Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Carel Boshoff: ‘Ons skep ons eie toekoms’

Beste Pieter,

Met die etiket van redakteurs se ope briewe aan hul lesers en wie daarop behoort te antwoord, is ek nog onbekend. In jou ope brief aan Cornelius van Rensburg oor verlede naweek se AfriForum-kongres en die dokumentêre rolprent ‘Tainted Heroes’ maan jy hom om nie van mense se vrese misbruik te maak nie, waarop hy antwoord deur dié vrese en AfriForum se hantering daarvan in perspektief te stel.

Daaroor het ek eintlik min te sê aangesien ek, soos jy, ook nie die kongres bygewoon het of die rolprent gesien het nie. 

Lees ook: Cornelius Jansen van Rensburg: ‘Opstaan en selfdoen skep hoop’

En tog was daar iets aan die toon en inhoud van jou skrywe wat my vingers laat jeuk het om daarop te antwoord. Dit gaan oor ons verhouding met ons verlede – dus met onsself – en met ander. Wat jou skynbaar na die pen laat gryp, is daardie ongehoorde verbreking van die politiek korrekte taboe, naamlik om oor apartheid niks anders nie as “ek is jammer! ek is jammer!” te bly prewel. 

Lees ook: ​Pieter du Toit: Moenie vrees, onkunde uitbuit

Wat jy eintlik sê, is dit: “Hoe durf julle Verwoerd aan die woord stel? Weet julle dan nog nie dat ’n mens dit eenvoudig nie doen nie? Dit is duidelik die toppunt van onkunde, ongevoeligheid en uiteindelik isolasie. Om die waarheid te sê, julle lyk (en ek huiwer voor die woord) afvallig! Mense sal begin wonder of julle nie wil afskei nie . . .”

Eintlik wentel die vraag om daardie enkele sleutelwoord wat jy gebruik: afvallig. ’n Mens is afvallig of . . .? Ja, gelowig. Die soort verbintenis wat jy ons almal aan Suid-Afrika wil sien maak, is inderdaad ’n soort geloofsverbintenis, want dit vereis ’n wete van onsienlike dinge. Byvoorbeeld: Al beskerm die staat nie jou lewe of eiendom nie, skuld jy hom nog jou hoogste trou. Al het die staatsinstellings en -instrumente speelbal geword van ’n nuwe elite wat hulle nie aan die nood van gewone Suid-Afrikaners steur nie, dink tog twee keer voordat jy na jou eie belang begin omsien. Al word jou geskiedenis gekriminaliseer, moenie eens probeer om dit uit jou eie oogpunt te verstaan nie, die heersende hegemonie laat dit nie toe nie.

Nou moet ek jou teleurstel, want al kan ek nie namens AfriForum praat nie, kan ek jou verseker dat al minder Afrikaners jou geloof in vandag se Suid-Afrika deel. Al meer van ons raak “afvallig” van die sentralisme en gebrek aan erkenning van gemeenskappe, van die herverdeling sonder groei en ’n groeigerigte beleid, van diskriminasie en plundery, van amper alles waarop Suid-Afrika vandag gebou is. Geen wonder nie dat al meer van ons sê: “Suid-Afrika tweede! Ons sal nou eers na onsself moet kyk.”

En eintlik is dit geen skrikwekkende denkbeeld nie. Dit onderwerp die staatsbedeling waarin ons ons bevind aan die soort oorweging wat Suid-Afrika die afgelope eeu of wat deur minstens vier groot konstitusionele hervormings gevoer het.

Dít eerder as die soort kritieklose buiging voor alles wat die huidige magsorde van jou vra, sal van Suid-Afrika ook staatkundig die gemeenskap van gemeenskappe maak wat dit inherent is.

En as dr. Verwoerd 50 jaar gelede, in sy eie tyd en op sy eie manier, iets daarvan probeer waar maak het, mag ons dit nie weet nie? En as ons dit weet, mag ons dit nie sê nie? Twintig jaar se oorywerige verskoningvraery vir apartheid – wat inderdaad ook misstande en misstappe ingesluit het – het op die owerstes van die ANC-orde net een uitwerking gehad. By monde van pres Zuma, mnr. Mantashe en hoeveel ander: Vergeet van apartheid, begin by Jan van Riebeeck; vergeet van verskoning vra, misken julleself of gee pad!

Pieter, daar sal seker Afrikaners wees wat tevrede is om só onderhorig te bly. Vergewe ons ander tog ons afvalligheid, maar ons skep liewer ons eie toekoms self.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.