Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Barnard Beukman
Die T-woord – skrap dit in 2017 en begin om te bou
Barnard Beukman

Transformasie. So aan die einde van 2016 is dit nodig om dit te sê: Dit het misluk. Heeltemal.

Dié politiek korrekte modewoord word in elke denkbare beleidstuk – staatsektor of korporatief – gekry. Toenemend ook sonder definisie. Solank dit net daar is, want dit wys daar word aan die regte kant gespeel van diegene wat kontrakte uitdeel.

Uiteindelik is die belangrikste doelwit van enige samelewing om ’n gangbare lewenstandaard en gelyke geleenthede vir almal te vestig. En ja, in Suid-Afrika is die groot uitdaging om historiese agterstande en grootskaalse armoede uit te wis. Dit is belangriker as ooit as ons enige hoop op ’n stabiele volgende 50 jaar wil hê. Tog sou ’n mens dink dat dit op die vinnigste en effektiefste manier bereik moet word. En dat die bate van die beste beskikbare talent daarvoor ingespan sal word. Asook dat die beste opleidingskultuur gevestig sal word om die nodige talent uit die hele bevolking te kweek.

Maar kommer oor die lot van behoeftiges is nie werklik in die hartskamers van ons bewind­hebbers neergeskryf nie. Dit word bloot op hul verkiesingsplakkate geskryf. Al was die Vryheidsmanifes se skrywers ernstig daaroor, het vandag se vroom rondswaaiers nie ’n saak daarmee nie.

Maar kommer oor die lot van behoef­tiges is nie werklik in die harts­kamers van ­ons bewindshebbers ­neergeskryf nie.

Dit gaan vir hulle oor die behoud van mag, sodat hulle – het ons die afgelope tyd uitgevind – staatsbronne (lees: die mense se bronne) kan kanaliseer na hul eie sakke.

Om die mag te behou is ’n lojale magselite ook nodig en daarvoor moes hulle teen ’n vinnige spoed in topposte gedruk word. Dermate dat vele staatsinstansies tot 70% van hul begroting aan salarisse afstaan en die krimpende res aan dienslewering. Want met die tesourie se verbete pogings om staatsbesteding in te kort word daar nie   aan duur hoofdirekteure verminder nie – wel aan die bietjie dienstegeld. Vandaar dat daar in Gauteng as deel van die snitte besluit is om talle staatspasiënte bloot aan hul eie genade of meestal bedenklike nie­regeringsinstan- sies oor te laat. Bykans 70 is oorlede.

Vandaar ook die wydverspreide onrus oor dienslewering en die ANC se terugslag in die munisipale verkiesing. Selfs die basiese dienste kon nie gelewer word nie – die skynmasjien wat daarvoor gebou is, het gevou.

’n Afdwingende en ideologiese transformasie om ’n samelewing te skep het wêreldwyd misluk.

Die nuwe en meer verdraagsame eenheidsnasie wat ons nodig het – en tans hopelik reeds onomkeerbaar aan geboorte gegee word (al is dit ’n lang en pynlike bevalling) – sal net ontstaan as dwingende korrektheid gestaak word. Kom ons betrek almal, span die beste beskikbare talent in en begin bou. Ook van 2017 af  met meer private en persoonlike inisiatiewe en baie minder negatiwiteit.

* Beukman is redakteur van Beeld.

Meer oor:  Barnard Beukman  |  Transformasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.