Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Briewe
As Alzheimers jou ouers bekruip en toeslaan

Vreemd dat ’n siekte soos Alzheimer se siekte ’n mens jare lank bekruip sonder dat enigiemand dit agterkom.

Ons het die wonderlikste dae saam met my man se ouers (wat vir my soos my eie was) beleef toe hulle nog geleef het.

Een naweek in ’n maand het ons vir hulle in Bethlehem in hul woonstel gaan kuier. Saterdae het ons piekniek met braaivleis in die park gaan hou.

Een Sondagaand nadat ons van hulle af teruggekom het, het my ma my gebel en gevra of ek nie dalk haar plekmatjies saamgeneem het nie, want sy kry dit nie. Vreemd vir ons – en die eerste van baie soortgelyke voorvalle.

Op ’n dag het ons ’n oproep van my pa ontvang waarin hy ons meegedeel het hy voel nie lekker nie. My ma het dit ontken.

Ons het oombliklik na Bethlehem gery om te gaan kyk wat aangaan – wat ’n skok. My ma het nie meer kos gemaak nie en wanneer sy kombuis toe gestap het, vergeet wat sy daar wou gaan doen het.

Die kossies en groente wat ons twee weke tevore gekoop het, was nog net so onaangeraak in die yskas.

Sy het ook vergeet sy het haar lewe lank gerook. Tragies vir my man.

Ons het hulle teruggebring Bloemfontein toe waar hulle tot my pa se dood by ons gewoon het. Ons moes my ma later in ’n versorgingseenheid plaas.

Die interessantheid: Sy het net vir my herken – sy het gedink my man is haar broer. Sy was ook dierbaar, want sy het my teen my man (haar eie kind) gewaarsku en gesê: “Ek wil nie hê jy moet met hom deurmekaar raak nie; hy is ’n geskeide man.”

Ek verlang so baie na hulle en is so dankbaar vir die keuses wat ons gedoen het om hul laaste maande op aarde so gemaklik moontlik te kon maak.

My raad aan kinders wat ’n soortgelyke probleem het: Verdra hulle, lag saam, al maak dit nie sin nie – julle sal nooit spyt wees nie.

Etta van der Merwe

Bloemfontein

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.