Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Charles Smith: Wat sal jy maak as jy in Zuma se plek oorneem?

Ons weet chief Zoempies se dae is feitlik getel. Vandag gaan hy ’n politieke skop onder die jis in die grondwethof kry wat die Zupta-troon gaan skud.

Maar al word hy na Robbeneiland gepos, gaan Mahalaland nie oornag ’n beter plek word nie. Die ANC is nog hier. Jip, net die idee is erg genoeg.

Malema en sy Rooimiere kan oorneem. Al die rassiste en die politiek korrektes, daai politieke bosluise onder die Zuma-koei se stert wat almal vergiftig, sal steeds met ons wees. En daar is baie van hulle. Maar wat sal jy doen as jy chief Zilts se werk kry? Nie as hoofslurper van Zupta Onbeperk nie, maar as waarnemende president van Suid-Afrika – met die opdrag om die land weer op koers te kry.

Dis iets wat jou laat dink. My instink sal wees om onmiddellik die parlement op te skort en ’n veelpartykomitee te kry wat met behulp van ouditeurs elke begroting en tender oorneem. Jy hoor al hoe skrou daai ANC-jakkalse uit hul Mercs en Beamers: Verraad, verraad! Want oornag word hulle van die bron van alle kwaad afgesny. En word tenders regverdig toegeken en kan hulp, welvaart en ander bronne deurvloei na die mense wat dit die nodigste het. Die armes, die goeies, die politiek weggegooides.

Die volgende stap is om ’n reuse-bouprogram te begin soos in Amerika ná die Depressie om die land aan sy eie skoenveters op te trek. Bou dorp vir dorp, pad vir pad, koshuis vir koshuis. En nuwe universiteite en skole. Die geld? Gebruik dié wat die ANC-regering elke jaar vermors en steel. Stig boukomitees in elke gemeenskap om mense te lei, en kry biblioteke aan die gang en kinders aan die speel, leer en studeer. Smoor misdaad só, ondersteun kerke en verenigings en kry groepe om sélf inisiatief te neem.

Jy sal baie verder moet gaan, ek weet. Beperk drankwinkels, beperk motortoelae vir ampte­-nare op sê R250 000 en betaal raadslede en burgemeesters veel minder. As jy iets oplos en bydraes lewer, kan jy meer betaal word. Hou net die Guptas en ander trogvreters uit alle mynbou.

Ek glo aan ware 50-50-grondherverdeling. Ons kan 50% swart boere volhoubaar vestig, mits die staat wegbly. Bou onderneminghubs vir groepe swart boere met ’n bestuurder wat die finansies en trekkers, brandstof, saad en arbeid hanteer. Dra kennis oor en bou ’n muur tussen ons en die hulpeloosheid wat soos ’n reuse-stof-tsoenami alles bedreig.

’n Miljoen wette gaan ons nie red nie. Demokrasie alleen gaan ons nie red nie. ’n Nuwe doelwit, ware demokrate, harde werk, deelnemende gemeenskappe en die skep van ware leiers wat hul mense eerste stel. Dis hoop waarin jy kan glo. Jy kán ’n verskil maak, al is jou geliefde Suid-Afrika net ’n plek waaraan jy in jou kop en hart en om jou begin bou.

Meer oor:  Zuma  |  Goeiemôre  |  Charles Smith
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.