Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Zuma voor Zondo: Sal daar gevolge vir kapers wees?

Oudpres. Jacob Zuma se verskyning voor die Zondo-kommissie moet Suid-Afrikaners nie paai nie. Tensy daar nie gevolge is vir dié wat staatskaping moontlik gemaak het nie, sal die siklus van straffeloosheid net voortduur, skryf Mark Swilling.

Oudpres. Jacob Zuma Maandag voor die Zondo-kommissie. Foto: Felix Dlangamandla

Dis amper ’n jaar sedert die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping van stapel gestuur is om deur getuienis oor staatskaping en vergrype te sif en agter die kap van die byl te kom.

Regter Raymond Zondo, adjunkhoofregter en voorsitter van die kommissie, het tot op hede al na 130 dae van getuienis geluister wat deur meer as 80 mense gelewer is. Die kommissie ondersoek aantygings dat die staat deur private maatskappye gekaap is wat dit vir hul eie gewin misbruik het.

Deur die hele ondersoek het die beweerde betrokkenheid van Zuma by staatskaping verskeie keer ter sprake gekom.

Die getuienis van voormalige en huidige staatsamptenare het Zuma regstreeks geïmpliseer.

Onder meer is beweer dat Zuma op hul knoppies gedruk het om sy vriende – die Gupta-broers – by te staan en ’n kernkragooreenkoms met Rusland deur te jaag, wat Suid-Afrika tot die rand van bankrotskap sou dryf.

Die mislukking van staatsinstellings – die regstreekse gevolg van die plundery van semi- en staatsinstellings – word ook voor die deur van staatskaping gelê.

Ondersteuners van oudpres. Jacob Zuma het Maandag buite die sitting van die Zondo-kommissie byeengekom. Foto: Reuters

Maandag was dit Zuma se beurt om voor Zondo te getuig, en daar word verwag dat hy die hele week oor die aantygings teen hom en sy beweerde rol in Suid-Afrika se staatskaping sal getuig.

Zuma ontken nie net dat staatskaping gebeur het nie, hy het dit ook al voorheen ’n opgemaakte politieke slenter genoem, waarvan hy ’n slagoffer is.

Hy weier om enigsins die konsep van staatskaping te bespreek.

“Daar is mense wat dinge aan ander mense doen, hoe dit ook al sy. Jy kan dit enigiets noem, maar nie hierdie groot naam – staatskaping – nie,” was van sy kommentaar voorheen daaroor.

Die belangrikheid van Zuma wat voor die Zondo-kommissie van ondersoek getuig, moenie onderskat word nie. Dit kan positiewe of negatiewe gevolge hê.

Hy het Maandag ook voor die Zondo-kommissie geweier om te erken dat daar enige duistere bybedoelings met sy verhouding met die Guptas was.

“Wat is dit wat die Guptas verkeerd gedoen het? Niemand sê iets oor die verhouding van die Guptas met Nelson Mandela of Thabo Mbeki nie. Niemand sê vir my hoekom dit nou verkeerd is dat ek met hulle ’n verhouding gehad het nie.

“Die Guptas het saam met my seun gewerk en daar was geen probleem nie. Ek wag om te hoor wat dit is wat die Guptas verkeerd gedoen het,” het Zuma Maandag voor Zondo getuig.

Daar word beweer dat Zuma die baasbrein agter ’n netwerk van korrupsie is wat Suid-Afrika se planne vir ontwikkeling heeltemal omver gewerp het.

Die belangrikheid van Zuma wat voor die Zondo-kommissie van ondersoek getuig, moenie onderskat word nie. Dit kan positiewe of negatiewe gevolge hê.

Of dit gaan of ’n presedent stel, wat wys dat diegene wat hul mag misbruik het, vir hul dade verantwoordbaar gehou moet word.

As daar egter nie gevolge is nie, sal die siklus van straffeloosheid net voortduur om die korrupte stelsels te versterk wat staatskaping moontlik gemaak het.

Hoe om ’n land te kaap, 101

Oudpres Jacob Zuma in Mei vanjaar toe hy in die Pietermaritzburgse hooggeregshof op aanklagte van korrupsie verskyn het. Foto: Felix Dlangamandla

Oorspronklik verwys die teoretiese konsep van staatskaping na grootskaalse korrupsie. In Suid-Afrika se geval dui dit op die vorming van ’n skadu-regering, waarvan ’n magtige elite aan die hoof staan.

Hierdie skadu-regering funksioneer binne – en parallel met – die konstitusionele regering op ’n formele en informele vlak. Die doel daarvan is om die staat se bestaande bestuur te herbenut en dit in ooreenstemming met die magtige elite se nougesette finansiële en politieke belange vir hul eie geldelike gewin te bring.

Staatskaping berus op ’n strategie om staatsinstellings, openbare instellings en private ondernemings te integreer sodat ’n uitgesoekte groep individue uit die staat se bates en hulpbronne munt kan slaan.

Die strategie om staatsinstellings te kaap lyk so: Stel inskiklike amptenare aan wat vir staatskaping sal val, ondermyn die funksionele werking van instellings en wanneer jy enigsins gekritiseer word, maak seker dat jou kritici se aansprake betwyfel word of selfs dat hulle gemuilband word.

Die Zondo-kommissie het reeds gebeure onder die loep geplaas waarvoor daar bewyse is dat ’n groep rolspelers sorgvuldig beplan het om ’n reeks prosesse te integreer – waaruit hulle soveel munt as moontlik kon slaan – deur die koste van dienste wat gelewer is en goedere wat verskaf is kunsmatig op te jaag.

Dit onthul die noukeurige beplanning agter staatskaping.

Die sukses daarvan het afgehang van die algehele samewerking en medepligtigheid van diegene wat die hoogste en magtigste posisies in die land beklee.

Hulle moes die agterafbetalings verseker, stelsels wat mense verantwoordbaar hou wegkalwe en ’n illusie van regmatigheid voorhou.

Die strategie om staatsinstellings te kaap lyk so: Stel inskiklike amptenare aan wat vir staatskaping sal val, ondermyn die funksionele werking van regeringsinstellings en wanneer jy enigsins gekritiseer word, maak seker dat jou kritici se aansprake betwyfel word of selfs dat hulle gemuilband word.

Om die regering van ’n land en sy hulpbronne te kaap, is ’n radikale afwyking van die norme en waardes waarop ’n demokratiese ontwikkelende land staatmaak. Suid Afrika se Grondwet maak voorsiening vir ’n reeks wigte en teenwigte (net soos ander liberale demokrasieë) wat veronderstel is om magsmisbruik te voorkom.

Wanneer dit ondermyn en die wigte en teenwigte verwater word, verval die stelsel in ’n bose kringloop van korrupsie en misdaad, wat die vryval na ’n outoritêre oligargiese staat net versterk.

Met ander woorde, ’n geluidlose staatsgreep word uitgevoer.

Hoe het ons hier beland?

Zuma saam met Ajay Gupta op ’n onthaal in 2005.

Zuma se presidensiële kandidaatskap was gegrond op ontwikkeling wat deur die staat onderskryf is. Dit het behels dat instellings in regeringsbesit voorkeur geniet het, die staat strenger beheer uitgeoefen het en dat swart ekonomiese bemagtiging bevorder is om radikale ekonomiese transformasie teweeg te bring.

Maar dit was presies binne dié agenda en die regeringsreëlings wat dit gesteun het, waar die saad vir staatskaping gesaai is.

Verskerpte staatsbeheer het beteken dat die vloei van inligting deur slegs enkele mense beheer is, terwyl regeringsinstansies die meeste van die verkrygingsgeld gekry het.

Staatskaping het ook die instellings weggekalwe wat radikale ekonomiese transformasie moes laat realiseer.

Daar het reeds miljarde rand deur die staatsinstansies beweeg en “radikale ekonomiese transformasie” was die perfekte ideologie om alles byeen te bring.

Nietemin het swart ondernemings min voordeel uit die staatskaping getrek.

As radikale ekonomiese transformasie deur ’n grondwetlike staat ’n werklikheid gemaak moes word, sou dit deur ’n ekonomiese beleid onderskryf word wat werk skep en mense se lewens verbeter.

Boonop het staatskaping ook die instellings weggekalwe wat radikale ekonomiese transformasie moes laat realiseer.

Die uitrafeling

’n Foto wat in 2010 van Nkandla geneem is. Foto: Muntu Vilakazi

Verskeie gebeurtenisse van die afgelope dekade dui daarop hoe kernhulpbronne van die staat stadig maar seker misbruik is.

Een van die eerste voorbeelde hiervan was toe ’n private vliegtuig met gaste vir ’n Gupta-troue in 2013 op onreëlmatige wyse toegelaat is om op die Waterkloof-lugmagbasis te land.

Twee jaar later het bewyse rugbaar geword dat belastingbetalers se geld onwettig gebruik is vir verbeterings aan Nkandla, die oud-president se opstal in KwaZulu-Natal. Dié besteding is in ’n verslag van die voormalige openbare beskermer (OB), Thuli Madonsela, vervat.

Die keerpunt was maande ná die OB se staatskapingsverslag toe Zuma die destydse minister van finansies, Pravin Gordhan, en sy adjunk, Mcebisi Jonas, in Maart 2017 afgedank het. Die afdankings het skokgolwe deur Suid-Afrika gestuur wat tot grootskeepse protesaksie en openbare woede gelei het. Dit het Zuma gedwing om ’n ondersoek na staatskaping te las.

Ons ongepubliseerde navorsing wys dat daar tot op datum 28 openbare staatskapingondersoeke, -navrae en kommissies was.

Die ware koste van die staatskaping – wat die vernietiging van staatsinstellings en lewens insluit – kan nie bereken word nie.

Shamila Batohi, die direkteur van openbare vervolging, het ook 118 uitstaande sake in haar inmandjie van korrupsie waarby regeringsamptenare en politici betrokke was.

Die ware koste van die staatskaping – wat die vernietiging van staatsinstellings en lewens insluit – kan nie bereken word nie.

Suid-Afrikaners mag miskien gepaai word omdat Zuma nou voor die Zondo-kommissie getuig. Maar hy was nie alleen agter die staatskapingsprojek nie.

Die netwerk van rolspelers en mense wat hul invloed gebruik het om dit moontlik te maak, is groot en hulle woel steeds.

Dít is duidelik uit van die getuienis wat reeds voor die Zondo-kommissie aangehoor is.

* Swilling is buitengewone professor in volhoubare ontwikkeling aan die Universiteit Stellenbosch. Nina Callaghan en Robyn Foley het tot die artikel bygedra. Dit het oorspronklik op The Conversation verskyn. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.