Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Terug na waar hy begin het
Christopher Kindo gesels oor sy vol lewe en vrede met sy lot
Hier in Simonstad, waar hy uitkyk oor dieselfde berg en dieselfde baai wat hy as kind leer ken het, het hy leer vrede maak met sy lot. Die danser en choreograaf Christopher Kindo gesels met WILLEMIEN BRÜMMER oor sy vol lewe en sy stryd teen kanker.
19 November 2014: Christopher Kindo, legendariese danser en choreograaf, het vrede gemaak met sy kanker-diagnose. Hy is nou ná 44 jaar terug in sy grootwordhuis in Simonstad. Foto: Jaco Marais
1984: Een van die grootste rolle van Christopher Kindo se loopbaan was in Four Temperaments van George Balanchine. By hom is Juanita en Genevieve Yazbek. Foto: Verskaf
1995: Christopher Kindo in sy beroemde en bekroonde stuk Me & You – die hoogtepunt van sy loopbaan as choreograaf en danser. Hier was hy in Switserland op toer saam met die Free Flight-dansgeselskap. Foto: verskaf
1984: Christopher Kindo in die rol van Oberon, koning van die feetjies, in Kruik-ballet se A Midsummer Night’s Dream. Voor is Carol Kinsey as Titania en links agter is wyle Jack Wyngaard as Puck. Suid-Afrika se prima ballerina assoluta, Phillis
Christopher Kindo en Carmen Patterson in die hoofrolle in die kontemporêre dansstuk “Sea Moves”, gechoreografeer deur Sonja Mayo. Dit was vir Truk-dansgeselskap in 1989. Foto: verskaf
1994: ’n 38-jarige Christopher Kindo in Yeovillepark, Johannesburg toe hy vir die Free Flight-dansgeselskap gedans het. Hy was adjunk-artistieke direkteur van dié geselskap. Foto: wulf treu

‘My hele lewe speel voor my af sedert ek terug in Simonstad is,” sê hy en kyk na die waterval by Mount Pleasant waar hy in sy kindertyd gespeel het.

Christopher Kindo, legendariese danser en choreograaf, het immers ’n sirkelgang voltooi. Vir die eerste keer sedert sy familie 44 jaar gelede na Ocean View moes trek, is hy terug waar hy begin het: In Cardiffstraat, Simonstad, waar die Kindo’s sedert 1861 dieselfde waterval, dieselfde berg en dieselfde strand by Long Beach gesien het.

Op 59 weeg dié eens gespierde balletmeester egter ’n skrale ­57 kg. Hy’t kanker van die slukderm in stadium vier en sy dae en nagte word met morfien versag.

“Vir die eerste keer in my lewe het ek opgehou werk, en ek het oorgenoeg tyd om te dink en om gate in te vul en om van woede ontslae te raak  . . . ”

Hy aarsel waar hy op die bank sit, omring deur toekennings en ’n lewensgrootte tekening van sy gespierde rug en profiel.

“Nee, nie woede nie. Dis net dat wanneer daar ook al probleme was or if people did me harm or God forbid I did anyone harm, I would always walk away. Daar’s baie unfinished business, maar ek het nou berusting gevind.”

Toe hy in April vanjaar teruggetrek het na Cardiffstraat en die grond wat sy familie intussen danksy ’n grondeis teruggekry het, was dit ’n katarsis. “Veral as ek nou die berg sien vanuit dieselfde hoek as toe ek ’n kind was . . . Die feit dat ek intussen soveel gelewe het en nog nie terug was nie,” sê hy en staar vir ’n oomblik deur die ruit.

Oorboord van 'n skip

Sy familiegeskiedenis in Simonstad begin toe sy oupagrootjie Kibo Kindo in 1835 van ’n seerowerskip oorboord gegooi is. Dié skip is agternagesit deur die Britse vloot wat geveg het vir die afskaffing van slawerny.

Toe die seerowerskip se bemanning besef die Britte kry die oorhand, het hulle al die slawe langs die Kaapse kus oorboord gegooi. Baie het verdrink, maar die jong Kibo Kindo, genoem na sy geboortestad Kindu in die Kongo, is deur Britse matrose gered en by Simonstad aan wal gebring.

’n Sendeling het die tiener onder sy vlerk geneem en uiteindelik het hy op grond van die Metodistekerk begin boer. In 1861 het hy die grond gekoop en ’n huis opgerig. Dié huis het in die Kindo-familie se besit gebly totdat Christopher 15 jaar oud was.

Hy glimlag. “Dis hier waar die dansery begin het. Daar was mos nou nie TV gewees nie, so ons het gegaan na die Criterion-bio­scope, wat nou ’n restaurant is, om dansrolprente te gaan kyk. Ons het gedans in die strate, op die railway tracks, op die treine, op die platforms en toe kry die Youth Centre by die Royal Alfred Hall hulle eerste dansonderwyser vir ons, Cecil Jacobs. Ek was nege toe ek begin het met ballet.”

'n Spookdorp

Op 1 September 1967 is Simonstad ingevolge die Groepsgebiedewet tot ’n “wit gebied” verklaar. Die Kindo’s was van die laastes wat getrek het.

“Ek onthou hoe almal rondom ons uitgetrek het en die plek ’n spookdorp geword het. Elke huis was uiteindelik leeg en ek het op die stoep gestaan en vir mnr. Erispe gesien wat die mooiste tuin gehad het in die hele Simonstad. Ek onthou hom nog agter in die van met al sy furniture en sy hond en al sy plantjies rondom hom. Net ’n klein tuintjie kon hy saam met hom neem. Dis die laaste image wat ek van Simons­town het.”

Van hier is sy ouers en hul vier kinders na Ocean View, waar hulle probeer vergeet het van die huis wat Kibo gebou het.

Christopher het egter aangehou dans en in 1976 het hy ’n beurs gekry om ballet aan die Universiteit van Kaapstad te studeer. Weer het die stelsel hom gekniehalter.

“Ek moes ’n permit hê om na die universiteit te kan gaan – ’n stukkie papier wat ek oral met my moes saamdra om te sê ek mag op die campus wees. In my derde jaar het ek die prys gekry as die beste student in my klas.

“Ek het blerrie hard gewerk. Soggens om sesuur het ek op die trein geklim vanaf Ocean View sodat ek agtuur in die klas kon wees. As ek klaar was by die balletskool, het ek Kaapstad toe gegaan om Sonja Mayo se klasse in jazz en kontemporêre dans by Jazzart by te woon. Sewe-uur was die laaste bus en dan moes ek baie aande huis toe ryloop van Vishoekstasie af.”

Vir ’n wit balletstudent met sy talent was dit ’n gegewe dat hy deel van Kruik se balletgeselskap sou word. Ten spyte van verskeie beloftes dat hy Kruik se eerste gekleurde danser sou word, is hy egter aan ’n lyntjie gehou.

“Ek het my mond daaroor oopgemaak in die koerante. Terselftertyd is ek ’n kontrak aangebied deur die Boston-balletgeselskap in die VSA. Ek het nege maande vir ’n antwoord van Kruik gewag, maar toe hulle die derde keer van ’n vergadering met die regering terugkom sonder ’n antwoord, het ek maar Amerika toe gegaan.”

’n Jaar later het hy teruggekom vir ’n vakansie en toe besluit om in Suid-Afrika te bly omdat Kruik uiteindelik gereed was om vir hom ’n kontrak aan te bied. Eers het hy egter een van die stigterslede van Jazzart (toe Sue Parker Jazzart and Contemporary Dance Company) geword – die heel eerste kontemporêre dansgeselskap in die land.

“Oe, dit was lekker. Ons het jazz en contemporary gedoen en ons het nie veel daarvanaf geweet nie, maar ons het gedink ons is baie hot.”

Romeo en die balletskoene

In 1982 het hy voltyds by Kruik aangesluit en hy het gou begin om manlike hoofrolle te dans.

“Die grootste, grootste rol was in George Balanchine (balletmeester en choreograaf van die New York stadsballet) se Four Temperaments. Almal wou die solo in “Melancholic” (die eerste variasie) gedans het en ek het dit gekry – o vader, ek het dit gekry.”

Hy gloei, en vir ’n oomblik sien jy hom teen ’n blou agtergrond sweef in dié gestroopte neo-klassieke meesterstuk wat in ’n groot mate gehelp het om die rol van ballet te herdefinieer.

Die ander hoogtepunt by Kruik was toe hy gekies is as Romeo in Veronica Paeper se Romeo and Juliet. “Toe Veronica dit vir my vertel, het ek gebollemakiesie deur die hele Nico Malan.”

Maar toe, op die aand van die finale kleedrepetisie, is sy balletskoene weg.

“People don’t know what preparation it takes. Jou costumes moet perfek pas, die hare moet reg wees en jou balletskoene moet ingedra wees – jy kon nooit in nuwe skoene dans nie, want dit was van leer en moes ge-dye wees sodat dit gemaklik sit.” Hy sug. “Iemand moes die skoene gevat het. Ek het geweet wie dit was, maar wie sou my glo? Ek wag nóú nog vir die apology. Ek het gedans tot die beste van my vermoë, maar ek was baie nervous. Ek het gedink daai nuwe skoene gaan my doodmaak . . .”

Hy staar na al sy toekennings bo die kaggel.

“Ek was daar vir net nog ses maande, en toe waai ek. I just walked away want dit was net ondraaglik om te dink dat hierdie persoon steeds gedans het en almal het gedink ek dra stories aan.”

Hierna het sy loopbaan as choreograaf vlerke gekry. Hy was by verskeie dansgeselskappe – eers by die streekdiensteraad in Natal, toe in Johannesburg waar hy ’n stigterslid, choreograaf en dansmeester van die Truk-dansgeselskap was en later by die Free Flight-dansgeselskap, waar hy adjunk- artistieke direkteur was.

Terwyl ek vir die uitslae gewag het, het ek reeds die ergste verwag, en toe ek die ergste hoor, was dit nie so erg nie.

In ’n dansloopbaan van ’n halfeeu het hy al enigiets gedoen – van die choreografie vir oudpres. Thabo Mbeki se inwydingseremonie tot ruwe diamante vir die kykNET-realiteitsreeks Dans! Dans! Dans! slyp.

Die hoogtepunt van sy choreografie-loopbaan was toe hy die Truk-dansgeselskap verlaat en vir homself ’n solo gechoreografeer het, genaamd Me.

“Dit was my farewell solo en ek het net alles waarvan ek hou, gechoreografeer – my kulturele identiteit en die invloede op my. Die meeste pryse wat ek gewen het, was daarvoor. Later het ek die ballet uitgebrei na ’n stuk vir 12 dansers – en ek het dit Me & You genoem.”

Dié stuk is in September vanjaar vir die hoeveelste keer deur Dance for a Cure in die Lyric-­teater in Gold Reef City in Johannesburg opgevoer – dié keer om geld vir hom en vir servikale kanker in te samel.

Sy mond rem af.

“Ek kon dit nie bywoon nie, want ek was te siek.”

In Julie vanjaar kon hy weer nie ’n opvoering ten bate van sy mediese kostes bywoon nie. Dié keer was dit Rust Coloured Skirt deur Alfred Hinkel se Garage Produksies.

Mary, sy skoonsuster, het die uitvoering in die Kunstekaap- teater bygewoon.

“Dit was pragtig, absoluut pragtig,” vertel sy later. “Al die kaartjies was uitverkoop en daar was so baie mense daar in die Kunstekaap dat hulle in die gange gesit en gestaan het en waar hulle ook al ingedruk kon word.”

Die ergste verwag

Die ondersteuning van die dansgemeenskap was vir Christopher ’n lewenslyn. Toe hy in April vanjaar met kanker gediag­noseer is, was hy sonder ’n mediese fonds. In dié stadium was hy op pad na Durban waar hy twee ballette moes choreografeer. ’n Paar dae voor sy vlug is hy dokter toe omdat hy gesukkel het om te sluk.

“Die dokter het my hospitaal toe gestuur, waar nog ’n dokter vir my gesê het: ‘Jammer, jy kan nie nou Durban toe gaan nie, jy’t dalk kanker.’ ”

Hy laat sak sy kop.

“Terwyl ek vir die uitslae gewag het, het ek reeds die ergste verwag, en toe ek die ergste hoor, was dit nie so erg nie. Ek het dit in elk geval verwag. Ek het nie ’n mediese fonds gehad nie, toe moes ek na ’n staatshospitaal gaan.”

Hier het hy gehoor hy het ’n kwaadaardige gewas aan sy slukderm. Die kanker het toe reeds na sy limfkliere versprei.

Ná intensiewe chemoterapie en bestraling was hy weke lank siek.

“Ek kon nie eet nie, ek kon nie eens na kos kyk nie, ek kon niks doen nie. Ek was swak, ek was maer. Ek het gedink as ek nie weer kan eet nie, wil ek nie meer leef nie.”

Aanvanklik het hy sy diagnose vir sy vriende en familie weggesteek, maar ’n week ná sy eerste chemo-behandeling het Mary haar voet neergesit.

In 2003 het die Kindo’s hul grond in Simonstad ná ’n uitgerekte stryd van meer as 11 jaar teruggekry. Christopher se boukontrakteur-broer, Percival, het die grond van die res van die familie gekoop en in 2005 ’n huis op die fondamente van die oue opgerig. Op die voordeur pryk die woorde: Kindo Villa 1861.

Vandag het Christopher vanaf sy bed ’n volmaakte uitsig oor die see en die berg – om die ledige ure te verwyl hekel en brei hy.

Hy glimlag.

“Ek is baie dankbaar dat ek nou hier kan woon. Percy se vrou is nou my nurse. Sister Mary-Ann.”

Op ’n manier is sy verblyf in Simonstad ook ’n afskeid. Sedert hy hierheen getrek het, het hy die chemoterapie en behandeling gestaak.

Mary glimlag.

“Sedert hy die terapie gestaak het, is dit die eerste keer dat hy so goed lyk. Hy kan regop sit. Tevore kon hy nie eens uit die bed klim of TV kyk of op enige iets konsentreer nie.”

Hy staar ’n oomblik voor hom uit voordat hy die videokasset inglip met hom as Romeo in Romeo en Juliet, waar hy dolverlief oor die verhoog in die pas de deux sweef.

“Ek het vrede gemaak met my lot. Hoekom nie? Ek is nie bang vir die dood nie. Ek het ’n goeie lewe gehad en het alles gedoen wat ek wou.”

■ Willemien Brümmer is ’n skrywer en ’n joernalis van By.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.