Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die lesse van Trump vir SA
Charles Smith

Daar trek die Amerikaanse kiesers toe ’n Trump-kaart duisend op die hele wêreld. Die verkiesing van Donald Trump, ’n afknouerige miljardêr-sakeman met ’n los mond, as die nuwe Amerikaanse president is seker die domste, dapperste ding wat nog in die Westerse wêreld gebeur het.

Dit is demokrasie in sy rouste, allerverskriklikste vorm en juis daarom is dit eenvoudig briljant. Die kiesers van Amerika het met ’n duidelike stem van hulle laat hoor en die stelsel reageer onmiddellik. Hul stem vir Trump was juis omdat hulle keelvol is vir die stelsel en die Washington DC-establishment. Op een dag is ’n einde gebring aan die Bush- en Clinton-dinasties en dit is ’n baie goeie ding.

Al sê Trump en die Trumpeteers wat oor Obama en sy beleid, is dit ’n feit dat hy Amerika ná George W. Bush se bewind, Irak- en Afganistan-oorloë én die ekonomiese krisis na kalmer water gestuur het. Dit het dalk tot die frustrasie onder die blouboordjie- Yanks gelei. En vir hulle was die idee van die Clintons terug in die Withuis (ná al die skandes van vroeër) soos ’n dubbele porsie ou, muwwe pampoentert, terwyl die held van die oomblik vars appeltert met room belowe. Die keuse was eintlik maklik.

Dit is waarskynlik een van die laaste kanse waarin die wit, konserwatiewe kiesersblok hul meerderheidstem in Amerika kan uitvoer. Die vrese teen immigrante, Moslems, Isis en hul werksgeleenthede wat na China en Brasilië vloei en die te gunstige ooreenkoms oor kernwapens met Iran is verwoord. Die stembus het gereageer en Washington DC moet luister.

In Yankland gaan daar nog lank geredeneer en baklei word oor waar Hillary Clinton die verkiesing verloor het en wat die FBI se rol hierin was. ’n Mens kan dit vir hulle los. Die kort en die lank is sy is nie vertrou nie en Trump het die vrese briljant uitgebuit. Dit is geskiedenis.

Lewe die vrese en vooroordele in jou soos hy onder wittes in Amerika losgemaak het?

Die vraag is wat Suid-Afrika uit Trump se oorwinning kan leer. Bloot die idee van pres. Jacob Zuma se eerste ontmoeting met Trump in die Withuis laat jou hare rys. Waaroor gaan hulle gesels? Zuma was doodbang vir Obama (oor sy duidelike afkeer van Afrika-diktators). ’n Mens kan net dink hoe hy oor Trump voel wat ’n broertjie dood het aan politieke korrektheid. 

Eerstens moet elkeen van ons wit Suid-Afrikaners vandag in die spieël kyk en vra: Kyk Trump na jou terug? Lewe die vrese en vooroordele in jou soos hy onder wittes in Amerika losgemaak het? Dan moet swart Suid-Afrikaners ook in die spieël kan kyk en vra: Hoekom ondersteun baie van ons steeds Zuma nadat hy die land op die rand van die afgrond gebring het?

Die belangrikste les van die Trump-oorwinning is hoe hy dit reggekry het om teen alle verwagting in die politieke appelkar om te gooi. Hy het ons gewys dat jy lynreg die heersende orde moet aanvat, aan die strot moet ruk en uitdaag. Jy moet soos Faf du Plessis vol selfvertroue op die veld stap al is jou span op 32/4 diep in die moeilikheid. En ons weet Suid-Afrika is kniediep in die moeilikheid.

Suid-Afrikaners moet die Trump-les ter harte neem en met alle ywer en met elke geleentheid wat die demokrasie bied, die mure van Fort Zuma stormloop. Die kanse moet aangegryp word terwyl ons nog ’n demokrasie het. Thuli Madonsela, die vorige openbare beskermer, het ’n goue koevoet gegee om die mure te begin afbreek. Die res is in ons en die opposisie se hande.

Die wêreld gaan lank rou oor Trump. Die kiesers het hul stem uitgebring en basta. Dis ons beurt om ons stem teen Zuma dik te maak. Om te kla help nie. Die Yanks het ons gewys hoe.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.