Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Carryn-Ann Nel: Die 8 krisisse in hoër onderwys
Carryn-Ann Nel

Daar is ’n ou gesegde dat kinders gesien en nie gehoor moet word nie. Vanjaar het die kinders - en ek bedoel eintlik die studente - opgestaan en laat weet hulle sal gesien en gehoor word.

2015 was sonder twyfel die jaar waarin studente in tersiêre instellings se stem gehoor is. Hierdie studente verwys dikwels na hulself as die “nuwe 1976”.

Ferial Haffajee, redakteur van City Press, sê dit voel vir haar asof die land op die rand staan van ‘n “tweede revolusie ... of dalk die einde van die eerste revolusie”.

Waar dit begin het met standbeelde en taal, draai dit nou om klasgeld. Dis egter nie asof klasgeld ooit in die verlede noodwendig bekostigbaar was nie. Soos ’n twitter-gebruiker onlangs opgemerk het: As ek maar net in my jare as ’n student ook nie so bang was om op te staan nie. As ’n mens ook mooi kyk was dit juis die land se top-3 universiteite - Kaapstad, Stellenbosch en Wits, wat die meeste geraas gemaak het. Ek wonder of dit toevallig is.

Waar hoër onderwys egter nou staan, is ’n ander tipe krisis. Statistieke toon dat slegs 3% van Suid-Afrikaners ’n universiteitskwalifikasie het, dat 50% van eerstejaarstudente nie die mas opkom nie en uit die stelsel val (grootliks ook weens geld), en dat daar nie geld vir arm studente is om ná skool te gaan studeer nie.

Die Nasionale Skema vir Finansiële Bystand vir Studente (Nsfas) kan slegs 4% verhaal van die R6 miljard se skuld. En met min werk in die land, raak dit meer dringender om “iets agter jou naam” te kry.

Drie faktore het die afgelope jaar vir ons almal met die blote oog uitgestaan: Taal, toelating, en toegang. Die “regte” T-opsies. Maar kom ons kyk na ander kwessies wat nou aandag moet geniet:

1. Die agterstand van die verlede wat steeds ingehaal moet word: ’n Student het aan my gesê dat sy ma leef op haar maandelikse maatskaplike toelaag van R1 000. Weet ons werklik hoe ver daardie R1 000 moet strek?. Die een Sasco-sekretaris, Naledi Maponopono, het dit vir my so goed opgesom: “Our degrees cost more than the schacks we live in.”

2. Toegang: Maar klasgeld is vir ALMAL duur. Almal betoog dalk nie, maar dit raak almal - wit, swart, Indiër en bruin - se sak. Ek het amper gister op my rug geval toe ek sien dat studente aan die UK voor 6 Februarie R24 000 moet neersit voordat hulle selfs ’n klas bygewoon het. Ongelukkig is daar weens korrupsie in die Nsfas byna geen geld beskikbaar vir studente om uit die staatskas te studeer nie en weet ons almal dat die regering nie mooi boekgehou het deur dat die staat se subsidie aan universiteite nie met inflasie bygehou het nie. So wie het toegang om te studeer?

3. Voorbereiding op skool: Ons skoolonderrig moet ook pa staan vir wat op universiteite gebeur. Die gemiddelde student van ’n swak townshipskool sukkel om op universiteitsvlak te kan meeding, omdat hulle uit wanfunksionele skole wat hulle nie “goed genoeg” voorberei het nie. Dit is ’n feit. Maar dit is nie beperk tot swart studente nie - universiteitsleiers praat dikwels oor die algehele swak voorbereiding in vakke soos wiskunde en wetenskap wat op skool gedoen is. ’n Gebrek aan moedertaal-onderrig speel ook ’n rol.

4. Taal: Natuurlik speel taal ’n rol. Dit maak studente steeds kwaad om in Afrikaans te moet leer. Daar is studente wat ’n tolkdiens verpes. Daar is studente wat se dis hul reg om in Afrikaans te studeer. Dan is daar studente wat woedend is dat hulle nie hul B.Com-graad in Zoeloe kan studeer nie. Dr. Graham Dampier, ’n senior navorser aan die Universiteit van Johannesburg se departement vir akademiese ontwikkeling en ondersteuning, meen ons word gedwing om weer eens te erken dat Afrikaans in die Suid-Afrikaanse geskiedenis as ’n vorm van verdrukking en onderwerping gebruik is. Dit is ook gebruik om mense uit ’n vorm van onderrig, die ekonomie en die vrye samelewing uit te sluit. Daar is vandag steeds ’n negatiewe konnotasie en slegte ondervindings daaraan gekoppel.

5. Wat van Engels?: Hoewel dit waar is dat Suid-Afrikaanse universiteite meer gegradueerde studente as ooit tevore produseer, hoor ons dikwels hoe onopgewasse en swak opgelei hulle is, se Dampier. Studente wat nie in hul moedertaal studeer nie, sukkel steeds. “In die meeste universiteite is Engels die voertaal, die mees vervreemde amptelike taal domineer steeds die ander tale. Laat ek dit duidelik stel, dit is absoluut ondenkbaar dat Afrikaans, 20 jaar ná demokrasie, by enige Suid-Afrikaanse universiteit as ’n voertaal gebruik word, terwyl geen ander Afrika-taal dieselfde status geniet nie. Deur nie ’n taalbeleid oop te stel om ander amptelike tale in te sluit nie, kom neer op ’n sekere vlak van selfvoldane (complacency) met die ongelykhede nalatenskap van apartheid. Dit is net nie ’n getransformeerde instelling nie.

6. Almal skree “transformasie”, maar soms wonder ek of ons werklik weet wat moet transformeer. Gratis universiteite? rasse-kwotas, ontwikkeling van Afrika-tale, meer vroue in bestuurslui en as professors, die verwydering van Afrikaans op alle universiteite?

7. Leierskap: Studente het min vertroue in die minister van hoër onderwys en opleiding, dr. Blade Nzimande, se vermoë om hierdie krisis in die onderwys te red. Trouens, hy wil self daarna nie as ’n krisis verwys nie, maar as ’n uitdaging. ’n Mediese student sê die minister het te laat wakker geskrik en wil net nou mooi woorde uiter. Tog blyk dit daar is ’n groter probleem van bo af, met uitsprake van prof. Malegapuru Makgoba, voormalige visekanselier van UKZN, dat slegs EEN van die land se 37 visekanseliers geskik is vir die pos. Ek wonder wie? Dit terwyl die visekanseliers van Kaapstad, Bloemfontein, Noordwes nie by die beraad gesien is nie. Maar hulle het seker verskonings gehad.

8: Ons leef in ons eie hoekies: Dit is seker een van die grootste hekkies wat ons nie graag wil oorsteek nie. Ons wil nie oor ons eie vasteland, mekaar se taal en kultuur leer ken nie. Aan die UKZN is dit vandag verpligtend vir alle studente om ’n module in Zoeloe te neem as deel van die voltooiing van die kursus. Wat ’n goeie voorbeeld.

Baie vrae hang in die lug en waaroor ons vorentoe oor verder kan dink:

Is die huidige opstand teen instellings of is dit teen die regering? Wat oor die eksamen wat oor twee weke begin? En laastens - is dit ’n reg of ’n voorreg om vandag ’n student te wees?

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.