Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Blouwillem: 'As hulle stil raak, raak dit gevaarlik'

As oupa met ’n bietjie nuut opgedoende ervaring het ek die laaste tyd weer besef dat as ’n amper twee jaar oue meisiekindjie stil raak, jy so gou moontlik moet gaan kyk waarmee sy besig is. 

Jy moet weet meisiekinders raak nie sommer stil nie (dit geld natuurlik vir die meeste tot so op 102) en dan moet jy ook weet teen die tyd dat jy besef dat dit darem nou te stil is dit waarskynlik ook reeds gedane sake is. 

Ouma en mamma is ’n uur weg, maar hoe moes oupa weet sy kan ’n groot pot Vaseline al alleen oopgeskroef kry en dan besluit om ’n klein lekseltjie aan haar lippies te smeer en die res in haar pragtige goue lokkies? 

En so vinnig! Die ander ding wat ek toe die afgelope ses dae geleer het, is dat ’n mens nie Vaseline kan uitwas nie en ook nie vir ouma kan oortuig dat jy heeltyd (wel, amper heeltyd) na klein Oulyfie gekyk het nie.

Nou ja, ’n lang storie om by die punt te kom, naamlik dat dit nog gevaarliker is as Nommer Een en onse ­Julias Malenema een-een stil raak, maar nog gevaarliker as hulle saam stil raak. 

Soos Ousus een skemeraand daar in die Bergkwaggapark vir my gevra het: “Pappa, wat is so stil hier?” Nee my kind, pappa weet nie, maar ek wonder of dié twee karnallies nog van Moedersdag herstel of waarmee hulle twee nou besig is? 

Dit bly aan my knaag, want as hulle twee saam gaan konkel, is daar nie salf of Vaseline aan te smeer nie. 

Ja, my Kroon, ons sou hoop dat u help vure doodslaan en nie stook of swyg nie. 

Het u geweet dat volgens my pleknaamboek wat ek oral saamry Coligny voor 1923 Treurfontein geheet het? 

Ja, my Kroon, dink daaraan. En jy ook, Ju­lias, besluit: vuurslaner of vuurstoker?

Oom Johnny sê hoe meer hy lees oor navorsing, hoe deurmekaarder raak hy. 

Die laaste tyd was daar bevindings dat alkohol van alle dinge goed is vir ’n babelas, dat tieners speletjies bo seks verkies (terloops, is dit nie maar dieselfde ding nie?), dat ’n groot asteroïed ons ondermaanse met ’n skamele 1,8 miljoen km gemis het en toe vir hom die skokkendste, naamlik dat jong Suid-Afrikaanse vroutjies 12 dinge in hul lewe bo katelkaperjolle verkies. 

“Kan jy jou indink dat ons manne so treurig geword het dat die skoonstes onder meer werk, selfone, die internet, motors en gesonde hare bo ons ou grombere in die katel verkies,” sug hy kopskuddend. 

“Maar jy moet weet as ons die dag hoor dat hulle rugbykyk ook bo die katel verkies, sal die kwade oomblik aangebreek het dat ons ons wapens vrywillig by die polisie sal moet indien, met of sonder amnestie!” 

Dik Daan las by dat 4 153 237 mense laas jaar wêreldwyd getroud is. “Maar julle, moet dit nie ’n gelyke getal wees nie?!”

Meer oor:  Blouwillem  |  Noordwes  |  Coligny  |  Suid-Afrika  |  Tieners  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.