Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Migrasie weg van Kovsies oor taal, veiligheid

Afrikaans is dood. Lank lewe Afrikaans!

Dis hoe ’n mens die jaar 2016 en die aanslae teen Afrikaans opsom – veral op ons kampusse. Die oorlog teen Afrikaans deur die rektore en bestuur van die Universiteite van die Vrystaat en Stellenbosch was fel. Dit gaan eindelik deur hofsake besleg word.

Prof. Francis Petersen se aanstelling as die nuwe rektor van die UV, is die beste nuus ná ’n jaar van verwoesting en plundering aan hierdie eens trotse instelling. Petersen dink die nuwe Engelse taalbeleid (wat nog in die grondwethof gaan draai) is goed, hoewel hy ’n groter pragmatis as sy voorganger, prof. Jonathan Jansen, is. Dit is egter nie só maklik om op die Engelse wa te klim en te dink die paadjie na Happy Valley is vol rooi rose nie.

Petersen sal die omvang van die verwoesting eers in die oë moet kyk. Die opstande in die naam van #FeesMustFall en die opstokery deur senior personeel het die UV letterlik op sy knieë gedwing – geldelik en operasioneel.

Eksamens moes in kerksale en in vakansieoorde afgelê word, dikwels net met ’n SMS oor waar ’n uur of wat voordat die vraestel uitgedeel moes word.

Afrikaans is in hierdie chaos gegooi om die opstokers aan te hits én die transformasie-oorlog vir eie gewin te swaai. Die effek was die teenoorgestelde. Waar Afrikaans verwoes moes word, is Kovsies swaar gewond.

’n Ongekende migrasie weg van die UV is aan die gebeur. Sover bekend gaan nie een van die Hoër Meisieskool Oranje, een van die topskole in die land, se matrieks na Kovsies nie.

Vanjaar het die Pukke ’n rekordgetal aansoeke van Oranje en Grey-kollege gekry. In die afgelope twee jaar het die Pukke vier busse vol matrieks uit Bloemfontein aangery – net om hulle die kampus te wys.

Die onrus op die UV-kampus – én die aanslag op Afrikaans – het die belangstelling aangewakker. Voornemende studente verlang ’n stabiele, veilige omgewing. Die mees onrusbarende feit is dat talle senior studente aan Kovsies hul studies hier gestaak het om dit aan die Pukke voort te sit – al beteken dit dat hulle sekere vakke weer moet doen en langer sal moet studeer.

Die Pukke se koshuise is stampvol en die waglyste lank. Die afsnypunt vir toelating tot die koshuise is al 80% in matriek. Dit is almal studente wat kontant betaal. Nie een is teen ’n veeltalige universiteit nie. Hulle wil net studeer in ’n plek waar hulle nie fisiek en politiek geteiken word nie en veilig kan voel. As die Kovsies die bloeding kan oorleef, is dit goed.

’n Senior akademikus en een van die top-bestuurders van ’n universiteit sê egter dit gaan tien jaar neem om die UV reg te ruk.

Ons hoop en bid dit gebeur.

Vir elke aksie is daar ’n teenreaksie.

Kovsies het sy keuse uitgeoefen. Die gevolge is ’n nekslag vir die UV.

Dit is nou tyd vir die regte besluite.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.