan Zuma te kom toesê. Die kommissie se regspan sê vrae móét en sál aan Zuma gestel word, sê Pretorius.

Zuma se regspan sê hy gaan nie verder aan die kommissie se verrigtinge deelneem nie en hulle wil hof toe oor die kommissie. A, daar is dit nou. Zuma en sy span se eindstreep is in sig, hulle het die hele week probeer om die kommissie te diskrediteer.

Maar Zondo is gereed met sy meesterskuif: Zondo sê as enigiemand voel hulle word onregverdig behandel, moet hulle hom self blameer. Zuma se regspan staan gereed met verdere aanvalle op die kommissie se getuienisleier, maar Zondo het reeds die angel uit Zuma en sy span gehaal.

Hoe sal Zuma nou sy besluit om hom te onttrek kan regverdig? Nee, sê Zuma en sy spannetjie, hulle is eintlik maar weer gereed om hul samewerking te gee. En Zuma bedank sommer vir Zondo omdat hy tussenbeide getree het. “Daar is nou duidelikheid oor die pad vorentoe,” sê Zuma. Hy het die week met ’n harde gedruis begin, dit met ’n patetiese geteem afgesluit.

Eckardis’n verslaggewer en aanbieder van kykNET Verslag.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Zuma-Getuienis  |  Staatskaping  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.