Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Aborsie: 'My lyf, my keuse, my reg'
Sherlin Barends
Sherlin Barends

“Eerder laat as nooit,” lui die slagspreuk van die rolprent The 40-Year-Old Virgin wat in 2005 uitgereik is. Steve Carell vertolk die rol van Andy Stitzer, ’n enkellopende man wat op die rype ouderdom van 40 ywerig is om die eerste keer seks te hê.

Toe ’n vroulike predikant ’n passievolle praatjie by ons hoërskool kom lewer, lag haar tiener-gehoor stilletjies toe sy vra of ons al hierdie fliek gesien het.

Kort daarna kondig sy trots aan dat sy self ’n 40-jarige maagd is. Daar is geen sprake van voorbehoedmiddels en veilige seks tydens haar praatjie nie. Dalk is dit nie haar taak as ampsdraer van die kerk nie.

Tog het sy dit haar taak gemaak om by ’n sekulêre skool te kom preek, waar ’n beduidende getal leerlinge Moslems is. Ek kan nie onthou dat ’n imam, of enige ander geestelike leier ooit genooi is om met ons te kom praat nie, maar dis ’n storie vir ’n ander dag.

‘Seks hoort in die huwelik’

Ek sal altyd onthou hoe ons daardie dag aangemoedig is om, soos die predikant, geduldig te wag totdat God die regte maat op ons pad stuur.

Haar boodskap was duidelik: Seks hoort slegs in die huwelik.

Dié boodskap is oor die jare heen in een te veel lewensoriëntering- en biologieles herhaal.

Ek sal altyd onthou hoe ons daardie dag aangemoedig is om, soos die predikant, geduldig te wag totdat God die regte maat op ons pad stuur.

“Vroeg ryp, vroeg vrot!” skree-sê die middeljarige apteker, wat dieselfde haarstyl as my ma het: ’n meer pofferige weergawe van Kris Jenner se pixie-snit.

Sy verwys na die plastiek piepiestokkie waarmee ek haastig die winkel verlaat. Ek, steeds geklee in my blou-en-wit hoërskooluniform, het al my moed en karige sakgeld bymekaargeskraap om die duurste en akkuraatste swangerskaptoets vir ’n klasmaat te koop.

“Asseblief, ek kan nie self daar ingaan nie. Een van die anties wat daar werk, gaan na dieselfde haarsalon toe as my ma. Jy weet hoe hulle kan praat,” het sy gepleit.

LEES OOK: Veg vir ’n veiliger wêreld vir ons ma’s en sussies

Hierdie gebeure het meer as tien jaar gelede geskied. Tog word ek elke keer daaraan en aan talle soortgelyke stories herinner wanneer ek hoor van nog ’n swanger tiener wat te bang was om gratis voorbehoedmiddels by hul gemeenskapskliniek te kry. Te bang dat iemand hulle sal herken of oordeel omdat hulle nie so geduldig soos die goeie predikant is nie.

Ek wil glo dat dinge oor die jare verander het. Ek wil glo dat geen skool, nie eens my ou skool in Stellenbosch, net onthouding preek nie. Ek wil glo dat leerlinge bemagtig word met verskeie opsies en inligting ontvang in ’n veilige spasie, vry van oordeel.

Vroue se reg om te besluit

Aborsies is al meer as twee dekades wettig in Suid-Afrika. Ingevolge die Wet op Keuse oor die Beëindiging van Swangerskap (1997) het vroue die reg om tot op 12 weke hul swangerskap te beëindig, en onder sekere omstandighede tot op 20 weke.

Vroue se reg op reproduktiewe gesondheid is in ons land se grondwet aangeteken. Die realiteit is egter dat talle vroue daarvan weerhou word om hierdie keuses uit te oefen. ’n Voorbeeld is toegang tot veilige, gratis en wettige aborsies.

Dokter Jacques de Vos is onlangs deur die Raad op Gesondheidsberoepe van onetiese gedrag aangekla omdat hy glo tydens sy internskap by 2 Militêre Hospitaal in Kaapstad ’n pasiënt afgeraai het om haar swangerskap te beëindig.

Daar is duidelik ’n mark vir onwettige en onveilige aborsies in ons land.

’n 38-jarige man is vroeër vanjaar in die Moederstad in hegtenis geneem nadat hy aborsiepille by ’n kitskosrestaurant verkoop het. Hy is gevang, maar wat van al die “veilige aborsie”-advertensies wat op al wat ’n kragboks, lamppaal, busstop en treinwa pryk?

Daar is duidelik ’n mark vir onwettige en onveilige aborsies in ons land. Daar is desperate vroue wat liewers “opsies” uit sportsakke sal koop of toevlug vind by “dokters” wat ook in penisvergrotings en onbeantwoorde liefde spesialiseer.

Maklik om te oordeel

Vroue (veral die jong, ongetroudes) word gereeld gekruisig oor die seksuele en reproduktiewe besluite wat ons oor ons eie liggame neem:

Ons word veroordeel as ons besluit om nie kinders te hê nie.

Ons word veroordeel as ons te veel kinders het.

Ons word veroordeel as ons voorbehoedmiddels gebruik.

Ons word veroordeel as ons nie voorbehoedmiddels gebruik nie en vroeg swanger word.

Ons word veroordeel as ons kies om ’n swangerskap te beëindig.

Ons word veroordeel as ons kies om die baba te laat aanneem.

Ons word veroordeel as ons kies om die baba self groot te maak, maar dan nie kan bekostig om die kind te versorg nie.

Vroue kan net nie wen nie. Vroue se private besluite word te gereeld in die openbaar bespreek.

Dis ’n reg

Dieselfde Bybel wat nie te lank gelede nie gebruik is om rassisme te regverdig, kan nie gebruik word om ’n swanger vrou ’n veilige aborsie te weier nie. Wanneer jou hart hunker na sielskos, vind jy jouself dalk in die kerk, maar beslis nie in jou dokter se spreekkamer nie.

Dokters is natuurlik geregtig op hul opinie, soos enige ander landsburger. Maar ’n dokter moet waag om vir my te preek en in die pad te staan van my en my opsies. Godsdiens moet sy plek ken, veral in ’n demokratiese en sekulêre samelewing soos Suid-Afrika.

Die idee van “my liggaam, my keuse” behoort nie in ’n debat verstrengel te raak nie. Dit is ’n reg.

Vrouemaand het gekom en gegaan. Asof vroue jaarliks opskiet soos die wilde lenteblommetjies in Namakwaland. Ons is hier. Ons is altyd hier.

Die geveg van vroue oor die beheer van hul liggaam en outonomie oor hul voorplantingsvermoë duur onverpoos voort. Die idee van “my liggaam, my keuse” behoort nie in ’n debat verstrengel te raak nie. Dit is ’n reg.

  • Sherlin Barends is 'n radio en televisie-persoonlikheid en is deel van Kfm se ontbytprogram: Kfm Mornings. Sy woon in Kaapstad, maar sê Idasvallei in Stellenbosch sal altyd haar tuiste wees.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg ons op Instagram!


Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.