Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Briewe
Moeg vir Afrikaner-randeiers

As ek na die oorlogstoestande in die wêreld kyk, besef ek die plig van elke gemeenskap, insluitend ons Afrikaners, om die ekstremiste in hul eie geledere uit te wys – daardie rand­eiers wat so vas in hul eie eng oortuigings vasgevang is dat daar geen ruimte vir rasionele gesprekke of ander sienings is nie.

Geen gemeenskap kan toelaat dat hierdie randeiers die meerderheid ­definieer nie.

Ek sidder om te dink wat gaan gebeur as ons eendag ons eie gewelddadige ­Boere-terroristedaad beleef, tesame met ’n verdraaide klap geloofsregverdiging, in die naam van een of ander verwronge idee van wie of wat die Afrikaner is!

Hoe sou ’n Desembervakansie gelyk het indien ekstremiste die agenda die afgelope 25 jaar bepaal het? Sou ons vandag soos Pakistan, Sirië of dalk meer soos Oekraïne gelyk het?

Daar is baie foute in Suid-Afrika vandag – ons presteer ver onder ons potensiaal, deels weens korrupsie en vrot leierskap. Dit verhoog juis ons plig om te fokus op wat ons almal in gemeen het en nie te verval in debatte wat deur ekstremiste geformuleer word nie.

Ons bly in ’n land waar 5 miljoen mense onverpoos soek na werksgeleenthede wat eenvoudig nie bestaan nie. Tel hierby die verdere 2,5 miljoen mense wat tou opgegooi het en waar jy nie met harde werk uit jou ekonomiese en maatskaplike stand kan ontsnap nie (vra maar vir enige arbeider wat lang skofte werk net om kos op die tafel en ’n dak oor die gesin te probeer hou). As ons nie werk maak van hierdie tragedie nie, gaan ekstremiste, uit alle gemeenskappe, die agendas namens ons bepaal.

Ek is ’n trotse Suid-Afrikaner wat luister na Afrikaanse musiek, Afrikaanse boeke lees, die Afrikaanse radio, TV en gedrukte media geniet en selfs seisoenkaartjies op Loftus het.

Ek is egter keelvol om my alewig te moet distansieer van radikale Afrikaanse randeiers, so asof hierdie mense verteenwoordigend is van wie ek vandag is en waarvoor ek vandag staan!

Theo Vorster

Johannesburg

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.