Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Briewe
Uit my politieke pen
Die Ken-pop in die parlement
Malusi Gigaba

Malusi Gigaba het vandeesweek die wêreld probeer oortuig dat hy ’n plan het om die ekonomie reg te ruk. Dié welgeklede Ken-pop wat paradeer as die minister van finansies, het helaas hopeloos misluk.

Wat Dawie gadegeslaan het, was maar net nog ’n sameflansing van holruggeryde kitsfrases sonder enige inhoud. Net soos wat ons jaar ná jaar wanneer die regering sy tasse vir die beraad van die Wêreld- Ekonomiese Forum in Davos pak, hoor dat Suid-Afrika eintlik “ ’n goeie storie het om te vertel”. Want Suid-Afrika is mos “oop vir sake”, jy sien.

Wel, in die nadraai van die string Gupta-e-posse wat die omvang van die staatskaping die afgelope weke duidelik gemaak het, weet ons Suid-Afrika ís “oop vir sake” – so oop dat ons belangrikste staatsinstellings aan die Guptas uitverkoop is.

Om onder dié omstandighede te dink mooipraatjies, ’n netjiese pak klere en ’n windmaker Windsor-dasknoop gaan die wa deur die drif trek, grens aan waansin.

En dit was Albert Einstein wat gesê het dat dit waansin is om ’n ander resultaat te verwag terwyl jy dieselfde ding oor en oor doen. Dít is presies wat die regering doen om die wêreld te probeer oortuig dat Suid-Afrika ’n beleggersvriendelike bestemming is.

Dit bring ons egter nêrens om die groeiende vrese oor die stand van die ekonomie met goedkoop kitsfrases te probeer besweer nie. Dit deug ook nie om die vrese bloot as “Afro-pessimisme” af te maak nie.

Die werklikheid is dat Suid-Afrika agter raak by ander Afrikalande weens die groeiende opvatting dat hy nie ’n beleggersvriendelike bestemming is nie. Van dade om dié opvatting om te keer, eerder as praatjies, is daar bitter min sprake.

Om dan van die een driepuntkrisisplan na die volgende vyfpunt- of negepuntplan te strompel gaan ons negatiewe beeld nie omkeer nie. (Dit help natuurlik ook nie dat Zuma in ’n parlementêre vraesessie net twee van die nege punte kon onthou nie.)

Daar is byna geen kans op ekonomiese herstel solank Zuma in die Uniegebou sit nie.

Wat wel sal help, is om weg te kom van vae versugtinge en bestendige bestuur aan die dag te lê. Wys die buitewêreld dat die regering ernstig oor die inwerkingstelling van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) is.

Wat laasgenoemde betref, het Gigaba maar net weer lippediens aan die NOP betoon. Hierdie aanhaling het Dawie byna stomgeslaan: “Dit is hoog tyd dat individue en groepe wat die Nasionale Ontwikkelingsplan ondersteun het toe ons dit aangeneem het, daad by die woord voeg en nie net die dele ondersteun wat hulle pas nie.”

Wie moet Gigaba ernstig opneem?

Sedert die weldeurdagte NOP, wat onder leiding van Cyril Ramaphosa en Trevor Manuel gestalte gekry het, aangeneem is, het pres. Jacob Zuma self bra langtand daaraan gebyt.

Besmoontlik omdat die plan deur breë oorleg in die samelewing gestalte gekry het, en nie in die donker raadskamers in Luthuli-huis nie, was Nommer Een se voorkeur nog deurentyd by skuldverplasing met temas soos “die tweede fase van die revolusie” of die sagter weergawe in die gedaante van “die tweede fase van oorgang”.

Die jongste inkarnasie hiervan is natuurlik “radikale ekonomiese transformasie”, wat meer akkuraat as radikale ekonomiese sabotasie sou bekend staan.

Want die destydse afdanking van Nhlanhla Nene as die minister van finansies en die vervanging van Pravin Gordhan in dié pos deur Gigaba, is inderdaad niks anders nie as ’n daad van sabotasie.

Die werklikheid wat die land in die gesig staar, is dat daar byna geen kans op ekonomiese herstel is solank Zuma in die Uniegebou sit nie.

Meer oor:  Politiek  |  Barbie  |  Parlement  |  Ken  |  Minister Van Finansies  |  Malusi Gigaba
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.