Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Aborsie: Dis nie God se plan nie
Michelle Hattingh.
Michelle Hattingh.

Aborsie maak al weer opslae, danksy Amerika. Dis mos die vrou se liggaam en sy kan doen wat sy wil. Dié rympie word oor en oor gesing en die aborsie-kwessie ry lekker op die rug van vroueregte.

Sedert vroue besluit het hulle wil dieselfde voordele as mans geniet, het ’n hele revolusie ontstaan om die ongeregtighede en ongelykhede tussen mans en vroue te beklemtoon en te herstel.

Só het die HeForShe- en Time’s Up-bewegings weer woema in die feministiese bewegings ingeskop.

Ek stem saam dat mans en vrouens albei dieselfde voordele en respek moet kry en sien uit na ’n samelewing waar daar nie neergekyk word op vroue nie en waar vroue besef dat hulle tot meer in staat is.

Maar dat aborsie positiewe aandag kry bloot omdat vroue sê dis hul lyf en hul keuse, gaan my verstand te bowe.

Die hartklop

Uit ’n humanistiese perspektief wil ek die Equal Rights-beweging beklemtoon wat so oor die wêreld spoel. Ons is deesdae so gepla met allerlei regte dat diere al meer regte het as ’n fetus.

My vraag is ook hoekom moet ’n hartklop eers gehoor word om te kan bewys die fetus leef? Ons moet eintlik nie eens ’n hartklopmonitor gebruik om dit te kan bevestig nie.

LEES OOK: Die stryd van vrouwees

Kom ek stel dit so: Wat gebeur as ’n saadjie toegegooi word, natgemaak word en sonlig kry? Ná ’n ruk skiet dit wortel en ’n plantjie begin groei. En ’n paar jaar later is dit ’n groot boom wat kan vrugte dra.

En wat gebeur as ’n sperm en eiersel bymekaar uitkom? Dit vorm ’n embrio, en ná nege maande is dit ’n baba wat ná ’n paar jaar ’n volwasse mens is wat iets vir die samelewing kan beteken.

Hoe kan ons dan sê die embrio/fetus is nie ’n mens nie? Dit word dan ’n mens. Kan ons sê ’n tiener is net ’n tiener en die verwagting laat vaar dat die tiener ’n volwassene gaan word?

Hoe kan ons dan sê die embrio/fetus is nie ’n mens nie? Dit word dan ’n mens.

Nee, as ons kan glo in gelyke regte vir almal, kan ons veg vir dié wat nie vir hulself kan veg nie.

Ons moet eerder fokus op stelsels wat mense help om verkragting te beveg, om bloedskande te verminder en so ook alles wat gepaardgaan met molestering en seksuele misbruik.

As jy ’n “glipsie” gehad het of as tiener swanger raak, is dit ongelukkig die verantwoordelikheid wat jy moet dra. As jy nie in staat is of bevoeg voel om die kind groot te maak nie, dan is aanneming ’n goeie opsie.

Dis nie God se plan

Uit ’n Christelike oogpunt is aborsies verkeerd. God self sê in Jeremia 1:5 “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig…”.

God het nou wel hier met Jeremia gepraat, maar omdat ons glo dat Hy dieselfde is en nooit verander nie, kan ’n mens vertrou dat Hy so oor elkeen voel, dat Hy elkeen liefhet en ’n plan vir ons lewens het soos Jeremia 29:11 sê: “Want Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om ’n hoopvolle toekoms te gee.”.

Uit ’n Christelike oogpunt is aborsies verkeerd. God self sê in Jeremia 1:5 “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig…”.

En voordat sommige mense klippe gooi en vra hoe ’n God wat almal so liefhet, iets soos verkragting toelaat, wil ek sê ek glo nie dit is ooit sy plan nie, maar dat Hy so ’n persoon stukkend en al wil optel en wil troos en help om genees te word.

Hy het ons ’n eie wil gegee, en ongelukkig misbruik baie mense daardie wil en ek sluit my daarby in.

Maar, dis ’n lewe wat in daardie vrou groei en deur watter vorm ook al die swangerskap veroorsaak is, het God daardie kindjie ontsettend lief en het ’n plan vir sy lewe. Ons kan nie die besluit neem en die kind die onreg doen om sy lewe van hom of haar af te neem nie. Ons kan net ons bes doen om te verseker die kind kry die nodige liefde en opvoeding om die kruis wat hy of sy eendag sal moet dra, te help ligter maak.

LEES OOK: Die mites oor verkragting

As ’n vrou kan ek sê dit is my liggaam en dis my keuse, maar ek kan nie vir die ongebore kind besluit nie. Ek verstaan dit is ’n moeilike kwessie, maar ons praat van lewe en dood. Beskik ons wisselvallige mense regtig die insig om daaroor te kan besluit?

Ek verwelkom die besluit om aborsies in sekere Amerikaanse deelstate te verbied sodra daar ’n hartklop van ’n fetus gewaar word en ek hoop ons in Suid-Afrika kan dit ook doen.

  • Michellé Hattingh (24) studeer Bcom Industriële Sielkunde en Arbeidsverhoudinge aan die Noordwes-Universiteit. Sy woon in Vanderbijlpark en is ‘n dokument-kwaliteitsbeheerbeampte by 'n arbeidsmakelaar.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg Die Student op Instagram!
Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.