Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
10 maniere waarop jý die wêreld kan verander
Lindie van Gass. Foto: Martin de Kock
Lindie van Gass. Foto: Martin de Kock

Daar is gemak in afstand.

As ons onsself distansieer van verantwoordelikheid, kan ons mos rustig slaap in die aande met die wete dat iemand anders sal sorg of sal doen. Of nie sal sorg of doen nie – in watter geval ons dan kan vinger wys.

LEES OOK: Kan etiese gedrag aangeleer word?

Op 8 Mei 2019 het miljoene Suid-Afrikaners ’n kruisie gaan trek vir verandering. Vir massas het die kruisie beteken dat hulle deel nou gedoen is.

Nou kan ons sit en wag dat die politieke partye iets doen omtrent alles waarmee ons nie gelukkig is nie en indien dié poging misluk, mag ons die skuld aan iemand anders toeken.

Hier is ’n realiteitskok: Ons kan nie die wêreld verander sonder om ons eie hande vuil te kry nie. En nee, die merk op jou duim tel beslis nie as vuil genoeg nie.

Hier is ’n realiteitskok: Ons kan nie die wêreld verander sonder om ons eie hande vuil te kry nie. En nee, die merk op jou duim tel beslis nie as vuil genoeg nie.

Dieselfde beginsel geld as jy net ’n monetêre tiende gee elke maand sodat jy met vrede in jou hart aanploeter met jou lewe sonder te veel skuldgevoel. Dis skokkend wat ons alles sal doen om, sonder om ’n vinger hoef te lig, ons gewetes te sus.

Maak ’n verskil

Verandering is in ons almal se hande en dit kan jou lewe ongelooflik verryk. Ek en jy kan ’n verskil maak in Suid-Afrika (of waar ook al ons onsself bevind).

Hier is vir jou solank tien voorbeelde (deel gerus jou eie idees):

1. Gee jou tyd en jou talente. Bied verniet klasse aan by skole waar die kinders nie toegang het daartoe of dit kan bekostig nie. As jy goed is in houtwerk, maak ’n mooi meubelstuk en gee dit vir iemand. Gebruik die talente waarmee jy geseën is.

2. Reël ’n skoonmaaksessie in jou area.

3. Raak betrokke by ’n liefdadigheidsorganisasie in ander maniere as net finansieel.

4. Wees ’n voorbeeld; wees teenwoordig. Moeder Theresa het gesê: “As jy die wêreld wil verander, gaan huis toe en wees lief vir jou familie.” Sit neer die fone en tablette. Skakel die televisie af. Geniet weer saam aandete om ’n tafel.

5. Wees kleurblind. Wees blind vir ras, taal, geslag, seksuele oriëntasie, of rugbyspan. Behandel almal met dieselfde respek as wat jy verwag, of selfs meer.

6. Leer by mekaar en van mekaar. Leer woorde in ander tale en tradisies en selfs kos. Ons is ryk aan diversiteit in hierdie land – vier dit. Praat met mense wat van jou verskil.

7. Plaas jouself altyd in ander se skoene. Voordat jy oordeel of kwaad raak, luister en sien die situasie vanuit ’n ander perspektief. Soms gaan dit nie oor aktiewe verandering nie, maar net om bewus te wees van ’n probleem.

8. Gesels. Vra die kassier hoe dit met hom/haar gaan, stop die vreemdeling en sê jy vrek oor hul lipstiffie of skoene. Leer lewenslesse by jou Uber-bestuurder.

9. Sing hardop in jou kar. Ek belowe jou, iemand kyk en iemand glimlag en het pas vir ’n oomblik vergeet van al die hartseer in hul hart.

10. Miskien moet ons ’n aksie reël om die riviere vol brandewyn te maak – dit sal heel moontlik alle ander idees oortref.

Ander perspektief

Jy hoef nie noodwendig nuwe dinge te gaan doen of geld uit te gee nie. Jy kan begin deur die dinge wat jy reeds doen, net anders te doen.

Verander die wêreld een glimlag op ’n slag. As jy glo dit wat jy doen is reg en gaan help, ontkoppel jouself van die uitkoms.

Verander die wêreld een glimlag op ’n slag.

Stuur dit die wêreld in en laat jou dade en woorde hul eie koers neem. Alles moet by iemand begin; wees die oorsaak van ’n rimpeleffek. Jou aksies, nes daardie kruisie, is belaai met hoop en mag.

Jy kan sê jy het nie tyd nie. Jy weet nie of dit gaan help nie. Hoekom moet jy iets goed doen as die ander mense nie ook help nie? Wat maak een lewe saak?

Ek weet nie. Ek dink dit skep hoop.

Hoop vir ’n beter more, hoop dat iemand gelukkiger gaan slaap vanaand. Want as ons nie hoop het nie, wat het ons?

  • Lindie van Gass (24) het BCom(Beleggingsbestuur), BCom(Hon)(Beleggingsbestuur) en MCom(Finansiële Wetenskappe) studeer en doen tans 'n nagraadse diploma in finansiële beplanning aan die Universiteit van die Vrystaat. Sy het op 'n plot groot geword net buite Mooinooi.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg ons op Instagram!
Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.