Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Briewe
Interdikte kweek nie respek

So, ene Hein Gonzales van AfriForum wil die US voor ’n “ultimatum” stel om Afrikaans in die klasse af te dwing, so nie kry hy ’n “interdik” teen die universiteit – dieselfde universiteit waarvan hy aspireer om ’n raadslid te word!

Wat sal gebeur as dié aansoek slaag? Gaan ons ’n polisiebeampte in elke klas sien wat streng gaan kontroleer of daar Afrikaans gepraat word?

Ek stel my voor wat die meeste dosente se openingsinne gaan wees nadat hulle onderhewig gestel is aan so ’n “interdik”: “Dames en here, ek praat met u Afrikaans, nie uit vrye keuse nie, maar omdat ek deur ’n hofinterdik daartoe verplig word. Dit spyt my as u my nie verstaan nie, maar Stellenbosch moet volgens hierdie interdik ten alle koste Afrikaans word, ook al volg u nie wat in die klas aangaan nie”.

Wanneer sal die AfriForum-taalaktiviste besef watter enorme skade hulle die Afrikaanse taal aandoen deur te probeer om met dwang, dominansie en afdreiging mense te dwing om Afrikaans te praat aan ’n universiteit waar die minderheid studente Afrikaanssprekend is en waar die meerderheid studente nie in Afrikaans in die klaskamer belang stel nie? Hoe meen AfriForum om vriende vir Afrikaans te wen as ons net die onversetlike, haatdraende en onvriendelike kant van Afrikaans by hulle sien?

Interdikte om Afrikaans in klaskamers af te dwing, sal ons dalk een of twee veldslae laat wen. Dis ook ’n seker manier om die oorlog te verloor.

Anton Van Niekerk

Stellenbosch

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.