Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Charles Smith: SA onder beleg deur terroriste, dis net ons eie
Charles Smith

New York, Washington, Londen, Boston, Bagdad, Nairobi, Ankara, Parys en Brussel.

Duisende mense is die afgelope 15 jaar in aanvalle deur Islamitiese terroriste in die wêreld dood. Nóg duisende het in Jemen, Sirië, Pakistan, Somalië en Sirië gesterf.

Steeds is dit minder as die 18 000 of meer mense wat elke jaar in Suid-Afrika alleen vermoor word. Dis meer as 250 000 moorde in dié tyd in die Beloofde Land.

Dis bitter baie trane, woede en trauma.

En meer as 370 000 mense (baie konserwatief bereken) wat in die amper 22 jaar van ’n demokratiese bestel doodgeskiet en -gesteek is. Baie van hulle is vroue wat eers vermink en verkrag is.

Maak jou gereed vir die ja-maars. Die verskonings, verduidelikings en vermanings en die persoonlike aanvalle deur die sogenaamde kenners. Die feit bly: Ons is vandag nie net Brussel, Parys, Londen en Ankara nie. Ons is Sirië. Ons is onder beleg van huishoudelike terrorisme. En die gevaarlikste van dit alles, is dat ons veel meer oor Zuma en die lafhartige ANC praat en skryf as oor wat regtig in die land gebeur.

Die hele Amerika het ’n uitstekende vroeë waarskuwingstelsel teen terrorisme. Nog nie teen huishoudelike skoolskieters nie, maar hulle neem ten minste aanvalle van buite ernstig op. Die Britse owerhede het al ’n week gelede gewaarsku teen verskeie aanvalle wat in Londen beplan word. Parys is permanent op ’n gereedheidsgrondslag.

Maar ons? Hier word polisielede se selfoontoelae gesny. Die veiligheidsdienste werk om die korrupte staatshoof uit die tronk te hou. En niks, niks, niks word van bo gedoen om die stroom bloed te keer nie. Daar is geen hulp vir die mense wat geliefdes verloor het nie.

Praat met een mens wie se geliefde vermoor is. Boervroue, kinders, werkloses in plakkerskampe, slagoffers van ’n gewelddadige huisroof. Dan besef jy wat skort: Ons land ly aan massiewe trauma.

Roer daarby in die droogte, ekonomiese krisis, ongekende korrupsie en vermorsing en ook werkloosheid. Mense begin hoop verloor. Om dán van ’n korrupte president te hoor ’n wet word teen rassisme beoog asof dit ’n kitskuur is, is om net jou kop van te skud.

Ons sê: Kry ’n holistiese plan. Beveg moorde. Beveg misdaad. Beveg rassisme – met alle mag. Maar beveg korrupsie óók. Beveg ons swak skoolstelsel en vrotter regering. Ons is in ’n politieke drukkoker wat terrorisme kweek. Hulle is net nie Islamitiese djihadists nie. Óns kweek hulle – en hulle word toegelaat om te moor, te verkrag en te plunder. Ons bloed vloei ook in die strate soos in Brussel, Ankara en Parys. Soos in Irak. En in Sirië.

Red een mens – met werk, kos, respek. Voordat hy ’n terroris word. Of erger, ’n politikus.

Meer oor:  Charles Smith  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.